Views!
HUNDREDS of daily LOCAL views - THOUSANDS of monthly LOYAL readers! THE MOST POPULAR ATTRACTION IN HARTIES!
Published:  2015-02-27 Views:  822
Author:  karelnel
Published in:  History/Geskiedenis
Gesprek Rondom Bybelvertaling

Gesprek met Oom Du Toit Van der Merwe op 2015-02-25

Op 25 Februarie het ‘n baie interessante bespreking plaasgevind met Oom Du Toit Van der Merwe, aan huis van Renier en Milene Balt in Schoemansville. Oom Du Toit het ‘n baie belangrike rol gespeel in die vertaling van die nuwe Lewende Bybel en het van sy uitgebreide kennis oor die spesialisgebied van Bybelvertaling met ‘n klein groepie belangstellendes gedeel. En daarna vrae beantwoord. Hy het ‘n fassinerende  loopbaan as sendeling agter die rug, en selfs nou, dat hy oor die 85 jaar oud is, is hy nog helder, skerp en passievol oor sy vakgebied.  Hieronder is ‘n opsomming van die gedagtes wat hy gedeel het.

Hy lees Ps 19 wat handel oor die Woord. Die Bybel het getuienis oor homself. Die Bybel het deur bemiddeling van mense tot ons gekom – deur gepraat en geskrywe. Daar is dus iets mensliks en iets Goddeliks in die Bybel. So is dit ook gesteld met Bybelvertaling – dis nie engele wat die Bybel vertaal het nie maar mense.

Ons het almal vandag die Liberale teologie in ons agterkoppe en is bang dat dit sy weg sal vind in die Bybelvertalings in. Hy glo nie dit sal gebeur nie, eerstens omdat die liberale teoloë nie kan saamstem nie en tweedens omdat Bybelvertaling harde werk is en hulle nie bereid sal wees om dit te doen nie.

Die jaar 1450 was ‘n waterskeidingsjaar tov die publikasie en verspreiding van die Bybel, want dit is toe die drukpers bekend geword het, en dit het grootliks die oorskrywe van die Bybel met die hand be-eindig. Ons weet nie wanneer die OT geskrywe is nie. Teoloë beweer dat Moses se boeke eers gedurende die ballingskap opgeskrywe is – dis net ‘n teorie. Wellhausen het beweer dat geskrewe Hebreeus nognie in Moses se tyd bestaan het nie. Hy is deeglik verkeerd bewys deur argeologiese fondse wat gemaak is. Die teorie dat daar “redaksie” of “verandering” op die Hebreeus plaasgevind het kan nie bewys word nie. Die Jode het die kuns om te skryf vervolmaak. Om die Skrifte oor te skrywe was ‘n ambag en het uitermate dissipline en vaardigheid geneem. Die mense was genoem Skrifgeleerdes, Scribes, lede van die Skrywersgilde. Hulle moes volkome leesbaar en akkuraat skrywe. Die Jode het later reëls bygesit om die akkuraatheid van die oorskrywery te beskerm. Hulle het op perkament of ‘vellum’ geskrywe, maar na ‘n tyd se gebruik het die letters begin dof word. Dan is dit uit diens onttrek en in ‘n stoor gesit en later vernietig. Daar was gereken dat die naam van God daarop geskrywe is en dat die Naam nie so ‘tweedehands’ hanteer moes word nie. Gevolglik het daar nie veel ou geskrifte oorgebly nie. ‘n Ander maatreël wat ingestel was, was om die aantal letters van ‘n oorgeskrewe rol te tel en neer te skrywe. As dit nie ooreengestem het met die korrekte getal nie, was die manuskrip nie aanvaarbaar nie.

Later het daar ‘n beweging onder die Jode gekom om meer noulettend te wees rakende die Hebreeuse teks en so het die sg. Masoretiese teks beslag gekry, wat die standaard geword het sedert ongeveer 200-300 nC. Gedurende die kruistogte, ongeveer 1000nC is ‘n dokument gevind, die s.g Alepo manuskrip wat vir lank die vroegste weergawe van die Masoretiese teks was. Toe kom die gebeure by Qumram in die 1930’s. Hulle vind toe OT manuskripte wat dateer uit die jare 150-100 vC, dws 1100 jaar ouer as die Alepo geskrif. Deur die fonds vind ‘n reuse sprong van meer as 1000 jaar in die geskiedenis terug, en geen noemenswaardige verskille is gevind in die Hebreeuse teks nie. Onder die geskrifte was daar onder andere ‘n volledige Jesaja wat in Jerusalem in ‘The Shrine of the Book’ onder streng beheerde toestande uitgestal word.

Mense spreek baiekeer bedenkinge oor die teologie uit, maar een afdeling is uit-en-uit wetenskaplik, naamlik die “Tekskritiek”. (Ongelukkig is dit nie ‘n goeie benaming nie). Dis ‘n wetenskaplike dissipline. Ouderdomstoetse (byv die Koolstoftoets) het bybelse geskrifte se datums bevestig. Baie nvorsing het plaasgevind oor die skryfstyle en lettertipes en aan die hand daarvan kan manuskripte geplaas word binne ‘n resolusie van 50 jaar.

Met die Nuwe Testament is dit anders gesteld. Daar is manuskripte wat ontstaan het baie nader aan die tyd wat dinge plaasgevind het. Dan Brown se verhaal versprei verkeerde informasie rakende die in/uitsluiting van boeke in die Bybel teen die tyd van Konstantyn. Feit is dat die NT manuskripte nie eweredig oor die destydse wereld versprei was nie – soos byv Openbaring en Hebreërs – daarom is hulle nie van die begin af in al die lyste nie. Daar was ‘n ketter, genaamd Marcion, wat alreeds ‘n baie vroeë lys gemaak het van boeke. Teoloë wat beweer dat die NT boeke oor-en-oor vertel is en eers later neergeskrywe is, is nie korrek nie.

Die vroegste boek is 1 Thess. In Paulus se lewe word een insident beskrywe wat dit moontlik maak om sy lewe te dateer. In Handelinge word beskrywe dat Paulus in Korinthe was toe Gallio aangestel is – en die datum is bekend: Dit was die somer van die jaar 50nC. Hiervolgens kan ander insidente uit Paulus se lewe nou dateer word . So kan ons vasstel dat Paulus die eerste brief aan Tessalonica geskryf het in die somer van die jaar 50 nC terwyl hy op besoek in Korinte was.  As mens in gedagte hou dat Jesus in 6 nC gebore is en dat Jesus ongeveer op 30 jarige ouderdom gekruisig is, dan het daar ongeveer slegs 15 jaar verloop tot 1 Thess geskrywe is – en dus het baie ooggetuies nog gelewe. Ons lees in Kol 4:16- dat Paulus se briewe oor en weer in gemeentes gelees moes word, en dit voorveronderstel logieserwys dat afskrifte ook gemaak sou word. Binne 20 jaar na Jesus se kruisiging was daar al heelwat van Paulus se briewe in omloop, en dit terwyl oggetuies van Jesus se lewe en sterwe nog daar was.

Die Evangelie van Markus is geskrywe voor die jaar 70nC toe die tempel verwoes is, aangesien Markus gladnie na die belangrike gebeurtenis verwys nie. Dit is sowat 35 jaar na Jesus se hemelvaart. Die ander Evangelies kom nie lank daarna nie. Geleerdes het beweeer dat die Evangelie van Johannes baie laat geskrywe is (omdat die teologie so gevorderd is). Die manuskripte van die NT was op perkament, maar daar is ook goedkoper weergawes op papirus gemaak, wat in boekvorm uitgegee is. Argeoloë het in Fayum in Egipte op ‘n ashoop ‘n stukkie perkament gekry wat op die voor-en agterkant beskrywe was wat volgens die skriftipe gedateer is in die tydperk 100-150 nC – ongeveer 65 jaar na die hemelvaart. Dit kom uit die Evangelie van Johannes. Die laaste wat van Johannes vasgestel kan word is dat hy in Efese was en teen hierdie tyd was daar al kopieë versprei tot in Egipte! (In Grieks). Die tradisie dat Johannes na ‘n lang ‘broeitydperk’ geskrywe is, is nie geldig nie. In vergelyking dateer die vroegste manuskripte van Homeros se werke (Illiad en Oddessey) eers honderde jare na sy leeftyd en mense het nie ‘n probleem daarmee nie.

Op die vraag hoe die verskillende manuskripte wat in die verskillende vertalings gebruik is, aan mekaar verwant is het Oom du Toit so geantwoord: In die VSA het literatuur ontstaan tov die King James Version (KJV) waaroor mense baie dogmaties geraak het as sou dit die enigste betroubare Bybel wees. Die KJV is egter gebasseer op Manuskripte wat ‘n laat basis het. Dieselfe geld vir die Statevertaling en die Ou Afrikaanse Vertaling. Daar is vandag verskillende groepe van manuskripte. Daar is iets wat bekend staan as die ‘Majority Text’ en dit is ‘n verteenwoordiging van baie manuskripte wat veral in die Weste versprei is. Ander tekste, die Alexandriese teks, is nie so baie nie, maar heelwat ouer as die ‘Majority Text’

Terug na die tyd van die drukpers: Die drukpers was betyds vir Luther om te gebruik. Destyds het Europa nie veel erg aan Grieks gehad nie, maar Latyn was die amptelike taal van Rome en die Weste. Die oostelike deel van die wereld het meer Grieks gebruik, en Palistina was in die middel, en het albei gebruik. Pous Damasus het in 382 nC vir Hieronymus (Jerome) opdrag gegee om ‘n Latynse vertaling van die Bybel te maak, aangesien daar te veel los Latynse vertalings was. Hy het toe die Vulgaat die lig laat sien, wat 1000 jaar later by die Konsillie van Trente (in 1545) bevestig is as die amptelike Bybel. Die eerste boek wat Gutenberg gedruk het was inderdaad ‘n Vulgaat.

Luther en ander Hervormers was nie tevrede met die Vulgaat nie. Hulle beweeg terug na die Grieks. Erasmus was ‘n Roomse priester maar was ‘n onafhanklike denker. Hy het onder andere ‘n kritiese werk geskrywe ‘Lof der Sotheid’ teen die kerk. Hy was ‘n uitstekende akademikus en was betrokke by beide Cambridge en Oxford. Hy is versoek om ‘n NT in Grieks uit te bring en sy bronne het gekom uit die jare 1100-1300 nC. Hy het hier-en-daar waar hy onseker was gedeeltes vanuit die Vulgaat terugvertaal in Grieks. Daar was ook ander pogings soos byv die Heksapla, 6 parallelle vertalings. Geleidelik het Erasmus se NT bekend geword en die uitgewer Elsevier het by die derde herdruk in die voorwoord ingesit dat hierdie die amptelike Bybel was  (Textus Receptus) en vandaar het dit ‘n belangrike status gekry. Hy kon egter nie sy vertaling te veel van die Vulgaat laat afwyk nie, anders sou dit verwerp word. Die Receptus vorm toe die basis vir die KJV en die Statevertaling.

Later het beter manuskripte bekend geword. Eerstens was daar die Alexandinus uit die 5de eeu (400-500 nC) wat in 1625 bekend geword het (Na die publikasie van die KJV). Dit is opgeneem in die British Museum in Londen en foto-afdrukke daarvan is gepubliseer in 1786. Daar was nog twee ander ook. Die Vaticanus, wat in Kodeks (Boek) vorm in die Vatikaan se biblioteek was, en dit het al die OT boeke ingehad in Grieks. Dit is eers in 1805 gepubliseer. Die oudste manuskrip, die Sinaiticus is ontdek deur ene Tischendorff. Hy het vermoed dat daar ouer manuskripte moes wees en het in die Europese biblioteke rondgesoek. Hy het besef dat sommige van die kloosters dalk sulke dokumente kon besit. Perkamente was baie duur en soms het mens van die kloosters ou perkamente geneem, die letters afgeskuur en weer daarop geskrywe. Tischendorff het sy oë ge-oefen om die dowwe agtergrondletters te kan lees. Die kloosters in die woestyn was in ‘n droë klimaat en daar sou manuskripte mooi bewaar bly. Hy het toe gekom by ‘n klooster met die naam van Sint Katharina, maar hulle was baie suspisieus oor sy motiewe. (Hulle het as misleidingsplan teen ‘n Moslem aanval ‘n klein Moskee op die dak van die klooster gehad) Hy kon nie skryfgoed by hom hê nie en hy kon ook nie te lank met enige bepaalde manuskrip spandeer nie. Hy ontdek toe ‘n baie ou NT manuskrip. Die mense het groot ontsag vir die Tsaar van Rusland gehad, en deur bemiddeling van die Tsaar kon die dokument uitgebring word na die Weste en is ook nou in die British Museum. Die dokument dateer uit die jare 300 nC. Dit bevat ook die OT in Grieks.

Die Jode is na die ballingskap wyd in die wereld versprei en het oor die algemeen goed aangepas vanweë hul besonderse vermoëns. Hulle het egter ‘n probleem gehad in die sin dat hulle kinders nie meer Hebreeus magtig was nie. Hulle het die behoefte gehad om die OT in Grieks vertaal te kry. In die tydperk 300-100 vC het daar spontaan verskeie sulke vertalings ontstaan, hoewel die akkuraatheid daarvan nooit soos die Masoretiese teks bevestig is nie. Dit staan bekend as die Septuagint of LXX. In Jesus se tyd op aarde was dit die Geskrif wat saam met die Hebreeus gebruik is. Jesus en die Bybelskrywers het die Septuagint geken en daaruit aangehaal. Een voorbeeld is Mt 22:41-, waaruit die vraagstellers moes aflei dat Jesus beide Seun van God en Seun van Dawid was.  In die OT tyd het die Bybelskrywers die naam van God geredelik gebruik, maar later het hulle baie sku geword om die naam te gebruik. In die Septuagint word die praktyk voortgesit en word  Kurious gebruik, en vandaar die gebruik van “Here” in ons vertalings vir God se eienaam.

Daar is sedert die 1920’s gewerk aan ‘n Afrikaanse vertaling onder protes. Sommige mense wou die Hollands behou. Daar is egter besluit dat daar ‘n Afrikaanse vertaling moes wees, maar dit moes nie te veel van die Hollands verskil nie, want dan sou die mense dit nie aanvaar nie. In die buiteland was daar reeds 3 mense besig met die vertaling van die Bybel in 3 Afrika tale, maar Afrikaners was net betrokke by die hersiening van hierdie werke. Die vertaling in Nyassa of Chichewa het rees voor 1900-1924 begin. In 1949 verskyn die Shona weergawe in Suid Rhodesië. In Nigerië verskyn die vertaling vir die TIV stam (Net die NT)

Oom du Toit het sy opleiding in Wellington voltooi in 1952 en daarna na Zimbabwe gegaan om te werk aan die Shona hersiening wat in 1949 verskyn het. Baie kerke was nou betrokke en ‘n advieskommittee is saamgeste en die hulp van ‘n sendeling wat ‘n Shona moedertaalspreker was het baie gehelp.

Die Living Bible International Organisasie het die Living Bible uitgebring om die Bybel in moderne Engels beskikbaar te maak. Dit het nie veel aftrek gekry nie, totdat Billy Graham dit begin gebruik het. Daarna het dit fenomename vooruitgang gemaak. Daar was ‘n behoefte vir ‘n soortgelyke werk in Afrikaans, maar die Universiteite het nie kans gesien om dit te onderneem nie. Die Bybelgenootskap was ook besig met ‘n soortgelyke poging. Die Lewende Bybel is toe vertaal van Desember 1965 – aanvanklik met ‘n span professionele vertalers, maar later  Oom Du Toit alleen. Die Lewende Bybel (DLB) verskyn na 6 ½ jaar, een jaar voordat die Bybelgenootskap die Nuwe Vertaling in 1983 uitbring. Hy is daarna terug na Zimbabwe.

Na ‘n sessie van interessante vrae en fassinerende antwoorde eindig die aand om 20:00, en almal voel dat hulle nog ure lank in die besondere dienskneg van die Here se geselskap kon deurbring.

---000---

Opgestel deur KPJ Nel

2015-02-26


Directors: S.A.M Smit & J.F Koster - Copyright ©2018 HartiesNet (Pty) Ltd - our Disclaimer