Views!
HUNDREDS of daily LOCAL views - THOUSANDS of monthly LOYAL readers! THE MOST POPULAR ATTRACTION IN HARTIES!
Published:  2015-01-09 Views:  809
Author:  karelnel
Published in:  History/Geskiedenis
Ons Leefwereld – Minder Bekende Konflikte In Die Wereldgeskiedenis

Ons leefwereld – minder bekende konflikte in die wereldgeskiedenis

 

‘n Kykie na ‘n klompie van die wêreld se minder bekende onlangse konflikte gee ‘n mens nogal insig oor die wese van oorlog. Hierdie artikel bevat  beknopte beskrywings van ‘n paar van hulle. Hierdie konflikte is bestudeer as deel van die SANW se ‘Executive National Security Program’ van 2000.

In die 1950’s het daar ‘n beroemde koloniale oorlog plaasgevind tussen Frankryk (die moondheid) en Algerië) die kolonie. Algerië was ‘n oorwegend Arabiese-Moslemland en Frankryk reeds ‘n Westerse grootmoondheid. Hierdie Algerynse revolusie, vanaf 1954 tot 1962, is ‘n klassieke voorbeeld van ‘n bevolking wat in opstand gekom het teen die koloniale moondheid en die oorwinning behaal het.  Algerië is die tweede grootste staat in Afrika, en is ‘n olie-ryk land. Besetting deur die Franse het plaasgevind in 1830.  In Berlyn in 1864 is Afrika se grense vasgelê en 1871 is ‘n Franse Goewerneur-Generaal aangestel.  Gedurende 1871-1881 was daar reeds felle konflik oor landgebruike en in 1878 is daar hervormings deur die Franse aangebring.  Die stryd het egter aangehou en tussen die twee wêreldoorloë het die Algeryne begin om hulleself polities te organiseer, terwyl daar verdeeldheid in Frankryk tussen die liberales en die konserwatiste geheers het oor die hantering van Algerië.  Sedert 1954 het die FNL ‘n volskaalse revolusie geloods en ‘n mag van oor die 130 000 man opgebou – goed ondersteun deur die Algerynse volk.  Hulle het effektief gebruik gemaak van stedelike en plattelandse guerilla oorlogvoering teen die Franse magte.  Die Algerynse volk was begeesterd om hul vryheid te verkry en uiteindelik met die bewindsaanvaarding van Charles de Gaulle in Frankryk, is daar toegegee aan die eis en onafhanklikheid is toegestaan in 1962.  Die sosialistiese politieke stelsel wat gevolg is na onafhanklikheid het egter gefaal en ‘n radikale Moslemregering het aan bewind gekom. Die mag van 'n revolusionêre oorlog word  deur hierdie voorbeeld gedemonstreer. Frankryk is 'n gesiene Europese Kernmoondheid, maar ten spyte daarvan het hulle op die plek gekom dat hulle moes besluit het om die stryd gewonne te gee. Dit was vir hulle netnie meer die moeite werd om aan te gaan nie.

‘n Ander oorlog met ‘n verrassende uitkoms was die een tussen Rusland (Groot moondheid) en Afghanistan (‘n arm Irans-turkse Moslemland) in die 1980s. Die Afghanistan-Rusland oorlog vanaf 1979 is ‘n voorbeeld van waar ‘n groot moondheid sy vingers verbrand het met ‘n land se mense wat desperaat vir hul vryheid geveg het.  Afghanistan is ‘n land - ingeslote (land-locked country) gebied ongeveer helfte so groot as die RSA met 6 etniese groepe.  99% van die mense  is Moslems.  Dit is een van die armste lande in die wêreld, maar produseer baie van die wêreld se dagga en opium.  Die staat is oorspronklik gestig in 1835.  In 1962 was daar ‘n dispuut met die buurland, Pakistan, maar dit is opgelos in 1967.  Die Republiek van Afghanistan het in 1973 ontstaan en in 1979 het Rusland die land binnegeval.  Die Russiese dryfveer was basies om hulle status as Supermoondheid te toon.  Rusland het die land ge-annekseer, maar dit het tot ‘n lang uitgerekte stryd in die woestynagtige gebied gelei.  Die Mujahideen (terroriste) het die Rusiese magte onophoudelik uit die onherbergsame bergstreke aangeval, hoewel hulle baie onderlinge leierskaptwiste gehad het.  In 1988 is ‘n Ooreenkoms in Geneve gesluit en het die Sowjet Unie onttrek.  In 1996 is die regering vervang met die Taliban, maar die regering geniet nie wye erkenning nie.  Hulle het Sharia-wet ingestel en die gevegte in die land duur voort.  Die ekonomie is baie swak en die mense lewe misrabele lewens. Hierdie konflik demonstreer ook die  onwerkbaarheid van blote mag oor die lang termyn teen die wil van die mense.

In die 1970s was daar ook ‘n koloniale konflik tussen Angola en Portugal aan die gang. Angola is ‘n ongelukkige staat met ‘n burgeroorlog wat na meer as 30 jaar geduur het.  Die land was in ‘n verwoesting en die mense het in ellende geleef.  Die land is sowat 7% groter as die RSA en het ‘n baie swak ontwikkelde infrastruktuur.  Angola was die grootste van die Portugese kolonies en hulle het Portugal miljoene dollars  gekos.  Drie vryheidsbewegings het aktief geraak (MPLA, FNLA en UNITA) en hulle het Portugal ingetrek in ‘n tipiese Afrika bosoorlog wat Portugal nie kon volhou nie.  In 1974 was daar ‘n staatsgreep in Lissabon, en daar is terstond besluit dat van die Afrika kolonies ontslae geraak moet word.  Na ‘n eierdans van politieke onbeholpenheid is die regering aan die MPLA oorgegee in 1975.  Dit was in die middel van die koue oorlog en verskeie buitepartye het belange in die gebied gehad:  Rusland, Kuba, die VSA, die RSA, China asook verskeie Afrika lande.  Die RSA magte was toe reeds op die Noordgrens van Suidwes Afrika ontplooi in die stryd teen SWAPO en dit was in Suid Afrika se belang dat kommunistiese uitbreiding nie voortgesit sou word nie.  Die Clark amendament in die VSA se senaat het direkte Amerikaanse betrokkendheid by die stryd verbied maar die CIA was tog klandestien betrokke.  Na ‘n insident by die Calueqe waterskema het die RSA magte Angola in Augustus 1975 binnegeval en met minder as 2000 troepe binne 4 maande sonder noemenswaardige teenstand gevorder tot binne reikafstand van Luanda.  Dit was genoem : Operasie Savannah.  Onder druk van die Amerikaners het die RSA-magte weer onttrek.  Die RSA-magte het UNITA ondersteun om hulle in ‘n gunstige posisie te probeer plaas vir die komende verkiesing.  In die verkiesing het die MPLA gewen en selfs vir Savimbi ‘n Adjunk-Presidentskap aangebied.  Hy het hulle egter beskuldig van verkiesingsbedrog en die stryd is voortgesit.  Die burgeroorlog het die Angolese gemeenskap verwoes en landmyne is oor die hele land besaai.  Daar is twee sterk ekonomiese dryfvere wat die stryd aan die gang hou en dit is die olie wat  in die Cabinda-Provinsie ontgin word (MPLA-geld) en diamante (Savimbi-geld).  In 1999 het Angola die MPLA ‘n baie groot offensief geloods en die meeste van UNITA se konvensionele mag gebreek.  Dit het UNITA terugedwing na die Suid-Oostelike deel van die land vanwaar hulle opnuut die bosoorlog voer teen die MPLA.  Die regering in Namibië het in 1999 aan die MPLA toestemming gegee om UNITA vanuit die Caprivi-strook aan te val, en dit het weer daartoe gelei dat UNITA oorgrens operasies teen Namibië begin voer het. Uiteindelik is Unita beslissend verslaan en Savimbi doodgeskiet.

Die Indië-Pakistan konflik oor die Kasjmir provinsie is een van die ander onopgeloste brandpunte van wêreldkonflik na die tweede wêreldoorlog.  Na 12 eeue se vyandigheid tussen Hindoes en Moslems het daar ‘n mate van vreedsaamheid in die area gekom ten tye van die tydperk van Britse koloniale regering.  In 1947 het Brittanje uit die gebied onttrek en die basiese ooreenkoms was dat al die Hindoe-dominante provinsies onder Indië se beheer sou kom, en die Moslem-dominante provinsies onder die beheer van Pakistan.  Die Kasjmir-provinsie is oorwegend Moslems, maar het teen tye van die Britse ontrekking ‘n Hindoe-leier gehad.  Op ‘n slinkse politieke wyse het Kasjmir by Indië aangehaak en dit was nie vir Pakistan aanvaarbaar nie.  Dit het tot aanhoudende konflik en groot lewensverlies tot hede gelei.  Pakistan het die saak al talle kere voor die VN gebring maar kon nie daarin slaag om beheer oor die gebied te kry nie.  Pakistan het ‘n groot passie om die provinsie terug te wen.  Daar was reeds drie groot konflikte naamlik in 1971 toe Bangladesh afgestig het uit Oos Pakistan, die Konflik op die Siachem-gletser in 1984 (oorlog op die hoogste vlak bo seëspieel in die wêreld) asook die konflik in 1999.  Die feit dat albei lande onlangs meervoudige kernstoetse gedemonsteer het, en albei langafstand vuurpyle het, maak hierdie streek ‘n kruitvat.

Die Sesdaagse oorlog van 1967 tussen Israel aan die een kant en Egipte, Jordanië en Sirië aan die ander kant, was ‘n merkwaardige oorlog in die reeks konflikte in die streek sedert die ontstaan van die staat van Israel in 1948.  Die oorlog was merkwaardig omdat Israel in die eerste 24 uur met ‘n verassingsaanval feitlik al die Arabiese lande se lugmagte op die grond vernietig het, en daarna, met behulp van hulle lugoormag, met ‘n reuse pantser aanval die Arabiese magte totaal oordonder en oorwin het.  Dit was ‘n baie kort, maar gewelddadige oorlog.  Die eerste Arbies-Israelse konflik  was in 1948 waarin die Israelse magte terrein ge-annekseer en dit het ‘n uittog van Arabiere tot gevolg gehad.  Verkiesings het in 1949 plaasgevind.  In 1956 het President Nasser van Egipte die Suez-kanaal ge-nasionaliseer en Israelse skepe deurgang verbied.  Gedurende Oktober/November 1956 het die tweede Arabies-Israelse oorlog gevolg en Israel het eers in 1957 uit die Gasa-streek onttrek.  Egipte het in 1967 die Straat van Tiran gesluit vir Israelse skepe en dit het gelei tot die Israelse aanval op 5 Januarie 1967.  Israel was ondersteun deur die Westerse moondhede (behalwe Frankryk) en die Arabiere deur Rusland.  Israel het hulle gebied met ‘n faktor 3  uitgebrei en dit het hulle in staat gestel om daarna grond vir vrede te veruil.  Hoewel die Arabiese magte byna in geheel vernietig is, het hulle gou weer herstel en dit het hulle beter toegerus vir die Yom Kippur oorlog wat later gevolg het. Hoewel daar ‘n vredesproses aan die gang is, bly die toestand in die Midde Ooste plofbaar.

In die vroeë deel van die tagtigs het ‘n taamlike lank uitgerekte oorlog plaasgevind tussen Iran en Irak.  Die presiese redes vir die oorlog is moeilik om te bepaal.  Iran, wat spruit uit die Persiese ryk, met meer as 30 miljoen mense teen daardie tyd, was die dominante mag in die gebied.  Irak, wat kom vanuit Mesopotanië het ‘n Britse mandaat geword in 1920 en onafhanklikheid verkry in 1932 en ‘n Republiek geword in 1958. Irak se ambisie was om die leierskap in die streek oor te neem. 

Olie-produksie is vir beide lande belangrik en die geld uit oliebronne het gesorg dat daar vir die oorlog oor die lang tyd finansiering was.  40 Lande het in die tyd wapens in die gebied verkoop.  Die Shatt ’Al Arab waterweg is die grens tussen die twee lande en is veral vir Irak belangrik vir die olie-uitvoere.  Irak het die waterweg ge-annekseer en die olie-installasies in Iran aangeval.  Vyf olietenkskepe is in die proses in die waterweg gesink.  Aanvanklik het Irak sukses gehad met ‘n grondaanval, maar het later oorgegaan na verdedeging rondom Baghdad.  Teen 1984 het Iran sterk druk begin uitoefen, met inbegrip van die sogenaamde mens-golf aanvalle.  Irak het ‘n dominate lugoormag gehad en het ook gebruik gemaak van Chemiese oorlogvoering – mosterdgas.  Irak het Iran se kernkragstasie vernietig.  Die oorlog het Irak in ‘n sterk posisie gelaat, maar met groot oorlogskuld teenoor Rusland en ander Golfstate.  Die VSA het ‘n deurslaggewende rol gespeel in Irak se oorwinning hoewel dit nie algemeen bekend is nie.

Die Falkland/Malvinas-oorlog van 1982 was ook 'n besonderse konflik.  Die Falkland-eilandgroep lê aan die Suidpunt van Suid Amerika sowat 500km van Argentinië af en sowat 12300km van Engeland af.  Die eilande is belangrik vir die toegang tot die Suidpool en na die Stille Oseaan.  Reeds in 1766 het Frankryk en Brittanje oor die eilande begin toutrek, maar in 1776 het Frankryk die eilande aan Spanje oorgedra wat 'n goewerneur aangestel het.  In 1790 het Brittanje van hul eis afgesien en Argentinië het die eilande opge-eis.  Brittanje het weer in 1833 oorgeneem, maar Argentinië het nooit hul eise op die eilande laat vaar nie.  Gedurende die tweede helfte van die twintigste eeu was Brittanje besig om hulle vloot  te verklein en om oorsese kolonies prys te gee en in 1964 is die Falkland-eilande op die dekoloniesasie-lys geplaas.  In 1981 het die militêre Junta van Argentinië gevoel dat hulle nie politieke sukses met Brittanje gehad het nie en hulle het besluit om die eilandgroep oor te neem en Brittanje sodoende tot die onderhandelingstafel te dwing.  Die Argentyne het bankvas entoesiaties agter hul regering gestaan.  Na sterk politieke aksie, en sanksies wat Argentinië lamgelê het, het Brittanje ‘n vlootmag na die gebied  gestuur,  aanvanklik  na die Suid Georgia eilande, sowat 1290km vanaf die Falklande. Hulle het die beset en uiteindelik die Falkland-eilande ontset.  Een van die keerpunte in die oorlog was toe een van Argentinië se oorlogskepe deur ‘n Engelse duikboot gesink is.  Hierdeur het Engeland bewys dat hulle nog instaat was om aansienlike mag vêr oor die wêreld te projekteer.

Die skouspelagtigste oorlog was egter seker Operasie Desert Shield/ Desert Storm, waar ‘n wêreldwye koalisie van bykans 50 lande, onder leiding van die VSA opgetree het teen Irak, wat die klein, maar  olieryke landjie, Kuweit, binnegeval en ge-annekseer het op 2 Augustus 1990.  Kuweit was ‘n Britse protektoraat vanaf 1899 – 1961 en het onafhanklikheid verkry in 1961, maar Irak het dit altyd opgeeis as ‘n 19e provinsie.  Irak sou deur die anneksasie van Kuweit beter toegang tot die see vir sy olie uitvoere kry en sou ook baie groter beheer oor die olie van die Golf uitoefen.  Irak het die verskoning van oorlogskuld, en lande wat na bewering met die olieprys geknoei het, gebruik om Kuweit binne te val, na ‘n  maandlange opbou van magte op die grens.  Irak het onmiddelik ook dreigemente teen ander Arabiese state gemaak en veral teenoor Saudi Arabië.  Na baie politieke voetwerk dwarsoor die wêreld en by die Verenigde Nasies, het die VSA ‘n koalisiemag van 50 state saamgesnoer wat toestemming verkry het om geweld te gebruik om Irak uit Kuweit te verwyder.

  Die eerste fase was Operasie Desert Shield, waar die VSA ‘n aansienlike mag in Saudi Arabië gevestig het om ‘n dreigende inval deur Saddam Hussein se magte te verhoed.  In Januarie 1991 het die koalisiemagte met ‘n briljante aanval vorendag gekom.  Aanvanklik is belangrike teikens in Irak met langafstand missiele geneutraliseer en die koalisie het ‘n lugoormag verkry.  Terselfdertyd is uitgebreide maritieme operasies in die Golf gevoer om die VN sanksies teen Irak suksesvol toe te pas.  Uiteindelik is ‘n goed beplande landaanval geloots wat binne 100 ure die formidable Irakse mag van bykans 500.000 man dramaties in duie laat stort , en halsoorkop laat onttrek het uit Kuweit.  Benewens die feit dat Irak vir Kuweit geplunder het, het hulle met die ontrekking ook die oliebronne aan die brand gesteek wat vir maande lank gebrand het.  Na die oorlog het die Verenigde Nasies die druk op Irak gehou om te verseker dat Irakse Chemiese-, Biologiese- en Kernwapenoorlogvermoëns afgetakel word.  Dit het op ‘n stadium bykans weer tot ‘n konflik gelei, maar die proses het met stampe en stote voortgegaan.

Vandag is daar meer  streke in die wêreld waar daar konflik is as ooit, waarvan sowat heelwat in Afrika is.  Meer  en meer word daar van die Verenigde Nasies en streeksorganisasies verwag om hulp te verleen om geskille te besleg, maar in die opsig is daar maar min suksesverhale.  Daar is ‘n onvermoë van leiers en groepe om mekaar te vind, en om eeu-oue verskille te oorbrug. Om vrede van buite af  af te dwing werk gewoonlik nie.  En so word duisende gewone mense verguis tussen die maalklipe van  leiers se magspolitieke spel.

Hoewel almal wens vir vrede vir die toekoms en baie daaroor praat is wêreldwye vrede onwaarskynlik.  Die Amerikaners sien 4 tipes konflikte:  1) Formele oorloë (tussen state), 2) informele oorloë (tussen state en ander belange soos byvoorbeeld terroriste groepe) 3) grys-area konflik (vermenging van oorlog en grootskaalse ge-organiseerde misdaad), asook 4)strategiese inligtingsoorlog (Kuberoorlog).  Vier tipes militêre magte sal uiteindelik gevind word:  Hoë tegnologie – inligtingsgedrewe magte met hoë presisie – hoë werkverrigting wapentuig; Massiewe Gemeganiseerde magte by state wat nog in die industriële tydvak is, Infantriegebasseerde leërs met baie mannekrag en ligte wapentuig soos tipies in Afrika, asook Terroriste magte.  Daar word voorspel en ook gereed gemaak daarvoor dat Terroristemagte die grootste invloed sal uitoefen in stedelike gebiede, waar dit uiters moeilik is om hulle te beveg.  Waar die wêreld baie vinnig verstedelik is , is een van die grootste vrese, vir die wat weet, ‘n aanval op ‘n stad met chemiese of biologiese wapens met ontsettende gevolge.

---000---

KPJ Nel

2015-01-07

 


Directors: S.A.M Smit & J.F Koster - Copyright ©2018 HartiesNet (Pty) Ltd - our Disclaimer