Views!
HUNDREDS of daily LOCAL views - THOUSANDS of monthly LOYAL readers! THE MOST POPULAR ATTRACTION IN HARTIES!
Published:  2015-01-13 Views:  1629
Author:  karelnel
Published in:  Religion/Geloof
Gister, Vandag, More

Gister, Vandag en More

 

Ons het almal ons gisters. Vir party is  die gisters groot - vir ander nog klein. Een ding weet ons - ons gisters is verby - vir altyd. Ons kan daar niks aan doen nie. Al ons sondes lê daar. Al ons gebroke verhoudings. Al ons seerkry en swaarkry. Tog, hoewel verby, het ons gisters nog ‘n invloed op ons lewens vandag. As jy gister gekrenk is - dan krenk jy maklik ander mense vandag. As jy seergemaak was - dan byt jy maklik andere vandag. As jy tevore weggehardloop het, sal jy vandag nog makliker weghardloop. As jy ‘n verloorder was, is jy maklik weer een, as jy ‘n mislukking was, is jy maklik weer een. So baie mense (ook jy?) is gevangenes van hulle eie verlede. My afkoms verhinder my soms om iets groots te bereik. Ons maai wat ons gesaai het. Ou onderdrukte emosies laat my optree op wyses wat ek baie keer self nie op die oomblik verstaan nie. My verborge sondes en geskende gewete - dit dra ek saam. Ek is vasgevang in ‘n kringloop - vasgebind deur kettings in my kop!

 

Vandag is natuurlik die knooppunt wat jou met die ewigheid verbind. Ek en jy leef op die  snykant van die mes van tyd wat tyd en ewigheid van gister tot more oopkloof – dis die mikrosekonde van nou. Vandag is eintlik al  wat mens het, maar dis genoeg. Vandag is in jou mag. Maar vandag  maak ons  besluite met ewigheidsbetekenis. Elke besluitgeleentheid wat jy kry, is eintlik ‘n klein toetsie wat God vir ons opgestel het. Hoe ons ons besluite vandag neem, sê iets van wie ek is en wat ek van God dink. Dis vandag dat jy in die smeltkroes is. Vandag is jy onder druk. Vandag het jy skade. Vandag is daar pyn. Vandag is daar oorgenoeg om oor te kla. Is jy ‘n gevangene van vandag? Is die eindelose roetine van jou werk vir jou ‘n tronk?

 

More? Hoe lyk jou more??  Die pessimis sê - dinge lyk maar sleg voor! Dis ‘n vernietigende wyse om te leef, want dis iemand wie se god nie waarlik God is nie. Sommige sê - ek gee nie om nie, kom wat wil - so ‘n fatalistiese soort van houding. So mens kan geen bydrae tot die lewe maak nie. Sommige ander sê - Jesus kom gou. Hulle kort toekomsverwagting maak dat hulle sê - als help niks nie. Hulle kan nie hulle uitstrek en iets bereik nie. Nog ander het geen wederkomsverwagting nie.  Hulle het geen fokus of  dringendheid nie – koue, lou Christene.

 

Het jy al gesien wat staan in Hebreërs 13:8? “Jesus Christus is gister en vandag dieselfde en tot in ewigheid.”

 

Jesus Christus IS. Hy was nie net nie; Hy sal ook nie net wees nie; Hy IS altyd. Tyd vloei soos ‘n stroom verby, maar Hy is die ewige Rots wat vir altyd bly staan. Tot in ewigheid. En een van hierdie dinge wat ewig IS, is Sy kruis,  vir elkeen wat wil. Dis  ‘n moment wat die  wêreldgeskiedenis onherroeplik in twee geklief het. ‘n Monument wat onverganklik deur die Vader opgerig is voor die grondlegging van die wêreld en bly staan tot aan die einde van die eeue. As Hy die Werklikheid in jou lewe IS - dan verander alles : Jou gisters, jou vandag en ook jou mores. Om die waarheid te sê, as Hy nie in jou lewe is nie, het jy nog nie begin LEWE nie - jy bestaan maar net. Hy bring die ewigheid in jou hart.

 

Ons gisters verander Hy. Oor jou sondes bring Hy vergifnis - sodat jy ook kan vergewe. Hy maak jou vry - sodat jy kan vrymaak. Hy maak dat jy die  verlede kan afsluit. In Hom kan jy herontdek wie jy werklik is.

 

Ons vandag verander Hy ook. Hy maak dat ons in vreugde, vryheid en vrede kan lewe - As die Seun julle dan vrygemaak het, sal julle  waarlik vry wees! Jy ontvang genade sodat jy genade kan gee. Ook liefde sodat jy kan liefhê. Ook medelye en empatie. Hy maak dat jy rein kan lewe en dat jy tevrede kan wees. Dis asof die Gees vir ons sê : Vandag het jy kans om alles te kan verander!

 

Maar die belangrikste is dat Hy ons mores verander. Die sekerheid van ons saligheid is ‘n fondasie waaruit ons vreesloos kan leef. Omdat ons weet God is goedgesind teenoor ons kan ons lewe sonder veroordeling en kan ons andere vryspreek. God veroordeel ons nie - Hy verwyt nie eers nie.

 

Baie mense dink die toekoms is soos ‘n rolprent wat bloot vir hulle vertoon word. As die dag van more kom, sal hulle maar die tonele beleef soos dit opgeneem is. Dis ‘n baie negatiewe siening en maak dat ons nie werklik vir God iets kan doen nie. Die toekoms  saam met die Here is eerder soos ‘n  dagboek. Ek skryf in my dagboek afsprake en gebeurtenisse vir more en die weke daarna, en wanneer die dae aanbreek, dan word  die afsprake en beplande gebeure ‘n werklikheid. Wanneer ek dus in my dagboek skrywe, dan neem ek deur God se genade deel aan die skepping van my eie toekoms! Klink dit radikaal? As jy nie jou toekoms so saam met die Here skep nie, dan doen ander mense  dit vir jou, of gebeure wat  rondom jou plaasvind bepaal jou mores. Deur jou toekoms te skep kan, jy ‘n verskil maak in jou eie lewe, asook vir dié rondom jou. Neem hierdie groot vryheid en verantwoordelikheid op uit die hand van die Here en laat  die planne wat jy maak aan die Here oor - Hy sal dit uitvoer!

 

Luister - Hy wat IS, is al Een wat ‘n mens uit die eindelose sirkelgang van die lewe kan uithaal. In Hom alleen kry jou lewe koers.

 

---000---

KPJ Nel

2015-01-12

 


Directors: S.A.M Smit & J.F Koster - Copyright ©2018 HartiesNet (Pty) Ltd - our Disclaimer