Views!
HUNDREDS of daily LOCAL views - THOUSANDS of monthly LOYAL readers! THE MOST POPULAR ATTRACTION IN HARTIES!
Published:  2015-01-31 Views:  1419
Author:  karelnel
Published in:  History/Geskiedenis
Dominee Johann

Dominee Johann

Elke dienskneg van God laat een of ander voetspoor in mense se lewens agter en dit is goed om soms net bietjie by die voetspore stil te staan en te kyk waarlangs die pad geloop het. Ds Johann Joubert is so ’n persoon wat oor baie jare ’n bediening van die Here uitgeleef het onder die mense van Hartbeespoort.

Carl Johannes Jacobus Joubert is op  30 Mei 1948 op Warmbad in Transvaal gebore as seun van Eben en Dollie Joubert, vernoem na sy oupa Holliday. Sy vader was aanvanklik by padmotordienste van die spoorweë betrokke. Hy gaan in 1951 na die Vrystaatse Goudvelde waar daar ongeveer sedert  1949 goud ontgin word. Hier werk  hy as klerk op die myn waar hy in 1978 na ‘n kort siekbed oorlede is. Sy moeder werk ook vir jare op die myn waar sy in 1985 aftree. Hulle woon in die dorpie Allanridge.

Die naaste NG Kerk was Odendaalsrus, maar in die omgewing van 1953 het die gemeente Allanridge afgestig. Hier word die christelike opvoeding wat hy in die huis ontvang het versterk en gevestig.

Hy gaan skooltoe by die Primere Skool Allanridge. Die eerste twee jaar daarvan in tydelike asbesgeboue terwyl die permanente skoolgebou in aanbou was. Daarna matrikuleer hy by die Hoërskool Wessel Maree op Odendaalsrus in 1965. Op skool was sy belangstelling in motors.  Hy het reeds voorskool al geweet dat hy ‘n predikant gaan word en sy pa was vir hom ‘n besondere inspirasie in sy lewe.

Maar eers moes hy weermag toe en in 1966 het hy opleiding ondergaan by die Leërgimnasium in Voortrekkerhoogte, wat hom ‘n goeie grondslag van dissipline gegee het wat hom vir die res van sy lewe sou bybly. Hy voltooi die offisierskursus as deel van die opleiding daardie jaar. Later jare dien hy as kapelaan in die burgermag.

Vanaf 1967 tot 1970 word hy ‘n Kovsie en hy woon in Huis Malherbe. Hy slaag die graad BA Admissie met hoofvakke Afrikaans-Nederlands en Wysbegeerte. Dit gee hom toegang tot die B Th en Lisensiaat studie in Teologie aan die Universiteit van Stellenbosch (1971-1974), waar hy kies om te spesialiseer in Kerkgeskiedenis. Sy nagraadse verhandeling het gehandel oor ‘n skotse predikant met die naam Robert Shand. Dit vertel die verhaal vertel van die kerkskeuring op die dorpie Tulbach in die 1835 en verder. Hy woon in Stellenbosch in Majuba koshuis vir twee jaar en daarna vir twee jaar in ‘n woonstel met die naam Wag-‘n-bietjie. Reeds op Universiteit beklee hy verskeie leierskapsrolle, onder andere in die Calvinistiese studiekomittee van 1974 en die bestuur van die Polumnia Studentevereniging.

In 1970 ontmoet hy ‘n pragtige nooi Esta Joubert. Sy was die enigste  dogter van Jannie en Anna Joubert van Welkom. Hy onthou hulle ontmoeting so: Altwee is afgesê en vriende het hulle probeer troos deur hulle aan mekaar voor te stel. Hulle tree op 16 Desember 1972 in die huwelik  op Welkom in die gemeente Reitspark. Hulle  vertrek daarna op wittebrood na  Stellenbosch om te gaan werk soek. Uit die huwelik is drie kinders gebore, te wete:  Eben op  4 Maart 1976, Janniel 10 Februarie 1980 en Carl op 17 Okotber 1983.

Sy eerste ervaring as predikant vanaf 1975 tot 1978 begin toe hy op November 1974 ‘n beroep ontvang as predikant na die moedergemeente in Wesselsbron, ‘n Dorpie wat hy reeds goed geken het as buurdorp. Vir hom was die uitstaande kenmerk van die tydperk in sy lewe die mense van die platteland. Hulle liefde en vrygewigheid staan uit. Natuurlik ook maar die spanning van leiding gee aan mense wat geweet het wat hulle aan die lewe het. Hy tree ook vir een termyn op as skriba vir die  Ringskommissie van die Ring van Boshof.

Rondom Desember 1978 ontvang hy ‘n beroep na Bloemfontein-Noord gemeente as mede-leraar en ook om onder andere met jeugwerk betrokke te wees. Hy was natuurlik ook reeds bekend met Bloemfontein aangesien hy daar studeer het en het nou ondervinding opgedoen om in ‘n stadsgemeente te werk. Wat hy altyd van die periode in sy lewe sal onthou is hoe nederig die groot leiers in die gemeente en die gemeenskap was. Mense  soos die Administrateur van die Vrystaat en die Rektor van Vrystaatse Universiteit. Hier doen hy ook een termyn diens in die Ringskommissie as skriba.

In Des 1982 ontvang hy ‘n beroep vanaf die NG Gemeente Hartbeespoort, om daar as mede-leraar te dien. Dit gemeente was ‘n jong gemeente wat enkele jare tevore afgestig het van Wesmoot gemeente. Die eerste leraar  was Ds Awie Viljoen, en sy vrou Junette wat toe alreeds sedert 1974 in die gemeente ge-arbei het.  Hartbeespoort was ‘n groeiende Afrikanergemeenskap, meestal jong intellektueles wat by die destydse Raad op Atoomkrag en Uraanverrykingskorporasie gewerk het. Hierdie twee instansies was ‘n miernes van bedrywighede en het soos ‘n magneet wetenskaplikes, ingenieurs, tegnici en ondersteunende personeel aangetrek en heelwat van hulle het rondom die Hartbeespoortdam in die klein dorpies kom woon. Hierdie besondere bevolkingssamestelling het heelwat eiesoortige uitdagings gehad en geleenthede gebied. Na baie gebed het Johann en Esta besluit om die beroep te aanvaar en Johann is vroeg in Februarie 1983 in die gemeente bevestig deur dr Frans Burger van Bloemfontein-Noord.

Van die begin af was dit op sy hart om aandag te gee aan verhoudings. Hy het baie daarvan gehou om met die jeug te werk en het talle belydenisklasse in die 27 jaar van sy bediening gehanteer. Hy het groot deernis vir noodlydendes en  mense in trauma en daarom het Johann betrokke geraak by beradingsaksies , die deernisbediening van die Ring, die bestuur van die plaaslike aftree oord en die bestuur van die Meerhof Skool vin gestremde kinders. Om homself te skool in die gebied het Johann ook verskeie kursusse in pastorale sorg deurloop.

Uiteraard het Johann ‘n baie lang preekbediening agter die rug en benewens sy eie gemeentes  het hy baie as aflosprediker opgetree.  As mens terugkyk oor die jare was die onderwerpe wat die Here op sy hart gelê het sake soos: God wat betrokke raak by Sy wereld en Sy mense.  Dit het hy deur die jare uit innerlike oortuiging, vanuit ‘n koninkryksperspektief met die gemeentes gedeel voor wie hy opgetree het.

Johann is dankbaar vir die opleiding wat hy kon ontvang en het homself as volg oor die Skrif as Woord van God uitgelaat: As kind van die reformasie is die Woord ons enigste riglyn en bron.  Hy het altyd nog die hoogste agting vir die kerk gehad en daaroor het hy die volgende gesê: Die Kerk is die liggaam en bruid van Christus – een heilig en algemeen. Hy beskou homself as teologies konserwatief, maar met die besef dat verantwoordelike vernuwing noodsaaklik is.

Johann is ‘n harde werker en ook ‘n mens wat glo aan spanwerk. Hoewel hy ‘n meer introvert tipe persoon is, is hy lief vir mense en kommunikeer graag en gemaklik met alle mense. Hy het oor baie jare saamgewerk in die gemeente met sy kollega Ds Awie Viljoen oor wie hy die volgende onthou: ‘n Mens met wonderlike talente, wat sy roeping op ‘n unieke  manier uitgeleef het. Hy was ‘n besonder begaafde prediker en kon organiseer soos min ander.

Johann en Esta was gesinsmense en het hul kinders in die ietwat konserwatiewe dampkring van ‘n plattelandse Afrikanerdorp grootgemaak. Hulle het gereeld gaan vakansie hou. Karavaanvakansies en staptoere saam met vriende in die Drakensberge en hulle was ook lief vir die see. So het hulle die waardes wat vir hulle belangrik was aan hul kinders deurgegee. Hul kinders het hierna die volgende gaan studeer : Eben in die boubedryf en werk tans in Engeland as konstruksiebestuurder. Janniel het ingenieursdiploma in meganiese ingenieurswese behaal en Carl is in die rekenaarwereld. Johann en Esta het so uitdrukking gegee aan een van hul waardes naamlik die belangrikheid van gesinsverhoudinge in die lewe.

Die gesin woon al vir twee en dertig jaar gelukkig in Hartbeespoort. Eers vir nege jaar in Meerhof en sedert  1992 in Schoemansville. Om ‘n eie huis te kon besit was ‘n uitstaande hoogte punt in hulle lewe

Johann het baie buite die gemeente gewerk.  Benewens skriba en voorsitter van die Ring van Daspoort en Krokodilrivier was hy betrokke as voorsitter op die beheerliggame van Meerhofskool en Hoërskool Hartbeespoort, berader as deel van Gemeenskaps Polisiëring Forum aksie, die bestuur van die plaaslike buurtwag, voorsitter van die Rusoord aftreeoord, lid van die direksie van CMR Noord (‘n Artikel 21 Maatskappy) en andere. So het hy een van sy waardes, naamlik om as predikant in die gemeenskap sigbaar en betrokke deeglik uitgeleef in Hartbeespoort.

Daar het ook ‘n groot hartseer in die gesin se geskiedenis gekom toe  Esta  geleidelik Dimentia ontwikkel het. Wetende dat die Here in beheer van alle dinge is het Johann en die kinders haar ondersteun so goed as hulle kan, totdat sy meer gespesialiseerde versorging nodig gekry het. Sy is daarna opgeneem in Rusoord tehuis vir bejaarde in Brits waar sy gelukkig woon en uitstekend versorg word en waar Johann haar gereeld besoek en haar ook dikwels gaan haal om bietjie by die huis te wees. Sy geniet dit steeds om by haar huis te kom.

Gedurende 2009 /2010 was daar heelwat onstuimigheid in die gemeenskap en die gemeente wat uiteindelik aanleiding gegee het tot die stigting van ‘n nuwe onafhanklike gemeente, die Kuierkerk, deur  Anton van Zyl en sy vrou Rene. In dieselfde tydperk het Ds Awie Viljoen na vier en dertig jaar  emiritaat aanvaar en na Pretoria verhuis. Hy is daarna gediagnoseer met kanker waaraan hy enkele jare daarna oorlede is. Johann het self ook emiritaat aanvaar op 28 Februarie 2010 na 27 jaar diens in die gemeente.

Dit het gelukkig nog nie die einde van sy bediening beteken nie. Sedertdien tree hy op as brugbedienaar in die gemeente Brits tot waar hulle nou weer in die posisie is om ‘n voltydse predikant te beroep. Hy doen ook deeltyds  pastorale bediening in die gemeente van Hartbeespoort, help met begrafnisse en troues en help oral waar die Here hom nodig het – altyd gereed vir ‘n nuwe uitdaging!

Ons dank die Here vir die lewe van Johann en sy gesin tussen ons mense vir soveel jare. As mens hom vra wat sy lewensmotto is en wat hy graag as boodskap vir die gemeenskap wil agterlaat dan sê hy : Die Here verhoor ons gebede en gee aan ons Sy vrede.

---000---

Opgestel deur KPJ Nel

2015-01-13

.


Directors: S.A.M Smit & J.F Koster - Copyright ©2018 HartiesNet (Pty) Ltd - our Disclaimer