Views!
HUNDREDS of daily LOCAL views - THOUSANDS of monthly LOYAL readers! THE MOST POPULAR ATTRACTION IN HARTIES!
Published:  2015-07-18 Views:  564
Author:  karelnel
Published in:  Stories
Die Lewer-klap

Die Lewer-klap

 

As my ma-hulle nou een hemelsoet kind gehad het dan was dit nou ek. Jammer, maar ek dink hulle het dit ongelukkig nooit besef of agtergekom nie. Soos iemand dit so pragtig gestel het - ek was so koeksistersoet dat seep nie in my mond gesmelt het nie. Selfs nie eers boerseep nie!

Nie dat die Nel-kinders nie hulle kwota van stoutigheid gehad het nie, maar soos julle kan aflei was dit meestal my dierbare suster en broer se doen en late wat hieronder getel het. My sogenaamde oortredings was so miniskuul en was meestal die gevolge van misverstande. Net as voorbeeld - my suster was altyd die witbroodjie en sy het gedurig gaan klik. Nie dat daar nou juis iets klikwaardig was nie, maar klik het sy gaan klik. En omdat arme ek die oudste was, het ek altyd die skuld gekry.

My broertjie was 'n ander geval. Vandat hy gebore was het hy niks geweet van die storie van eersgeboortereg nie. Mens kon sien hy het toe nog niks geweet van die storie van Jakob en Esau nie - en gelukkig kon hy daardie tyd nognie goed kook - byv lensiesop - om die eersgeboortereg te probeer bekom nie. Hy het eers geleer kook toe hy later met daai oulike aster uit die Namakwaland getroud is. Miskien sal dit nou 'n perd van 'n ander kleur wees.

Nou kan ek my dit nie voorstel nie, maar ek glo hom, as hy deesdae vertel dat ek saam met die groter seuns vir hom in die donkernag weggehardloop het omdat ons hom nie in die groot manne se geselskap wou he nie. Ek kan nie dink dat ons so ondeund sou wees nie, maar dit moes seker die ander ouens se voorstel gewees het. Ek kan my dit ook nie voorstel dat ons hom ge-'dare' het om in die lee kuilvoerput in te spring as hy saam met die groter seuns wou speel nie, en hy homself in die proses des-m.... ek bedoel des dinges geval het nie.

Wat ek wel onthou is dat sedert laerskool dae ek al my moeite gehad het om my eersgeboortereg te beskerm teen weeklikse indien nie daaglikse aanslae nie. Ongelukkig het dit altyd ge-eindig as hy eers ge-huil het, en dan het arme ek as die oudste weer die skuld gekry. Dit het natuurlik stelselmatig moeiliker en moeiliker geword om die goeie stryd te stry en te oorwin want die mannetjie het al sterker geword.

Eendag het hy sy arm gebreek - en ek dink dit was rerig nie ek nie. Hy is dokter toe op die dorp en het teruggekeer met 'n yslike gips aan sy arm - wat 'n aardigheid. Ek was nog so in vrede besig in die badkamer om vir myself in die spieel te kyk toe hy daar inkom, en so wrintiewaar weer die eersgeboortereg begin bedreig. Wat kon ek anders doen? Ek vat hom to saggies aan daai gipsarm en gee dit net so 'n klein, vriendelike draaitjie. Dis toe dat die mannetjie sommer 'n vreeslike keel opsit en ek kry hom met al my moeite nie stil nie. Hy was so luidrugtig, dit was nie eers vir sussie nodig om te gaan klik nie.

Ma, wat pas met hom terug was van die dorp af, was besig om die geslagte skaap te verwerk, en toe sy haar kuiken hoor roep toe storm sy ongebalanseerd badkamer toe, vleismes in die een hand en skaaplewer in die ander. Ek wou nog verduidelik en het nie tyd gehad om eers te koets nie, en ek kry die rou lewer met 'n reguitlinker teen die kant van die kop dat die bloed so spat. Ma ondersoek nie eers die kwessie van die eersgeboortereg nie, en die tweede hou tref as opstopper aan die ander kant van my kop sodat nog bloed so spat.Toe besef ek ek het groter moeilikheid as wat ek gedink het en 'n plan moes ek nou maak, anders was dit tickets, sowaar as parramaneldra. Mens weet nooit wanneer glip daai vleismes nie! Gelukkig was ek bietjie vinniger as sy, en ek maak myself uit die voete sodat die lewer met 'n woeste hou 'n bloedkol op die spieel agterlaat. En toe ek eers voor is bly ek voor, en so het my lewe gespaar gebly.

Hierdie storie - net om te bewys dat my ma 'n barshou kon slaan.

Natuurlik het ek toe begin merk die skrif is aan die muur. Aan die einde van my eerste jaar op Universiteit met die Desembervakansie kon ek nog my eersgeboortereg beskerm en die oorhand kry, maar aan die einde van my tweede jaar is die bordjies verhang, en toe het ek gedink - ek sal maar die eersgeboortereg storie maar los. Wat is dit tog tussen broers?

Intussen het beide my suster en broer regtig groot en volwasse geword, sulke wyse mense, mens kan nie dink dat hulle in ons kinderdae soos die Hollanders se so 'vervelend' was nie!!

;-))

Groete

k


Directors: S.A.M Smit & J.F Koster - Copyright ©2018 HartiesNet (Pty) Ltd - our Disclaimer