Views!
HUNDREDS of daily LOCAL views - THOUSANDS of monthly LOYAL readers! THE MOST POPULAR ATTRACTION IN HARTIES!
Published:  2015-02-25 Views:  921
Author:  karelnel
Published in:  History/Geskiedenis
Oom Ben

Oom Ben Farrell

Dr Ben Farrell was ‘n bekende Landskapsargitek wat ‘n tyd lank in Hartbeespoort gewoon het. Hy was ‘n merkwaardige persoon en ‘n ware man van God en was intiem betrokke by die stigting van Hartbeespoort Christen Gemeenskap. Hieronder volg sy verhaal.

“Ek was seker so veertien jaar oud toe ek ontnugterd geraak het met wat in die gemeente waar my ouers aanbid het gebeur het en het van toe af nie weer in ‘n gemeentyebyeenkoms gekom nie. Ek het trouens alle kontak met kerke verbreek.

Na voltooiing van vroeëre studies, is ek na Tanganjika om vir die Britse regering te werk. Daar het ek etlike uiters traumatiese gevaar situasies beleef, ek het verskeie malaria aanvalle oorleef en geworstel met bilharzia wat my fisies en emosioneel baie verswak gelaat het. Toe ‘n baie goeie vriend op ‘n jagtog deur ‘n olifant doodgetrap is het ek besluit om terug te keer na Suid Afrika waar ek kort na my terugkeer ‘n dramatiese wedergeboorte ervaring gehad het.

Met my huwelik met Antjie Taljaard, ‘n Vrystaatse meisie, het ek ingestem om lidmaatskap by die NG Kerk te aanvaar. Ek is binne ‘n kort tyd gekies as ouderling en het ‘n wyk in die De Wildt area bedien. Ek was baie ernstig oor my verhouding met die Here Jesus en het in die tyd die Bybel verskeie kere deurgeluister op band, wat my ‘n redelik goeie begrip van die inhoud van die skrif gegee het. In die die tyd het ons ervaar dat daar ‘n besonderse beweging van die Heilige Gees was. Die Full Gospel Businessmen International, het byeenkomste gereel vir mans en ek het byna weekliks ontbyt byeenkomste bygewoon en baie mans het in die tyd nuwe lewe in Christus gevind. Ek het ook uitsonderlike genesingswonders beleef wanneer daar vir siekes gebid is.

Die wêreld het gegons oor baie mense wat in die tyd die waterdoop ontvang het en Antjie (wie se suster Mart in die A G S was) het ‘n begeerte ontwikkel om self gedoop te word. Ek was egter nie oortuig nie en alhoewel sy kerkdienste by die AGS bygewoon het het ek volhard as ouderling in die NG Kerk. By geleentheid op huisbesoek saam met die predikant vra ‘n vroutjie die dominee wat hy van kinderdoop dink. Die predikant se reaksie was eenvoudig dat is wat die kerk glo en beoefen. Daarna draai sy na my en vra my dieselfde vraag. My antwoord was dat ek glo dit is verkeerd om babatjies te doop. By ons terugkeer na ons huis vra die predikant my: “Wat nou Ben?” waarna ek antwoord dat dit maar ‘n spontane reaksie was en dit is as ek eerlik moet wees, my oortuiging.

Nie lank na hierdie episode was ek op ‘n projek by Christiana  in ‘n vergadering van raadslede van die plaaslike munisipaliteit. Ek is deur een van die raadslede gevra om oor te slaap. Gedurende die vroë oggendure word ek wakker met ‘n bewussyn van die teenwoordigheid van God. Daar het ek ‘n  gesig gesien wat my baie onder die indruk van God se liefde en heiligheid gebring het. Toe ek die oggend vertrek Pretoria toe, vra ek die Heilige Gees om die die gesig aan my te verduidelik. Die openbaring wat ek toe ontvang was dat Jesus Christus  die sentrale gesag van die skepping is. Toe ek dit herhaal , word ek vervul met die Heige Gees met vreemde tale wat deur my kop maal. Dit het etlike ure geduur op my reis. Toe ek hierdie ervaring kort daarna met die predikant deel, was sy reaksie verstommend en het hy my gevra om die N G Kerk te verlaat. Dit was vir my ‘n geweldige skok en ek het etlike dae in gebed geworstel om my ontsteltenis te oorkom.

Omdat Antjie reeds vertroud was met die AGS gemeente op Brits het ons besluit om daar ‘n heenkome te vind. Een van die eerste ervarings wat ek daar gehad het was dat ek, toe ‘n broeder in tale praat elke woord begryp het . Toe ek dit later vir die man vertel was hy baie ontsteld dat ek nie die “uitleg”: gebring het nie. Ek was baie teesinnig om gedoop te word maar om die vrede te bewaar het ek toegestem. Tot my verbasing het die skrif vir my lewendig geword na die doop en het die woord my letterlik gegryp.

In die tyd het ons dienste gehou vir swart mense op ons plaas by De Wildt en alhoewel ek gevoel het ons bereik niks, het ons later getuienis ontvang dat een van die bekeerlinge reeds etlike gemeentes geplant het. Ons het ook saam met ‘n groep gelowige sakemanne tentveldtogte gehou en daar onder die bediening van wyle Richard Engede verstommende wonderwerke sien plaasvind. Ons het gemeentes geplant, kerkgeboue opgerig en teologies opgeleide swart predikers aan die hoof van die gemeentes geplaas. Toe ons egter die gemeentes geestelik wou versorg, het die AGS beswaar gemaak en aangevoer dit is die AGS se Sendingarm se taak en ons moes terug staan. So is baie werk tot niet gemaak.

Gedurende 1978 moes ek na Israel gaan om navorsing te doen oor besproeing onder woestyntoestande. Terwyl ons in Jerusalem was en ‘n charismatiese kerkdiens op “Mount Zion” bygewoon het, het ‘n vrou wat voorgegaan het oor my en Antjie geprofeteer dat die Here ons roep en dat ons op Hom moes wag in vas en gebed. Ek was nog altyd sku vir persoonlike profesië en sê toe vir Antjie en in gebed vir die Here, dat ek dit nie sal aanvaar tensy die profesie in Suid Afrika bevestig word nie. Ek het redelik veilig gevoel want persoonlike profesië was nie deel van ons kerk byeenkomste nie. Tot my verbasing kort na ons terugkeer by ‘n diens in die AGS kerk, Kom ‘n baie skugter teruhoudende vroutjie na die diens na my en herhaal die profesie woordeliks. Sy gaan toe na Antjie en herhaal dit ook daar. Daarna het ons met groot erns gevas en gebid om leiding te kry. Ek het ook gepoog om by die AGS teologiese Kollege in te skryf maar weens een of ander administratiewe glips het ons nooit reaksie gekry nie.

Terwyl ek een middagete op versoek in Sentraal Pretoria ‘n etensuur diens waarneem, ontmoet ek ene Alf Harding en in gesprek met hom raai hy my aan om eerder my teologiese studies by die Theological College of South Africa te doen. Toe ek hulle nader begin die semester pas en vir die volgende twee jaar was ek (en Antjie) verdiep in die studies. Ek was steeds in my praktyk as Landskapargitek betrokke en ‘n vreemde gebeure het daar begin afspeel. Mense wat of aan my bekend was of totale vreemdelinge het my begin besoek en ronduit verklaar dat hulle begerig is om hulle tot die Here te bekeer. Ek was steeds besig om daagliks oppad na of vannaf my kantoor na die lewende Bybel op band te luister.

‘n Vreemde ding het toe gebeur. My uiters bekwame en getroue sekretaresse het vreemd teenoor my begin optree en selfs onnatuurlik verseg om my opdragte uit te voer. Dit het my baie gekwel en Antjie en ek het dit een aand ernstig in gebed na die Here geneem. Na ons gebid het maak ons albei ons Bybels oop en groot was ons verbasing toe ons dieslfde skrif in 2 Thes 3:6 lees ; “Ons beveel julle broeders om julle los te maak van elke broeder wat onordelik wandel...” Ek het dadelik geweet die Here Jesus beveel my om my los te maak van my praktyk. Sonder om aan die finansiële implikasies te dink het ek die volgende dag my vennoot meegedeel dat ek my uit die praktyk onttrek. Vir drie dae het ek ‘n bonatuurlke bewussyn van die liefde van God in my lewe ervaar.

Terug op die plaas by De Wildt, het ‘n tyd van bid en wag gekom om te verneem wat volgende moet gebeur. Dit was 1980 toe die kinders oppad skooltoe by my verby stap en onbewus van mekaar een vir een vir my sê “ons gaan trek” Toe ons later daaroor bid vra ons die Here Jesus, as ons dan moet trek, moet Hy vir ons ‘n koper stuur vir die plasie waar ons woon. Binne dae daag ‘n kollega stadsbeplanner by my huis op vir ‘n vergadering. Toe hy ons huis sien vra hy of die plek nie dalk te koop is nie. Hierop antwoord ek, “ek weet nie”  As jy belangstel, maak my ‘n aanbod” Hy het dadelik vertrek en ‘n rukkie later teruggkeer met sy vrou. Hy het kort daarna ‘n aanbod gemaak wat persies was wat ons gedink het ‘n billike verkoopprys is. Die koop is beklink en ek deel hulle toe mee dat ons in ‘n aparte deel van die huis wou aanbly totdat ons van die Here verneem waarheen ons sou gaan. Ons sou in ieder geval nie later as einde Januarie die plek ontruim. Teen die tyd was al ons vriende en familie bewus van die situasie.

 

Ek het toenemend bewus geword van die feit dat ons tyd by die AGS vinnig uitloop. Daar was geen onmin of sigbare wrywing nie. Ek was vise voorsitter van die gemeente wat vir geruime tyd sonder voltydse leraar was. Dit het goed gegaan in die gemeente en die gelowiges het ywerig deelgeneem. Ek het tydens ‘n aanddiens die gemeente leiers bymekaar geroep en my bedanking uit die AGS aangekondig. Met uitsondering van die nuut aangestelde pastoor, het die broeders met groot deernis van ons afskeid geneem. ‘n Tyd van intense verbittering jeens ons het egter onder die pastore teenoor ons gevolg.

In die tyd het ek my Teologiese Diploma verwerf en al wat in plek moes val is om te weet waarheen ons gestuur sou word. In ‘n duidelike vermaning het die Here my vermaan om nie na die advies van mense te luister nie. Die tyd dat ons die plaas moes ontruim het vinnig nader gekom en ons was verslae omdat ons niks verder by die Heilige Gees hoor nie. Antjie se suster Mart het min of meer gedurende die einde van 1980 vir ons ‘n boodskap gegee dat die Here ons op die 14 Jan  sou sê waarheen ons moet gaan. Intussen het ons verskeie skrifgedeeltes gekry wat daarop dui dat ons op die vlakte by die see waar die  poort gesluit is moet vestig. Ons het kaarte bestudeer en gesoek na ‘n vlakte by die see maar die poort wat gesluit is het altyd ontbreek.

Gedurende die tyd is ek na Kwa Sizabantu waar ek wou vas en bid om ‘n antwoord te kry. Wat was my verbasing groot toe die Heilige Gees my daar oortuig van sonde in my lewe. ‘n Tyd van diep selfondersoek het gevolg en na so twee weke was ek oppad terug. Intussen het die datum wat Mart genoem het vinnig nader gekom.

Ons het ‘n huisdiens in Schoemansville bygewoon waar Kobus Bouer die woord bedien het. Rob Samuel en Pieter Smit was ook daar. Aan die einde van die diens is ‘n oproep gemaak dat die wat ervaar dat hulle geroep is om in diens van die Here te staan moet agterbly. Rob, Pieter en ek het agter gebly en aan die einde van die aand  het ek Pieter gevra of hy bereid is om te reël dat ons drie weer bymekaar kom. Ek het hulle die aand vir die eerste keer ontmoet.

Die oggend van die 14 Januarie 1981 was ek in die kombuis toe Stuurman wat in die tyd by ons gewerk het ‘n opmerking maak wat my verstom het. Sy woorde was “Ek glo nie baas Ben moet Brits toe gaan nie maar Hartbeespoort toe” So teen elfuur die oggend bel Marie Griesel uit Hartbeespoort en vra vir Antjie of ons al iets gehoor het en voeg by “Ons het julle nodig in Hartbeespoort”. Later die middag ry ek Brits toe om pos uit te haal en vind ‘n laat kerskaart vanaf Johan Engelbrecht wat in die tyd in Amerika gestudeer het. Naas die goeie wense voeg hy ‘n naskrif by ”Ek weet die Here het ‘n plan met julle in Hartbeespoort”. So was ons bestemming vas bepaal.   Ons moes Hartbeespoort toe. Die poort wat gesluit is was toe die damwal.

Na baie bid en soek en agente raadpleeg, is die huis wat ons moes koop aangedui en so is ons op die 28 ste Januarie gevestig in Schoemansville, totaal onbewus van die woelinge onder gelowiges in die damkontrei wat self dringend op soek was na ‘n geestelike tuiste. Dieselfde week kontak Pieter Smit my om my mee te deel dat die byeenkoms wat hy moes reël vir die volgende aand gereël is. Daargekom was daar mans wat ek nie geken het nie. Ons het die aand saam gebid en die bidbyeenkoms het daarna weekliks plaasgevind en uit die bidgroep het die Hartbeespoort Christen gemeente gegroei. Ook die week van die 28ste Januarie begin ‘n HEDT kursus wat Karel Nel vroër reeds gereël het waarby ons ook betrokke sou raak. Ons was verseker dat ons binne die wil van die Here daar was maar het nie geweet met watter opdrag, behalwe dat die Heilige Gees ons vermaan het om die verstrooide skape bymekaar te bring.

 

Om en by tien wonderlike en wonderwerkjare het gevolg totdat ons geroep gevoel het om na Riversdal te beweeg waar daar ‘n tweede Afrikaanssprekende Assembly of God gemeente tot stand gekom het. Die bonatuurlike werke van die Heilige Gees wat ons in Hartbeespoort beleef het sal op sigself soos hoofstukke uit die boek Handelinge lees.”

Ben Farrell, Stilbaai, Augustus 2012

---000---

Herverwerk deur KPJ Nel

2015-02-25


Directors: S.A.M Smit & J.F Koster - Copyright ©2018 HartiesNet (Pty) Ltd - our Disclaimer