Views!
HUNDREDS of daily LOCAL views - THOUSANDS of monthly LOYAL readers! THE MOST POPULAR ATTRACTION IN HARTIES!
Published:  2015-02-27 Views:  2084
Author:  karelnel
Published in:  Religion/Geloof
... Die Bybel ? ... Jy Speel Seker!  - Deel 2

... Die Bybel ? ... Jy speel seker!  - Deel 2

 

In die eerste artikel in die reeks is daar gedagtes gewissel oor die Bybel en hoe om die groot prentjie wat daarin vervat is te probeer verstaan. Een van die sentrale profetiese beelde (Die vrou en die draak) uit die boek Openbaring is gebruik as beginpunt om aan te toon dat die Bybel projekteer na ‘n hoogtepunt of ‘n klimaks, wat te make het met die heerskappy wat God en die mag wat Christus opneem. Nou vat ons die spoor deur die Ou en Nuwe Testamente  om te sien hoe hierdie prentjie van Wie God is en wat Hy doen ontvou. Om die dokument leesbaar te hou word daar nie Skrifbewysplase vir elke stelling hier gegee nie.

 

Ou Testament

Die Ou Testament is ‘n fassinerende versameling van boeke. By die lees daarvan weet mens egter nie altyd wat om te maak daarmee nie, juis omdat dit in so ‘n totaal ander konteks as vandag geskrywe is. Ons kan dit nie help nie, maar elkeen van ons interpreteer soos ons lees en tensy mens moeite doen, interpreteer jy outomaties volgens eie konteks. Die vraag hier is egter – is daar ‘n groter prentjie oor God se wese en werk in die Ou Testament? Die merkwaardige is dat soveel persone en dinge wat in die Ou Testament beskrywe word, patrone bevat van gebeure wat duisende jare later sou gebeur. Toevallig? Ek glo nie. Dis meer waarskynlik dat die hand van ‘n Alwetende God daar agter is. (Sien Jes 46:10)

Skepping (Gen 1):

Die Bybel sê daar was ‘n begin van alles en maak so ‘n bondige stelling oor iets waaroor wetenskaplikes lank geredeneer het. Dit is duidelik uit die eerste sin  van die Bybel - God was daar voor die begin – God se bestaan is ‘n gegewe en God is ewig en Hy is apart van Sy Skepping. Dis nie bewyse nie – dis openbarings. God het tyd gemaak – dus is Hy verhewe bo tyd. God het in Homself ge-redeneer – dit impliseer ‘n Self-bewussyn, ‘n redeneervermoë en dalk ook ‘n Selfgenoegsaamheid. God het ‘n “Beeld” van Homself want Hy sê dat daar mense volgens daardie Beeld gemaak moet word. God het ‘n Gees – want Sy Gees is betrokke by die skepping.  God skep deur Sy Woord – want Hy spreek net en dit gebeur. Ons weet nie hoekom en vir wie Hy skep nie; God het besluit om ‘n metgesel (die mens) te skep en ‘n woonplek vir hom (die tuin) – hoekom weet ons ook nie. Die boom van die Lewe en die boom van Kennis van goed en kwaad (Kwaad het reeds bestaan) is beide daar in die tuin – hoekom dit so is kan ons net spekuleer. Op die sewende dag het God gerus -dit was die mens se eerste dag. Ongehoorsaamheid verbreek die verhoudingen die paradys raak verlore vir die mens.In die tuin is daar ‘n eerste offer om hulle naaktheid te bedek en daar is ook die eerste belofte van redding en oorwinning (Gen 3:15) – ‘n belofte van Iemand wat sal kom om die Bose te oorwin. Die eerste hoofstuk van die Bybel – ‘n onbeskryflike kragtoer wat handel oor God en eerste dinge, wat so heel anders is as die fabels en beskrywinge van die gode van die lande rondom die midde-Ooste asook die latere Griekse en Romeinse goderyke.

Adam:

Hy word genoem : die “eerste Adam” (1 Kor 15:45) en dit beteken daar is ‘n Tweede/Laaste. Hy word genoem die seun van God (Luk 3:38). Hy is gemaak deur God – dus ‘n soort van ‘n “wondergeboorte”. Het heerskappy oor die aarde gekry. Sy bruid kom uit sy eie liggaam - Eva was ‘n perfekte hulp vir hom. Sy een daad  het almal na hom beinvloed – die dood het tot almal deurgedring. Merkwaardig hoe hierdie dinge as voorafskadu’s van Jesus Christus herken kon word baie eeue later.

Abel:

Was ‘n herder. ( Ek is die goeie Herder...) Sy broer was jaloers op hom en het hom gehaat. Hy is onskuldig doodgemaak en sy bloed het tot God uitgeroep. Die ooreenkomste spreek vanself.

Noag:

Hy was ‘n regverdige man met ‘n opdrag/ missie van God. Sy mense het hom verwerp. Hy het ‘n ark gebou om ‘n oorblyfsel te red (teken van die doop – 1 Pet 3:21) van God se oordeel deur water. Hy ontvang die teken van die reënboog – God se getrouheid word bevestig met ‘n verbondsteken.

Babel:

Genesis 11 verduidelik die vermenigvuldiging van sondes – dit weerspreek die siening dat die mens basies goed is en lei logies tot die uitspraak dat alle mense gesondig het (Rom 3:23) Die deel vertel hoe hulle bou met stene (menslike pogings) om te probeer om tot die hemel te reik – ‘n eie poging om van die aarde by die hemel uit te kom. God verwar die taal waaruit die verspreiding en verdeling van die volke  voortspruit. Wie sou die gaping tussen hemel en aarde kom oorbrug?

Job:

Job se verhaal van geweldige verdrukking kom uit ‘n baie vroeë tyd in teenstelling met die plasingsposisie in die Ou Testament. Dit dateer uit ‘n tyd voor Abraham. Ons kry ‘n openbaring van wat in hemelse ruimtes gebeur en hoe dit Job beinvloed in onuitspreekilike smart. As mens van sy woorde van hopeloosheid lees kan mens maklik sien hoe dit die desperate posisie van Jesus voor Sy kruisdood eggo. Hy bly getrou aan God in hopelose situasie en God herstel hom nadat hy vir sy vriende gebid het. (Hy tree vir ons in by die Vader.. 1 Joh 2:1.)

Melgisedek:

Hy word bekendgestel as koning en priester (Koninklike prieserskap) en Koning van Vrede. Hy is van ‘n ander  priesterorde - nie van die van Levi nie maar  lank voor Levi en bokant Levi, want Abraham, wat Levi se voorsaat is, vereer hom met tiendes.Sy voorgeslag is nie bekend nie en sy begin en einde is ook nie bekend nie. Geen wonder dat Hebreers, as daar oor Christus gepraat word, na Melgisedek terugverwys nie.

Abraham:

Hy is die begin van ‘n nuwe geslag – gebaseer op geloof. Hy was  ook ‘n herder. Hy het sy vardeland verlaat en ‘n pelgrim geword in ‘n onbekende land. God het ‘n verbond gesluit met hom – gepaardgaande met offerhandes. Die verbondsteken van die besnydenis is ingestel wat sy afstammelinge sou onderskei van ander volke, netsoos “die besnydenis van die hart” (wedergeboorte) die kinders van God van die wêreld onderskei. (Rom 2:29) God se seëninge gaan na al die nasies deur hom (Gen 18:18). Merkwaardig is sy gehoorsaamheid deur sy gewilligheid om sy lieflingseun, Isak, te offer. Hy was die voete van sy besoekers (engele). Hy het Lot en sy familie gered toe die vyand hulle weggevoer het en vir hulle ingetree in die goddelose stad waar hulle gewoon het. Het ‘n bruid vir sy seun laat haal.  Hy lê die fondament vir die nuwe verbond : Geregtigheid deur geloof wat in Romeine verduidelik word.

Isak:

Hy was die kosbare seun en erfgenaam van Abraham. Hy was gewillig om ge-offer te word; God het self ‘n offerlam in sy plek voorsien; God het vir hom ‘n bruid voorsien.

Jakob:

Hy was ook ‘n herder; Besonders is die droom van die leer tussen hemel en aarde – hoe die gaping tussen hemel en aarde oorbrug word.(Sien Joh 1:15)  Hy het sy vader se huis verlaat en na ‘n vreemde land gegaan (na sy eie mense – sien Joh 1:11).  Het ‘n worsteling met God gehad in die nag (Pniël); Sy naam is verander van Bedrieër (Jakob) na  “hy wat regeer saam met God” (Israel)

Josef:

Een van die merkwaardigste karakters in die Ou Testament met veelvuldige ooreenkomste met Jesus Christus. Hy was die geliefde seun van sy vader. Hy was verwerp deur sy broers (Sien Joh 1:11). Hy was ‘n herder. Sy vader het hom gestuur om na sy broers om te sien. Hy is verkoop vir ‘n slaaf se prys. Sy broer Ruben wou hom probeer red. Hy was versoek maar bly onskuldig (Potifar se vrou). Geen sonde van hom is opgeteken nie. In die gevangenis was hy saam met 2 beskuldigdes – een is vrygespreek en een is veroordeel. Hy was verhoog om onderkoning te word oor die hele Egipteland en uiteindelik was hy die algehele bron van brood vir almal. Sy broers het hom nie herken nie en hy het homself aan sy broers bekend gemaak; Asenat was sy bruid, en sy is geneem uit die heidene.

Moses:

Hy is vervolg as kind want hy was gebore in Israel se tyd van verdrukking in Egipte. Hy word groot in die koningshuis maar vereenselwig hom met sy broers, die Israeliete. Hy word verwerp deur sy broers en daarna dwaal hy rond in die wildernis/woestyn. Hy was ‘n herder. Hy het ‘n bruid uit die heidene geneem. Hy was  profeet, priester en koning/heerser wat wonderwerke gedoen het. Hy het die wet van God ontvang en word so die verteenwoordiger van die wet.  Daar word vertel van sy heilige woede toe die volk God vertoorn het oor die aanbidding van die goue kalf. Tog het hy gepleit vir Israel – dat God hulle nie sou verlaat nie. Hy gee die volk water uit die rots en ook  manna uit die hemel. Hy het 12 verspieders uitgestuur en hy het 70 gekies om hom te help regeer. Ons vind die belofte dat iemand soos hy sal kom. Hy verskyn saam met Jesus  op die Berg van Verheerliking.

Paaslam:

Die paaslam moes sonder vlek of rimpel wees en sy bene mag nie gebreek word nie. Die bloed moes op die deurkosyne kom sodat die oordeel kon verbygaan by die wat gehoorsaam was om die bloed aan te wend.

Die Uittog uit Egipte:

Egipte is ‘n beeld van die koninkryk van die wereld en Farao en sy leërs is ‘n tipe van die bose en sy leërmagte.In die woestyn is die pilaar en wolk van vuur die sigbare aanduiding van God se teenwoordigheid by en leiding van die volk. Hulle ontvang Manna - brood van die hemel af. Die deurtrek deur die Rooi see tipeer die skeiding tussen die gelowige en die wereld, sy redding en ook  die doop. Sinai, waar die wet gegee word, demonstreer die oorweldigende mag van God en Sy ontoeganklikheid van Sy teenwoordigheid. Die Wet en in besonder die sabbat dra baie by tot Israel se afskeiding van die heidene. Die koperslang wat  opgelig word bring genesing as siekes daarna kyk ( Sien Joh 3:14). Die tabernakel waar God woon tussen Sy mense word die fokuspunt vir die volk se doen en late gedurende die trek.

Josua:

Sy naam beteken “Redding”. Hy lei Israel in die beloofde land in. Hy ontmoet die Leërowerste van die Here ( Jos 5:13-15)

Tyd van die Rigters:

Ten spyte van ernstige waarskuwings deur beide Moses en Josua dwaal God se volk af – almal gaan hul eie weë. God se dissipline op die volk maak dat hulle oorwin word deur hulle vyande. God stuur die rigters as “redders” vir die volk.

Tyd van die Konings:

Israel word as nasie bevestig met Jerusalem as die koninklike stad. Die nasie bereik roem , veral in die tyd van Salomo. Ongelukkig verval hulle konstant in afgodery. Na Salomo verdeel die koningkryk in twee – Juda in die Suide en Israel in die Noorde. Uiteindelik kom die ballingskap van beide koninkryke.

Dawid:

Hy is gebore in Betlehem en kom van ‘n nederige familie. Hy was ‘n herder. Sy vader het hom gestuur om na sy broers om te sien – by die geveg. Hy is deur sy broers verwerp en gespot. Het die vyand (Goliat) alleen aangedurf en oorwin. Het ‘n magtige koning geword. Hy kies Jerusalem as die koninklike stad. Hy was ‘n man na God se hart. Hy ontvang die belofte van ‘n ewige ewige troonopvolger.

Salomo:

Hy was ‘n koning met groot wysheid en heerlikheid. Hy bou die wonderlike tempel  met poorte : Weg, Waarheid en Lewe.

Profete:

Die profete se boodskap was dat God afgodery haat want Hy is regverdig en heilig. Hulle roep die volk om terug te keer na God. Hulle voorspel telkens die oordeel van God (Die dag van die Here). Hulle voorspel die koms van die Messias (Jes 53) en die belofte van die Heilige Gees ( Byv Joël 2:28,29)

Jona:

Hy bly 3 dae en 3 nagte in die buik van die vis (Sien Matt 12:40)

Elia:

Hy is verteenwoordiger van die profete.  Hy het wonderwerke gedoen. Daar is die belofte dat hy weer sal kom. Hy verskyn saam met Jesus op die Berg van Verheerliking.

Ballingskap en terugkeer:

Die verwoesting van die tempel vind plaas en dit was iets ondenkbaars vir die Jode. Daarna volg 70 jaar ballingskap soos voorspel is. In die tydperk ontwikkel sinagoge aanbidding,  asook die groepe van die Fariseers en Sadduseers. In die tydperk vermaan een van die profete hulle : Soek die vrede van die stad waarin julle is. Uiteindelik keer ‘n deel van die volk terug na die land van Israel.

Die stil jare:

Na die laaste profeet, Maleagi volg ‘n stil periode van 400 jaar. Daar word gesê die Woord van die Here was skaars. Op politieke vlak was daar baie ontwikkelinge. Die wêreld berei voor vir die ‘volheid van die tyd’.(Gal 4:4) Die Grieke was bekend vir hulle kennis, kultuur en taal. Die Romeine was bekend vir die Romeinse vrede (onder ysterhand), handel, reise, en infrastruktuur (paaie, waterleidings). Godsdienstige bankrotskap het egter geheers onder Grieke en Romeine. Israel was ‘n kookpot van idees.

Baie hiervan het vervulling gevind in die Nuwe Testament. Dit word in die volgende artikel bespreek.

Einde van deel 2.

---000---

 

KPJ Nel

2015-02-27


Directors: S.A.M Smit & J.F Koster - Copyright ©2018 HartiesNet (Pty) Ltd - our Disclaimer