Views!
HUNDREDS of daily LOCAL views - THOUSANDS of monthly LOYAL readers! THE MOST POPULAR ATTRACTION IN HARTIES!
Published:  2015-01-11 Views:  831
Author:  karelnel
Published in:  Religion/Geloof
Gesag In Die Kerk

God se gesag in die Kerk

 

Waarom het Moses nie die beloofde land binnegegaan nie?

 

Dit was omdat hy die rots die tweede keer geslaan het, terwyl God gesê het hy moet daarmee praat. Nou hoekom was dit vir God so ‘n groot “issue”?  (Num 20) Hy het tog tevore die rots deur Moses laat slaan  (Ex 17) - hoekom die keer so anders? Daar word gesê dis omdat hy God verkeerd by die volk verteenwoordig het by die geleentheid  - in woede.

 

Mens sien dikwels mense wat een of ander verbittering of woede in hulle binneste omdra en wanneer hulle die geleentheid  daartoe kry dan kom dit uit as hulle ander mense kan “kap” of  “bykom”. As jy fyn luister hoor jy fyn verbloemde aggressie. Mens sien dit by wêreldlinge - soos byv by die inspekteur of amptenaar wat daarop uit is om mense “uit te vang” in plaas van te help.  Wat so hartseer is, is dat dit ook in die kerk gebeur. Mens sien dit soms waar iemand in ‘n gesagsposisie kom - dan moet hy of sy hulleself laat geld op een of ander manier - baie keer deur mense voor te skryf hoe hulle moet maak en hulle vergeet dat Jesus se model van leierskap juis een was van ‘n Herder wat voor Sy kudde uittrek. (Lei deur voorbeeld en nie deur dwang nie)

 

Moses was een van die grootste Godsmanne ooit. Onthou dat hy die een man was wat tegelykertyd die rol van  koning, profeet en priester vir die volk vervul het - daarna het die rolle duidelik geskei. Hy het dus besonderse gesag van God gedra, en dit is by verskeie geleenthede  deur God ondersteun - sien die rebellie van Korag, Datan en Abiram, (Num 16) en ook Mirjam se opstand teen Moses.(Num 12). Tog sê die Woord dat Moses die sagmoedigste man op die “aardbodem” was (Num 12:3) Interessant, telkens as daar rebellie teen hom was, het hy nooit in woede teen die volk gereageer nie, maar homself tot God gewend het (in die tabernakel) en selfs vir die volk gepleit het. So lyk die Moses wat die gesag van God verteenwoordig het.  As ons lees van Paulus in 2 Korinthiërs dan sien ons iets van dieselfde sagtheid en gebrokenheid in hom as groot Godsman en geen bravade van dinamiese leierskap en “God’s man of the moment” nie.

 

Natuurlik dra God die hoogste gesag in die heelal! Alles is aan Hom gehoorsaam - tot die sterre in hulle bane.  Die een wat aan Sy gesag ongehoorsaam is, sal uiteindelik die onverbiddelike gevolge daarvan dra - en die Bybel sê mos dis vreeslik om te val in die hande van die Lewende God.  Tog dwing God nie Sy gesag af op ons in hierdie tydvak waarin ons lewe nie. Ons het elkeen ‘n KEUSE. Meeste van ons sal seker  toegee dat Hy Sy gesag ook afwentel na mense toe - regerings, die man in die huwelik, ouers teenoor kinders en die kerkraad teenoor die gemeente. Mense voel nie lekker oor die begrip ‘gesag’ nie, want ons projekteer daarop die negatiewe ervaringe wat ons met gesag gehad het (een rede) en omdat dit menslik is om gesag te omseil of ontduik (eiewilligheid- nog ‘n rede). Dis juis die geblikte aggressie in leiers wat wil heers wat gesag vir ons onaangenaam maak.

 

Ons glo dat leierskap in ‘n gemeente versigtig moet wees met die verteenwoordiging van God se gesag. Daarom pas dit nie, behalwe in uitsonderlike omstandighede, om  hard op te tree teenoor mense, en veral lede van die kudde van die Here nie. Die leierskap is juis daar om te dien en nie om te heers nie. Die leierskap moet sien dat daar ruimte vir elke lid in die liggaam gemaak word. Die leierskap moet toesien dat die kudde nie seergemaak of verwond of mislei word nie. Tog is dit belangrik dat die leierskap goeie oordeel aan die dag sal lê wetende dat daar heelwat uiteenlopende Christelike sieninge onder Christene is en dat mense geneig is om baie dogmaties te wees oor ‘hulle’ weergawe van die waarheid. Die leierskap moet toesien dat lede van die kudde met vrye gewete kan funksioneer binne so ‘n raamwerk van aanvaarde Christelike lering. Nou is dit reeds ‘n probleem. Wat vir een Christen suiwer leer is , is dikwels vir ‘n ander suiwer kettery ! Byvoorbeeld : In die Charismatiese beweging word daar oor die algemeen waarde geheg aan mense se persoonlike belewing van die geloofslewe - dws subjektiewe ervaringe. In die formele Gereformeerde kringe is dit ongehoord - ervaring kan nooit as ‘n norm dien nie : net die Woord alleen. Volgens die siening kan jou “ervaring “ van God of bekering of van die vervulling met die Heilige Gees gladnie enige gewig dra nie. Baie gelowiges sal sommer goedsmoeds in ‘n verskil soos hierdie inklim en een of ander kant kies en dit verdedig, dikwels onnadenkend. Leierskap in ‘n gemeente moet groter wees as dit. Hoewel leierskap ‘n siening moet hê moet hulle besef dat daar ander gelowiges kan wees wat wettig van hulle verskil.  Die kuns lê daarin, en dit verg genade van God, dat leierskap sal kan onderskei wat “aanvaarbare” verskille en wat dwaling is. Om dit te kan doen is dit nodig dat leierskap nie net uit toegewyde mense sal bestaan nie, maar ook onder hulleself kennis sal dra van ‘n wye verskeidenheid van sieninge, en dat hulle dit gemaklik onder mekaar sal kan bespreek sonder om dogmaties te wees oor nie-essensiële dinge nie.

 

Dieselfde beginsel geld wanneer mense vermaan moet word. Die Bybel praat daarvan dat ons mekaar moet vermaan in liefde. Die probleem is dat ons mekaar so maklik wil vermaan omdat ons self vleeslik is! Ons sieninge verskil (en dit mag maar) en baie het daardie geblikte woede (en dit mag nie). Los die vermanery maar vir die ouderlinge. Laat hulle oordeel of iemand anders vermaning nodig het en bid liewer dat hulle die deernis van die Here vir elke lid van die kudde mag hê.

 

Die kudde van Jesus is juis ‘n plek waar mense gesond gemaak sal word, en waar hulle aanvaar sal wees, en waar hulle mekaar sal vryspreek. Mens  doen ‘n onreg aan jouself en aan andere en ‘n oneer aan die Here as jy met sulke onopgeloste gevoelens in jou rondloop. Jesus het juis gekom om mens daarvan vry te maak. Daar is ‘n BAIE belangrike gelykenis  - die een van die dienskneg wat 10000 geskuld het, en dis hom kwytgeskeld, en toe nie die een wat hom 20 geskuld het  wou vergewe nie. Ons kan en moet vergewe omdat ons vergewe is, en nie omdat iemand vergifnis verdien  nie!

 

---000---

KPJ Nel

2015-01-08


Directors: S.A.M Smit & J.F Koster - Copyright ©2018 HartiesNet (Pty) Ltd - our Disclaimer