Views!
HUNDREDS of daily LOCAL views - THOUSANDS of monthly LOYAL readers! THE MOST POPULAR ATTRACTION IN HARTIES!
Published:  2014-12-15 Views:  599
Author:  karelnel
Published in:  History/Geskiedenis
I Kronieke Van Die Suidland

I Kronieke van die Suidland.

Geagte geliefde wyse man, ek het my voorgeneem om na noukeurige ondersoek aan u voor te lê hierdie kroniek van die Suidland, met die hoop dat u insig sal verkry in die gebeure van die dae van gister en eergister rakende die lewens van die konings en die volke van die Suide.

Na die groot oorlog in die Noorde, wat oorkant die see gewoed het en die hele wereld aan die brand gesteek het, het die volk van die Suide ‘n nuwe koning verkies, Daniel die seun van Malan, uit die party van die Enpees. Hy was ‘n geleerde man, uit die priesterstand en het ‘n opskudding veroorsaak deur die jukke van die vorige konings van die party van die Veepees af te gooi. Hy het gespreek na die hart van sy volk toe hy aan hulle gesê het om nie op te trek om saam met die  volke van die Noorde  oorlog  te gaan voer nie.

Nadat die oorlog in die Noorde bedaar het was daar nog groot seegevegte aan die gang waarby die Amerikiete en Japsnoete ‘n lang en bitter uitgerekte stryd gevoer het. Op ‘n dag het die Amerikiete twee geweldige vuurballe op twee stede van die Japsnoete gewerp sodat dit die inwoners van daardie stede geheel en al verteer en hulle van die aarde af verdelg het. Toe die Japsnoete hierdie vernietiging sien wat die Amerikiete op hulle laat neerdaal het uit die hemel,  was hulle verslae van gees en het besluit om vrede te maak en die oorlog te be-eindig. Daar is toe ook terstond die wereldraad van die Veeniete byeengeroep om te sorg dat daar nooit weer so ‘n groot oorlog sal uitbreek nie.

In die dae het Daniel die seun van Malan  gesê: Kom laat ons opstaan en vir ons ‘n raad saamstel wat die taal van die volk in die Suide sal bewaar en uitbou sodat ons ‘n eiesoortige nasie sal wees. In sy dae het die volk die groot bouwerk voltooi aan die heilige tempel op die heuwel buite die stad wat die groot dade van die voorvaders en die geloftes wat hulle gedoen het, moes herdenk.

En die volk het hulle oë opgeslaan en die ander volke aanskou wat saam met hulle in die land van die Suide gewoon het, en hulle was buitengewoon talryk en het steeds vermeerder. Hulle het ander gode gedien  sodat die volk gevrees het dat hulle deur die ander volke oorweldig sou word, soos wat met sommige van hul voorvaders gebeur het. Daarom het die regeerders van die volk wette gemaak wat die burgers van die volk verbied het om vroue te neem uit die ander volke, en wat ook vir  die ander volke  hulle eie woonplekke en werkplekke aangewys het.

Koning Daniel  het ses-en-‘n-half jaar geregeer oor die volk in die Suide. Toe hy tagtig jaar oud was het die volk ‘n ander koning verkies, Johannes die seun van Strydom, met die bynaam van die Leeu van die Noorde. Hy was ‘n wetgeleerde en het vir die volk gesê – laat ons ons nasie verder  bou om te heers oor ons vyande en oor die volke wat onder ons woon. Na twee jaar het hy ontslaap en is by sy vaders versamel.

In die tyd het die hoofmanne vand die Kosiete en die Zoeliete en die Sothiete en die ander volke wat ook saam in die Suide gewoon het onder mekaar begin murmureer en gesê, dit wat die konings van die Suide doen is nie goed nie, en ons is nie bereid om as slawe vir hulle te werk nie. Kom laat ons saamspan om hulle juk van ons af te werp sodat ons oor onsself sal heers.Hulle het saamgespan in die party van die Ansiete, waarvan later afgeskei het die party van die Pasiete onder Robert die seun van Sobukwe. Hulle het verspieders uitgestuur na verskeie konings oor die see om hulp te verkry en bondgenootskappe te sluit en uiteindelik het die Rossiete en ander Kommiete uit die Noordland hulle oor tot hulle geneig en hulle begin help. Onder hulle het opgestaan ‘n wetgeleerde, Nelson, die seun van Mandela, Oliver die seun van Tambo en baie ander wat gesê het – ons sal selfs veg as dit nodig is. Na verloop van baie dae en baie dinge wat hulle gedoen het, het die owerhede van die land  Nelson, die seun van Mandela en ‘n klompie van sy vriende, gegryp en hulle voor die regters laat verskyn, en daarna is hulle in die gevangenis gewerp vir ‘n tyd, tye en ‘n halwe tyd. Dit het alles gebeur in die tyd van  koning Johannes, die seun van Strydom.

Na hy ontslaap het, het ‘n ander koning opgestaan, Hendrik die seun van Verwoerd, wat lank in die vreemde gestudeer het. Hy het nog meer die volk na die hart gepraat en gesê laat ons ons eie  nasie bou en ook woonplekke gee aan al die volke onder ons, sodat ons met mekaar vrede sal hê. Die woorde was  soet in die ore van die volk, maar dit het die leiers van die ander volke uitermatig vertoorn sodat selfs die konings van die lande oorkant die see dreiging en haat teen die volk van die Suide begin blaas het. Hendrik, die seun van Verwoerd het ‘n reis onderneem na die koningin van die groot eiland in die Noorde om tot haar hart te spreek, maar haar onderdane was onverbiddelik. Een van hulle, Wilson die seun van Mc Millan het selfs sover gegaan om te profeteer dat stormwinde oor die volk van die Suide sou waai. Hendrik het toe besluit om die groot eiland van die Noorde vaarwel toe te roep en hy het die stof van sy skoene afgeskud en na sy land teruggekeer, met die besluit om die volk tot groter vryheid te lei. Toe Hendrik met hierdie nuus na sy volk terugkeer het hulle hulle uitermate verbly en in duisende versamel om hom terug te verwelkom.

Daarna het die volk besluit om aan hulle koninkryk ‘n nuwe naam te gee, naamlik die  Suidland. Dit het die  leiers van die ander volke wat onder hulle gewoon het nog meer vertoorn sodat hulle hulle spiese begin slyp het om die volk van die Suidland van hulle planne te laat afsien. Op ‘n dag het Dawid, die seun van Pratt opgestaan en sy hand geslaan aan die lewe van Hendrik, die seun van Verwoerd. Hendrik is na die siekehuis geneem en het wonderbaarlik herstel. Dawid is in die gevangenis gewerp en voor die regters gebring maar hulle het bevind dat hy kranksinnig was sodat hy nie geweet het wat hy gedoen het nie. Daarna het hy in die gevangenis gebly totdat hy op ‘n dag homself opgehang het. Die volk was vertoorn oor hierdie saak en het vasberade voortgegaan op die nuwe paaie wat koning  Hendrik vir hulle gebaan het. Die land het vooruit gegaan en  die handelaars en die mynbase het handel gedrywe en  vennootskappe gesluit. En die kinders van die Suidland het getrou en is in die huwelik uitgegee en het ge-arbei op die lande en in die stede van die land om rykdom te versamel. Selfs die manne van die ander volke wat in die Suidland woon het ook gekom om hulleself vir brood te verhuur en hulle het by die duisende in die mynskagte van die land  gewerk.

Op ‘n dag, terwyl die koning met al sy raadgewers  vergader het, het ‘n ander man, Dimitri, die seun van Tsafendas ‘n mes versteek onder sy klere en, terwyl die koning se lyfwagte dit nie merk nie, tot by hom gekom en hom met die mes doodgesteek. Die volk van die Suidland was uitermate bedroef oor die moord op die koning en het intense rou bedryf. Dimitri is ook voor die regters gebring, kranksinnig bevind en in die gevangenis gewerp. So het koning Hendrik dan vir agt-en-‘n-half jaar oor die volk regeer voordat hy by sy vaders versamel is.

Die volk het toe onder groot geween ‘n nuwe koning verkies, Beltsasar die seun van Vorster. Hy het voortgegaan op die weë wat koning Hendrik gebaan het, maar nie met sy hele hart nie.  Die hoofmanne van die ander volke was nie tevrede met die grondgebiede wat in die dae van koning Hendrik aan hulle toegeken is nie en wou nie daarheen optrek nie. Beltsasar het begin spreek na die harte van die leiers van die ander volke wat ook in die Suidland woon, maar hulle het hulle ore toegestop en voortgegaan met hulle planne om die koninkryk van die Suidland te oorweldig. Hy het twaalf jaar regeer oor die kinders van die Suidland waarna hy opgevolg is deur ‘n nuwe koning Pietwillem, die seun van Botha, met die bynaam van die Groot  Krokodil, wat tevore Beltsasar se minister van oorlog was.

Koning Pietwillem het 6 jaar geheers oor die volk van die Suidland en het in al sy dae streng te velde getrek teen die invloed van die Rossiete, Chinniete, Kubbiete en ander Kommiete op die volke wat in die land van die Suide gewoon het. Dit het al hoe dringender geword namate die Kommiete begin invloed uitoefen het in die lande wat aan die Suidland gegrens het. Dit het gelyk of die Kommiete op allerhande wyses en deur al die omringende volke ‘n bedreiging vir die voortbestaan vir die Suidland geword het. Terwyl die hoofmanne van die ander volke wat in die Suidland gewoon het al hoe meer hulle verset het teen die koning van die Suidland, het koning Pietwillem die burgers van die Suidland ook laat oorlog voer teen die Swapiete in die grens van die land van die Swahiete, veral om te verhoed dat die Kubbiete die land oorweldig. Hoewel die oorlog die arms van die soldate van die Suidland baie sterk gemaak het, en hulle vele veldslae gewen het, was die stryd teen die vyande van die Swahiete tevergeefs, en uiteindelik nadat die Veeniete ‘n soort van ‘n vrede laat sluit het, het die Swapiete die land oorgeneem, en Sam die seun van Njoma as koning oor hulle uitgeroep. So het die seuns van die volk dan teruggekeer, elkeen na sy huis en sy mense, hulle spiese en boë gebêre en saans om die vure aan mekaar verhale vertel van die oorlog in die bos.

In die dae het koning Pietwillem sy geleerde raadgewers bymekaar geroep en vir hulle gesê: Kyk die hele wereld het teen ons gedraai en as dit so aangaan sal ons vyande ons oorweldig. Kom laat ons van die magtige vuurballe bou, netsoos die waarmee die Amerikiete die groot oorlog be-eindig het. Die koning se plan was goed in hulle oë en hulle het deur die land rondgegaan en jong manne en vroue gaan soek wat hierdie deurlugtige taak sou aanpak. Hy het verder gesê: En laat ons verder vir ons ‘n menigte van  magtige strydwaens en slingervelle bou waarmee ons die vyand kan aandurf. Is ‘n deel van hierdie geskiedenis nie beskrywe deur Petti, die seun van Petzer, in die “Annale van Buzzard” nie?

Die geleerdes van die Suidland het toe uitgegaan en  magtige wapentuig gebou, sodat die hele wereld daaroor in verwondering was en vir mekaar gesê het – sien julle dit help niks dat ons ons koopmanne verbied om met die volk handel te drywe nie – ons moet die Veeniete en al die volke van die wereld vra om strenger teen hulle op te tree. Daar was selfs lande wat van ver af afvaardigings gestuur het om by die volk in die Suidland van die groot en deurlugtige slingervelle kom koop het waarmee mens vuur op die vyande kon werp, twee dagreise ver. Daardie dae het Pik, die seun van Botha in die vergadersale van die Veeniete gesit om die saak van die volk te verdedig, maar hulle het hulle ore toegestop en hul harte verhard teen die volk in die Suidland en algaande al strenger wette gemaak teen die Suidland.

In daardie dae het die stryd vererger tussen die volk en die ander volke wat in die Suidland woon. Die hoofmanne van die ander volke het hulle mense aangemoedig om nie belastings te betaal aan die koning van Suidland nie. Hulle het hulle kinders gesê om nie skooltoe te gaan nie totdat hulle hulle vryheid sou kry. Hulle het hulle werkers beveel om nie werk toe te gaan nie hoewel hulle  hulle self as werkers uitverhuur het. Hulle het oproer veroorsaak en die skole en ander geboue wat die konings van Suidland vir hulle gebou het afgebrand. En as iemand gevind word onder hulle wat nie met hulle saamstem nie het hulle hom wreedaardig doodgemaak deur vuur om sy nek te maak. Altyddeur moes die stadsvaders van die volk die geregsdienaars stuur om die oproer te onderdruk, en dit het die volke nog meer vertoorn.

Op ‘n dag het van die ander volke hulle kinders aangesê om van die skole af in massas te marsjeer om beswaar te maak teen die taal van die volk in die Suidland wat hulle in die skole moes leer. Toe die optog hande uitruk het die geregsdienaars hulle boë gerig op die skares en van die kinders gedood. Dit het die volke van die wereld se gemoedere laat oorkook teen die volk van die Suidland en hulle het hulle aangesig nog meer teen hulle verhard.

Geliefde wyse man – sien hoe klein die letters word wat met my eie hand geskrywe is aangesien die perkament nou vol geraak het. Die res van die Kronieke van die Suidland – is hulle nie beskrywe in die tweede perkamentrol nie?

---000---

Karel Nel

2014-12-15


Directors: S.A.M Smit & J.F Koster - Copyright ©2018 HartiesNet (Pty) Ltd - our Disclaimer