Views!
HUNDREDS of daily LOCAL views - THOUSANDS of monthly LOYAL readers! THE MOST POPULAR ATTRACTION IN HARTIES!
Published:  2015-05-11 Views:  848
Author:  Fanie
Published in:  Tourism/Toerisme
n Wind-Stil Avontuur Doer Bo

Dit is met 'n tikkie benoudheid wat 'n klomp van ons besluit het om die hoogtes aan te durf by "Harrops Baloon Safari's" net daar anderkant Scheerpoort. Gewapen met dik baadjies is ons vroeg die Sondag oggend in die koue in.

Daar aangekom word ons aangenaam verras met 'n huislike ontvangs en 'n warm koppie koffie. Ek spreek toe my twyfel uit of die menslike liggaam die koue daarbo sal kan deurstaan, siende dat ons al amper tot die been bevrore is - en ons is nog op die grond. Daar word toe aan ons verduidelik dat die baadjies maar kan bly (iets wat ek eers nie wou glo nie). Sien - 'n lugballon beweeg presies saam met die wind, so die passasiers ervaar 'n heerlike wind stilte. Dit is ook effe warmer 'n paar meter bo die grond as op die grond. Tot my stomme verbasing was dit ook so en het die baadjies gou-gou gewaai.

 

Terwyl mens so staan en her-oorweeg is die werkers ywerig besig om die ballonne op te blaas.

 

 

Nie lank nie en die eerste ballon begin sy kop oplig.

 

 

 

Dan breek die oomblik aan wat jy moet kies - kom of gaan.

Jy tower êrens moed op, dink vir oulaas daaraan of jy darm gemis sal word en gee jou maar oor aan die noodlot.

Die aanvanklike gasbottel word afgelaai om plek te maak vir die drywer en die mense klim 4 - 4 in kompartemente in.

 

 

 

Van die ander balonne begin reeds hemelwaarts keer.

 

Die drywer maak ketels oop en die gevaarte begin saggies lig.

 

 

 

As jy weer sien is jy reeds op 900 voet (300 meter) en beweeg jy teen 6 knope.

Maar dis rustig! Nie die adrinalien van bungee of absailing nie; nee - hierdie is anders.

Jy wil net begin ontspan en verbeel jou jy mag dit dalk maak, dan besef jy iets kommerwekkend deur subtiele leidrade van die drywer:

Hierdie skip gaan net waar die wind hom wil laat gaan.

Een ou pols die drywer om tot by die dam te gaan, maar die antwoord bly:

Waar die wind ons waai - daar gaan ons. Ons sal heelwaarskynlik nie die dam haal nie.

 

 

Gelukkig lyk dit of die Australiese drywer weet wat hy doen - en dit help bietjie, want ons sal maar moet sien waar ons land. Hy sorg ook vir heerlike vermaak elke keer as hy "Magalies" probeer uitspreek.

In die verte maak jy Johannesburg uit, 'n mynhoop by Krugersdorp en nader sien jy die Hartbeeshoek sein stasie.

Dit word regtig rustig, stil, windloos en gemaklik - 'n puik ervaring.

 

 

Net om seker te maak jy word nie te gemaklik nie kom draai 'n vent in 'n vliegtuig hier om die balonne.

 

 

Dan kom die grond nader. Jy kyk wantrouig na die enigste boom in die veld wat jou soos 'n magneet aantrek en wonder of die drywer die heining raaksien wat nader kom. Hy sit die gevaarte dan neer so 5m duskant die heining - so sag dat jy dit nie voel nie.

Die bakkie en waentjie wat die ballon terug moet neem is nou ongelukkig aan die ander kant van die heining.

Die werkers help en die drywer neem die gevaarte behendig weer oor die heining en land die reghoekige mandjie - maar PRESIES - op die waentjie.

Terwyl die werkers die ballon opslaan drink die passasiers 'n glasie vonkelwyn en verwonder hulle vir oulaas aan die groot lap wat vinnig afblaas. Ons verneem die glasie vonkelwyn is 'n vaste tradisie uit 'n era toe die ballon drywer vinnig, vinnig moes vriende maak wanneer die boere met spit vurke aangehardloop kom om die onding uit die hemel te kom beveg.    

 

 

 

 

 


Directors: S.A.M Smit & J.F Koster - Copyright ©2018 HartiesNet (Pty) Ltd - our Disclaimer