Views!
HUNDREDS of daily LOCAL views - THOUSANDS of monthly LOYAL readers! THE MOST POPULAR ATTRACTION IN HARTIES!
Published:  2015-01-08 Views:  687
Author:  karelnel
Published in:  History/Geskiedenis
Ons Leefwereld  - Die Rol Van Oorlog In Die Wereldgeskiedenis

Ons Leefwereld  - Die rol van oorlog in die wereldgeskiedenis

Waarskynlik was daar nooit ‘n tydperk in die wêreldgeskiedenis wat nie oorlog geken het nie. 

Die voer en wen van oorloë was seker een van die belangrikste faktore wat die wêreldgeskiedenis gevorm het.  Nie net het dit die oorheersing van een volk oor ‘n ander tot gevolg gehad nie, maar het ook baie te doene gehad met die kruisbestuiwing tussen verskillende godsdienste en kulture van die wêreld.  Oorloë bring altyd, benewens die groot verlies in menselewens, ook massiewe hoeveelheid skuld te weeg.  Hierdie grootskaalse leen en terugbetaal van oorlogskuld het ‘n vername rol gespeel in die vorming van die internasionale bankwese.  Hoewel die woord “vrede” vandag holrug gery is, en mens dit tot satwordens toe hoor, is oorlog in die wêreld ‘n realiteit, soos altyd.  In Mao se  woorde:

          “In time of peace – prepare for war

            In time of war – prepare for peace.”

Oorlog is nie net die brutale slagting van mense tussen twee strydende groepe nie.  By noukeurige ontleding is dit duidelik dat dit in oorlog daarom gaan dat die vyand, of jou opponent, hom aan jou wil moet onderwerp.  Alles fokus dus op sy eintlike besluit om hom aan jou wil  te onderwerp.  Oorlog gaan dus daaroor om by die besluit uit te kom.  ‘n Mens sal besef dat aangesien ‘n besluit ‘n sielkundige-menslike aksie is, en mense besluite neem op grond van hul omgewing en hul omstandighede, daar verskillende metodes gebruik kan word om die besluit te beïnvloed.  So is dit baie goedkoper byvoorbeeld as die besluit verky kon word deur slegs dreigemente uit te voer eerder as om 'n geveg aan te knoop.  Die militêre mense noem dit magsvertoon, wat eintlik deel is van sielkundige oorlogvoering.

Oorlog op land was oorspronklik meestal twee menslike linies wat teen mekaar te staan gekom het.  Die swakpunte van elke linie was die agterkant en die flanke.  Oorwinning kon verkry word deur omvleueling van die vyand sodat hy op sy swakpunte aangeval kon word.  Elke mag het natuurlik gepoog om te verhinder dat hy omvleuel word en daardeur word die linies al hoe langer en langer gemaak, totdat dit in die middel sodanig verswak, dat die vyand daar kon deurbreek.  Om goeie beweging op die kante te verseker is die perderuiters in die ou dae op die flanke aangewend.  Die doel van die geveg was dus om die vyand se linie te disorganiseer, ‘n sielkundige skok te veroorsaak en die  sielkundige bande wat die soldate bymekaar hou, behoorlik te skud.  Dan verander die ge-ordende leer in ‘n wanordelike groep individue en vind die slagting plaas.  (Routing)

Die ontwerp van die geveg is natuurlik nie altyd so eenvoudig nie want daar word gebruik gemaak van voorspel en skyn- en kwelaanvalle.  Die doel hiervan is om die vyandelike magte vas te pen op  ‘n plek, hulle moreel te ondermyn, hulle uit te put en dan om ‘n besliste wyse op ‘n bepaalde swakpunt met alle mag aan te val.  Om dit teen te werk, het elke mag ‘n reserwe  groep wat altyd gereed gehou word om die werklike aanval teen te staan.  Die kuns van oorlogvoering bestaan dus daaruit dat ‘n mens  se eie magte se eenheid bewaar moet word, terwyl dié van die vyand verbrokkel moet word.  Dit dui op die uiterste belangrikheid van die sielkundige faktor

Deur die eeue het baie verskillende strategieë van oorlogvoering reeds ontwikkel en gewoonlik is dit die groep wat ‘n nuwe strategie kan toepas of gou by nuwe omstandighede kan aanpas wat die beste kans het om ‘n oorlog te wen.  Die klassieke strategie op grond waarvan die twee wêreld oorloë geveg is is die van Clausewitz wat daarop gemik is dat mens jou maksimum poging moet fokus op die grootste magskonsentrasie van die vyand en die uitslag van dié  geveg sal die uiteindelike besluit bepaal.  Iemand soos Hart stel voor dat die vyand eers verstrooi moet word deur alle moontlike indirekte metodes, en dat die vyand op alle maniere verras moet word.  Sterk, gefokusde aksie moet dan op die vyand se swakplekke geneem word en die besluit word dan soms geneem in gevegsaksies weg van die hoof slagveld. 

Mao Tse-Tung, het geleer dat magte moet terugtrek wanneer die vyand aanval, opvolg wanneer die vyand terugtrek, val met mag aan op enkele punte en trek terug, leef vanaf die vyand en noue samewerking met die bevolking.  Lenin & Stalin, het beklemtoon dat die mense en die leër moet sielkundig aan mekaar verbonde wees en dat vooraf sielkundige aksies van die allergrootste belang is. 

Die strategie wat die wêreld oorheers het na die tweede wêreldoorlog was dié van die magsbalans onder die dreigende sambreel van versekerde wedersydse kernuitwissing.  Geeneen van die moondhede kon dit waag om direk as aggressor op te tree nie, want ‘n kernoorlog sou beide kante, en ‘n groot deel van die wêreld daarmee saam uitwis.  Daarom is die sogenaamde “koue-oorlog” gevoer en die stryd is op indirekte wyse gevoer soos byvoorbeeld in Viëtnam, Korea en in Afrika. 

Die VSA, die wêreld se enigste supermoondheid vandag, se huidige strategie kan beskrywe word as die van "Vorming" (Engagement , Shaping) van wêreld gebeure deur politieke en ekonomiese mag om hul wil af te dwing en as dit nie werk nie – magsprojeksie. Hulle redenasie is dat dit baie goedkoper is om deur middel van  diplomasie en ekonomiese drukmetodes konflikte te probeer wegbestuur, as om later militêr te moet ingryp. Die VSA sal net ingryp as dit hulle internasionale belange dien en niemand moet dink dat hulle, of enige ander moondheid, een-of-ander groot weldoener sal wees nie.

Die wereld is vandag ‘n kookpot van konflikte op haas elke kontinent, en dit word tot in ons sitkamers gebring deur die Televisie en die Internet. Ander vorme van konflik soos kuberkonflik, konflik oor dwelms, konflik in die ruimte, inligtingsoorloë, konflik op die radio-spektrum, ens is aan die orde van die dag, en baiekeer vir die publiek onsigbaar.

Hoewel ons ook konflik in Suid Afrika het, moet ons besonder dankbaar wees dat ons vir ‘n lang tyd die vernietigende gevolge van ‘n oorlog vrygespring het. Die mees resente konflik, die bosoorlog, was grootliks buite die landsgrense en hoewel dit baie geld gekos het, het dit relatief min skade aan die land se infrastruktuur aangerig – inteendeel.

As gevolg van die “tydperk van vrede” wat ons beleef is die land se verdedigingsbegroting die afgelope 20 jaar dramaties gesny en die land se militêre vermoë drasties ingekort. Die uitgangspunt van die nasionale strategie was dat daar nie ‘n bedreiging meer was vir nasionale sekuriteit nie, en dat, indien soiets sou verskyn, die land genoeg waarskuwing sou hê om weer  genoegsame magte op te bou.

Filosofies beskou is oorlog uiteindelik onvermydelik, gesien teen die agtergrond van die geskiedenis. Ook vir ons deel van die subkontinent. Miskien nie in ons leeftyd nie. Dan sal ons een van die min gelukkige geslagte in die wereldgeskiedenis wees.

---000---

KPJ Nel

2015-01-07


Directors: S.A.M Smit & J.F Koster - Copyright ©2018 HartiesNet (Pty) Ltd - our Disclaimer