Views!
HUNDREDS of daily LOCAL views - THOUSANDS of monthly LOYAL readers! THE MOST POPULAR ATTRACTION IN HARTIES!
Published:  2015-02-12 Views:  1518
Author:  karelnel
Published in:  History/Geskiedenis
Dominee Awie

Dominee Awie

Efesiërs vier verduidelik dat mense met verskillende bedieninge deur God as gawes of geskenke aan die kerk gegee word. Hartbeespoort NG kerk se eerste geskenk van die Here af was Awie en Junette Viljoen. Oor baie jare het hulle in Hartbeespoort die fondamente gelê, ingebou in mense se lewens en ‘n groot bydrae gemaak tot vele terreine van die gemeenskap.

Abraham Carel (Awie) Viljoen is op 10 Januarie 1948 in die Robenson Lake hospitaal in Randfontein gebore as oudste  seun van Abraham Carel (ook Awie) en Betsie Viljoen. Hy het die naam gedra van sy pa en sy pa was ‘n mynkaptein aan die Wesrand. In 1954 is hy na Betsie Verwoerd Laerskool op Randfontein en daarna na Riebeeck Hoërskool ook in Randfontein, maar het gematrikuleer aan die Hoërskool Carletonville in 1965. Hy het van kleins af reeds geweet dat hy graag predikant wou word – miskien heimlik beinvloed deur een van sy neefs, ook ‘n Awie Viljoen, wat ‘n predikant was in onder andere Pretoria en Rustenburg.

Na skool kon Awie nie direk gaan studeer nie, maar moes eers fondse te bekom vir sy studies deur te gaan werk. Hy het net nodig gehad om vir ‘n jaar as klerk van die hof te gaan werk in Randfontein, waarna die Here die res voorsien het deur ‘n man van Koster te laat onderneem om tot sy studiegeld by te dra, aangesien díe geweet het dat hy as predikant wou kwalifiseer. Awie het gaan studeer van 1967 tot 1969 aan die Potchefstroomse Universiteit en behaal die graad BA. Admissie. Op Potchefstroom bly hy in die Over-de-voor koshuis – ‘n koshuis wat noue bande gehad het met Taaibos van die Universiteit van Pretoria – waar die ondergetekende destyds ‘n student was. Reeds in sy eerste jaar ontmoet hy ‘n aanvallige nooientjie, Junette Maritz – en hulle begin dadelik uitgaan. In 1970 moes Awie verder gaan studeer aan die kweekskool op Stellenbosch en het in die Dagbreek-koshuis gewoon. In 1971 raak hy en Junette verloof en hulle trou op 8 Januarie 1972 op Witbank. Awie verwerf die graad B.Th aan Stellenbosch in 1973.