Views!
HUNDREDS of daily LOCAL views - THOUSANDS of monthly LOYAL readers! THE MOST POPULAR ATTRACTION IN HARTIES!
Published:  2015-02-16 Views:  1173
Author:  karelnel
Published in:  Politics/Polities
Perspektiewe Op Die Toekoms – Deel 2

Perspektiewe op die Toekoms – Deel 2

Die toekoms is vir ons almal belangrik. Die vorige artikel het gehandel oor algemene beginsels wat in die toekoms sal uitspeel, asook ‘n inleiding tot scenario-beplanning. Hierdie artikel neem die onderwerp verder en fokus meer op ons situasie in Suid Afrika en die persoonlike implikasies van ons toekomsvisie.

Die situasie in Afrika is baie broos.  Daar is heelwat state wat die gevaar loop om te faal en internasionale magte is nie bereid om terwille van Afrika op te tree nie.  Intussen bewapen die verskillende partye in Afrika hulleself by elke moontlike geleentheid deur die aankoop van konvensionele wapens.  ‘n Baie groot deel van ontwikkelingsfondse vind hulle pad terug na verdediging of die private buitelandse bankrekenings van Afrikaleiers.  Ekonomies verager die state in Afrika en daar is nie fondse beskikbaar om strukture in stand te hou vir die beslegting van konflikte nie.  Te midde van baie korrupsie en streeksmisdaad, asook die verswakking in gesondheid en opvoeding is daar nog ‘n toename van mense wat deur konflikte en oorloë ontwortel is.  In groot dele bestaan daar erge voedsel tekorte en die streek is pateties afhanklik van buitelandse hulp, wat grootliks deur Nie-Regerings Instansies die lande binnekom.  Hoewel daar by sommige van Afrika se leiers ‘n begeerte is tot multilaterale samewerking, word die tendens ondermyn aangesien daar nie behoorlike konflikhanterings meganismes en -strukture is om dit te hanteer nie.  Daar is ook inherente verskille tussen die verskillende groepe wat nie weg gewens kan word nie en daar betaan nie ‘n gesamentlike politieke wil of finansies om sulke meganismes, soos byvoorbeeld ‘n vredesmag,  op die been te bring en te onderhou nie.

Binne hierdie breë agtergrond het Suid Afrika ‘n paar breë buitelandse beleidsdoelwitte wat nagestreef word (Ons visie vir Afrika)

•             Die ekonomiese herstel van Afrika

•             Vestiging van demokrasie deur Afrika

•             Die beeïndiging van neo-koloniale verhoudinge

•             Selfbeskikking in Afrika

•             Ekononmiese groei wat die mense van Afrika bevoordeel

Met inagneming hiervan is verskeie toekomscenario’s vir Suider Afrika ontwikkel. Hulle beskrywe verskillende paaie vir die toekoms in en dui aan hoe ontwikkelinge in die toekoms kan plaasvind.  Teen die agtergrond van Suidelike Afrika se hutspot van swak demokrasieë, groot wanverhoudings in terme van lewenstandaarde, die aanslag van HIV/VIGS, dreigende watertekorte, vlugtelinge, onstabiele stedelike gebiede en verdere internasionale marginaliserng van die streek lyk die toekomscenario’s vir die streek soos volg:

•             Die gevaar-voor scenario:  Hier word ‘n Egoli-enklave voorsien wat omring word deur ‘n boog van swak state en ‘n verdere boog van krisis.  Die Federasie van Egoli sal poog om op eie stoom verder te ontwikkel terwyl ontwortelde vlugtelinge, bende-oorloë, magsbehepte leiers en die plundering van die omgewing voortduur.  Internasionale maatskappye wat in Afrika werk, hanteer hulle eie sekuriteit.  Elite groepe in die mislukte state vorm alliansies met die magtige kriminele leiers.  Daar is geen sprake van toerisme nie en baie geld word aan wapens spandeer.  Daar is geen sprake van ‘n streekswye benadering nie.  Die Egoli enklave is onder konstante druk van die onstabiele noordelike streke.  Die private sektor verswak en die streek onttrek al hoe meer uit die wêreldwye gemeenskap.  Die streek verdeel in twee en VIGS eis ‘n ontsettende tol.

•             Die Winsbejag Scenario:  Die hele streek laat die privaatsektor vry om ongereguleerd te funksioneer en die streek word oorval met groot maatskappye wat wil besigheid doen, tot so ‘n mate dat besigheid effektief beheer uitoefen oor regerings se beleid.  Daar is groei, maar sonder werkskepping en arm mense in die land ly steeds.  Globale korporasies neem dienste verskaffing oor, en omkopery en korrupsie is aan die orde van die dag.  Vakbonde word onderdruk en die omgewing word geplunder en selfs die ekonomie word geplunder deur winsjagters.  VIGS eis ‘n groot tol.

•             Die Visionêre leierskap scenario:  Die streek hang die “African Renaissance” model aan en sterk  demokrasie word stewig gevestig in die streek.  Vroue begin om ‘n belangrike rol te speel en daar kom ‘n balans tussen gemeenskapsbelange en besigheidsbelange.  Baie klein besighede word van stapel gestuur.  Daar word ‘n effektiewe strategie gevind vir die bekamping van VIGS.  Die staat versnel opvoeding en onderwys en Suid Afrika word ‘n verspreider van Inligtingstegnolgoie in die streek.  Daar is ‘n sterk streeksbewussyn wat ondersteun word deur streeks water- en elektriese netwerke.  Ekotoerisme floreer. Suid Afrika se dominate posisie word erken.

•             Die stadige veragting scenario:  Daar is agteruitgang en korrupsie deur die hele streek.  Diktators, wat hulleself bevoordeel, word aan die bewind gehou deur militêre geweld en die korrupte leiers slaag daarin om lank in regering te bly.  Die pers word aan bande gelê en verkiesings word gemanipuleer.  Misdaadsindikate speel ‘n groot rol.  Minerale word ontgin maar glad nie veredel nie.  Beleggers word gaandeweg afgeskrik en die streek word ‘n stortingsterrein vir goedkoop produkte.

•             Die Oorlewering-Selfaangewese scenario:  Die state in die streek funksioneer as demokrasië maar die mense is nie geïntereseerd in politiek nie.  Mense sorg net vir hulleself, en daarvoor gebruik hulle, hulle eie inisiatief.  Buitelandse hulp kom wel die land binne, maar word gekanaliseer deur NGO’s.  Mense trek terug na hulle eie gemeenskappe en voel veiliger en beter af daar.  Mense neem soms die reg in eie hande.  Die integrasie van state in die streek is swak.

Faktore  Nodig vir 'n Gunstige uitkoms vir Suider Afrika  Belangrike kwessies wat aangespreek moet word om ‘n voorspoedige toekoms te hê  in Suider Afrika is die volgende:

•             Streekskonflik moet verhoed word en daarom moet konflikhanteringstrukture gevestig word

•             Streeksverdedigings- en nie–aanvalsverdrae moet gesluit word tussen die state in die streek

•             Die waardes en norme van demokrasie moet in die streek aangehang word

•             Polarisasie tussen ryk en arm moet verminder probeer word

•             Formele streeksamewerking moet ten alle koste bevorder word

•             Menseregte moet erken en gehandhaaf word in die streek

•             Internasionale wette moet in die streek erkenning geniet

•             Daar moet volgehoue belangstelling in Afrika deur die ontwikkelde lande van die wêreld wees.

Die ekonomie van die toekoms gaan baie anders wees as in die verlede en ons moet aanpas by die nuwe omgewing, want ons sal nie die veranderinge kan keer nie.  In die ekonomie waaraan ons gewoond was, was aspekte soos standardisering, massaproduksie, outokratiese stelsels, geografiese beperkings ‘n enkele loopbaan, afhanklikheid van ‘n maatskappy en onbuigsaamheid wesenskenmerke.  In die nuwe ekonomie sal ander faktore belangrik word soos: spesialisasie volgens kliëntbehoefte (Customization), leierskap, afstandirrelevansie, selfemplojering, onafhanklikheid, individuele regte, innovering en wedywering/kompetisie.  Om te funksioneer binne die nuwe omgewing sal ons dus nuwe paradigmas moet opsoek, en ons moet begryp watter persoonlike verantwoordelikhede die nuwe ekonomie van ons gaan verg.  Die ou paradigma van werk was een van formele kwalifikasies, ondervinding en gespesialiseerdheid asook bevoordeling van sekere groepe.  Dit was ‘n wedloop vir die top.  Dit het talle kere gelei tot uitbranding, onbekwaamheid, stagnasie en finansiële gemiddeldheid.  Die nuwe werksparadigma sal dinge insluit soos lewensfases (nie opwaartse bevorderings nie), niemand sal jou begelei in jou loopbaan nie, werksloopbaan sal nooit ophou nie, jy sal op jouself aangewese wees en sal nie ‘n maatskappy kan blameer vir jou gebrek aan vordering nie.  Sukses sal afhang van jou eie vaardighede en jou lewenshouding – jy sal jouself moet moet sien as ‘n besigheid op twee bene om suksesvol te wees.  Daar sal tallose besigheidsgeleenthede wees maar geen indiensneming nie.  Wees ‘n streng baas vir jouself.

Ons lewenshouding vir toekomstige ekonomiese sukses              Hoe moet die lewensverhouding wees om sukses te behaal in die nuwe ekonomie?

Ekonomiese sukses spruit uit die individuele vlak – dit is geheel afhanklik van jouself en nie van jou omgewing of jou omstandighede nie.  Dit is van die uiterste belang dat jy jou eie lewe moet beheer, verantwoordelikheid vir jou eie toekoms moet neem en nie die omgewing of enigiemand anders blameer nie.  Jy moet radikaal aanvaar dat jy die meester van jou eie lot is en moet die verantwoordelikheid daarvoor beslis aanvaar.  Om te slaag sal jy integriteit, self-gemotiveerdheid, ‘n werksvermoë, ‘n goeie begrip, kennis en ervaring nodig hê.  Elkeen wat wil slaag sal moet leer om te dien en ‘n diens te lewer.  Mens moet aanvaar dat jou eie self jou grootste vyand of jou grootste bate kan wees, en jou doel moet wees om uitstaande te wees en nie soseer om geld te maak nie.  Mens moet ‘n positiewe lewensingesteldheid hê, deursettingsvermoë aan die dag lê en ‘n vermoë hê om te fokus.  Ontwikkel 'n oog en ‘n hand vir oplossings en nie vir probleme nie, en wend heersende toestande aan as ‘n basis vanwaar jy sal vertrek en ‘n sukses maak.  Lewe ten volle in die hier en nou en moenie oor die verlede of te veel oor die toekoms tob nie.  Respekteer tyd want dit is onkoopbaar.  Hou van wat jy doen en doen waarvan jy hou.  Jou lewenshouding sal bepaal hoe die houding van die lewe teenoor jou sal wees.  Gee aandag aan belangrike dinge ook (soos verhoudings, beplanning, ontspanning, nuwe dinge en tyd om te dink) en net die dringende dinge nie.  Probeer ‘n gevoel ontwikkel vir die gevolge van besluite en tree dan berekenend op.  Moenie huiwer om besluite te neem nie.  Wees ‘n oop kop en moenie net die konvensionele antwoorde aanvaar nie.

Baie mense beskou die toekoms onbewustelik asof dit soos ‘n rolprent is wat vir ons vertoon word.  More sal aangerol kom en dan sal ek kan sien wat die toekoms vir my inhou.  Die onuitgesproke standpunt is dat die dinge wat met my gaan gebeur klaar vasgelê is en ek kan niks daaraan verander nie.  So ‘n lewenssiening maak ‘n mens kortsigtig en onproduktief.  Dit is ‘n baie negatiewe model wat mens kortwiek om groot dinge in jou lewe te bereik.  'n Beter model is die van ‘n dagboek.  In ‘n dagboek is die toekomsblaaie leeg en mens skryf vooruit afsprake daarin.  Wanneer die bepaalde dag van die afsprake aanbreek dan realiseer die afsprake.  In ‘n sin het mens dus die toekoms geskep, die oomblik toe jy die afspraak in die boek geskryf het.  Elke mens, en bepaald elke Christen, se toekoms lê,  binne sekere beperkings, voor hom of haar oop soos ‘n blanko dagboek.  So ‘n mens het ‘n Godgegewe voorreg om ‘n groot deel van sy of haar toekoms te kan skep.  Wanneer ‘n mens nie aktief so jou eie toekoms skep nie, dan word jou toekoms vir jou bepaal deur of die omstandighede van die dag, of deur ander mense wat jou weë vir jou bepaal.  Nie elke ding wat mens in jou toekoms inbeplan realiseer nie, maar aan die ander kant sal weinig goeie dinge wel gebeur as jy dit nie inbeplan nie.  Hierdie vorentoekyk lewenshouding is van die allergrootste belang vir ‘n suksesvolle en gelukkige toekoms.

Binne die Christendom is daar verskeie sienings van die wêreld se toekoms.  Binne die nominale Christendom is daar waarskynlik ‘n groot groep mense wat apaties en skouerophalend is teenoor die toekoms.  Binne die kring van die wat wel omgee is daar ook verskillende benaderings.  Sommige sal sê:  "Ons weet nie – ons verstaan nie hoe die Byel oor die toekoms praat nie.  Ons weet daar kom ‘n einde, maar niemand kan sê wanneer en hoe nie.  Die Bybel is te simbolies daarvoor."  Diesulkes soek vir hulleself bewustelik of onbewustelik ‘n ander model om die toekoms mee voor te stel. 

Dan is daar diegene wat sê " Nee – die Bybel is spesifiek en baie meer letterlik as wat ons dink."  Onder hulle bestaan daar baie detailmodelle van  hoe die toekoms behoort te verloop, en dit word met groot oortuiging verkondig.  Dit gee aan mense ‘n denkraamwerk waarmee hulle die gebeure van die wêreld meet.  Dit is ‘n dilemma as hierdie gebeurtenisse dan nie realiseer soos die modelle dit voorspel nie.  Een so ‘n voorbeeld handel oor die wederkoms van Christus.  (Vir sommige is dit irrelvant, maar hulle het meestal hulle Christelike visie/fokus in die lewe verloor.)  Vir sommige kan dit nog lank wees, en oefen geen beduidende invloed op hulle lewe uit nie.  Vir ‘n ander groep is dit op hande, selfs tot so ‘n mate dat hulle verlam word om beduidend te lewe.  Mense met so ‘n kort toekomsvisie kan weinig verskil maak in die lewe want hulle toekomshorison is net te kort om hulle toe te laat om aan enige beduidende groot aksies entoesiasties deel te neem – wat nog te sê om dit te inisieer!  Dit is verseker nie die korrekte verstaan van die Bybel nie.  Die boodskap van Christus maak ons juis by uitstek vry om voluit te lewe onder Sy heerskappy, onbedreig en instaat om ‘n verskil te maak in hierdie lewe, terwyl ons, vrygemaak van die skuld en las van sonde, altyd gereed sal wees as Hy sou kom.

Ons houding ten opsigte van die wêreld waarin ons leef en die toekoms wat ons tegemoet gaan is ontsettend belangrik.  Dit bepaal grootliks of ons in die lewe suksesvol sal wees.   Die opregte Christen, wat ‘n innerlike sekuriteit deur geloof in Christus gevind het, het geen rede om negatief, bekrompe en swartgallig te wees nie.  Juis hulle hoef nie so krampagtig te kleef aan die aarde, hulle besittings en hulle verlede nie.  Christus maak mens vry om te lewe.  Dit is soos die Bybel sê dat geloof en vrees nie kan saamgaan nie.

Die Here maak ons juis vry en herskep ons en gee ons die realiteit van sy inwonende Gees sodat ons besluite kan neem wat ‘n impak op ons omgewing en op die toekoms kan en moet hê.  Die lewe is ‘n uitdaging, en ‘n wonderlike avontuur vir die wat die pad met die Here saamloop.  Ons moenie toelaat dat ons in klein, ideologiese lewensruimtes vasgevang word, of deur donkerbrille van gebrekkige persepsies van ons lewensheerlikheid beroof word nie!

---000---

KPJ Nel

2015-02-15

 


Directors: S.A.M Smit & J.F Koster - Copyright ©2018 HartiesNet (Pty) Ltd - our Disclaimer