Views!
HUNDREDS of daily LOCAL views - THOUSANDS of monthly LOYAL readers! THE MOST POPULAR ATTRACTION IN HARTIES!
Published:  2015-02-21 Views:  1752
Author:  karelnel
Published in:  Politics/Polities
Nasionale En Persoonlike Veiligheid – Deel 1

Nasionale en Persoonlike Veiligheid – Deel 1

In die meer gegoede buurte van ons land val dit mens op hoe baie sekuriteitsmaatreëls mense tref om hulleself en hulle eiendom te beskerm.  Mens vind hoë mure, staalheinings, tralievensters en deure, elektriese heinings, honde, diefalarms en snelreaksie sekuriteitsmaatskappye.  Al hierdie middele en maatreëls word deur mense ingestel omdat daar by hulle ‘n gevoel van onveiligheid is, wat soms strook met die werklikheid, en soms eintlik net ‘n illusie is.  Die ervaring van ‘n gevoel van persoonlike veiligheid of bedreiging is natuurlik ‘n sielkundige kwessie wat baie te make het met die individue of huishoudings se persoonlike lewensuitkyke, hoewel die breër veiligheidsklimaat natuurlik ‘n rol speel.  Hoewel mense maklik eksterne veiligheidsmaatreëls tref, is daar min mense wat hulle die dieper vraag afvra – wat behels persoonlike veiligheid en hoe dit verkry word.  Net soos persone sekuriteitsbehoeftes het, so het groepe en volke dit ook.  En net soos ons ervaring van ons persoonlike veiligheid ons daaglikse gedrag beïnvloed, so word die optredes van nasies ook beïnvloed deur hulle nasionale sekuriteitsbehoeftes.  In baie opsigte is dit hulle nommer een prioriteit.

In ons konstitusie word Nasionale Sekuriteit deur vier beginsels gedefinieër:

•             Dit moet die begeerte van alle Suid Afrikaners weërspieël dat ons in vrede en harmonie wil lewe, as gelykes, vry van vrese en tekorte, en om ‘n beter lewe te soek

•             Dat ons as Suid Afrikaners daarvaan gevrywaar word om aan gewapende konflik deel te neem, behalwe as dit deur die konstitusie en nasionale wetgewing anders bepaal word

•             Dat nasionale sekuriteit binne die wet en ook binne internasionale wette nagestreef en bedryf sal word

•             Dit alle nasionale sekuriteitsaktiwiteite onder die gesag van die parlement en die kabinet sal wees

Nasionale Sekuriteit is ‘n handhawing van ‘n lewenswyse wat vir die mense van die land aanvaarbaar is, maar wat in ooreenstemming is met die behoeftes en wettige verwagtinge van ander partye.  Dit word opgemaak uit baie faktore waarvan ‘n paar kan wees:

•             Beskerming teen ‘n eksterne bedreiging

•             Bevordering van gunstige toestande vir die volk

•             ‘n Sterk nasionale wil of nasionale visie

•             Die vermoë om ‘n positiewe rol in die streek te speel.

Die tradisionele benadering tot nasionale sekuriteit was ‘n militêre een.  Dit het merendeels gefokus op die beskerming van die mense teen 'n eksterne militêre bedreiging.  Die afgelope aantal jare het die siening egter verbreed en faktore wat menslike ontwikkeling raak, soos lewenskwaliteit ens., is in die prentjie gebring.  Benewens die verskillende vlakke waarop sekuriteit gedefinieer kan word naamlik Persoonlike-, Nasionale-, Streeks- en Internasionale sekuriteit – bestaan dit uit verskillende dimensies: Polities, Militêr, ekonomies, sosiaal en omgewingsfaktore.  Nasionale sekuriteit is deesdae ‘n omvattende begrip en daarom is dit belangrik dat ‘n land se regering sy siening oor nasionale sekuriteit in ‘n beleidsdokument uiteensit.  Dit is nodig aangeien dit die belange van soveel van die regeringsinstansies raak.  In die vorige bestel het die militêr die leiding geneem en die strategie wat gepropageer was, was die een van “Totale Strategie”.  Dit het aanleiding gegee tot outokratiese en onverteenwoordigende strukture met ‘n militêre ethos.  Hoewel die land se sekuriteitsfilosofie nou verander het, is dit nog nie in ‘n nasionale beleid vervat nie.  Onlangs eers is ‘n oorkoepelende Nasionale Sekuriteits Raad ingestel wat hierdie belangrike aspek van nasionale bestuur names die President moet koördineer.

Die tradisionele siening van nasionale sekuriteit soos hierbo verduidelik het baie goed gepas in die Westerse milieu, en veral ten tye van die Koue oorlog.  Maar dit was grootliks irrelevant vir Afrika – waar die staat soms die burgers se grootste bedreiging is.  Baie Afrika state het die model as ‘n verskoning gebruik om regime-sekuriteit te motiveer.  Afrika sit eerder met ‘n onsekerheidsdilemma.  Die nuwe breër fokus van nasionale sekuriteit, waar mense se welsyn in die brandpunt staan, het die veld so verbreed dat die vraag ontstaan wie hiervoor verantwoordelik behoort te wees?  Dit het onder andere gelei tot die privatiserng van sekureitsverantwoordelikhede – veral in Afrika.

Die moderne weermag het sy ontstaan gehad in 1648 met die ontstaan van die Westfalia – Staatsbestel en die opkoms van nasionalisme. Voor dit was daar meer gebruik gemaak van huursoldate en private beskerming.  London was die eerste stad wat polisie aangestel het en dit was in 1829.  Teen die 1900’s het die staat die enigste entiteit geword wat ‘n monopolie op geweld gehad het, en dit het saamgeloop met die groei in die belangrikheid van soewereiniteit van state en die handhawing van nasionale grense.   In Afrika, daarenteen, met die kunsmatige en poreuse grense, en swak ontwikkelde state het die kwessie van huursoldate gaandeweg ‘n groot probleem geword.  In die 1970’s het private sekuriteitsmaatskappye begin kop uitsteek en dit het ‘n stille revolusie veroorsaak – met groot verwarring en ‘n gebrek aan beheer as gevolg.  Dit is verder aangehelp deur die be-eindiging van die koue oorlog, en baie soldate en nuwe toerusting het beskikbaar geraak.  So het byvoorbeeld vorige Suid Afrikaanse soldate baie gewild geraak as huursoldate in Afrika, vanweë die oorlogsondervinding wat hulle in Angola opgedoen het.  Aangesien die weermagte van Westerse magte ontwerp is om gesofistikeerde oorloë te veg, is die Weste onwillig om hierdie magte in Afrika aan te wend, tensy hulle ‘n direkte belang in die streek het.  Hulle sal derhalwe eerder aandring op ‘n onderhandelde skikking.  Om hierdie rede is ‘n magsvakuum in Afrika geskep wat gevul is deur private sekuriteitsmaatskappye – waarvan die meeste dit graag noem dat hulle vir die onderskeie wettige regerings werk.  In Afrika is baie state egter disfunksioneel en die mense van die staat ervaar dat die staat, mag verkeerd en tot hulle nadeel aanwend.  Die gemeenskaplike ‘idee’ van die staat is derhalwe swak.

Revolusionêre oorlog is ‘n omvattende begrip want dit is ‘n vorm van magstryd wat ‘n gemeenskap deursuur en die gemeenskap verander.  Dit vind uitdrukking in die vorme van Revolusionêre Staatsgrepe, Massa-opstandes en Revolusionêre oorloë.  Revolusionêre oorlog of  insurgensie vind uitrukking in terrorisme of guerilla oorlog.  Die Guerilla-soldaat verskil van terrorisme in die sin dat hulle (veronderstel is om te) hou by die Internasionale Geneefse Konvensies, onder bevel veg, openlik uniform dra en openlik wapens dra.  Dit maak guerilla vegters dan geregtig op behandeling as krygsgevangenes onder die Geneefse Konvensie, wanneer hulle gevang sou word.

Die doel van terreurdade is om chaos te saai en daardeur wantroue in die regering te bewerkstellig.  Hulle optrede is daarop gemik om die regering uit te lok tot oorreaksie wat verdere wrewel by die volk veroorsaak.  Dit is vir hulle belangrik om publisiteit vir hul dade te verkry want daardeur word hul intimidasie poging juis versterk.  Mao se woorde was:  “Vermoor 1 persoon en boesem vrees in by 10 000”. Wanneer terreurdade suksesvol is lei dit maklik daartoe dat ander partye dieselfde dinge waag.  Ander doelstellings kan wees om omkoopgeld te kry, om gevangenes losgelaat te kry of om separatistiese doelwitte te probeer verwesenlik.

Daar is tans ‘n groot toename in internasionale terrorisme in die wêreld.  Kwessies wat hierin ‘n rol speel is griewe, persoonlike en kriminele motiewe, nuwe tegnologieë, beweging van onwettige immigrante, verstedeliking, godsdiens en kultusse, dwelmsmokkelary en armoede.  Georganiseerde misdaad en internasionale terrorisme is besig om in mekaar te vloei.  ‘n Klompie nuwe tipe terroriste bedrywighede het die afgelope dekade die lig gesien:

•             Narko terrorisme

•             Kuber terrorisme

•             Omgewingsterrorisme

•             Terrorisme tov toeriste

•             Smokkelary van kernmateriale 

Suid Afrika bevind homself te midde van ‘n vinnig veranderende wêreld, wat baie kompleks is en waarin ekonomiese kompetisie ‘n sleutelbegrip is.  Twee breë tendense word sigbaar naamlik globalisering en teenstand teen globalisering, wat sal lei tot groepe van lande wat suksesvol aan globalisering deelneem , en lande wat toenemend in isolasie inbeweeg.  Drie magsblokke ontwikkel in die wêreld rondom die VSA, die EU en Asië, maar onder hulle speel die VSA die mees dominante rol, wat soms baie onaangename gevolge inhou vir die res van die wêreld.  Die omstandighede in die ontwikkelende wêreld is baie problematies en dié lande het bitter min beweegruimte en sal ‘n onbeduidende rol in die toekoms speel, en state wat nie sinvol in die wêreld ekonomie geintegreer kan word nie kan tot so ‘n mate gemarginaliseer word dat die state in duie kan stort.

Heelwat brandpunte en konflik bly voorbestaan in die wêreld naamlik:  die China’s, Noord en Suid Korea, Indië en Pakistan, Rusland, Iran (intern), Irak, Indonesië.  Rusland (met ‘n begroting ongeveer soos die stad New York) het baie interne probleme wat dit op sigself ‘n kruitvat maak soos byvoorbeeld misdaad, korrupsie, onvermoë om die ekonomie om te skakel na ‘n vryemarkstelsel, politieke stelsels wat nie behoorlik leiding kan verskaf nie en die groot innerlike sterkte van die Russiese mense.

Die beginsels van Demokrasie bestaan nie op die globale vlak nie.  Die tafel is so gedek dat dit slegs die ontwikkelde lande  bevoordeel en die Wêreldbank en Internasionale Monitêre fonds bevorder grootliks Westerse belange.  Ontwikkelende lande wat nie wil saamwerk nie sal eenvoudig uit die pad gevee word.  Die makrofaktore wat dit te weeg sal bring is dinge soos die wêreldwye handel met oorweldigende kapitaalvloeie, die effek van informasie tegnologie, georganiseerde misdaad en internasionale terrorisme – ook kuber terrorisme en informasie oorlog.

Interessante tendense in Afrika is die Anglo-Franse samewerking ten opsigte van hulle vorige kolonies.  Frankryk se beleidsklemverskuiwing deur betrokke te raak by vredesituasies en so ‘n invloed uit te oefen waar die VSA sku is om betrokke te raak.  Daar is ook hernieude belangstelling van China in Afrika, asook toenemende Russiese wapenverkope.

Aangesien daar nog heelwat ekonomiese belange van groot moondhede in Afrika is, is dié lande se inligtingsgemeenskappe steeds aktief in Afrika.  Die beeld van die VN en die AU is aansienlik geskaad in Afrika vanweë hulle onvermoë om resultate te bereik in vredessendings in Afrika.  Die AU probeer baie hard om streeksorganisasies te manipuleer om streeks-vredesverantwoordelikhede oor te neem.  Die Wêreldbank en Internasionale Monetêre Fonds is ook belangrike spelers in Afrika, maar hulle doelstellings is meestal meer polities van aard as ekonomies.  Die indruk bestaan dat die VSA die Wêreldbank gebruik om sy eie belange te bevorder.  Die ervaring in baie Afrika lande was dat die strukturele hervormings wat die Wêreldbank as ‘n voorvereiste vir finansiële hulp stel, groot sosiale probleme soos massa afdankings tot gevolg het wat weer lei tot sosiale onstabiliteit.

Terwyl die res van die wêreld voortgaan om Afrika te marginaliseer is dit baie keer in Afrika state juis die regerings wat die grootste bedreigings vir hulle onderdane is.  Vir baie state beteken die woord ‘Nasionale Veiligheid’ eenvoudig die veiligheid van die regerende elite en dit skep ‘n onhoudbare situasie vir die mense.

Einde van Deel 1.

---000---

KPJ Nel

2015-02-21

 


Directors: S.A.M Smit & J.F Koster - Copyright ©2018 HartiesNet (Pty) Ltd - our Disclaimer