Views!
HUNDREDS of daily LOCAL views - THOUSANDS of monthly LOYAL readers! THE MOST POPULAR ATTRACTION IN HARTIES!
Published:  2015-07-17 Views:  630
Author:  karelnel
Published in:  Stories
Kanietie Roerie

Kanietie Roerie


Verhale uit my kinderdae in die Vrystaat
Liewe vriende,

Wie van julle weet wat beteken : “Kanietie Roerie?” As ek reg onthou uit my kinderdae is dit ‘n Suid Sotho uitdrukking wat beteken – dis regtig waar. Ek vertel julle graag ‘n paar staaltjies uit my kinderdae wat regtig waar is. 

1. Het iemand julle al ooit vertel van die Vlakte daar in die middel van die Vrystaat? Julle sal my nie glo nie: As mens ‘n goeie kaart van Suid Afrika neem en ‘n reguit lineaal en jy meet die land van Oos na Wes en jy bepaal die presiese middel, en jy meet weer die land van Suid na Noord en bepaal die presiese middel, dan val die punt presies op die Vlakte. Nou dis waar ek grootgeword het en dis ‘n merkwaardige plek. Kanietie Roerie!
2. Dis baie naby aan ‘n klein dorpie, Brandfort. Brandfort het sy naam gekry van die dae to die eerste karre net uitgekom het in Suid Afrika. In die ou dae was daar net Fords en Chevs. Maar voor dit was daar nog net Fords. Een van die boere het vir hom ‘n kar gaan koop in Bloemfontein en al die pad plaastoe gery en toe hy by die huis stilhou het die kar aan die brand geslaan en net daar uitgebrand – vandaar die naam “Brand Ford”. Eerlikwaar!
3. Wat die dorpie nog meer merkwaardig maak is dat dit soveel belangrike mense opgelewer het. Die dorpie het omtrent elke jaar belangrike sportmanne, sangers, kunstenaars, akademici, politici en skelms opgelewer. As julle my nie wil glo nie laat ek net vir julle drie van hulle noem. Eerstens het Dr Verwoerd daar groot geword. Toe ek my verstand kom kry het net sy pa-hulle nog daar gebly. Hulle het ‘n boekwinkel daar gehad en die mense sê Dr Verwoerd was so baie slim omdat hy alreeds op vierjarige ouderdom al die boeke in die boekwinkel deurgelees het. Dan was daar die eerste Staatspresident van Suid Afrika – Staatspresident Swart. Hy was nie regtig swart nie, maar wit. Dit was maar net sy van. Hy was ‘n baie lang man. Hy was so lank dat as hy op sy stoep gestaan het op sy plaas dan kon hy regoor die rantjie sien tot wat binne in die dorp gebeur het. Ek hoor dis toe hy president geword het dat die army aangebied het om vir hom ‘n naambordjie vir sy plaas te maak. Hulle kon egter nie eensgesindheid kry nie, want die plaas se naam was : ‘De Aap’. Nou kon julle self besluit wat sou die beste wees: ‘CR Swart de Aap’ of ‘De Aap CR Swart’? Toe maak hulle dit maar ‘De Aap – plaas van CR Swart.’ En dan was daar natuurlik Winnie Mandela. Nadat Nelson tronk toe is was sy baie moeilik met die polisie en hulle het toe ‘n afgesonderde plek gesoek om haar heen te verban – en dit was Brandfort, die plek waar sy ewe vêr weg van almal in die land was, en hulle het gehoop dat sy daar sou ophou met haar moeilikheid.
4. Ons familie het in die jaar 1953 na die Vlakte getrek. Die Vakte is ‘n ontsettende stuk gelyk aarde, en mens kan ongelooflik ver sien. As mens op ‘n helder dag mooi regop staan en jy kyk stip na die horison sal jy iets snaaks sien. Mens sien sulke strepies van swart en wit wat op die horison lê. Een strepie swart, dan weer daar bo-op ‘n strepie wit. Dan weer ‘n strepie swart en dan weer wit. Maar die strepies word al hoe dunner na boontoe. Ek was baie verwonderd toe ek dit die eeste keer sien, want ek het nie geweet wat dit was nie. Toe ek my oupa vra wat dit is toe vertel hy my dis die dae en die nagte van die toekoms soos dit besig was om aan te kom. Kanietie Roerie!
5. My oupa was eers ‘n dambouer en toe hy plaas toe kom het hy sy perd ‘Hermit’ en die Treppie saamgebring. Ons het nie besef die Vlakte was so vrugbaar nie. Oupa het ‘n lappie mielies geplant en dit het wild begin groei. Ons het elke dag na die land toe gegaan om te sien hoe hulle groei. As mens vroeg in die more daar kom as dit nog stil was kon jy eintlik die gekraak hoor van hoe die mielies groei. Na die eerste week was die mielies tot by mens se enkels, na nog ‘n week by mens se knie. Die volgende week was hulle borshoogte. Die volgende week was hulle bokant mens se kop. Nog later het oupa bo-op sy perd gesit en kon nie die mielies se bopunte bykom nie. En nog het die mielies aanhou groei. Dit het naderhand van die huis af na ‘n bos met van hierdie regop populierbome gelyk. En die mieliekoppe – dit het al groter en groter geword totdat elke kop omtrent so groot soos ‘n 5 gelling blik was. Daar kon skaars twee van die koppe in ‘n streepsak inpas. Naturlik was daar daardie dae nognie stropers nie, en dit was ‘n baie groot probleem om die mieliekoppe daar bo in die lug te kon oes. Die enigste plan wat oupa kon maak was om vir elke seun wat kon boomklim ‘n klein byltjie te gee sodat hulle die koppe daar bo kon gaan afkap. En elke mieliekop wat val het die aarde laat dreun dat hulle dit tot in Bloemfontein gevoel het.
6. Julle sal my nie glo nie maar partykeer het dit ontsettend warm en droog geword op die Vlakte. Die son was gedurende die dag so warm dat die grasvlaktes begin rook het en dan in poeier verander het. En dan is die nagte weer net so koud. Een jaar was dit in die dag so warm dat die gras skoon aan die brand geslaan het. Ons het alles in ons vermoë gedoen om die vuur te blus, maar kon niks regkry nie. Gelukkig dat die son toe ondergegaan het en die nag het so kond geword dat die vlamme vanself doodgegaan het. Dis so koud dat mens nie ‘n vuurhoutjie kan aansteek nie, die vlammetjie verkluim net daar en dan. Hier by 9 uur die aand is dit so koud dat die kersvlamme vasvries en dan moet mens hulle afbreek vand ie kerse af om die kerse dood te kry. Die nagte is so donker, dit help nie eers om ‘n flits aan te sit nie. Die ligstraal kom nie eers voor by die glas uit nie.
7. Julle kan dink dat as dit so warm is hoe droog dit kan word – geweldig!. Dan het daardie vrugbare grond se potklei begin bars. En die barste het al hoe groter en dieper geword. Eers is die barste net so groot dat die miere daarin val. Later die krieke en die sprinkane. Nog later die muise. Dan die hase en hoenders. En dan het my ma die kinders in die huis begin hou dat hulle nie dalk in een van die barste val nie. Later kan die beeste nie eers meer veilig rondloop nie. Die barste is naderhand so diep dat as jy daarin afkyk dan sien jy die rokies van die aarde se gesmelte lawa daar onder. Sowaar as parra manel dra!
8. Een jaar het so ‘n kraak onder ons huis ontstaan en ons was baie bekommerd dat die huis uitmekaar sou skeur. Die bars was al amper so groot soos ‘n bees toe moes my pa dringend ‘n plan maak. Hy het by die bure ‘n klompie osrieme gaan leen en hulle goed natgemaak in water. Daarna het hy penne weerskante van die bars ingeslaan en die penne met die nat rieme aan mekaar vasgemaak. Soos die rieme droog geword het het hulle gekrimp en die bars weer toegetrek en so is ons huis gered. Kanietie roerie!
9. Gelukkig het die Vlakte goeie onderaardse water gehad maar mens moes baie diep daarvoor boor. Daardie dae was daar nog net die rooi stampbore. Die boor het dan plaas toe gekom en vir omtrent ‘n hele maand gestamp en gestamp. Hy is naderhand so diep dat as die boorman die stamper optrek is hy rooi warm, so naby kom hy aan die senter van die aarde. Dan weet hy hy het op ‘n verkeerde plek geboor en moet hy weer van voor af begin op ‘n ander plek. As hy op die regte plek boor en hy tref die wateraar moet die boorman net bontstaan want die water spuit met so ‘n krag uit die gat uit dat die boor amper wegspoel. Die probleem is dan om die gat toe te kry dat die Vlakte nie onder leegloop nie. Dan moet die boorman ‘n 5 gelling Laural paraffienblik onderstebo in die gat afdruk totdat die water ophou uitspuit.
10. Natuurlik was die grond uiters vrugbaar en as jy die plante goed water gegee het kon mens ‘n goeie oes verwag. Een jaar het my ouma boerpampoene geplant. En hulle het begin groei laat dit bars – jy sal my nie glo nie. Na die eerste week was die rankies so 1 voet lank. Die tweede week was hulle 5 voet lank. Mens kon naderhand in die nagstilte hoor die geritsel van hoe die pampoenrankies vorentoe beweeg. Uiteindelik kom daar ‘n pampoenblom so groot soos ‘n melkemmer. Mens kon nie daar naby kom nie soos die bye om die blom gevlieg het om die blom te bestuif. Die bye het daar soveel nektar versamel dat hulle druppels daarvan gemors het so ver hulle terug gevlieg het na hulle korwe toe. Mens kon naderhand ‘n blink taai streep sien van die pampoenblom af tot by die byekorf! Dis die eerste keer in Suid Afrika se geskiedenis dat daar suiwer pampoenheuning gemaak is, en daar was so baie daarvan dat ons twee treinwaens vol na Bloemfonteinse mark gestuur het. Na drie weke het die blom afgeval toe sit daar alreeds ‘n pampoen van so 10 pond swaar. Die probleem was dat die ranke aanhou groei het en hulle het die pampoen saamgesleep. Naderhand kon mens ‘n lang sleepsel sien van hoe die rank die pampoen gesleep het terwyl dit al groter geword het. Later was die pampoen so groot soos ‘n kruiwa. Later so groot soos ou Hermit se treppie. Maar hy het aangehou groei en die rank het hom aanhou sleep. Ons eerste probleem het gekom toe die rank naby die buurman se heining begin kom het en gedreig het om die pampoen na die naburige plaas te sleep. Ons moes toe die ranke maar net mooi ombuig en met nat osrieme vasmaak dat hulle weer kon teruggroei. Ons tweede probleem het kort daarna gevolg. Die pampoen was nou al so swaar dat die skil aan die onderkant begin deurskuur het van die geslepery, en ons was bang dat die pampoen dan sou vrot word. Ons moes die pampoen toe met ‘n block & Tackle oplig en die treppie onder hom intrek sodat hy verder op die treppie verder kon ry sodat sy skil nie verder sou deurskuur nie. Die derde probleem wat ons uiteindelik gehad het was dat ou Hermit een dag weggeraak het. Ons het die hele plaas vol gesoek maar kon hom nerens kry nie. Uiteindelik het een van die kinders by die pampoen verbygeloop en ‘n groot gat daarin gesien. Toe hy daar ingaan kry hy ou Hermit heerlik aan die eet daar binne. Die prbleem was dat die perd so dik gevreet was dat ons hom met ‘n stel osrieme daar moes uittrek. Ons het toe ‘n foto geneem met die Brownie Bokskamera. Toe my pa die eerste foto neem toe val die kamera byna uit sy hande uit want skielik het dit van die foto alleen sowat twee pond swaarder geword! Om seker te maak neem hy toe nog ‘n foto, en weer word die kamera heelwat swaarder. Ongelukkig kon ons nie die film uitkry om dit te ontwikkel nie so groot was hy binne in die kamera gewel van die pampoen se grootte. Kanietie Roerie!As julle my nie wil glo nie – vra my pa – hy is self hier vanaand om dit te be-aam!
11. Natuurlik was daar ook gevaarlike gediertes in die kontrei. Een jaar was die groentetuin weer so geil en toe een van die nefies daar verbykom hoor hy net ‘n geblaas soos ‘n stoomtrein. Om die waarheid te sê sien hy net stoffies trek uit die wortelbedding uit. Gelukkig het my nefie to laat spaander huis toe en by my ouma in die rondawel ingevlug. Ook maar goed want ‘n yslike groot geelslang het hom agterna gesit. Geelslange is so gevaarlik hulle loop sommer so met hulle voorlywe in die lug en net hulle sterte op die grond, amper vinniger as wat ‘n perd kan ry. Hulle sê in die bergwereld is hy nog vinniger. Hy kyk waar jy is en dan byt vhy sy stert vas en vorm ‘n wiel wat langs die berg afrol – en geen mens of perd kan dan voorbly nie. Ouma het skaars die deur van die rondawel toegeslaan of sy hoor hoe die slang teen die deur vasjaag en met ‘n slag neersink op die grond terwyl hy nog aanhou stoom afblaas. Hy soek oral plek om by die rondawel in te kom maar kry gelukkig nie ‘n gaatjie nie. Eindelik seil hy toe al om en om die rondawel totdat hy ongeveer drie maal om die rondawel gekrul lê. Jy sal my ne glo nie – hy begin toe die rondawel in mekaar te druk. Mens sien later net stukke pleister afval en hier en daar verskyn krakies in die mure. Selfs die glasvensters begin te buig en wil net breek. My ouma besef toe dat dit nie so kan aangaan nie en sy maak toe skelm die bo deur oop en vat haar handbyltjie en kap die slang se lyf op drie plekke af sodat hy geen verdere krag gehad het nie. Ons moes die dooie slang uiteindelik met osrieme van die rondawel af wegsleep. Sowaar as vet!
12. Nog net een staaltjie oor my ouma – sy was die sterkste vrou op die Vlakte. Een Sondagmore was sy en oupa op pad kerk toe met Ou Hermit en die treppie. Net toe hulle deur die Keeromspruit gaan kry die treppie ‘n vieslike pap wiel en daar staan hulle. Die ramp was dat hulle nie ‘n domkrag daar gehad het nie. Hoe nou gedaan – hier was albei in hulle kisklere uitgevat. Dis toe dat ek gehoor het hoe sterk sy werklik was. Terwyl sy so sit op die treppie, vat sy hom vas hier digby die as met haar linkerhand en lig die treppie van die grond af op. Sy hou hom toe so in die lug totdat oupa die spaarwiel kon aansit, waarna sy hom netjies neergesit het, en hulle hul reis na die kerk kon hervat het. Kanietie Roerie!
13. Gelukkig het ons ons kinderdae in die Vlakte oorleef, en daarom is julle bevoorreg dat ek vanaand hier kan wees om aan julle hierdie ware stories van die Vlakte te kon oorvertel. Ek hoop julle sal in die toekoms bietjie meer respek hê vir ons geslag wat van die Vlakte afkomstig is.

---000---
KPJ Nel
2010-05-25


Directors: S.A.M Smit & J.F Koster - Copyright ©2018 HartiesNet (Pty) Ltd - our Disclaimer