Views!
HUNDREDS of daily LOCAL views - THOUSANDS of monthly LOYAL readers! THE MOST POPULAR ATTRACTION IN HARTIES!
Published:  2015-02-22 Views:  2116
Author:  karelnel
Published in:  Politics/Polities
Nasionale En Persoonlike Veiligheid – Deel 2

Nasionale en Persoonlike Veiligheid – Deel 2

Die vorige artikel het aandag gegee aan die beginsels agter die begrip van Nasionale sekuriteit asook ‘n kort oorsig van die internasionale sekuriteitsprentjie. Hierdie artikel beskou die prentjie bietjie nader aan die huis.

Die Suider Afrikaanse streek is onstabiel, met Angola en die  DRK as mislukte state.  Militêre aksies gaan voort in albei die areas en herbewapening en heropleiding vind voortdurend plaas.    In Zimbabwe versleg die toestand voortdurend, veral as gevolg van die outoritêre houding van President Mugabe.  Hoewel Zimbabwe nie werklik hul steun aan die DRK kan bekostig nie, hou hulle daarmee vol en dit is een van die redes waarom die Internasionale Monitêre fonds lenings van Zimbabwe terughou.

In die streek word steeds wapens aangekoop op ‘n redelike groot skaal en dit wil voorkom of die houdings van die state verhard om meer offensief as defensief te wees.  Benewens Suid Afrika het slegs Zimbabwe en Angola redelike gebalanseerde konvensionele vermoëns, maar almal se vermoë om mag te  projekteer is baie beperk en die effektiwiteit van al die magte is onder verdenking.  Angola het getoon dat ‘n magsopbou baie vinnig kan geskied.

Die ekonomieë van die state in die SAOG is almal op die afdraandepad en daar is nie los fondse beskikbaar wat aangewend kan word in konflikoplossing nie.  Korrupsie speel ‘n groot rol in die meeste lande, asook substreek misdaad.  Die getal mense wat deur oorlog en konflik geraak word is besig om te groei en daar is ‘n algemene agteruitgang in gesondheid en opvoeding.  Selfs die voedselsituasie is dikwels kritiek en baie keer afhanklik van buitelandse humanitêre hulp.

Daar is ‘n groot behoefte aan multilaterale veiligheidsamewerking in die streek, maar talle faktore werk daarteen.  Daar is nie effektiewe konflikhanteringsmeganismes in plek nie en elke krisis wat opduik openbaar die verskille in die streek.  Daar is ‘n behoefte aan ‘n brigade- grootte vredesmag in die streek maar daar is nie die kollektiewe politieke wil of finansiële bronne om so ‘n mag te onderhou nie.

Suid Afrika se Interne Veiligheid-situasie            Sedert 1994 bestaan die denke dat Suid Afrika geen noemenswaardige eksterne bedreiging het nie, en dit was een van die groot faktore wat gelei het tot die drastiese afskalings wat in die veiligheidsmagte plaasgevind het.  Meeste mense sal saamstem dat die misdaadsituasie in die land vir die burgers tans die grootste bedreiging van veiligheid behels.

Daar is drie omgewingsfaktore wat kriminaliteit in die land bevorder:

1.            Sosio en Sosio-ekonomiese omstandighede.  Hierdie tipe misdaad word aangehelp deur ons groot persentasie van jong mense in die land, waarvan baie werkloos is en toenemend in die stede saamgehoop word.  Ons invloei na die stede 6 X hoër as die land naaste aan ons, naamlik Brazilië.  Party kenners sê die geweldige invloei vind plaas aangesien die apartheidstelsel die normale verstedelikingsproses vir dekades lank aan bande gelê het.  Op die platteland het arm mense ‘n ondersteuningsstruktuur gehad in die vorm van die uitgebreide familie, maar in die stedelike omgewing bestaan dit nie.  In die stad ontwikkel ook eiesoortige behoeftes en speel groepsdruk ‘n groot rol in die individu se lewe.  ‘n Mens kan maklik sien wat die invloed daarvan op misdaad is.

2.            Polities-Ideologiese Misdaad:  Hoewel die demokratisering van die staat in 1994 aan alle burgers in die land ‘n wettige metode om aan die regeringsproses deel te neem, verskaf het, is daar steeds groepe wat op ondemokratiese wyse poog om hul standpunte op die nasionale agenda te kry.  Tipies hiervan is die vigilante-groepe PAGAD, QIBLA, MAGO, MAIL en MAPOGO wat oënskynlik hulle ontstaan het uit die omgewing waar misdaadbekamping deur die SAPD nie effektief genoeg plaasvind nie, en hierdie organisasies die wet in eie hande neem.  Hierdie tipe geweld/misdaad is egter baie minder as wat voor 1994 die geval was.  Dit word huidig veroorsaak deur hoë vlakke van onsekerheid of ‘n gevoel van onveiligheid wat mense daartoe bring  of selfverdedingingstrukture daar te stel.  Hoewel sulke vigilante-organisasies op die oog af voorkom dat hulle goeie werk doen, kan hulle nie gesteun word nie.  Hulle ontwikkeling volg altyd ‘n ge-ykte patroon en wanneer hulle eers ge-organiseer is en gereed is vir aksie, verskyn daar altyd snellergebeurlikhede wat hulle tot onwettige optrede lei.  Die verskynsel is veral problematies wanneer vigilantisme saamval met ander faktore soos godsdienstige of etniese groeperinge.

3.            Georganiseerde Misdaad:  Georganiseerde misdaad is misdaad wat gepleeg word deur 2 of meer persone wat misdaad herhaaldelik pleeg oor ‘n lang termyn, en dit werk gewoonlik soos ‘n besigheid.  Die topstruktuur is baie  keer verskuil en hulle gebruik tegnieke soos afpersing, korrupsie, uitbuiting van grense ens.  Tipiese georganiseerde misdaadkategorieë is, Voertuigdiefstal en –skaking; Wapen smokkeling; Smokkeling van verdowingsmiddels; Kontantrooftogte; Ontvoering van mense; Geldwassery en Witboordjiemisdade.

In ons land blyk dit dat verdowingsmiddels en alkohol ‘n groot rol speel as aanleidende oorsake van misdaad.  Onder die invloed van verdowingsmiddels pleeg mense aaklike misdade en die gewoonte trek mense gaandeweg dieper in die misdaad in.  Georganiseerde misdaad het altyd ‘n handelsbasis.  So betaal Pakistan met dagga, China met verdowingsmiddels (vir perlemoen) en Indië met Mandrax vir gesmokkelde goud.

Daar is ‘n toename in roof met verswarende omstandighede en dit is rede tot kommer aangesien dit nie sal verbeter wanneer die land se ekonomie verbeter nie.  Eiendom – verwante misdade mag wel afneem (crime of greed vs crime of need).  In internasionale terme het Suid Afrika ‘n baie hoë voorkoms van geweldsmisdade en veral die Johannesburg-omgewing is berug vir alle kategorië van misdade.  In die Suid en Suid-Westelike deel van die land is daar ook ‘n besondere hoë voorkoms van misdaad wat direk verband hou met alkoholgebruikspatrone.  (Dop-Stelsel).  Die Wes-Kaap het ‘n hoë voorkoms van bende-misdade:  Daar is baie invloedryke tronk- en straatbendes.  Straatbendes is territoriaal georiënteerd en goed ge-organiseerd, en hulle verdedig hulle areas met alle mag.  Baie van dié bendes is ge-affilieer by tronkbendes.  Taxi-geweld is baie prominent in Suid Afrika.  In Mpumalanga en die Noordelike provinsie hou misdaad meer verband met die konstante toevloei van onwettige immigrante na die land.  Die werkloosheid in die gebied is tussen 30 en 40% en meer as 3000 onwettige immigrante kom die land per maand binne vanaf Mosambiek alleen.  Met al die maatreëls wat die Veiligheidsmagte aanwend word maar sowat 20% van die vloei gestop.  Groot getalle kom deur die grens met swaar voertuie en smokkel goedere en VIGS word op groot skaal die land ingebring.  In die streek is plaasmoorde ook ‘n probleem en polities sensitiewe saak.

Die Suid Afrikaanse Polisiedienste is die hoof rolspeler in die bekamping van misdaad.  Baie belangrike rolle word in die proses natuurlik ook vervul deur die department van Justisie en die Gevangeniswese.  ‘n Ander belangrike rolspeler is NIA – die Nasionale Inligtings Agentskap.

Daar is ‘n besef dat misdaad nie effektief hokgeslaan kan word alleen deur reaktiewe optrede nie.  Daarom is daar  ‘n poging om operasies inligtings-gedrewe te maak, asook om sosiale aksies te loods wat sal help met die voorkoming van misdaad.  Die polisie be-oog om deur ‘n gekoordineerde poging alle tipes misdaad te stabiliseer in die volgende paar jaar en hulle benadering staan op twee bene.  Eerstens het hulle 140 stasies geïdentifiseer in streke waar meer as 50% van die land se misdade plaasvind – hierdie stasies sal behoorlik bemagtig word en aanspreeklikheid gegee word.    Vervolgens sal ‘n verdere 340 stasies bepaalde opleiding gegee word.  Die polisie beoog om nie net misdaad te bekamp nie, maar waar hulle dit nie kan doen nie, die misdadigers se werkswyses te ontwrig. Daar is egter ‘n baie groot behoefte aan koordinasie in die bedrywighede van die verskillende inligtingsgemeenskappe in ons land.

Hoewel daar baie omgewingsfaktore ‘n rol speel, is persoonlike veiligheid ‘n sielkundige kwesie.  Mens kan dit sien daarin dat verskillende individue verskillend optree in dieselfde veiligheidsomgewing en hul optredes kan wissel van ‘n neurotiese vervolgingswaan tot ‘n roekelose verontagsaming van gevare.  Daar moet dus meer wees as bloot die bestaan van die eksterne dreigemente.  Deel daarvan is verseker die individu se persepsie van die bedreiging.  Daar kan naïewe onkunde by iemand wees, of idealistiese goedgelowigheid of swartgallige pessimisme.  Sulke lewenshoudings is deurslaggewend in die individu se belewens van die bedreiging rondom hom.  ‘n Ander deel het waarskynlik meer te make met die hartingesteldheid van die mens.  Iemand met  egte geloofsekuriteit het ‘n onwankelbare fondament wat standhou in die mees onstabiele omgewings.  By iemand waar ‘n vaste geloofsekerheid en ‘n verhouding met God ontbreek, is dit maklik om te dink dat eksterne bedreigings weerklank kan vind in die kamers van ‘n leë en onsekere hart.

By die christen gelowige, wat volgens die geloof, reeds oorwining oor die angel van die dood verkry het, kan daar ‘n gebalanseerde lewe sonder vrees geleef word – ten spyte van ‘n ontstuimige wêreld.  Meer nog – die egte christengeloof leer ons van ‘n Almagtige Vader wat alle omstandighede in ons lewens skik – vir ons beswil.  Die beginpunt vir persoonlike veiligheid lê derhalwe in ‘n egte geloofsverhouding met God.

Ons gevoel van persoonlike sekuriteit het ‘n groot invloed op ons lewens.  Dit laat sommige mense hulleself inhok in pragtige paleise, maar beskerm soos tronke.  Party mense word kluisenaars en vrees om uit te gaan en die lewe te geniet en vensters word altyd dig toegetrek.  Baie mense dra dag en nag hul persoonlike vuurwapen saam.  So word mense van die heerlikiheid van die lewe beroof.  Deur vrees.  Die christen se antwoord is hierop:  Geloofsvertroue.  Om te wandel in die wet van God.  Nie roekeloos nie. Nie oningelig nie – maar in geloof.  Dit gee beskerming en die geleentheid om die lewe ten volle te geniet.

---000---

KPJ Nel

2015-02-21

 

 


Directors: S.A.M Smit & J.F Koster - Copyright ©2018 HartiesNet (Pty) Ltd - our Disclaimer