Views!
HUNDREDS of daily LOCAL views - THOUSANDS of monthly LOYAL readers! THE MOST POPULAR ATTRACTION IN HARTIES!
Published:  2015-02-13 Views:  1125
Author:  karelnel
Published in:  Politics/Polities
Staat En Demokrasie Deel 2

Ons Leefwereld – Demokrasie en staat Deel 2

 

Die wese van ‘n staat se voortbestaan lê in die land se nasionale waardes en belange en of die volk hulle ten volle daarmee kan vereenselwig.  Nasionale waardes is ‘n stel van idees wat gemeenskaplik deur ‘n nasie onderskryf word en wat wetend  of onwetend ‘n invloed uitoefen op die bestaan van die nasie.  Vir die RSA, as sekulêre staat, is die nasionale waardes vasgelê in ons konstitusie:

•             Menswaardigheid, gelykheid en bevordering van menseregte en vryhede

•             Nie rassigheid en nie-seksisme

•             Soeweriniteit van die konstitusie en die oppergesag van die regbank

•             Universele stemreg, gemeenskaplike kieserslys, gereëlde verkiesings en veelpartyregering

 

Nasionale belange daarenteen is daardie sigbare en onsigbare kwessies wat ‘n nasie as belangrik beskou vir sy welsyn.  Vir Suid Afrika is dit sake soos

•             Herstel van die skeidings en onregte van die verlede

•             Vestig van ‘n demokratiese bestel

•             Om die lewenskwaliteit van alle persone te verbeter

•             Om ‘n verenigde sowereine staat te wees

•             Territoriale integriteit

Ons land se konstitusie word allerweë beskou as een van die bestes in die wêreld.  Dit is sekerlik nie volmaak nie, maar is die beste waarop ons as verskillende volke ordelik kon ooreenkom.  Daar is natuurlik ook kritiek daarteen ,soos byvoorbeeld dat dit verhewe  Westerse waardes bevat en nie rekening hou met die werklikheid in Afrika nie.

Die hart van ons land se konstitusie lê in die verklaring oor menseregte.  Menseregte is regte wat mense het, slegs omdat hulle mense is – hulle het dus die regte en niemand niemand hoef dit eers aan hulle toe te staan nie,  en hulle hoef dit nie eers te verdien nie.  Die eerste verklaring van menseregte het in 1948 plaasgevind as ‘n reaksie op die menseslagting van die tweede wêreldoorlog en is as sulks erkenning van die mensdom se onvermoë om aan mekaar ‘n menswaardige bestaan te kon gun.  Die onderliggende filosofie is dat alle persone gelykwaardig is en menseregte plaas verpligtinge op die staat en ander mense wat gerespekteer behoort te word.  Hoewel menseregte nie weggeneem kan word nie, kan dit beperk word.  Daar is  drie tipes menseregte:

•             Eerste generasie regte:  Burgerlike en politieke regte:  Dit spreek die verhouding tussen die individu en die staat aan en waarborg sy deelname aan die politieke proses.

•             Tweede generasie regte: Ekonomiese, sosiale en kulturele regte: Beskrywe die individu se reg tot voedsel, behuising, en veiligheid en verplig die staat om iets daaromtrent te doen.

•             Derde generasie regte: Solidariteitsregte: Die reg tot vrede, ontwikkeling en ‘n skoon en gesonde omgewing. 

Hierdie regte is vervat in Hoofstuk 2 van die Konstitusie van Suid Afrika.  Hierdie regte is so belangrik dat hulle kortliks hieronder genoem word:

Gelykheid,  Menswaardigheid, Lewe, Vryheid en Persoonlike veiligheid, Slawerny en Gedwonge Arbeid, Privaatheid. Vryheid van geloof, Godsdiens & opinie, Vryheid van uitdrukking, Byeenkomste, demonstrasies, petisies, Vryheid van assosiasie, Politieke regte, Burgerskap, Vryheid van beweging & verblyf, Vryheid van handel, beroep en professie, Arbeidsverhoudinge, Omgewing, Eiendom, Behuising, Gesondheidsorg,Voedsel, water  en sosiale sekuriteit, Kinders, Opvoeding

Taal & Kultuur, Kulturele, godsdienstige en taalkundige gemeenskappe, Toeganklikheid van informasie, Regverdige administratiewe aksie, Toegang tot howe, Ge-organiseerde, aangehoude en beskuldigde persone, Beperking van regte, Noodtoestande,Afdwinging van die regte

Hierdie regte, wat aan alle persone in die land toegesê word deur die konstitusie, dui op ‘n baie hoë dunk van elke individu.  Of die staat dit kan handhaaf is egter ' n ander kwessie.  Menseregte behoort ons iets te leer van die waarde van elke menselewe.  Die feit dat menseregte toegedig word aan alle mense, en diskriminasie op geen gronde toegelaat word nie, is in ‘n sin teen die menslike natuur.  Alle mense is geneig om hulleself bietjie beter te ag as die res.  Dit kan so sterk ontwikkel wees dat sommmige mense ander verag en hulle selfs as submense of minderwaardige mense beskou.  Dit is die wese van rassisme, en soms ook van sterk nasionalistiese-, etniese- en godsdienstige bewegings.  As ons eerlik wil wees moet ons erken dat dié filosofie ook onderliggend was by baie Afrikaners in die verlede.  In die leer van Christus is daar geen gronde wat sulke diskriminasie steun nie.  Hy het juis uitgereik na die veragtelikes, en Hy maan Sy volgelinge om mense se diensknegte te wees en hulle lief te hê– dit is Chritus se roeping.

Ons as burgers van die land moet ons kennis neem van die menseregte wat in die konstitusie verklaar is – vir ons eie beswil.  Maar as Christene moet ons daarvan kennis neem sodat ons beter kan weet hoe behoort ons op te tree teen alle mense as ons hulle wil respekteer.

Die Konstitusie van Suid Afrika   Die konstitusie is die land se hoogste wet en alle wette wat nie in lyn daarmee is nie is ongeldig.  Soos te wagte kan wees is heelwat wette wat dateer uit die dae van die ou bestel nog nie in lyn daarmee nie, en moet dit stelselmatig hersien word.  Die hoogste gesag in die land is die konstitusionele hof, want hulle het die reg om die konstitusie te interpreteer wanneer daar onduidelikheid mag wees.

Vir volledigheid word die inhoud van die konstitusie kortliks hieronder genoem:

•             Handves  van  menseregte

•             Samewerkende regering

•             Parlement

•             Die President en Nasionale uitvoerende gesag

•             Die provinsies

•             Lokale of plaaslike owerhede

•             Howe en administrasie

•             Staatsinstansies wat die konstitusionele demokrasie ondersteun

•             Publieke administrasie

•             Veiligheidsdienste

•             Tradisionele leiers

•             Finansies

•             Algemene voorsienings

Hierdie is ‘n wonderlike konstitusie vir ‘n sekulêre staat.  Hoe moet 'n regering anders maak as hy in ‘n land  van verskillende mense met verskillende godsdienste het?  Hoe moet hy maak as ‘n regering na al die mense van die staat moet omsien en dan nog ook regverdig ook moet wees?  Godsdiensgebasseerde regerings is seker van die onbillikste en ontoegeeflikste regerings in die wêreld.  Selfs ons sogenaamde Christelike regering van die verlede het ‘n stigma aan hulle verbonde – ten regte of onregte – wat ons as christene nie tot eer strek nie.  In die konteks van Afrika is hierdie konstitusie niks minder as ‘n wonderwerk nie, want dit is nie eie aan die gedragspatrone van Afrika nie.

Ons kan ‘n bestaan maak in Suid Afrika.  Daar is ‘n toekoms.  Ons kan ‘n besondere bydrae maak.  Ons kan dit egter nie doen as ons vaskleef aan die verlede nie – veral nie die vooroordele en sienings oor mense wat ons in die verlede gehad het nie.  Niemand van buite kan ons wys hoe om ‘n sukses van ons leefwyse saam hier te maak nie, maar ons het die vermoë en die kreatiwiteit om dit te doen.  Dit hang af of ons wil!

---000---

KPJ Nel

2015-01-15


Directors: S.A.M Smit & J.F Koster - Copyright ©2018 HartiesNet (Pty) Ltd - our Disclaimer