Views!
HUNDREDS of daily LOCAL views - THOUSANDS of monthly LOYAL readers! THE MOST POPULAR ATTRACTION IN HARTIES!
Published:  2015-02-12 Views:  1484
Author:  karelnel
Published in:  Politics/Polities
Staat En Demokrasie Deel 1

Ons Leefwereld – Demokrasie en staat Deel 1

 

Suid Afrika het sedert 1994 deur ‘n tydperk van snelle oorgang gegaan.  Dit was ‘n traumatiese tyd waarin grondliggende filosofieë, magsbasisse en strukture deur nuwe werklikhede gekonfronteer en onherroeplik verander is.  Dit het met groot trauma vir die mense van die land gepaard gegaan, aangesien sulke veranderinge altyd onsekerheid bring aan die een kant, en ook geleentheid bied vir misdadige elemente om die situasie uit te buit aan die ander kant.  Die wese van die staat het fundamenteel verander met  die toetreding van die nuwe rolspelers en dit is noodsaaklik dat elke burger van die land ‘n goeie begrip  sal hê van die wese van die staat van Suid Afrika – of minstens van die grondliggende beginsels. 

Demokrasie het sy oorsprong in die Griekse stadstate Athene en Sparta.  Die stelsel het bekend gestaan as die Griekse “Polis”, wat alle fasette van die lewe ingesluit het – Staatkundig, sosiaal en godsdienstig.  Die Staatsbestel was die totaliteit van die sosiale struktuur.  Alle volwasse mans was beskou as burgers van die Polis en het deelgeneem aan die besluitnemingsproses.  Die vergadering wat so elke 10 dae bymekaar gekom het, was bekend as die ekklesia.  Hulle het ‘n Stuurkomitee van 500 manne gehad en ‘n uitvoerende komitee van 50 wat deur die lot aangewys is:  Die Polis was vir die demos (mense) ‘n omvattende instituut waarin daar geen skeidings tussen die openbare en private dele van die lewe  was nie.  Die demokrasie van Athene is baie geromantiseer deur die geskiedenis, maar was in werklikheid baie beperkend soos gesien kan word uit die feit dat vroue en slawe nie kon deelneem aan die ekklesia nie.  Hierdie regeringsvorm staan bekend as die klassieke demokrasie.

‘n Volgende stap in die ontwikkeling van die Staat was die Romeinse Ryk wat vir tussen 1000 en 2000 jaar bestaan het (Neem in ag dat die Britse ryk maar sowat 200 jaar 'n hoogtepunt beleef het).  In die Romeinse Ryk is die idee van die polis uitgebrei tot die begrip  “imperium”  of ryk, - ‘n universele instituut wat die die hele bekende beskaafde wêreld ingesluit het.  Hoewel Rome ‘n oligargie was , en nie ‘n demokrasie nie, het die senatore tog  op ‘n manier die mense  verteenwoordig.  Regeringsfunksies is uitgevoer deur verskeie invloedryke groepe en staatkundige- en openbare sake is onderskei van private aangeleenthede.  Hierdie stelsel was die begin van die sogenaamde “super regum” – die oorsprong van die begrip van soeweriniteit.

Die Romeinse ryk het uiteindelik opgebreek in duisende feudale of Stadstate in Europa.  In ‘n sin was hulle verwant aan mekaar, deel van die Heilige Romeinse Ryk wat saambestaan het met die magtige Roomse Katolieke kerk met sy magtige hierargiese strukture.  Daar was gedurig bitter twiste tussen hierdie twee strukture.  Met die opbreek van die Heilige Romeinse Ryk het twee ontwikkelings gevolg.  Een was die sogenaamde “Ständestaat” of staat van gildes.  Verskillende gildes van geestelike leiers, edeliede, handelaars is gevorm wat in rade georganiseer het om met die plaaslike koning te onderhandel, om so politieke mag te verkry.  Hulle het mag gehad oor hule lede, maar dit was nie geografies afgebaken nie.  Die Britse hoërhuis is vandag nog ‘n oorblyfsel van so ‘n gilde  -  die gilde van edelliede.

Die ander vorm wat ontwikkel het was die Absolute staat.  Die koning was die absolute heerser en hy het absolute mag uitgeoefen en was die totale bron van die wet.  Die koning kon niks verkeerd doen nie.  Die Konings het baie magtig geword en het die stelsel het uiteindelik korrup geword.

Die moderne staat het hieruit ontwikkel en het sy beslag gekry in die Vrede van Westfalia na die sogenaamde 30 jarige oorlog in Europa in 1648.  Die moderne staat is ideaal gesproke ‘n demokrasie waarin die mense/bevolking die hoogste gesag hou  Om as ‘n staat erken te word moet ‘n staat ‘n klompie eienskappe hê:

1.            Soeweriniteit

2.            Grondgebied

3.            Mense

4.            Regeringstrukture in effektiewe beheer

5.            Ordelike ontgunnig van bronne

6.            Invordering van belastings

7.            Infrastruktuur en dienslewering8.           

Verskillende soorte regeringsvorme kan onderskei word, afgesien van die klassieke demokrasie wat hierbo beskrywe is.

•             Gewone meerderheidsdemokrasie:  Die hoofbeginsel is dat die regering saamgestel word deur meerderheidspartye of deur wennende koalisies.

•             Magsdeling – demokrasie.  Geen duidelike meerderheid bestaan nie en die gemeenskap is gewoonlik diep verdeeld.  Daar word regeer deur ‘n breë koalisie.  Daar is lokale outonomie vir minderhede in terme van kulturele aangeleenthede en daar is spesiale reëlings vir beskerming van taal-, godsdiens- en kulturele regte.

•             Een party dominante demokrasie:  Een party slaag daarin om in ‘n klomp opeenvolgende verkiesings ‘n duidelike meerderheid te handhaaf.  Dit gebeur dikwels in nuwe demokrasieë en die party mag vir etlike dekades lank  regeer.  Die voordeel is dat dit die land stabiliseer,  wat  goed is vir ontwikkeling, maar dit mag die regerende party lei om te dink dat dit hulle reg is om te regeer.  Die vervaaging van die grense tussen die party en die staat kan plaasvind wat ruimte maak vir korrupsie en nepotisme.

•             Harde demokrasie: Tegnies gesproke is dit ‘n demokrasie maar  mag verval in die hande van van 'n mags-elite wat daarna menseregte ignoreer, opposisie verban en verkiesings onregverdig bedryf.  Dit is ‘n vorm van demokrasie maar sonder die werklike filosofie daarvan.

•             Volksdemokrasie (People’s Democracy), lê klem op die gelykheid van mense en gelykheid word bewerk deur gemeenskaplike besit.  Eienaarskap van private besit word afgeskaf.  Ryk klasse moet vernietig word sodat die klaslose samelewing tot stand kan kom.  Mag word altyd gesentraliseerd uitgeoefen in ‘n volksdemokrasie.

•             Outoritêre State:  Dit is state wat streng beheer oor die bevolking uitoefen, en groot klem word gelê op wet en orde.  Hulle is gewoonlik hierargies gestruktureerd en alle mag word vanaf die top uitgeoefen.  Hierdie state maak gereeld gebruik van mag om mense in ‘n rigting te dwing en vryheid van spraak en vryheid van assosiasie word beperk.  Politieke partye word slegs binne streng beperkings toegelaat en die massamedia word ook deur die regering beheer of aan bande gelê.

•             Totalitêre state:  In hierdie staatsvorm word die skeiding tussen die domein van die staat en die van die burgerlike gemeenskap vernietig en die staat meng in, in alle aspekte van die gemeenskap:  godsdiens, kultuur, sport, individue se geloof en orientasie.  Sulke state het dikwels ‘n amptelike ideologie, ‘n enkele sterk gedissiplineerde party, ge-organiseerde staatsgeweld, party-beheer oor die massamedia, partybeheer oor die veiligheidsmagte (deur politieke komisarisse) en sentrale beheer oor die ekonomie

Die staatsvorm wat in die Westerse wêreld nagevolg word en wat ‘n redelike gemaklike lewenstyl vir die bevolking moontlik maak, is die sogenaamde liberale demokrasie.  Die word veral deur die Amerikaners in die wêreld bevorder.  In hierdie vorm van regering het politieke mag die oorsprong in die kieserskorps en politieke konflik word deur vreedsame metodes besleg – soos byvoorbeeld verkiesings.  Die regering is verdeel in drie dele naamlik die uitvoerende gesag (kabinet), die wetgewende gesag (die parlement) en die regsbank, en hierdie drie magspole vorm ‘n ewewig met mekaar.  Alle mense in dié staat is gelyk en daar mag nie onderling gediskrimineer word nie – dit is deel van elkeen se burgerregte.  Kompetisie om politieke poste te beklee is vry en oop vir meer as een politieke party.  Die orde in die regering en in die land is gebasseer op ‘n konstitusie en  die oppergesag van die regsbank (“the rule of law”).  Politieke mag lê in die hande van die volk en daar is geen aristokrasie nie.  Die land se veiligheidsmagte val onder siviele beheer.  Die staat is ‘n sekulêre staat en die staat hang nie ‘n bepaalde godsdiens aan nie.  Staat en godsdiens is geskei en ‘n verskeidenheid van godsdienste word in die land toegelaat.

Nie alle state en regerings is ewe suksesvol nie.  Nie alle state tree eers in belang van hul eie mense op nie, inteendeel, sommige state is juis hulle mense se grootste bedreiding.  Die sukses van state word derhalwe in drie kategorieë beskrywe, naamlik sterk state, swak state en  mislukte state.  In die geval van sterk state is die doelstellings van die regering uitgesorteer en daar heers konsensus daaroor.  Verskillende sosiale groepe is geïntegreer of voel hulle is gelykes.  Grense is wettig en word gerespekteer.  Die regering verander gereeld deur ‘n wetmatige proses en staatsorganisasies is onder burgerlike (nie-militêre) beheer.  Daar is nie persoonlike verryking ter sprake vir die persone in die regering nie.  ‘n Sterk staat is nie noodwendig sterk militêre state nie, maar daar is ‘n sterk mate van eenstemmigheid oor nasieskap in die staat.  ‘n Swak staat daarenteen is een waar die doelstellings van die regering onder dispuut is.  Dit is baie keer ter sprake waar twee of meer onglyke nasies in een gebied saamgevoeg is en waar die regering deur ‘n eksklusiewe groep beheer word.  Die staat kan nie die basiese dienste lewer nie en die staat maak gebruik van dwang om hul doelstellings uitgevoer te kry.  Mens sê so ‘n staat het ‘n gebrek an legitimiteit.  Dit gaan weereens nie oor die sterkte van die veiligheidsmagte nie, maar dui op die swakheid wat onderlinge verdeeldheid in die staat teweeg bring.  In mislukte state is daar een of meer gewapende leiers in die land wat apart regeer.  Gemeenskappe in die land veg teen mekaar en die sogenaamde regering is magteloos en kan nie eers die minimum dienste verskaf wat in die alledaagse lewe noodsaaklik is nie.  Gewoonlik speel eksterne magte ‘n groot rol en oefen ook beheer binne die land uit.  Daar is geen sprake van soewereiniteit nie.

 

Word vervolg...

---000---

KPJ Nel

2015-01-15


Directors: S.A.M Smit & J.F Koster - Copyright ©2018 HartiesNet (Pty) Ltd - our Disclaimer