Views!
HUNDREDS of daily LOCAL views - THOUSANDS of monthly LOYAL readers! THE MOST POPULAR ATTRACTION IN HARTIES!
Published:  2015-01-14 Views:  2048
Author:  karelnel
Published in:  History/Geskiedenis
n Verhaal Van Suid Afrika

‘n Verhaal van Suid Afrika

Uit die asse van die Anglo-boereoorlog het die Unie van Suid Afrika in 1910 tot stand gekom en as Britse kolonie regdeur die wêreld erkenning gekry.  Generaal Louis Botha, een van die vorige Boeregeneraals word die nuwe Eerste Minister.  Twee jaar later, in 1912, word die ANC gestig onder die swart intelligentsia en ‘n jaar later die Nasionale Party.  Met die uitbreek van die eerste wêreldoorlog in 1914 is daar op die Boeregeneraals ‘n beroep gedoen om deel te neem namens Engeland, maar dit het gelei tot die rebellie wat met wapengeweld onderdruk is.  Met die dood van Louis Botha in 1919 was dit ‘n slag vir die NP, en die Afrikaners, wat al hoe meer verstedelik het –het kom werk in die myne – het toemend in politieke organisasies betrokke begin raak – vernaamlik arbeidsorganisasies.  In 1920 word die Suid Afrikaanse Kommunistiese party gestig – een van die oudste en mees puristiese kommunistiese partye buite Rusland.  ‘n Paar Joodse families was prominent in die stigting.  Ekonomiese konflik was aan die oplaai in 1921 in Johannesburg en baie Afrikaner werkers het by die Kommunistiese party aangesluit . Toe arbeidsonrus in 1922 in die myne uitbreek, het Generaal Jan Smuts tenks ingestoot om die opstand te onderdruk.  Dit het die Afrikaner politiek vir altyd verdeel.

In 1924 het Lenin gesterf en Stalin het by hom oorgeneem en toe Suid Afrikaners die Wêreld konferensie van Kommunisme in 1926 bywoon is die opdrag aan die KPSA gegee dat swart leiers die organisasie moes oorneem.  Die standpunt is in 1928 deur Stalin herhaal.  In 1929 het die Wall-Street mark in duie gestort en dit het onder andere gelei tot die begin van die groot depressie in Suid Afrika, wat tot groot armoede gelei het onder die Afrikaners – veral gedurende die groot droogte van 1933.

Toe die Tweede Wêreldoorlog in 1939 uitbreek is baie wit Suid Afrikaanse soldate opgeroep om namens Engeland aan die oorlog te gaan deelneem.  Op baie van die jong manne, wat in die Staatsdiens, Spoorweë ens. was,  was daar morele druk uitgeoefen om die eed van getrouheid aan die Britse Kroon af te lê en in Afrika en selfs Europa te gaan veg.  Hierdie  ede was die sogenaamde blou-eed en rooi-eed en vandaar die terme “rooi-lissies” en “blou-lissies”.  Die sterk Duitse nasionalisme het egter ook aanklank gevind in Suid Afrika en heelwat vurige patriotorganisasies, soos die Ossewa brandwag, die Gryshemde, en die Bruinhemde het ontstaan om die Duitse saak te bevorder.  Dit het tot menigte konflikte, in veral Johannesburg, gelei.  Die blanke soldate, wat die land verlaat het, se posisies is in sommige gevalle gevul met swart werkers en dit het konflik veroorsaak met die terugkeer van die soldate.  Dit het gelei tot die slagspreuk  “Die Swart Gevaar” wat later jare in die politiek misbruik is.  Andersyds het veral Kleurlinge wat ook aan die oorlog deelgeneem het gebelgd gevoel om terug te kom na Suid Afrika en weer ‘n tweedeklas burger te wees.

Teen hierdie agtergrond het die Nasionale Party verrassend aan bewind gekom in 1948, met ‘n meerderheid van setels, maar ‘n minderheid van stemme.  Generaal Jan Smuts was verras en moes die pos as Eerste Minister halsoorkop ontruim en gerugte  wil dit hê dat hy geskarrel het om sensitiewe inligting uit die staatskantore te verwyder, en waarskynlik na Engeland te stuur.  Dr Malan, ‘n Predikant van beroep het 4 beginsels aangedui waarvolgens hy voorts die land sou lei:

•             Die magsoorname was ‘n vervulling van die doel van die Afrikaner – om te lei as Christene

•             Nasionalisme kon nou groei – selfbeskikking vir die blankes

•             Ontwikkeling

•             Vryheid

Teen 1950 word die wet op die onderdrukking van Kommunisme gepasseer en die KPSA word verban aangesien hulle Malan se eerste waarde – Christelikheid – bedreig het. Die KPSA het egter spoedig net hulle naam verander en hulleself so weer prakties “ontban”.  In 1955 het die “Congress of the People” die sogenaamde “ Freedom Charter” aangeneem wat ‘n baie belangrike dokument in die stryd teen apartheid sou word.  Dit bevat stellings soos “The People shall govern”;  “All National Groups shall have Equal Rights”, “The People shall Share in the Country’s Wealth”, “The Land shall be Shared Among Those Who Work It”, “All Shall be Equal before the Law”, “All shall Enjoy Equal Human Rights”, “There shall be Work & Security”, “Doors of Learning and Culture shall be openend”, “There shall be Houses, Security and Comfort”, “There shall be peace and Frienship”! Dit is 'n idealistiese dokument wat destyds deur die regering in 'n sterk negatiewe lig  beskou is, maar waarvan baie vandag in die nuwe  grondwet van Suid Afrika vervat is.

Terselfdertyd was daar ook ongemak binne die ANC – veral verwoord deur Robert Sobukwe.  Dit lei in 1959 tot die stigting van die PAC en hul militêre  vleuel, Poqo.  Dit was ook dieselfde jaar dat die Wet op aparte geriewe gepasseer is en swart studente moes voorts na Swart Universiteite gaan.  So is die room van die Swart volke uit die samelewing verwyder, maar terselfdertyd blootgestel aan hoogs verpolitiseerde omgewing van die swart Universiteite.  In die VSA was daar in dieselfde tyd die opkoms van die sogenaamde swartmag beweging en hul werke is met groot  belangstelling in Suid Afrika gelees.

In 1960 , op 21 Maart vind die opstand in Sharpeville plaas en ‘n aantal swart jeugdiges word doodgeskiet deur die polisie. Dit veroorsaak ‘n storm van protes en verontwaardiging deur die hele wêreld.  Doktor Verwoerd gaan na Engeland en besluit om Suid Afrika uit die Britse Gemenebes van State te onttrek.  Hy kry ‘n helde-ontvangs deur duisende patriotiese blankes toe hy na Suid Afrika terugkeer.  Op 31 Mei 1961,  na ‘n referendum onder die blankes van die land, kom die Republiek van Suid Afrika tot stand.  In dieselfde jaar begin die ANC met hulle militêre offensief teen die land deur middel van hul militêre vleuel – Umkhontho We Sizwe –  The Spear of the Nation – MK, en die regering verban vir ‘n tweede keer alle subversiewe organisasies.

In 1962 word die era van etniese swartpolitiek ingelei, en name soos Buthelezi, Matanzima en Rasjbanji verskyn op die toneel.  In 1963 vind daar struwelinge in die Afrikaner Broederbond plaas en Ds Beyers Naude bedank daaruit en stig sy eie tydskrif “Pro Veritate".  Hy verhuis om as leraar van die kerk in Mamelodi te kom woon. In 1964 het hy ‘n groot bewilliging van die VK en die VSA gekry om ‘n studie te loods oor die vreedsame oorgang van Apartheid na demokrasie, en om die doel te bereik stig hy die groep SPROCAS ( Study Project on Christianity in Apartheid Society).  In dieselfde jaar plant ene Harris die stasiebom op Johannesburg stasie en hy word ge-arresteer en later gehang.  Dit is ook die jaar wat Nelson Mandela en 7 ander aktiviste tronk toe gestuur is vir hul aandeel in terrorisme – deur die Rivonia verhoor wat in Oktober 1963 begin het. 

In 1966 word Dr Verwoerd in die parlement vermoor toe ‘n bode, Dimitri Tsafendas, hom met ‘n mes steek.  Dit was ‘n ontsaglike skok vir die Afrikaners, wat groot ontsag vir Dr Verwoerd gehad het.  Hy word opgevolg deur Advokaat John Vorster, die vorige minister van Justisie en dit lei ‘n era in van sekurokrate wat die land beheer het.  Terwyl die regering alles in sy vermoë gedoen het om kommunistiese opkoms in Suid Afrika te beveg is al hoe meer organisasies gestig om te werk vir die sogenaamde demokratisering van Suid Afrika.  Baie van die NGO’s (Non Governmental Organizations) het groot bedrae geld uit die Weste ontvang ten einde die proses van demokratisering te bevorder.  Organisasies wat in die tyd ontstaan het was die UCM (University Christian Movement), SASO (South African Students Organisation), NUSAS , asook verskeidenheid Swart Bewussyns- bewegings.  In 1968 raak Steve Biko, ‘n tweede jaar mediese student bekend to SASO gestig word.  Die regering se teenvoeter was ‘n filosofie om die sogenaamde “Totale Aanslag”, soos wat die bedreigingspersepsie was, te probeer teenstaan, en dit het gelei tot die subtiele militarisering van die samelewing.

In die laat sestigerjare en vroeë sewentigs was die land besig met verskeie prestige projekte soos die ontwikeling van die G5-kanon, die Uraanverrykingsproses en Kernploftoestelle vir vreedsame aanwending.  Die politieke motief agter die laasgenoemde was dat enkele kernploftoestelle gebou sou word, en indien die bedreiging uit Noordelike state, met die hulp van Kuba, teen die land baie groot sou word, een van hierdie toestelle ondergronds afgesit sou word as ‘n waarskuwing.  Dit sou opgevolg word met ‘n tweede een indien daar nie aan die eerste een gehoor gegee sou word nie. ‘n Toetsterrein is in die Kalahari daarvoor ontwikkel maar dit is deur Russiese en Amerikaanse Spioenasiesatteliete opgespoor en onder hewige politieke druk is die terrein afgetakel en die kernplofstofprogram weggeskuif van die destydse Raad op Atoomkrag.

In 1972 breek die eerste groot arbeidsonrus uit in Durban by die Fattis & Monis fabriek en dit versprei soos ‘n veldbrand deur die hele land, en so word die land se mense toenemend teenoor mekaar gepolariseer.  Interessant om te weet dat in die volgende jaar, 1973 die Afrikaner Weerstandsbewing net buite Heidelberg gestig is.

Toe Frelimo aan bewind kom in Mosambiek in 1974, was daar groot opgewondenheid in sekere kringe in Suid Afrika en talle pro-Frelimo optogte is gehou.  Dit was ook die tyd van SWAPO – terroriste aktiwiteite en Suid Afrika se soldate het sedert 1972 begin betrokke raak op die Noordgrens van Suidwes.  In 1975 vind Operasie Savannah plaas toe Suid Afrikaanse soldate binne ‘n paar maande vorder tot binne bereik van Luanda, maar moes onttrek as gevolg van druk wat die Amerikaners uitgeoefen het.  In dieselfde jaar (1975) is die IVP gestig na ingewikkelde voetwerk van die Veiligheidsmagte, as ‘n teenvoeter  vir die ANC, maar in ‘n opportunistiese skuif het Buthelezi die inisiatief gekaap en die organisasie agter hom  verenig.

In 1977 het die veiligheidsmagte hulle hande vol gehad om die situasie  in die land te beheer , Rick Turner (deel van Beyers Naude se span) is vermoor en Steve Biko sterf in September in die gevangenis.  Op 19 Oktober het die regering ‘n derde keer wetgewing gepasseer wat swart bewussynsorganisasies verban het en dit het ‘n verdere vakuum geskep in Swart Politiek.  In dié tyd was dit die bewind van Lang Hendrik van der Bergh (Veiligheidspolisie) die Eschel Rhoodie debakel (Department van Inligting) en die Citizen skandaal.

Terwyl die oorlog in Angola in 1977 op dreef gekom het, het die Lancaster beraad ten opsigte van Rhodesië plaasgevind,  gevolg deur die verkiesings in 1979 en die stigting van Zimbabwe vroeg in 1980, met President Mugabe as die eerste leier.  Hiervandaan het Mugabe ‘n belangrike rol begin speel as die leier van die frontlinistate om die druk teen Suid Afrika te koördineer.

Al die druk het die regering genoop om alternatiewe politieke modelle te vind ten einde die regering van die land meer verteenwoordigend te maak, sonder om die mag wat die blanke volksgroep gehad het, onmiddellik prys te gee.  Intussen het die weerstand onder konserwatiewe Afrikaners toegeneem sodat die KP gestig is in Maart 1982.  Een van die regering se pogings was die nuwe konstitusie, met die driekamerparlement, wat ingestem is in Augustus 1983 en wat die Asiërs en Kleurlinge in die regeringsproses ingebring het.  In Eshowe het Alan Boesak die UDM begin en Hendrikse en Rasjbanji het aangesluit.  Om verstaanbare redes het al hierdie veranderinge die Afrikaner bedreig laat voel en regse politieke opposisiegroepe het geleidelik meer belangrik geword.

In September 1984 is die Vaal Civic organisasie gestig en baie gou het opstand weer oral in die land opgevlam sodat ‘n gedeeltelike noodtoestand in 1985 afgekondig is, hoewel dit nie veel gehelp het nie, sotdat op 12 Junie 1986 ‘n volskaalse noodtoestand afgekondig is.  In hierdie tyd was die Angola-oorlog steeds op dreef hoewel die Lusaka ooreenkoms in 1985 gesluit is.  In Oktober 1986 het die VSA Kongres die Anti-Apartheidswet aangeneem wat groot VSA maatskappye en beleggingsfondse verplig het om uit Suid Afrika te onttrek – met groot skade aan die Suid Afrikaanse ekonomie.  Dit was ‘n belangrike keerpunt in die geskiedenis van Suid Afrika.  In 1987 word die KP die amptelike opposisie in die parlement.

PW Botha was op die stadium aan bewind in Suid Afrika en met die bestaande verdedigingsmasjinerie tot sy beskikking kon hy sterk beheer oor die land uitoefen. FW de Klerk was die leier van die NP in Transvaal en die media het hom voorgestel as ‘n relatiewe regse politikus.  Toe  PW Botha skielik siek word in Januarie 1989 en FW de Klerk skielik by hom oorneem, het sy eintlike oogmerke om Suid Afrika so gou moontlik in die oorgang te lei duidelik geword.  Hy het dadelik stappe geneem en Nelson Mandela uit die gevangenis vrygelaat in Februarie 1990 en alle partye na Codesa genooi, vanaf Desember 1991, waar die tussentydse konstitusie opgestel is.

In Maart 1992 het die Blankes van Suid Afrika met ‘n sterk meerderheid “ja” gestem in ‘n referendum om politieke hervormings te steun en dit was ‘n belangrike politieke waterskeiding in die land.  In Maart 1993 het die Regering aangekondig dat hulle die land se kernwapenprogram afgetakel het, en die kernsperverdrag sou onderteken.  In November 1993 is die Tussentydse konstitusie, wat voorsiening gemaak het vir 5 jaar van Eenheidsregering, deur 19 partye onderteken.  Die eerste ten volle demokratiese verkiesings het vreedsaam plaasgevind gedurende 26 – 29 April 1994 waarin Mnr Mandela as die eerste President ingestel is.  Kort daarna het Suid Afrika toegetree tot die OAE, deelname in die VN is hervat en het ons weer deel geword van die Britse Gemenebes (Statebond).  In November 1995 is Biskop Desmond Tutu aangestel as die Voorsitter van die Waarheids-en-Versoeningskommissie en hul eerste sitting gehou het in April 1996.  In Desember 1996 het President Mandela die finale konstitusie goedgekeur wat na 1999 geïmplimenteer sou word, wat inderdaad die geval was na die verkiesing van 1999.

Oor die gebeure sedert 1994 sal in ‘n latere artikel berig word.

---000---

KPJ Nel

2015-01-13

 


Directors: S.A.M Smit & J.F Koster - Copyright ©2018 HartiesNet (Pty) Ltd - our Disclaimer