Views!
HUNDREDS of daily LOCAL views - THOUSANDS of monthly LOYAL readers! THE MOST POPULAR ATTRACTION IN HARTIES!
Published:  2015-07-20 Views:  588
Author:  karelnel
Published in:  Stories
Bekhoue

Bekhoue

 

My ma was 'n yster! Glo dit as jy wil (of nie) sy kon 'n barshou slaan.

Ek bedoel nou nie 'n hou soos die Fordson trekker dit kon doen nie. Die Fordson het 'n taamlike swaar ysterslinger gehad waarmee mens hom kon 'start' as die battery pap was. Aan die voorent van die krukas was daar 'n 'poellie' met skuinsgleuwe op die huls ingesny. Die slinger het aan sy voorkant twee dwarspenne gehad wat mens in die skuinsgleuwe ingedruk het, en dan die slinger regsom gedraai totdat hy die krukas vasvat. (Jy weet - amper soos die male-female konsep - vir die van julle wat bietjie tegnies aangele is  ) Die kontrepsie het ook 'n soort van 'n veer gehad wat die slinger wou uitdruk, sodat mens eers bietjie krag aan die dag moes le om die slinger in te druk en te laat vasvat. Sou jy hom los, dan druk hy weer die slinger uit - soos die Ingelse sou se - hy 'disengage'. Die Fordson het 'n 'magneto' gehad, wat sodra die enjin begin draai het, 'n vonk verskaf het, en dit het dan die vuur verskaf wat die enjin laat ontbrand het. Die trekker het 'n klein tenkie gehad vir petrol, waarmee mens die trekker moes aan die gang kry, en sodra die enjin warm was, kon jy hom met 'n kraantjie oorskakel van petrol na kragparaffien. Dit als kon mens alleenlik doen as die trekker uit rat was, want andersins sou die hele besigheid terstond begin beweeg het as mens die slinger draai, as jy hom enigsins sou kon draai. Nou was dit nie sommer net vir vat en draai nie, want die enjin het kompressie gehad, en mens moes teen die kompressie draai. Soos die enjins gemaak is (vierslag), kry die verskillende silinders een na die ander geleentheid om op kompressie te gaan, en by die geleentheid - presies betyds- kom die vonk, en die mengsel ontplof in die silinderkamer. Dis natuurlik wat mens wil he, want die ontploffing forseer die suier met groot krag in die silinder af en dit veroorsaak dat die krukas 'n geweldige draaimoment kry. Dit het 'n yster gevat om die slinger te kon vat, indruk, ingedruk hou en draai teen kompressie, want gewoonlik moes mens die slinger deur 'n paar kompressieslae draai om hom te laat vat. Die moeilikheid het gekom as jy genoeg van 'n yster was om die slinger suksesvol te kon draai, maar nognie slim genoeg was om te weet wanneer om te 'disengage' nie. As daai Fordson vat, dan vat hy, en as hy skop dan skop hy en as jou slinger is waar hy nie nog moes wees nie dan 'have' hy jou soos die kinders sou se. Daar is nie pille vir dommigheid nie.

'n Ander een wat kon slaan is die plaashek. Die boere wat nie geld gehad het om ysterhekke te koop nie, het altyd een gemaak van draad en pale. Waar die hek moes kom in die grensdraad is twee stewige stutpale ingeplant, in die ou dae selfs van klip, en die is meestal gestut deur skuins stutpale sodat die grensheining, as dit vandaar gespan word, hulle nie sal omtrek nie. Die hek is dan in die opening gemaak met doringdraad van die regte lengte wat met hout 'droppers' parallel aan mekaar, op eweredige afstande vasgemaak is. Die laaste van die pale van die hek was gewoonlik 'n redelik stewige dropper of ysterpaal, maar dit kon nie te swaar wees nie, want dit moes mens kon hanteer as jy die hek wou oopmaak. Aan die onderkant/ voetenend van die een stutpaal is gewoonlik so 'n groterige lus van bloudraad gemaak, waarin die hekpaal se onderent ingedruk kon word, en dan word die bopunt oorgehefboom, nader na die stutpaal toe, sodat die hek redelik styf kon toetrek. Hiervandaan was die probleem tweerlei: Hoe om die hek redelik styf toe te span (anders sal 'n mofskaap sommer lag-lag vir jou deurkruip) en ook hoe om hom daar bo te bevestig (Die hekpaal - nie die skaap nie).

Daarvoor het die boere 'n plan gemaak, natuurlik met hulle grondige kennis van die meganika van hefbome. Hulle het eerstens 'n fris ketting aan die stutpaal vasgemaak, en daaraan 'n redelike lang ysterstaaf vasgemaak met binddraad. Verder was daar ook 'n oog van bloudraad gemaak waarin die ysterstaaf se punt ingesteek en bevestig kon word. Dit het dan so gewerk : Jy bring die hekpaal nader, sit sy voet in die onderste bloudraad lus en begin die hekpaal se bopunt oorbuig na die stutpaal toe, terwyl jy seker maak dat die hek se doringdrade nie met mekaar verstrengel raak nie. As die hek goed gemaak is sou jy vind met al jou krag kon jy die twee pale nie nader as so ongeveer 464.34 mm aan mekaar kry nie (  ). Dan gryp jy die ysterstaaf en slaan hom om die paal se bopunt en begin hom hefboom al na die stutpaal se kant toe. Die hefboom dien nou as 'n effektiewe vermenigvuldiger van jou krag en jy sien jy trek die hekpaal dat hy so sk..., ek bedoel dat dit so bars. Hy kom al hoe nader aan die stutpaal en op 'n stadium glip die hekpaal al langs die ysterstaaf af, om teen die ketting aan die agterkant te lande te kom. Nou weet jy jy het hom amper gewen - nou is dit nog net die laaste bietjie beur om die ysterstaaf se voorpunt in die boonste bloudraadlus in te haak dat hy kan daar bly - in plek gehou deur die onderskeie komponente se trekspanning. Siedaar - 'n netjiese toe hek met doringdrade wat reguit span om selfs 'n moedswillige mofskaap binne te hou.

Die moeilikheid het gewoonlik gekom met die oopmaakslag, as jou kennis van die kontrepsie se werking te min, of jou kragte te gering was vir die taak wat jy moes aanpak. Al het mens oe in jou kop kan jy mos nie sien onder watter interne spanning die arme drade, die pale en veral die yster al die tyd verkeer het nie. Mens kry gewoonlik die punt van die ysterstaaf redelik gemaklik gelig uit die bloudraadlus, vanwee jou hefvoordeel. Maar dan, soos jy hom verder wil oopmaak gebeur die noodwendige, noodlottige. Die staalstaaf glip 'n bietjie, dit verander die hefvoordeel verhoudings heeltemal onvoorspelbaar en die interne kragte veroorsaak 'n onbeheersde hoekversnelling van die ysterstaaf. Aangesien die agterpunt aan die ketting bevestig is, begin die voorpunt wild te swaai, en as jy dom is kan jy nie eintlik kies waar jy die hou wil kry nie! Hoeveel van julle het nie geweet dat staal harder is as skedel- en ander mondweefsel nie? Soos hulle in die kroeg se: Laat hy val waar hy wil. Dis hoekom hulle die soort hek 'n bekslaner of smoelslaner genoem het.

Tot wederom - my tyd is op.

My ma se slanery?? Sal jou volgende keer vertel

Groete

k


Directors: S.A.M Smit & J.F Koster - Copyright ©2018 HartiesNet (Pty) Ltd - our Disclaimer