Views!
HUNDREDS of daily LOCAL views - THOUSANDS of monthly LOYAL readers! THE MOST POPULAR ATTRACTION IN HARTIES!
Published:  2015-02-17 Views:  816
Author:  karelnel
Published in:  Politics/Polities
Verandering En Konflik

 

Verandering en Konflik

Vir meeste mense is verandering, veral as dit gekoppel is met ‘n onekerheid oor die gevolge daarvan, ‘n onaangename kwessie.  Mense vind deels sekuriteit daarin om hulle omgewing en die gebeure rondom hulle te orden tot reëlmatige patrone sodat hulle so goed moontlik kan weet wat om te verwag.  Hierdie patrone kan mens gewoontes noem by mense, of tradisies by groepe van mense. Veranderinge maak mense ongemaklik, want dit raak aan die wortels van hul sekuriteit.  Dit is derhalwe te wagte dat mense soms verandering sal teenstaan, en as verandering afgedwing word kan dit selfs tot konflik lei – afhangende hoe sterk die mense voel oor die waardes wat in gedrang kom.

Dit is ‘n feit dat die wêreld van vandag onderworpe is aan vinnige verandering.  Verder is die tempo waarteen veranderinge plaasvind besig om te versnel.  Een van die drywers hiervan is die vinnige ontwikkeling in tegnologie, en veral Informasie-Tegnologie, wat kommunikasie in die wêreld revolusionêr verander het.  Die verandering is so snel dat baie daarvan by die meeste mense verbygaan, hoewel dit mettertyd hulle lewens direk mag raak.  “Time” haal die syfer aan dat dit vir die radio ongeveer 40 jaar geneem het om in 50 miljoen huiste te kom terwyl vir die Internet slegs 4 jaar geneem het!  Dit illustreer hoe belangrik ons ingesteldheid teenoor verandering as ‘n proses behoort te wees.  As daar nie ‘n oopheid t.o.v. verandering is nie, kan daar geen groei wees nie.  So ‘n persoon het reeds gestagneer en sal homself al hoe meer uit pas met sy omgewing vind.

Gedragswetenskaplikes wat weerstand teen verandering by mense bestudeer het, het sekere fases in die veranderingsproses onderskei.  Aanvanklik is die individu oortuig dat die huidige status die beste is en hy probeer ongemerk die veranderinge vermy.  Miskien sal hy  probeer ontken of dit probeer ignoreer of maak of dit nie daar is, en belangrik is nie.  Wanneer die dryfkrag tot verandering voortduur sal so ‘n individu dit later aktief probeer vermy.  Dit kan dalk beteken dat hy hom onttrek van sekere areas of gebeurtenisse of geselskappe waar die veranderinge besig is om plaas te vind.  ‘n Volgende stap in die reaksie sal wees dat hy die ou weë of maniere aktief sal begin verdedig.  Hy sal aanvoer dat dinge in die verlede altyd op ‘n bepaalde wyse gedoen is en dan probeer bewys dat dit baie suksesvol was.  Indien die dryfkrag tot verandering steeds voortduur mag die individu genoeg opgewerk wees om die verandering, en selfs die persone wat met die veranderinge voorstaan, aan te val of te verwerp.  Dit is ‘n konfliksituasie waarby verhoudinge verbreek word, of waar die individu tot ander insigte kom en waarna hy gewillig is om te verander.

Daar is natuurlik ‘n baie slimmer manier om met verandering om te gaan.  Dit begin by ‘n  oop gemoed en ‘n positiewe lewensingesteldheid.  Wanneer veranderinge in aantog is behoort die intelligente mens die omvang van die veranderinge te verken sonder om dadelik daaroor ‘n waarde-oordeel uit te spreek.  Daarna verder ondersoek om te bepaal wat die implikasies, voor- en nadele en geleenthede daaraan verbonde is.  Dit lei mens daarheen om die wese van die verandering te verstaan en dat jy rasioneel kan besluit om dit te aanvaar of hoe om dit ten beste te hanteer.  Verandering wat daarna volg is dan meer ongedwonge en gee mens die geleentheid om meer in beheer van die veranderingsproses te wees.

Veranderinge bring altyd nuwe geleenthede te weeg, en dit is die pioniers in die veranderingsproses wat die geleenthede raaksien en dit kan benut.  Derhalwe behoort mens jouself voor te berei vir verandering en probeer om gereed te wees vir die veranderinge wat die toekoms sal bring.  Ou metodes of gedragspatrone waarmee ons die uitdagings van die verlede te bowe gekom het, gaan waarskynlik nie werk in die toekoms nie.   So ‘n gedragspatroon word genoem paradigma.  Ons moet nie vaskleef aan ou paradigma’s nie, maar bereid wees om nuwe paradigma’s te vind wat ons in staat sal stel om die veranderinge en probleme van die toekoms  die hoof te bied.  Om sulke deurbrake te kan maak in 'n onseker omgewing verg drie dinge:

•             Herkenning van ‘n goeie geleentheid deur intuisie

•             Moed om die idee na te volg

•             Deursettingsvermoë om die idee deur te voer.

Om hierin te slaag en ‘n pionier te wees is daar ‘n klompie wenke:

•             Begin met ‘n oop gemoed.  Moenie dink jy het die antwoord nie

•             Dink wyer as die reëls wat jou vantevore sukses gebring het

•             Strek jou uit buite jou grense

•             Wees gereed om falings en verliese ook te verwerk

•             Wees ‘n baie fyn waarnemer

•             Moenie bevrees wees vir onontdekte en onontginde gebiede nie

Die omgewing waarin organisasies, besighede en kerke hulleself deesdae bevind is ewe kompleks en snel veranderend.  Om te oorleef in so ‘n omgewing moet sulke instansies buigsaam, organies, vinnig aanpasbaar wees, terwyl hulle gedurig gereed moet wees om omgewingsveranderinge teen te kom en te akkommodeer.  Daar is weinig geleentheid vir rustige langtermynbestuur en sommige modêrne bestuurswetenskaplikes beskryf die suksesvolle moderne bestuurstyl as eerder soortgelyk aan die navigering van ‘n vlot langs ‘n sterk stroomversnelling af (white-water rafting).

Gemeenskappe en organisasies kan bekou word as arena’s waarin persoonlike- en groepswedywerings hulleself uitspeel.  Konflik deursuur alle aspekte van menslike gedrag en alle dimensies van sosiale strukture, waar dit nie net verdeeldheid tussen groepe veroorsaak nie, maar ook terselfdertyd ‘n samebindende faktor vir ander groepe is.  Konflik, hoewel dit meestal pynlik en onproduktief is, is onvermydelik aangesien daar altyd skaars hulpbronne is of net beperkte handelingsvryhede.  Mense wantrou mekaar, daar is onderlinge wanpersepsies en stereotipes, verkeerde informasie, oordrywing, ongeduld en baie ander faktore wat konflikpotensiaal verhoog.

Konflik in gemeenskappe is baie keer die gevolg van stryd oor waardes, statusverskille, mag en skaars hulpbronne, en dit lei baie keer nie net  tot die doelstelling om die verlangde voordele te verkry nie, maar ook om die opponente te beseer of te elimineer.   In losweg gestruktureerde (pluralistiese) gemeenskappe kan konflik ‘n stabiliserende invloed hê:  Konflik heg ‘n pluralistiese gemeenskap aan mekaar.  In starre en geslote sosiale strukture is die impak van konflik baie meer intens aangesien geslote groepe baie jaloers op hulle lede is en hul lojaliteite wil monopoliseer.  Die diepe betrokkenheid van sulke lede lei dan baie keer tot baie groot vyandskap en dit kan nie behoorlik in so ‘n geslote groep hanteer word nie.  Indien konflik uitbreek in groepe wat dit probeer onderdruk het, sal dit waarskynlik baie meer intens wees.  Sulke groepe kan maklik in twee vyandige faksies opbreek.

Ideologie is vrugbare teelaarde vir konflik aangesien ‘n ideologie aan ‘n persoon ‘n goeie gewete gee waaronder hy ‘n stryd kan voer.  Individue wat hulle self sien in ‘n rol waar hulle optree as verteenwoordiges van andere is ook baie keer meer radikaal en genadeloos as ander wat blatant vir eie gewin stry.  Intellektuele mense speel baiekeer ‘n sleutelrol in konflik aangesien hulle idees formuleer wat openbare regverdiging aan die konflik gee.

Daar is 3 basiese dryfkragte van konflikte:

•             Botsende belange: Dit lei baie keer tot ‘n intensiewe en vernietigende konflik van korte duur, wat maklik vergeet word.  ‘n Oplossing kan deur onderhandelinge verkry word.

•             Botsende waardes:  In so ‘n konflik is daar gewoonlik nie ‘n kompromie moontlik nie – soos byvoorbeeld ‘n godsdienstige konflik.  Dit kan lei tot ‘n lang uitgerekte, lae intensiteit stryd, en die enigste manier om dit te hanteer is om die situasie te leer akkommodeer.

•             Botsende behoeftes:  Dit is diepgewortelde konflikte wat feitlik onoplosbaar is en geen kompromie is moontlik nie.  Die ou situasie kan net vernietig word en uit die chaos kan ‘n nuwe oplossing groei.

Een van die wêreld se belangrikste konflikteorië is die dialektiese model van Hegel.  Hy postuleer dat enige situasie, wat hy noem die tese,  ‘n wedywerende of kontrasterende situasie, genoem die antitese, opwek en dat daar ‘n spanning is tussen die tese  en die antitese.  As gevolg van die energie tussen die twee vorm daar, as gevolg van die interaksie, ‘n nuwe situasie bekend as die sintese , wat beide die tese en antitese oplos.  Baie kort na die vorming van die sintese ontwikkel daar egter weer daarna ‘n antitese, sodat die sintese eindelik die nuwe tese word.  Hierdie proses hou onophoudelik aan en dit is die dinamo wat die geskiedenis aandrywe.  Die verloop van die proses kan beïnvloed word deur die spanning tussen die tese en antitese te manipuleer.  Indien die tese en antitese nie genoegsaam van mekaar gepolariseer is nie, het die stelsel nie genoeg energie beskikbaar om ‘n behoorlike sintese te vorm nie, en indien die polarisasie te groot is mag die stelsel verby die punt van ‘n goeie sintese gedrywe word.  Hierdie teorie is grondliggend tot die filosofie van Marx waarop die Kommunisme gebou is.

Konflik in die natuur is ook ‘n alledaagse ding en verskillende meganismes het in die natuur ontwikkel om verskillende bedreigende toestande die hoof te bied.  Die tipe van strategieë wat ontwikkel het, het baie te make met die skaarsheid aldan nie van hulpbronne:

•             ‘n Stabiele ryk omgewing, waar bronne beperk word deur interaksies met ander lewende organismes (kompitisie) lei tot effektiewe interaksie tussen groepe, spesialisasie en lae voorplantingstempo’s

•             ‘n Stabiele arm omgewing waar bronne voordurend beperk is ontwikkel daar strategieë van generalisering, besparing, lae voorplanting en lae mobiliteit.

•             Onvoorspelbare ryk/arm omgewings lei tot strategieë van generalisering, opgaar, hoë voortplantingstempo’s en migrasie

Elemente van hierdie strategieë kan ook in menslike gemeenskappe waargeneem word.

 

 

Konflikhantering en konflikbestuur tussen strydende groepe is ‘n belangrike en gespesialiseerde dissipline.  Die basiese beginsel is om ‘n struktuur daar te stel waarbinne die konflik bestuur kan word.  So ‘n liggaam kan slegs goed genoeg wees indien dit al die partye, wat by die konflik betrokke is, bevat.  Die Codesa – struktuur voor die 1994 verkiesing was so ‘n konflikhanteringsmeganisme.  Soms is dit nodig om strukture binne strukture te vestig – komitees binne komitees.  Konflik binne die struktuur kan hanteer word, terwyl buite die struktuur dit gewoonlik baie gevaarlik kan wees.  Daar is bepaalde stappe wat gevolg word by konflikhantering:

•             Identifikasie van al die belangegroepe

•             Identifikasie van alle leiers – ook tweedevlak leiers

•             “Lobbying” – luister na mense en plant idees

•             Bemagtigingswerkswinkels –koukusvergaderings van die verskillende belangegroepe

•             Rondetafel bespreking ondersteun deur komitee’s en werkgroepe

•             Implementering

•             Monitering

Hierdie is min of meer die proses wat die politieke partye gevolg het gedurene die oorgansonderhandelinge voor die algemene verkiesing in 1994.

Wanneer mense se kultuur deur veranderinge bedreig word is die potensiaal vir konflik groot.  Kultuur is ‘n stel van gedeelde waardes en betekenisse wat mense in ‘n groep hou en wat hulle onderskei van ander groepe.

Kultuur is iets wat geleidelik in ‘n groep ontwikkel as gevolg van die interaksies tussen die groeplede.  Dit ontwikkel vanaf interaksies na gedragsnorme na gedeelde waardes en uiteindelike na kultuur.  Kultuur is belangrik angesien dit vir die groep die volgende doen:

•             Dit baken grense af

•             Dit gee die groep ‘n sin vir identiteit

•             Dit help toewyding aan

•             Dit is ‘n kragtige integrerende mag

•             Dit bring sosiale stabiliteit mee

•             Dit lei en vorm gedrag

Kultuur is nie absoluut nie want elke individu behoort aan verskillende groepe wat elk sy eie kultuur het, byvoorbeeld sy familie, sy kerk, sy werk of skool, sy dorp sy volk, sy land ens. En op elkeen van die vlakke is daar gedeelde waardes.  Binne elke kultuur is daar ook wye verskille tussen verskillende individue.  Dit maak daarom sin dat die konstitusie van Suid Afrika voorsiening maak vir die behoud van verskillende mense in die land se kulture.

Kommunikasie is ‘n sleutelvaardigheid om gesonde interaksie tussen mense en groepe te handhaaf – kommunikasie is mag.  Daar is faktore wat kommunikasie beïnvloed soos die omgewing waarin ons ons bevind, die beklemtonings en toon van ons stem, lyftaal en gesigsuitdrukkings en onderliggende stereotipes van ander mense.  Aangesien kommuniksie so  kompleks en omvangsryk is, kan dit slegs goeie gevolge hê as ons as mense eg is, en indien mense onderling respek vir mekaar het.  Verskuilde of onderdrukte motiewe kom maklik te voorskyn in ons lyftaal sonder dat ons daarvan bewus is.

Aangesien kommunikasie uiteindelik uit die diepste van ons wese kom, het dit alles te make met die welsyn van die individu.  Hier is twee perspektiewe ter sprake. :  Die “ek” perspektief – hoe ek myself sien en die “my” perspektief – hoe ek dink andere my sien.  As daar ‘n groot verskil tussen hierdie twee sienings is, is daar ‘n spanningstoestand en onsekerheid in die persoonlikheid, en gee dit aanleiding tot allerlei verdedigingsmeganismes soos:

•             Leef in ‘n fantasie wêreld

•             Regressie terug na die verlede

•             Onderdrukking en ontkenning van die werklikheid

•             Kompensasie

•             Projeksie

•             Rasionalisering

•             Reaksie

Die mees fundamentele element in persoonlike sekuriteit lê natuurlik in sy geestelike verhouding met God.  ‘n Lewende verhouding met die Here is die basis waarvolgens alle vrese hanteer kan word, alle veranderinge tegemoet gegaan kan word, en alle verhoudings gerig kan word.  ‘n Werklike geloofsverhouding gee die mens ‘n meganisme om te handel met skuld en skadu’s van die verlede, en gee ook hoop vir die toekoms.  Daarkom kan en behoort ‘n christen ‘n ongekompliseerde mens te wees wat die toekoms met optimisme tegemoet gaan.

Daar is min mense so frustrerend as die een wat altyd negatief, swartgallig en krities is.  Die toekoms en veranderinge word immer deur so ‘n persoon  negatief en as ‘n bedreiging ervaar.  So ‘n persoon het ‘n geslote gemoed en word nie oortuig van ander  se standpunte nie – selfs al is die feite voor hom.  Hy leef in sy eie ideologiese wêreld, soos ‘n seepbel, en is bereid om sonder oorweging ander sieninge, en mense wat van hom verskil te verwerp.  So ‘n persoon is in werklikheid ‘n diep onseker mens wat krampagtig vaskleef aan dit wat hy glo reg is – soos ‘n drenkeling aan ‘n houtstomp.  Hy is bevrees om buite sy bekende kring te beweeg.  Hy sal “sy” waarheid ook met alles waartoe hy  instaat is, probeer verdedig.  Daarenteen staan en stry die Waarheid vir Homself soos ‘n rots.  Die Waarheid van Christus is ewig en tydloos en objektief en sal altyd nuut en vars bly al verander die wêreld ook hoe.  Wanneer die Waarheid in ‘n mens is, en jy is in die Waarheid, dan is jy juis vry en bemagtig om die toekoms met ‘n oop gemoed aan te durf, en om almal rondhom hulle positief te beïnvloed met die oorvloedige lewe wat Christus gee.

---000---

KPJ Nel

2015-02-17


Directors: S.A.M Smit & J.F Koster - Copyright ©2018 HartiesNet (Pty) Ltd - our Disclaimer