Views!
HUNDREDS of daily LOCAL views - THOUSANDS of monthly LOYAL readers! THE MOST POPULAR ATTRACTION IN HARTIES!
Published:  2015-01-10 Views:  695
Author:  karelnel
Published in:  History/Geskiedenis
Ons Leefwereld - Magsblokke

Die wereld van ons tyd – die Magsblokke

Noord Amerika is die invloedrykste streek in die wêreld vandag.  Die VSA is die enigste oorblywende wêreld supermoondheid wat die vermoë om mag na enige plek op die aardbol te projekteer.  Die VSA se ekonomie is ontsaglik sterk.  Die dollar was tot nou die invloedrykste geldeenheid in die wêreld en internasionale transaksies (mineraalaankope, olieverkope) word in dollar beklink.  Hoewel die land en sy mense welvarend is, is die ekonomie op ‘n stadige afdraandepad en het die VSA die grootste skuldlas ter wêreld.  Rykdom is baie skeef verdeel in die VSA en 30% van die Swart Amerikaners en 20% van die Latyns-Amerikaanse Amerikaners (“Hispanics”) leef in armoede.  Die VSA het ‘n baie hoë misdaadpeil en 50% van die gevangenes van die VSA kom uit 12% van die bevolking.  Die VSA spandeer baie op opvoeding, maar die breë onderwysstelsel  is nie van ‘n hoë standaard nie.  Die gemeenskap het egter ook skole en universiteite wat die beste in die wêreld is.  Die Amerikaanse kultuur, met sy klem op vermaak, het baie vervlak en dit is in die gemeenskap soos ‘n self-toegediende wond.  Baie burgers voel dat dinge in die samelewing verswak het – die sosiale weefsel, rasse verhoudinge, ekonomiese toestande en die welsyn van die gemiddelde Amerikaanse familie.  Die VSA is toonaangwend in die veld van globalisering en is die onbetwiste leiers op die gebied van die Internet.

 

Hulle is kwesbaar vir die nuwe tipe van oorlogvoering bekend as Kuber-Oorlog (“Cyber Warfare”), en dit is een van die Pentagon se hoogste prioriteite om die VSA daarteen te verskans.

Kanada vorm deel van die Noord Amerikaanse Kontinent en is ‘n suksesvolle en ontwikkelde staat.  Hulle word egter geheel oorskadu deur hul magtige buurman  - die VSA.  Hulle filosofie is:  “Om te leer om saam met ‘n olifant op een bed te slaap”.  Meer as 80% van hul handel is met die VSA.  Daar is verdeeldheid tussen Quebec - as Franssprekende provinsie - en die ander Engelssprekende provinsies.  As gevolg van  grootskaalse sekularisasie is die Christelike kerk  in Kanada baie ge-marginaliseer.

Die Europese Unie verteenwoordig die tweede belangrikste magsblok in die wêreld.  Dit bestaan vandag uit 15 state in Wes Europa met lande soos Poland, Tjeggo Slovakye, Estonia en Siprus wat in die dampkring inbeweeg.  Die eerste vyftig jaar van die vorige eeu was rampspoedig vir Europa, vanweë die baie oorloë, maar gaandeweg word daar gepoog om die groot verskille te oorbrug.  Veral Frankryk, Duitsland en die Nederlande het ‘n groot rol in die proses gespeel.  ‘n Vrye handelssone is geskep binne die unie en al hoe meer neem die EU  ‘n enkele benadering aan ten opsigte van buitelandse-, binnelandse-, en ekonomiese  sake.  Sowat 40% van Suid Afrika se buitelandse handel vind plaas met die EU.  Die EU is die grootste verskaffer van ontwikkelingshulp in die wêreld, hoewel hulle reeds tekens van moegheid vertoon - genoem  "Afro pessimism" of  "Donor Fatigue".

Die belangrikste state in dié magsblok is:

•             Verenigde Koningkryk

•             Duitsland

•             Frankryk

•             Spanje

•             België

•             Nederland

•             Italië

•             Switserland

Sentraal- en Oos Europa, Sentraal Asië en Turkye is nog ‘n belangrike streek.  Dit bestaan uit 25 lande met oor die 475 miljoen mense en dit is 1½ keer so groot soos Afrika.  Oos Europa het 14 state onder andere; Rusland, Belarus, Ukranië, Moldovia, Yugoslavië, Bosnië, Albanië, Macedonië en Bulgarye.  Die Balkan-state resorteer ook onder hierdie streek. Die streek het groot onstabiliteit beleef met die in duie stort van die Russiese magsblok asook met die konflikte in die streek.

Suid- en Suid-Oos Asië en Australië vorm ‘n verdere belangrike streek.  Dit is ‘n onhomogene streek wat deur die koloniale geskiedenis gevorm is.  Indië en Australië is die belangrikste lande in die streek wat Suid Afrika aan betref.  Die konflik wat smeul vir baie jare tussen Indië en Pakistan is ‘n belangrike politieke faktor in die streek.  Die streek sluit duisende eilande in wat ‘n baie sterk rol speel as deel van die opkomende wêreld.

Japan, China die Korea’s en Taiwan is van die lande wat ingesluit word onder die Oos-Asië blok.  Die blok was ekonomies gedomineer deur Japan, maar China se ekonomie het met krag gegroei tot die tweede grootste in die wereld.  Vanweë die hoë vlak van ekonomiese ontwikkeling is die Japannese seker die beste toegerus  om die toekoms tegemoet te gaan.  Die land het ‘n sterk sosiale- en ras-eenvormigheid en lê baie klem op sosiale hermonie.  Hulle is nie baie individualistiese mense nie en lê meer klem op spanwerk.  Baie aandag word aan onderwys gegee en baie hoë standaarde word gehandhaaf.  Sedert die tweede wêreldoorlog het Japan nie ‘n sterk militêre mag ontwikkel nie en hulle het nie ‘n kernwapen nie, maar het die tegnologiese vermoë om dit in ‘n baie kort tyd te ontwikkel.  Een van die hooftendense in Japan is die klem op die gebruik van robotte in die vervaardigingsektor wat ‘n groot daling in arbeidskoste verteenwoordig.

Die ander reus in die streek is China, wat in terme van getalle al die ander lande  vêr oorskadu.  Van die 1,2 miljard is 800 miljoen kleinboere, en 200 miljoen mense het geen of behoorlike werk nie.  Die Westerse invloed word toenemend sigbaar in China en bring ook sekere sosiale euwels teweeg.  Daar is sowat 60 miljoen Chinese buite China en die waarde wat hulle produseer is meer as die van die 1,2 miljard mense binne China – wat daarop dui hoe swak die kommunistiese stelsel se ekonomiese prestasie is.  China het 20% van die wêreld se bevolking, maar net 7% van die wêreld se bewerkbare landbougrond.  Baie van China se industrië is staatsgesubsideer, gestagneer en groei nie soos die byvoorbeeld die maatskappye in Hong Kong – waar die winsmotief  'n rol speel nie.  China het meer as 2 miljoen soldate in die weermag.

Die Midde-Ooste was nog altyd van groot belang – om veral twee redes:  Eerstens lê dit op die koppelpunt tussen 3 kontinente en tweedens bevat dit die oorgrootste deel van die wêreld se oliereserwes (68%).  Hier woon 200 miljoen mense waarvan 55% Arabies-sprekend is.  Dit is die hartland van die Islam, wat 68/22% verdeel is tussen die Sunni- en Shitiese Moslemgroepe.  Die streek is vol van onderlinge konflikte waarvan die bekendste dié tussen Israel en die Arabiese state is.

Afrika is die hartseer kontinent.  Afrika se 800 miljoen mense vorm sowat 19% van die wêreldbevolking. Die hele Afrika se bydrae tot die wêreldekonomie is minder as 2% van die res en die hele Afrika Suid van die Sahara (Suid Afrika uitgesluit) se ekonomie is kleiner as dié van België.  In baie opsigte het dinge in Afrika agteruit gegaan sedert die koloniale moondhede onttrek het, en een van die redes is die herhaaldelike oorloë.  Die ontwikkelde lande neem nie meer regtig Afrika in ag nie en stel net in die kontinent belang in soverre die minerale bronne  uitgebuit kan word.  Dit is een van die grootste dryfvere van Afrika konflikte.

Latyns-Amerika het ook in die wêreld relatief agteruit gegaan.  Daar is baie diktatorskappe, stryd en geweldige skuldlaste.  Die onderwys is oor die algemeen swak en baie van die wêreld se dwelmprobleme het hul oorsprong uit dié streek.  Die belangrikste state is die streek in Brazilië; Argentinië en Chili.

Die wêreld ekonomie is in ‘n staat van vinnige verandering.  In die ontwikkelde wêreld is die ekonomieë besig om oor te skakel van ‘n industriële ekonomie na ‘n Informasie-gebaseerde ekonomieë.  Klem verskuif van rou materiale na informasie, van eiendom na kennis en van goedkoop arbeid na vaardighede en idees.  Die ekonomiese veranderinge sal ook politieke verandering teweeg bring en baie gou sal dit ons elkeen raak.  Daarvoor behoort mens voor te berei.

Die bewoners van die aarde staan seker voor die grootste uitdagings ooit. Terwyl sekere dele van die aardbol die grootste mate van gerief en rykdom beleef, krepeer miljoene ander en die snelle ontwikkelingsgroei vererger die polarisasie net.  Hoewel dit lyk of die gevaar van ‘n kernoorlog afgeweer is, het daar soveel streekskonflikte uitgebreek dat dit die wêreld eintlik ‘n gevaarliker plek is.  Hoewel die wêreld baie meer gesekulariseerd geraak het, is die gevaar van godsdienstige en etniese konflikte nog net so groot.  Veral in die ontwikkelende lande vind ons gevalle waar korrupte en magsbehepte leiers mense uitbuit en verdruk en oral is dit die gewone mense wat aan die kortste end trek.

Dit is 'n ope vraag hoe die wêreld in die toekoms daar gaan uitsien. Gaan daar 'n duisend jaar van vrede aanbreek? Kom daar 'n vernietigende wêreldoorlog? Gaan die wêreld aanhou polariseer in 'n ellendig-arm en 'n ryk deel? Gaan daar dalk onderlinge twis tussen die aardbewonders wees vir altyd? Wat behoort 'n mens se houding teenoor die toekoms wees?

Hoe ons na die toekoms van die wêreld kyk is  bewustelik of onbewustelik bepalend vir hoe ons  gaan leef. Iemand wat dink dat die wêreld gou gaan vergaan sal maklik 'n korttermyn siening van die lewe hê en dit sal sy handelinge  beinvloed. Iemand wat dink dat daar nog 'n lang lewe oor is, sal hom besig hou met dinge wat more nog vrugte sal dra. En wanneer die dag van more wel aanbreek, sal die verskil tussen die twee duidelik wees om te sien.

---000---

KPJ Nel

2015-01-06


Directors: S.A.M Smit & J.F Koster - Copyright ©2018 HartiesNet (Pty) Ltd - our Disclaimer