Views!
HUNDREDS of daily LOCAL views - THOUSANDS of monthly LOYAL readers! THE MOST POPULAR ATTRACTION IN HARTIES!
Published:  2015-03-03 Views:  666
Author:  Andries
Published in:  Projects/Projekte
HiF-landbouprojek In Sunway

Posbus 1556 PO Box                   Tel/Fax. 012 253 1295

IFAFI, 0260                                andrieslombaard@gmail.com

Skep u eie Toekoms          Create your own Future

HiF-landbouprojek in Sunway

Jeanne van der Merwe het haar HiF-projek verlede week suksesvol by Sunway buite Hartbeespoort afgeskop. Jeanne het Ian Steyn van Foundations for Farming (FfF) genooi om op 23, 24 en 25 Februarie by Sunway ’n werkswinkel vir belangsstellendes aan te bied. Sy het skenkings van kos, toerusting, saad en kompos ontvang van goedgunstiges.

’n Paar ondersteuners en sowat 30 leerlinge het die eerste dag bygewoon. Twee dames van Harties het hul tuiniers gebring om die waardevolle beginsels en tegnieke te leer. Die werkswinkel is vir drie dae aangebied en mielies en spinasie is geplant. Gesuiwerde rioolwater word daaroor gespuit.

FfF is geskoei op geestelike beginsels van die Bybel, soos:

  • aan dié wat het sal toegevoeg word volgens die gelykenis van die talente, Mat.25:14-30;
  • wat jy saai sal jy maai, 2 Kor.9:6;
  • gee en ontvang, Luk.6:38; en
  • werk om te kan lewe, Gen.3:19.

Leerlinge is ingelig oor hoe om die grond te gebruik, te bewaar en die reën ten beste te benut. Daar word nie gebrand of geploeg nie, want dit veroorsaak gronderosie en woestyne. Alles wat uit die grond kom word weer daarin teruggesit. Die bossies en onkruid wat afgekap en uitgeskoffel word, word tot kompos verwerk en in die grond teruggeplaas. Droë plantmateriaal word oor die grond tussen die plante gestrooi om dit koel te hou en reënwater of sproei te absorbeer.

Die beginsels van FfF kan tot in die kleinste agterplaas-tuintjie toegepas word. Dis heeltemal moontlik om ’n wins te maak as hierdie beginsels reg toegepas word:

  1. Begin vroeg. Beplan vooruit. Berei voor. Doen alles betyds.
  2. Werk op standaard. Doen alles na die beste van jou vermoë.
  3. Moenie mors nie. Moenie tyd, grond, water, saad of energie verspil nie.
  4. Werk met blydskap. As jy bogenoemde werk getrou, sonder verskonings, blaam of klagtes aanpak, sal daar hoop en vreugde wees wat jou sal versterk.

Dis reeds bewys dat Afrika homself kan voed indien hierdie beginsels getrou toegepas word. Al wat op klein skaal nodig is, is skoffelpikke om onkruid mee uit te kap en gaatjies vir sade te maak; ’n stok 75cm lank; sowat 5m lyn om rye reguit voortjies te kan grawe, 75cm uitmekaar;’n leë blikkie om kompos mee af te meet; ’n 60cm stok om saadpunte mee af te meet; kompos, beesmis, hoendermis of ander mis om in die holtes vir sade te plaas; en dan natuurlike, gesonde saad.

Tans beoefen 300,000 mense in 20 lande hierdie metodes en dit werk. Die boer wat hierdie landboumetode van Bo ontvang het, het reeds ál sy buurplase uitgekoop wat met industriële landboutegnieke en groot masjiene bedryf word en nie lonend was nie.


Directors: S.A.M Smit & J.F Koster - Copyright ©2018 HartiesNet (Pty) Ltd - our Disclaimer