Views!
HUNDREDS of daily LOCAL views - THOUSANDS of monthly LOYAL readers! THE MOST POPULAR ATTRACTION IN HARTIES!
Published:  2015-05-10 Views:  654
Author:  Fanie
Published in:  Harties Angels
Patrollie Petaljes Op Moedersdag Oggend

Hartbeespoort het 'n baie aktiewe patrollie gemeenskap. Ons het al bereken dat daar op enige aand tussen 6 en 10 gemeenskap patrollies funksioneer. (Pouse hier vir handeklap aan onsself).

Waar die meeste potensiële patroleerders dalk versigtig kan wees vir die sekuriteitsrisiko, weet ek uit ervaring dat mens eerder versigtig moet wees vir die risiko van verveling. Mettertyd sê die avontuurlustiges: "As ek tog maar net 'n skelm kan sien". Die werklikheid is dat die skelm gewoonlik jou sien myle voor jy hom sien - en wegkruip. Ons wil graag dan die vrees in hom injaag dat hy besef hierdie gemeenskap is paraat.

Om te keer dat die verveling jou oorval, is 'n goeie tegniek om patrollie maats af te wissel. Ek het al baie interessante en kleurvolle gesprekke gehad so op patrollie. Sangers, fisikuste, baas skuts, taalkuniges, diep geestelikes, grappiges ens. - 'n kleurvolle snit van ons ryk plaaslike gemeenskap.

Harties is beslis nie "boring" nie.

Partykeer is daar net aande waar die vermaak op patrollie beter is as 'n goeie fliek.

Een so 'n geval is vanoggend vroeg op die eerste skof van Moedersdag toe ons net voor middernag afkom op 'n outjie wat duidelik bietjie moeg is langs die pad in die donker. Hy het lê en slaap in die passasier sitplek. By ondersoek blyk dit dat die kar se ligte 'n rukkie aan was en die battery ook moeg geword het. Ons wou nie die man alleen los nie en het toe gereël met Eagle Towing vir 'n jump-start.

Nou - hulle sê dat mense se ware geaardheid deurkom wanneer hulle baie moeg is. Ek moet sê dat hierdie man baie vriendelik was en danbaar vir die hulp - goeie man. By Total Garage het ons uitgevind dat hierdie man plaaslike vriende het en ons het aangebied om hom deur te neem - vanwee die moegheid.

Toe ons arriveer by sy kennisse in Melodie, sien ek dat die moegheid effens lig en hy begin dink aan ander vriende. Op hierdie stadium wuif 'n vrou vanuit die huis vir ons om te wag, maar ek kon sien die moegheid het hom vireers verlaat en hy wil baie graag eerder na sy ander vriende gaan. Hy sê toe hy sal oorneem, maar vind toe dat die motor moeilik beweeg sonder 'n sleutel. Intussen sien ek die vrou sukkel om vinnig uit die huis te kom, maar ek ry hom toe maar die straat af na sy ander vriende en my patrollie maat kom met my voertuig agterna.

Toe ons stop voor die hek van 'n kompleks waar sy ander vriende bly, wag ek toe maar vir my patrollie maat om op te vang voor ons ingaan. Ek kon sien die ou raak bietjie ongemaklik dat ons nie vinniger inry nie.

Ewe skielik klop 'n vrou aan my ruit en sê: "Hierdie is my kar!" 

Die ou beaam toe ook wel - hierdie is my liefste Moeder.

Ons is bly om vir haar haar seun te kon aflewer so op die vroeg oggend van Moedersdag. 

 


Directors: S.A.M Smit & J.F Koster - Copyright ©2018 HartiesNet (Pty) Ltd - our Disclaimer