Views!
HUNDREDS of daily LOCAL views - THOUSANDS of monthly LOYAL readers! THE MOST POPULAR ATTRACTION IN HARTIES!
Published:  2015-01-13 Views:  1045
Author:  karelnel
Published in:  History/Geskiedenis
Ons Leefwereld - Afrika

Ons leefwereld – Afrika

 

Afrika is die hartseer kontinent van die wêreld.  Afrika bevat tegelyk die verborge beloftes van ontsaglike rykdomme in terme van olie, diamante en ander minirale, maar tesame daarmee ook die grootste ellendes denkbaar in terme van natuurrampe en oorloë.  En die grootste tragiek hiervan is dat Afrika en sy omstandighede nie werklik meer saak maak vir die wêreld nie – Afrika is onbeduidend in wêreldterme en Afrika se menselewens is feitlik niks werd vir die ontwikkelde Weste nie, veral sedert die einde van die Koue Oorlog. Afrika is in baie gevalle net ‘n skatkis wat deur internasionale maatskappye beroof  word in samewerking met gewetenslose, selfverrykende, magsbehepte regeringsleiers.  In baie Afrika state is die regering, wat die bevolking se beskermer moes wees, eerder die mense se grootste bedreiging en onderdrukker, en die veiligheidsmagte is net daar om die regime te beskerm en in die saal te hou.

 

Die bostaande omstandighede het daartoe gelei dat Afrika deurspek is met internasionale belange wat minirale op ‘n hoogs winsgewende basis herwin, en dit aanhou doen deur die lojaliteit van die betrokke regerings te koop.  Weinig of geen van die rykdom gaan na die gewone mense toe, of word in die verbetering van die land ingeploeg nie.  Oor die algemeen is Afrika in ‘n staat van verval.  Ten einde hulleself te beskerm huur die maatskappye  privaat sekerheidsaatskappye en sommige Afrika-regerings het al dieselfde gedoen deur huurtroepe te bekom vir hul eie sekuriteit.  Gevolglik het Afrika, benewens die verskillende state en leërs, ook nog ‘n rykdom van private sekerheidsbelange wat in sekere sleutel-areas belangrike invloed uitoefen.  Hierdie dinge, asook die heersende armoede, het baie van Afrika se state op die rand van ineenstorting gebring.  Van die state bestaan eintlik net effektief in en rondom die stede en die grense is poreus en laat heen-en-weer beweging van mense en goedere onbeheerd toe.  Van die wêreld se 40 armste nasies, is 32 in Afrika en die hele Afrika lewer maar ongeveer 2% van die wêreld se ekonomiese produksie.

 

Faktore wat toestande in Afrika benadeel is die groot bevolkingsgroei (3%), wanadministrasie, selfbevoordeling deur die elite, lae investering in die landbou (bestaansboedery), geweldige buitelandse skuldlaste en die einde van die Koue Oorlog – wat die waarde van die Afrika-stem in die internasionale forums van die wêreld laat afneem het.  Vir meer as 100 jaar het koloniale heerskappy relatiewe vrede, opvoeding, gesondheidsdienste en ekonomiese ontwikkeling na Afrika gebring.  Sedert 1957 het al die state van die Swart Afrika hul onafhanklikheid gekry met die demokratiese verkiesings in Suid Afrika in 1994, as die laaste groot mylpaal, met baie groot implikasies vir Afrika.

 

Hoewel Suid Afrika ekonomies die sterkste land in die kontinent is, word Suid Afrika se leierskap nie sonder meer in Afrika aanvaar nie.  Minstens twee ander lande in Afrika streef na die leierskapsposisie, en hulle is Egipte en Nigerië.  In Oos Afrika is Kenia die mees beduidende land.  Selfs in die streek van Suidelike Afrika is dit bekend dat iemand soos President Mugabe nie wil aanvaar dat Suid Afrika die leiding neem nie.

Talle van die Afrika lande het nog oorblyfsels van hul vorige koloniale verlede.  Daarom word state geklasifiseer as Franssprekende Afrika (“Francophone Africa”), Portugees- sprekende Afrika (“Lucophone Africa”),  en Engelssprekende Afrika (“Anglophone Africa”), afhangende daarvan of dit onder die heerskappy van Frankryk, Portugal of Engeland was.  Dit wil voorkom of die state wat onder Franse heerskappy uitkom, beter verhoudings handhaaf met Frankryk as wat die ander state het met hulle vorige koloniale moondhede.  In groot getalle van vandag se swart politici se siening was kolonialisme ‘n baie negatiewe era, aangesien hulle dit byna sinoniem sien met slawerny, maar tog nie erkenning wil gee aan die voordele wat kolonialisme na Afrika gebring het nie.

Dit blyk asof die Verenigde Nasies toenemend vrede wil probeer bewerkstellig deur streeksorganisasies.  Derhalwe is die Afrika Unie belangrik, asook streeksorganisasies soos SAOG (SADC) en ECOWASS (in Sentraal-Wes Afrika).  Hierdie streeksorganisies kan egter nie behoorlik funksioneer wanneer daar nie goeie onderlinge verhoudinge is nie, maar vrede en stabiliteit in ‘n konfliksituasie kan nie van buite verseker word nie – daar moet werklike versoening tussen die verskillende partye wees.

Nigerië was tevore ‘n Britse kolonie wat in 1960 onafhanklikheid gekry het.  Dit is die land in Afrika met die meeste mense en die onbetwiste leier in Wes-Afrika. Die land het groot minirale bronne, en veral olie, maar deur korrupsie en verwoesting en swak bestuur word die geld nie aangewend om die land op te bou nie. Hoewel so ryk aan olie, voer die land groot hoeveelhede petroleumprodukte in. Groot brandstof-smokkelhandel bestaan tussen Nigerië en sy buurlande, en  Nigerië word telkens geteister deur brandstoftekorte. Sedert die tydperk na kolonialisme was die land se regeringstelsel onstabiel en was langer onder beheer van militêre regerings as onder burgerlike regerings.

Die land is verdeeld in drie groepe – ‘n Moslem-Noordelike streek, ‘n Christen suidelike streek en ‘n belt in die middel, wat die area is waar godsdienstige konflik voorkom.  Die Suide is die ryker deel, met die meer tropiese klimaat in vergelyking met die Noordelike deel, wat  woestynagtig is.  Tot 1991 was Lagos die land se hoofstad maar toe het die regering ‘n nuwe hoofstad ontwikkel by Abuja, wat die geografiese middelpunt van die land is.  Die land het ‘n baie groot buitelandse skuldlas en baie miljoene mense leef onder die broodlyn.  Nigerië is aktief betrokke by vredisinisiatiewe in Afrika en beskou hulleself as ‘n kandidaat om’n permanente setel op die VN se veiligheidsraad te verkry, sou so‘n setel aan Afrika toegestaan word.  Nigerië het ‘n jarelange grensdispuut met Kameroen, wat nou en dan tot skermutselings lei.

Kenia, die mees dominate staat in Oos Afrika, lê weerskante van die ewenaar, en uitstaande landmerke is Berg Kenia, die groot Rif-vallei en die Viktoriameer.  Dit is ‘n relatiewe stabiele staat in ‘n onstablie streek en het honderdduisend vlugtelinge uit Somalië.  Die land se vorige naam was Brits-Oos Afrika en het reeds in 1895 ‘n Britse Protektoraat geword.  Die aanvanklike belangstelling van Brittanje in Kenia was omrede die Nylrivier sy oorsprong daar het.  In 1914 was daar gewapende opstand teen die Britte en sedert 1920 het sterk politieke bedrywighede onder die plaaslike inwoners begin.  Jomo Kenyatta word vanaf 1947 die leier, en in 1952 – 1956 vind die berugte Mau-Mau aksies plaas.  In 1960 is daar ‘n oorgangskonstitusie ingestel, in 1961 is daar algemene verkiesings gehou en in 1964 het Kenia ‘n onafhanklike republiek geword.  In 1982 het Kenia ‘n eenparty staat geword en in 1997 is opposisiepartye weer toegelaat om te registreer, maar hulle is so versplinter dat hulle geen indruk sal kan maak nie.  Die land het interne etniese konflikte en ook gespanne verhoudinge met die buurland Uganda.  Verhoudinge met Westerse lande is ook nie goed nie vanweë  swak menseregterekords.  Die land se infrastruktuur is in ‘n staat van verval en die land het ook ‘n groot buitelandse skuldlas.

Die Demokratiese Republiek van die Kongo (tevore: Zaire) is ‘n uitgestrekte gebied wat ‘n groot deel van Afrika se reënwoude bevat, met swaar reënval en uitgebreide rivierstelsels.  Die land het ontsaglike minirale rykdomme en groot landboupotensiaal maar chaos sedert onafhanklikheid, wan-administrasie en korrupsie het die elite verryk en die nasie verarm.  Die vervoerstelsel werk nie en die land kan homself nie met voedsel voorsien nie.

In 1960 het België halsoorkop onafhanklikheid gegee aan die land wat nie daarvoor voorbereid was nie en dit het tot 8 jaar van bloedige burgeroorloë gelei.  ‘n Staatsgreep in 1965 het General Mobuto Seseko aan bewind gebring en hy het vir 30 jaar as ‘n diktator geregeer.  Hy het homself en die rondom hom skaamteloos verryk, met die stilswyende instemming van die Westerse nasies in ruil vir sy ondersteuning gedurende die Koue oorlog.  Met die ineenstorting in kommunisme het druk in die land toegeneem vir demokrasie en hervorming, maar Mobuto het alle pogings om hom uit die kussings te lig oorleef.  Teen 1993 val die land in chaos en het Laurent Kabila in 1997 die land oorgeneem en die naam verander na die DRK.  Hyself het opposisiepartye verban , die pers gemuilband, en niks gedoen aan die land se ontsettende armoede nie.  Binne ‘n jaar na sy oorname was die land weer in die greep van ‘n burgeroorlog.

Vroeg in 1998 het Anti-Kabila rebelle vanuit Uganda en Rwanda die Kongo binnegeval en begin dryf na die hoofstand Kingshasha.  Angolese & Zimbabwese soldate het tot die stryd toegetree en die aanmars gestuit.  Die land is steeds in ‘n bloedige  en baie komplekse stryd gewikkel.

Angola  was ‘n Portugese kolonie vir 450 jaar.  In 1975 het hulle onafhanklikheid gekry na 15 jaar van oorlog en die marxistiese MPLA het beheer verkry oor die regering met steun van Kuba.  Hierdie regering is sedertdien deur UNITA beveg, ten spyte van die vredesooreenkoms en veelparty verkiesings in 1991.  In 1993 het UNITA sowat 70% van die land beheer.  In 1999 het die MPLA met ‘n grootskaalse offensief UNITA se konvensionele mag gebreek.  UNITA is teruggedryf in die Suid Oostelike deel van die land waar hulle as ‘n effektiewe guerillamag herorganiseer het ,en vanwaar hulle die oorlog voortgesit het.  Die land het ryk minirale bronne maar sowat 80% van die inkomste word deur die oorlog opgeslurp.  Daar is miljoene vlugtelinge en mense leef ‘n haglike bestaan.  UNITA was ook aktief in die DRK . Unita is uiteindelik verslaan en Savimbi doodgeskiet.

Namibië is ‘n droë landstreek met oor die 570km kuslyn aan die Atlantiese Oseaan.  Dit was ‘n Duitse Protektoraat vanaf 1884 en is in 1914 deur Suid Afrika beset.  In 1925 is beperkte selfregering aan Suidwes Afrika toegestaan en in 1941 het die VN  ‘n versoek van Suid Afrika om Suidwes te annekseer van die hand gewys.  In 1966 het Suid Afrika betrokke geraak in die stryd teen SWAPO wat uiteindelik uitgebrei het tot die oorlog in Angola en Kuba, en in 1990 het Namibië onafhanklik geword.  Hoewel SWAPO marxistiese sentimente gehad het, het die SWAPO regering nie ‘n marxistiese regeringsmodel opgeneem nie, maar dié van ‘n veelparty demokratsie en ‘n gemengde ekonomie en dit het gelei tot ‘n relatiewe stabiele demokrasie.

Die land het groot bronne van diamante, uraan en ander minerale wat die hoofbron van inkomste is.  Ekonomiese vooruitsigte is goed indien die regering korrupsie kan beperk, en ook effektief kan werk aan die meer gelykmatige verdeling van rykdom.  In Namibië is daar ook ‘n landherverdelingskwessie.

Namibië het gely onder die burgeroorlog in Angola aangesien daar ‘n oorspoeleffek op die grens tussen die twee lande is.  Namibië het die MPLA van Angola toegelaat om vanuit Namibiese grondgebied oorgrensoperasies teen UNITA uit te voer in 1999.  Dit het gelei tot UNITA vergeldingsaanvalle op toeriste in die Caprivi-strook. Namibië het gedurende 1998/99 soldate gestuur om President Laurent Kabila van die DRK te steun wat ‘n baie groot las op die land gelê het.  Die Caprivi was onrustig aangesien daar politieke dryfkrag tot sesessie is, wat Namibië nie wil aanvaar nie.  Daar is gespanne verhoudinge met Botswana as gevolg van ‘n grens- en –waterdispuut.  Namibië sit verder met ‘n groot werkloosheidsprobleem.

Zimbabwe was vir baie jare  (sedert 1895) ‘n Britse kolonie en in 1923 is die blanke setlaars die keuse gegee of Rhodesië by SA ingelyf moes word.   Dit was toe verwerp.  Daarna het die land deel van die Federasie van Noord- en Suid Rhodesië en Nyassland geword.  In 1965 het Ian Smith Rhodesië onafhanklik verklaar (UDI) en dit het tot ‘n lang en uitgestrekte guerrilla-stryd gelei, wat na verkiesings in 1979 gelei het tot die stigting van die staat Zimbabwe in 1980.

Die totstandkoming van die onafhanklike staat het nie die onderlinge twiste in die land bygelê nie.  President Mugabe het gaandeweg die beheer oor die land strenger oorgeneem en opstande in Matableleland wreed onderdruk met sy vyfde brigade wat in Korea opgelei is.  Hy regeer steeds as ‘n diktator en wou in 1999 die konstitusie laat wysing om hom langer toegang tot die presidentskap te gee.  Sy party het die referendum oortuigend verloor en in die 2000 verkiesings was daar ook 'n beduidende swaai na die nuutgestigte opposisie die 'Movement for Democratic Change'.  Die land beleef groot ekonomiese agteruitgang, arbeidsonrus en korrupsie.  Die geldeenheid het die afgelope dekade dramaties gedevalueer totdat hulle die dollar as betaalmiddel begin gebruik het.

‘n Groot bron van ontevredenheid oor baie jare in Zimbabwe was die grondkwessie.  Reeds in 1934 is daar landverdelingswette aangeneem wat sowat 75% van die beste landbougrond vir kommersiële boerdery gereserveer het.  Hierdie grond was oorspronklik in die hande van blanke boere, wat baie suksesvol geboer, en Zimbabwe van voedsel, asook van sowat 30% van die land se  uitvoerprodukte voorsien het. (Die boere het ook ‘n baie invloedryke organisasie gestig – die CFU [Commercial Farmers Union]) Die grond wat deur die grootste hoeveelheid van die bestaansboere boere besit is, was meer geskik vir weiding..  Met onafhanklikheid het Mugabe aan sy oorlogveterane belowe dat daar, as beloning vir hulle dienste, aan hulle landbougrond toegeken sal word.  Mugabe het hierdie saak deur die afgelope 20 jaar elke keer as ‘n politieke speelbal gebruik om steun te werf gedurende verkiesings, maar nie werklik daarvan werk gemaak nie.  Volgens die onafhanklikheidsooreenkoms sou Britanje instaan vir fondse om die grond by die boere uit te koop.  Dit is egter gestaak na ‘n eerste rondte aankope, aangesien die aangekoopte plase almal in die hande van Mugabe en sy elite beland het.  Die verstaanbare frustrasie en ongeduld van die oorlogsveterane, wat intussen onbeheersd aangegroei het, het gelei tot die plaasbesettings vroeg in 2000 – wat deur Mugabe probeer uitbuit is vir die 2000 verkiesings.

Benewens die bestaande probleme, het Zimbabwe een van die hoogste insidensies van HIV/VIGS en dit het reeds ‘n baie negatiewe impak op die land.   Zimbabwe het  sedert 1998 soldate in die DRK ter ondersteuning van Laurent Kabila, en dit plaas baie groot druk op die land. Die land word sogenaamd  vergoed deur produksie uit DRK diamantmyne onder beheer van ‘n maatskappy (OSLEG) wat deur van Mugabe se vertrouelinge bestuur word.

President Mugabe het groot aansien geniet in Afrika, en ook in die wêreld, veral ten tye van Suid Afrika se apartheidsjare, aangesien hy die onbetwiste leier van die frontliniestate was.  Sedert die demokratiese verkiesing in Suid Afrika in 1994, en vanweë die besondere charismatiese rol wat President Mandela begin speel het, het Mugabe se rol vervaag maar hy wil dit nie aanvaar nie.  Hy het ook nie die leierskap van President Mbeki aanvaar nie.

Aangesien Zimbabwe, as een van die sterkste ekonomië in Afrika, Suid Afrika se belangrikste handelsvennoot is  -  het die welsyn van die land ‘n groot invloed op Suid Afrika. Suid Afrika kan hom dus nie distansieer van Zimbabwe se probleme nie.

Mozambiek is die armste land in die wêreld.  Dit was ‘n Portugese kolonie vir 470 jaar en Portugal as koloniale moondheid het Mozambiek in ‘n arm toestand agtergelaat.  Na ‘n lang en bitter oorlog vir onafhanklikheid het Mosambiek onafhanklik geword in 1975.  Die Renamo-rebellemag het daarna dood en verwoesting gesaai dwarsdeur die land met ‘n brutale guerilla oorlog.  Hierdie oorloë het die sosio-ekonomiese landskap van Mosambiek gevorm.  Frelimo het gelukkig afgesien van hul flirtasie met marxisme en sedertdien het die land met rasse skrede gegroei.  In Oktober 1992 is ‘n vredes-onderhandeling onderteken en ‘n ongemaklike vrede heers in die land.  Gedurende die 1999 verkiesings is die Frelimo regering herkies en dit is goed vir die land se stabiliteit.

Die land is onderworpe aan natuurrampe soos droogtes en vloede, waarvan die 2000 – vloed ‘n goeie voorbeeld is.  Dit het die land meer as Rbn4,5 gekos en die land se ontwikkeling baie teruggesit.  Die land is baie afhanklik van buitelandse hulp en duisende vlugtelinge vlug om ekonomiese redes na die RSA.  Die land se infrastruktuur is vervalle en die streek is ook verdeel in ‘n ryker suidelike en verarmde noordelike deel, wat op sigself spanning veroorsaak.

Die kontinent staar ontsaglike bedreigings in die gesig en dit is die gewone mens wat daaronder lei.  Op weinig plekke in Afrika lyk dit of die tendens van agteruitgang, veral korrupsie  en magsmisbruik hokgeslaan kan word.  Afrika word toenemend minder en minder ge-ag in die wêreld en buitelandse beleggings word eerder gedoen in wêreldstreke waar die risiko’s kleiner is.  Terselfdertyd word die minirale rykdomme van die kontinent en die kuswaters deur partye uit die res van die wêreld geplunder, in samewerking met magsbehepte, korrupte leiers.  Is daar enige hoop vir Afrika?

 

President Thabo Mbeki het begin met ‘n nuwe droom vir Afrika – en hy noem dit “African Renaissance”.  Hy het dit oral bemark en probeer om daardeur weer ‘n sprankie hoop en rasionaliteit terug te bring na Afrika.  Dit sal egter ‘n fundamentele denkverandering in Afrika verg.  Omdat die inisiatief egter van Suid Afrika uitgaan, was daar nie baie onderteuning vir hierdie stem wat in die woestyn roep nie.

---000---

KPJ Nel

2015-01-12


Directors: S.A.M Smit & J.F Koster - Copyright ©2018 HartiesNet (Pty) Ltd - our Disclaimer