Views!
HUNDREDS of daily LOCAL views - THOUSANDS of monthly LOYAL readers! THE MOST POPULAR ATTRACTION IN HARTIES!
Published:  2015-01-14 Views:  6896
Author:  karelnel
Published in:  History/Geskiedenis
Ons Leefwereld - Die Nalatenskap Van Apartheid

Die nalatenskap van Apartheid

Die woord “apartheid” het wêreldwyd ‘n ontsettende vloekwoord geword en het daarmee saam ‘n stigma gebring wat Suid Afrika moeilik sal ontgroei.  Al die argumente wat ‘n mens sou kon aanvoer om ook die positiewe dinge van die apartheidstydperk te probeer demonsteer help niks, want die begrip dat apartheid sinoniem met rasisme en boosheid is, is so sterk gevestig in die wêreld en in die gemoedere van van die grootste deel van die inwoners van ons land, dat soiets dadelik ongeloofwaardig is.  Niemand argumenteer teen die feit dat die VN “Apartheid” as ‘n misdaad teen die mensdom (Crime against humanity) verklaar het nie.  Terwyl die blanke bevolkingsgroep die sogenaamde voordele van die onregverdige stelsel geniet het, en meeste van hulle nie ‘n duidelike bewussyn van die probleem gehad het nie, het groot dele van die swart en anderskleurige bevolking dit baie akuut en vernederend en krenkend ervaar.  Die probleem is ongetwyfeld ook deur baie politiekery oorsensiteer sodat dit onherroeplik in die nasionale geheue van veral die swart bevolking ingebrand is.  Hoewel ryk en arm, regering en regeerdes, onderdrukker en onderdruktes regoor die wêreld deur alle eeue voorkom, word die verskille in Suid Afrika nie in dieselfde lig beoordeel nie.  Hoewel groepe regdeur die wêreld ‘n neiging tot assosiasie met hul eie het, en in baie gevalle eksklusiewe gemeenskappe vorm word die skeiding wat in Suid Afrika be-oefen is, nie in dieselfde lig aanvaar nie.  Die verskil lê waarskynlik daarin dat dit wetmatig afgewing is.  Hoewel die destydse wetgewers moontlik die beste intensies gehad het word hul motiewe vandag as onderduims, boos en selfverrykend gesien, en sulke leiers uit die verlede word daardeur gekriminaliseer.

Oor die algemeen word apartheid, as ‘n stelsel wat mense van mekaar geskei het op grond van hul ras, gesien as ‘n proses wat beide die onderdrukker en onderdrukkers ontmenslik het.  Apartheid het die gemeenskaplike basis wat die verskillende volke in die land moes hê, verwyder.  Omdat daar geen behoorlike metodes was waarvolgens veral die swart politieke aspirasies uitgedruk kon word nie, het die bevolking hul politieke frustrasies op elke denkbare manier probeer uitdrukking gee.  Die verbanning van organisasies en arrestasie van werklike leiers, wat 'n boodskap gebring het wat die apartheidstelsel nie wou hoor nie, het juis hierdie  kanale herhaardelik vernietig.  Die gevolg was die ontelbare organisasies wat gestig is, en veral die duisende NGO’s wat aansienlike befondsing uit die buiteland gekry het.  So het maatskaplike-, godsdienstige en sosiale organisasies die instrumente geword waardeur konflik gevoer is. 

Apartheid het ‘n gemeenskap van geweld gekweek – tot so ‘n mate dat geweld ‘n norm geword het.  Politiek en geweld het onskeibaar geword en beide die regering en die vryheidsbewings het gebruik gemaak van geweld om politieke verskille te probeer besleg.  Geweld het in ‘n sin “gewettig” geraak.  Tot ‘n sekere mate het geweld selfs status gekry - daar in ‘n soort romantiek gekoppel aan geweld om die vryheid van die volk te verkry (The Struggle).  So het die Suid Afrikaanse samewerking gemilitariseerd geraak aan beide kante.  Sedertdien het ons politieke bestel verander om uitdrukking te kan gee aan die politieke ambisies van alle burgers.  Daardeur is daar meganismes gestel om politieke geweld mee te beheer, maar intussen het baie van die grondoorsake van geweld netso bly staan.  Politieke geweld het nou net ‘n ander gesig gekry:  Kriminele geweld.  Die patroon van geweld het verander maar die wortels het dieselfde gebly.  Hoewel ‘n nuwe geslag swart kinders opgroei met geen werklike konsep van die apartheidstelsel nie, ervaar hulle hulleself  steeds as ‘n gemarginaliseerde groep in stryd met die res van die samelewing.  Om redes hierbo genoem sal die karikatuur van apartheid nog lang skaduwees gooi oor die toekoms van Suid Afrika.

Hoewel apartheid amptelik verby is beïnvloed dit die Suid Afrikaanse samelewing steeds.  Die rykdom- en rasse-verskille is steeds daar (al is dit nie in geheel aan apartheid toeskryfbaar nie), die wantroue tussen rasse is steeds daar.  Op ‘n ander, meer subtiele wyse oefen  dit ook ‘n negatiewe invloed uit.  Baie van die sogenaamde slagoffers van apartheid dig elke negatiewe ding in die land toe aan die nalatenskap van apartheid.  Huidige onvermoëns om die samelewing in stand te hou en te laat groei word nie in die oë gekyk nie, maar alle skuld word op ‘n oneerlike wyse geprojekteer op die “ongeregtighede” van die verlede.  So is mense steeds vasgevang aan die verlede en kan nie losbreek om ‘n verskil in die toekoms te maak nie.

Die nagevolge van apartheid het ook ‘n negatiewe impak op die blanke bevolking van ons tyd gehad. Hullehet verraai gevoel.  Baie sal sê dat hulle nie werklik bewus was van die nadele wat apartheid vir ander groepe ingehou het , en dat hulle nie werklik persoonlike voordele daaruit getrek het nie en dus ook nie persoonlik aanspreeklik voel nie.  Die skuldgevoel wat die wêreld, op die blankes van die land projekteer, asook die sogenaamde regstellende aksies, word as totaal onregverdig ervaar.  Die persepsie van die oorweldigende meerderheid wat die minderheid stelselmatig begin oorheers, en die onverbiddelikheid waarmee dit toegepas word, wek soms die indruk dat daar geen toekoms meer vir die blanke persoon in die land is nie.  Hoewel baie weet dat hulle vanweë hul vermoëns ‘n bydrae kan maak, bestaan die indruk dat hul bydrae ongevraagd en selfs ongewensd is, en moet hulle maar toesien hoe dit wat oor jare opgebou is, verval.  Dit is derhalwe nie vreemd dat hoogsgeskoolde mense, wat elders in die wêreld bemarkbaar is, in groot getalle die land verlaat het nie.  Dit is ook nie vreemd dat jongmense wat in hierdie klimaat grootword moedeloos en swartgallig oor die toekoms sal wees nie – want hulle persepsie is dat hulle nie werklik ‘n regverdige kans staan nie.  Dit maak dat hulle nie eers wil probeer om hulleself te verbeter nie aangesien dit, volgens hulle, nie veel sal help nie.  Hierdie negatiewe houding word uiteindelik ‘n selfvervullende profesie, aangesien ‘n halfgeskoolde persoon baie min beteken in die samelewing van vandag en buitendien in ‘n ontsettende groot mark moet kompeteer.  ‘n Positiewe geestesingesteldheid en ‘n vurige drang tot selfverbetering en lewenslange leer (lifelong learning) is nodig om mense in ‘n posisie te stel om die tallose geleenthede wat die toekoms bied, kreatief te benut.

Of dit nou apartheid se skuld is of nie – ons het daagliks met onaangename realiteite te doene. Mens kan maar ‘n slagoffer wees deur te sit en wag dat dinge met jou gebeur, of jy kan jou toekoms self help verseker deur positief iets te doen. Jy het Godgegewe talente en kreatiwiteit wat jou toerus om iets besonders van jou toekoms te maak!

---000---

KPJ Nel

2015-01-14

 

 


Directors: S.A.M Smit & J.F Koster - Copyright ©2018 HartiesNet (Pty) Ltd - our Disclaimer