Views!
HUNDREDS of daily LOCAL views - THOUSANDS of monthly LOYAL readers! THE MOST POPULAR ATTRACTION IN HARTIES!
Published:  2015-02-16 Views:  858
Author:  karelnel
Published in:  Politics/Polities
Godsdiens En Ideologie

Godsdiens en Ideologie

 

Party Sosiale wetenskaplikes van die  twintigste eeu het gedink dat die groot ontwikkelinge op die gebied van tegnologie daartoe sou lei dat die belangrikheid van godsiens in die lewe van die mense sou verminder.  Net die teenoorgestelde het gebeur, want  godsdiens speel ‘n steeds groter wordende rol in die gemeenskap van ons dag.  Deur die eeue heen was godsdienstige- en ideologiese sieninge belangrike oorsake van konflik en dit is in die modêrne, hedendaagse wêreld steeds so.  Godsdiensoorloë is van die mees fanatiese en onredelikstes wat daar is – soos byvoorbeeld die irrasionele begrip van die ‘jihad’ of heilige oorlog binne die Moslemgeloof.  Godsdienstige of ideologiese oortuigings kan mense so meevoer dat hulle geheel irrasioneel optree en gladnie toeganklik is vir logiese redenasies nie.  Daarom moet die mag wat ideologie of godsdiens op mense en hulle gedrag het, nie gering geskat word nie.

Godsdiens kan gedefinieer word as ‘n wye verskeidenheid van simboliese aksies van mense as ‘n respons teenoor dinge wat vir hulle van onbeperkte waarde is.  Die dinge van onbeperkte waarde sou hier kon beteken die Godheid.  Ideologie is ‘n geintegreerde stelsel van idees wat vir ‘n persoon realiteit definieer en hom as gevolg van ‘n gedeelde siening met ander persone in ‘n groep saamsnoer.  Dit geld ook ten opsigte van godsdiens, maar die enigste verskil is die geloof in die Godheid.  Mense se godsdiens of  ideologie skep vir hulle ‘n leefwêreld van idees waarbinne hulle hulleself uitleef.  Baiekeer  is die ideologiese wêreld en die werklikheid verwyder van mekaar en is die individue wanaangepas in hul omgewing.  Ideologie is so sterk dat dit mense kan noop om waargenome feite so te verdraai en te interpreteer dat dit by hul ideologiese denkraamwerk inpas.  ‘n Wye blootstelling aan die werklikhede van ons wêreld,  ‘n oop gemoed en ‘n eerlike hart hart is nodig om te ontsnap aan die ideologiese gevangenisse waarin mense soms beland.  Mense het steeds godsdiens in hulle lewe nodig om die mas op te kom, veral omdat daar so baie dinge is wat oënskynlik onverklaarbaar is. Godsdiens gee ook aan mense ‘n sosiale identiteit, aangesien dit hulle deel maak van ‘n breër geloofsgemeenskap van mense.

‘n Begrip wat algemeen gebruik word ten opsigte van godsdienstige groepe is ‘Fundamentalisme’.  Die oorspronklike betekenis is om ‘n streng aanhanger te wees van konserwatiewe en tradisionele godsdienstige oortuigings.  Dit is op sigself is nie ‘n negatiewe begrip nie, maar die term het in alledaags gebruik korrup geraak sodat dit eerder ekstremisme, fanatisisme en radikalisme voorstel.

Etiek is ‘n wetenskap van karakter wat handel oor morele gewoontes en gebruike en gedrag om daaroor ‘n waarde-oordeel uit te spreek (reg of verkeerd).  ‘n Mens se etiese norme lei tot bepaalde gedragspatrone.  Moraliteit is ‘n gesofistikeerde stelsel van reëls wat individuele- en gemeenskapsgedrag bepaal, en die oorsprong daarvan is uit godsdienstige-, familie-, afkoms-, opvoedkundige agtergronde.  Die etiese klem in die wêreld is besig om te verander as gevolg van die voortdurende beweging na demokratisering.

Etiese optrede in die staatsbestel asook in die alledaagse lewe is van groot belang aangesien daar baie keer ‘n groot potensiaal vir korrupsie is, en omdat korrupsie so ‘n vernietigende uitwerking het.  Hoewel die doel van die regering is om nasionale doelwitte te bereik, en nie in die eerste plek om eties te wees nie, moet daar ‘n balans gehandhaaf word tussen onverbiddelike regeringsbesluiste en nasionale moraliteit.  Daarom behoort die amptenary, met die huidige verhoging van diskresionêre magte, poog om besluite te neem op moreel regverdigbare gronde.  Dis veral belangrik waar deursigtigheid so ‘n belangrike beginsel is.

Wanneer ‘n mens jouself by ‘n groep skaar wat ‘n bepaalde etiese kode hou en wat verskil met jou eie interne waardes, bring dit mens voor een van die 3 keuses:

•             Poog om die etiese kode te verander

•             Pas jou eie beginsels aan

•             Verlaat die groep

Wanneer verskillende godsdienstige groepe in een staat saamwoon noem mens dit ‘n pluraliteit van godsdienste.  Pluralisme verwys na die interaksies tussen godsdienste in ‘n land – hoe is hulle saambestaan?  In so ‘n situasie kan twee tipes konflik voorkom naamlik konflik tussen die verskillende godsdienste of konflik tussen die godsdienste en die staat.  Daar is verskeie opsies wat ‘n staat kan uitoefen ten opsigte van godsdiens:

1.            ‘n Teokratiese staat. Dit sal waarskynlik onbillik wees teenoor burgers van die land wat aanhangers van ‘n ander godsdiens is.

2.            ‘n Ateïstiese staat.  Kan waarskynlik vyandig gesind wees teenoor godsdienstige groepe

3.            Streng skeiding tussen die staat en godsdiens

4.            Die sekulêre staat waar daar wel ‘n skeiding is tussen staat en godsdiens, maar met ‘n gesonde interaksie tussen beide.  Die Christelike kerk sien tradisioneel vir humself ‘n koninklike-, priesterlike- en ‘n profetiese rol – waar die profetiese rol onder andere behels dat die staat aangespreek word wanneer godsdienstige normes oortree word.  Hierdie bepaalde houding van die staat gee dikwels aanleidng tot godsdienstige nasionalisme waar ‘n godsdienste meerderheid voel dat die sekulêre regering se neutrale houding teenoor minderheidsgodsdienste dié bevoordeel.

Godsdienstige konflik, selfs in ontwikkelde lande, is nie vreemde nie.  Irrasionele konflikte met die staat, die gemeenskap en selfs ondenkbare massamoorde word steeds  in hierdie tyd in die naam van godsdiens gepleeg.  Godsdiens vorm ‘n deel van ‘n groep se identiteit, en baiekeer onderskryf dit boonop etniese verwantskappe en soms ook politieke strukture.  Dit is daaruit duidelik dat aantasting van godsdientige waardes mense baie diep kan raak en maklik tot konflik kan lei.  Godsdiens maak dat sulke tipe konflikte uit ‘n bepaalde hoek be-oordeel word wat selfs tot ‘n fanatiese verdediging van die godsdiens kan lei.  Vir meeste godsdienstige konflikte is daar nie ‘n kompromie – posisie moontlik nie en moet die groepe eenvoudig leer om mekaar te akkommodeer.  ‘n Mens kan maklik ‘n regering se dilemma begryp waar die staat ‘n tuiste moet verskaf  vir  wedywerende gelowe.  Gewoonlik gaan dit gepaard met politieke magspel en uitbuitding van mense se godsdiensgevoel vir politieke doeleindes.  Dit lei maklik tot godsdienstige konflik soos dié tussen Christene en Moslems in die middelstreke van Nigerië gedurende 2000.

Aangesien godsdiens baiekeer so ‘n emosionele en kontroversiële onderwerp is, is dit in baie openbare forums etiket om dit nie aan te spreek nie.  Tog is dit so fundamenteel aan mens-wees dat mens dit nie kan ignoreer nie.  Wat sê mens oor die fenomeen van godsdiens?

Wanneer ons oor godsdiens praat kan ons twee aspekte van belewenis identifiseer – ‘n eksterne belewing  en interne belewenis. Kom ons noem die twee belewenisse ritueel en realiteit.  Ritueel is ‘n reeks van handelinge wat ‘n individu of ‘n groep uitvoer ,wat hulle glo uitdrukking gee aan hul godsdientige belewens.  Hoewel rituele baie skouspelagtig kan wees, kan dit maklik bloot die uitvoer van geprogrammeerde handeling wees, sonder enige innerlike sin.  Mense sou rituele ewe maklik kan uitvoer, of God sou bestaan of nie.  Uiteindelik bevredig die uitvoer van rituele nie die soekende hart van die mens nie – met ander woorde rituele is nie  dieselfde as geestelike realiteit nie.  Mense is op soek na een of ander realiteit in hulle geestelike lewe wat die werklikheid van hul lewens aanspreek.

Sekere realiteite waarmee mense moet rekening hou is die volgende.  God is ‘n realiteit, en elke mens is teenoor Hom aanspreeklik en sal moet rekenskap gee van sy lewe.  Sonde is ‘n realiteit en is besig om die lewe van elkeen wat daarmee besigheid het te besoedel en vernietig en elke mens word op een of ander stadium van sy bestaan deur die werklikheid van sonde gekonfronteer.  Die geestelike en sielkundige letsels wat die lewe en ander mense op ons laat is ook ‘n realiteit en dit beïnvloed ons gedrag soms grootliks.  Intuitief weet ons ons kan hierdie realiteite nie ignoreer nie.

Realiteit in godsdiens, in teenstelling met rituele, bestaan uit ‘n paar belangrike begrippe:

•             Versoening (Reconciliation): Om in ‘n vriendskapsverhouding met God herstel te word vanuit ‘n posisie van skuld en oortreding teenoor God.

•             Verlossing (Redemption):  Om vry gemaak te word van die skuld en houvas van sonde, die houvas van slegte gewoontes asook oorwinning  oor geestelike aanslae.  Dit is ‘n oorgang van een  wêreld na ‘n ander.

•             Verhouding (Relationship): Om God te  ken in mens se oomblik- tot -oomlik bestaan.  Dit is die wese van die goddelike wet wat in die mens se hart ingeskrywe word en waarvolgens hy kan leef.

•             Vernuwing (Renewal): Om ‘n nuwe lewe  en ‘n altyd vernuwende lewe te voer.  ‘n Nuwe lewensuitkyk van hoop en geloof wat ‘n mens altyd deurdra selfs in krisistye.

•             Verheerliking (Resurrection):  Om na die aardse dood weer te lewe en verheerlik te wees in God se teenwoordigheid.  Dit neem vrees uit die lewe weg en gee ‘n toekomsverwagting om na uit te reik.

In die Christelike geloof word al hierdie realiteite volmaak vervul in Christus Jesus, en daarom is dit vir die Christen moontlik om ‘n sinvole saakmakende lewe te leef.

Dit is waarskynlik algemeen by alle godsdienste dat mense voel dat hulle die ‘regte’ geloof beoefen – want juis daarom behoort hulle tot die bepaalde geloof.  Dit skep onwillikeurig ‘n ‘ons-hulle’ situasie.  Baie dikwels gaan dit gepaard met ‘n mate van meerderwaardigheid, en selfs antagonisme en vyandigheid in uiterste gevalle asook  ‘n groot mate van agterdog jeens mekaar.  Baie gelowe poog ook om te prosiliteer, dit wil sê om nuwe lede vir hul geloof te werf.  Hoewel daar gewoonlik heelwat ooreenkomste tussen die verskillende godsdienste is, byvoorbeeld die uitleef in ‘n hoë moraliteit, is daar ook meestal onoorbrugbare verskille.  Daar is slegs twee meganismes om hierdie verskille te hanteer en die een is konflik tot die einde, en die ander is toleransie vir mekaar se standpunte.  Tipies van eersgenoemde is die sogenaamde ‘heilige oorlog’ of ‘jihad’ soos in Islam gevind kan word.

Die Christelike godsdiens het ‘n sendingopdrag en mens kan verwag dat dit konflik met ander godsdienste kan veroorsaak.  In vrooër eeue is konflik wel gebruik om die uitbreiding van die geloof te bevorder,  (Dink maar aan die Kruistogte) maar die werklike sukses daarvan is twyfelagtig.  Dit is na alle waarskynlikheid nie die model wat Christus in gedagte gehad het toe Hy die sendingopdrag gegee het nie.  Afgesien van die konflikmodel het Westerse sendingpogings deur die eeue ook  mank gegaan aan ‘n ander probleem.  Die Westerse konsep was dat met die proses van kolonialisering die voordele van beskawing en die Christelike godsdiens gebring word na groepe wat minderwaardig is.  Dit was dus uit Westerse oogpunt gesien ‘opheffingswerk’ !  Westerse sendelinge het gekom en uit hul meerdere kennis 'neergedaal' na die minderes.  Sendingwerk het derhalwe baie keer ‘uit die hoogte’ plaasgevind.  Hoewel dit nie betwyfel kan word dat Westerse sendingspogings ontsaglike positiewe resultate behaal het in die lewens van mense nie, was daar ook groot negatiewe reaksies.  Die korrekte model van uitreiking sou eerder wees as ‘n praktiese getuienis van lewensvreugde te midde van ‘n lewe van diensbaarheid en feitlik ongekwalifiseerde liefde teenoor die mense wat bereik moet word.  Egte liefde en diensbaarheid sal weinig kere as ‘n bedreiging of as ‘n uitdaging tot konflik gesien word.

Die opregte Christen Afrikaner behoort sy gesindheid teenoor ander gelowe se mense in hierdie land te hersien in die lig van die bostaande

Daar is gesê dat godsdiens die opium vir die volk is en ongelukkig is dit gedeeltelik waar. Godsdiens kan mense verblind, hulle onsensitief teenoor andere maak, hulle teenoor andere vyandig gesind maak, alle ontwikkelinge strem en nog baie ander negatiewe dinge.  Niks van hierdie negatiewe dinge is egter toepaslik op ‘n eenvoudige, opregte, onbevange verhoudingslewe met Christus nie.  Godsdiens plaas mens binne ‘n denkraamwerk waar jy baie keer gevang is, maar Christus daarenteen maak mens vry om te kan lewe.

---000---

KPJ Nel

2015-02-16


Directors: S.A.M Smit & J.F Koster - Copyright ©2018 HartiesNet (Pty) Ltd - our Disclaimer