Views!
HUNDREDS of daily LOCAL views - THOUSANDS of monthly LOYAL readers! THE MOST POPULAR ATTRACTION IN HARTIES!
Published:  2014-12-15 Views:  628
Author:  karelnel
Published in:  History/Geskiedenis
II Kronieke Van Die Suidland

II Kronieke van die Suidland.

Liewe wyse man, nadat ek noukeurig ondersoek ingestel het het ek aan u berig hoe die voorgeskiedenis van die kinders van die Suidland verloop het. Die verdere verloop het ek ook noukeurig opgeteken en sodat u sal insig kry oor wat met die kinders van die Suide gebeur het.

Na verloop van baie dae het koning Pietwillem siek geword en kon nie meer so goed regeer nie, en die volk moes ‘n ander koning kies. Die volk het toe verkies Freekwillem die seun van de Klerk, uit die  noorde van die land. Koning Freekwillem het sy oë opgeslaan, en toe hy al die onrus in die land bemerk het sy hart in hom versmelt en hy het besluit om van die weë van die konings voor hom af te wyk. Hy het uitgegaan en met die leiers van die ander volke begin beraadslaag oor vredesvoorwaardes. Hulle het ge-eis dat hy Nelson, die seun van Mandela uit die tronk moes vrylaat en dat hy die geregsdienaars en die soldate van die Suidland se  geweldige krag aan bande moes lê. Koning Freekwillem het toe ‘n groot volkstemming oor die saak gehou en die volk het toegestem dat die koning met sy hervormings kon voortgaan. Nadat koning Freekwillem al hierdie dinge gedoen het, maar die oproer algaande net  vererger het, het al die volke ‘n groot beraad gehou om te bepaal wat die toekoms van die Suidland sou wees. Die menigte van leiers het toe saam besluit om ‘n nuwe nasie te vorm wat almal saam in vrede in die Suidland  moes woon. Al die grondgebiede wat deur die vorige konings aan die ander volke gegee is, moes teruggebring word onder die beheer van die nuwe koning. Is al hierdie ooreenkomste en beloftes nie beskrywe in die traktate van die beraad  van die Kodesiete nie?

In die dae het koning Freekwillem se hart verder in hom versmelt en hy het gesê – kom laat ons die deurlugtige vuurballe wat ons gebou het weer afbreek en tot niet maak. Hy was verder bevrees en het talle van sy hoofmanne oor tienduisend afgedank op die raad van Pierre die seun van Steyn sonder om aan hulle goeie redes te gee. So het die Suidland die eerste land  in die wereld geword wat sulke deurlugtige wapens vrywillig vernietig het. Hy het ook verteenwoordigers van die groot eiland in die Noorde gekry om te kom help om die trotse soldate van die Suidland se leër en die  vegters van die ander volke tot een nuwe leër te versmelt.

Maar ‘n deel van die volk was baie ontevrede met die koers wat koning Freekwillem ingeslaan het. Onder hulle het opgestaan Eugene, die seun van Terreblanche, en hy het na die volk se hart gespreek en gesê: laat ons nie verder afwyk van die weë van ons voorvaders nie, en nie die erfenis wat ons ontvang het, versmaai nie, anders sal die ander volke oor ons heers en ons verdruk. ‘n Deel van die volk het hom gevolg en het gedreig met groot rebellie tot groot kommer van koning Freekwillem en sy amptenary.

Uiteindelik het die dag van die eerste groot volkstemming van al die volke in die Suidland aangebreek. In vrede het die volke opgetrek, elkeen na sy woondorp om daar hul stemme te werp in spesiale kiste wat die owerheid daarvoor voorberei het. Die uitslag was ‘n groot oorwinning vir die party van die Ansiete wat beteken het dat Nelson, die seun van Mandela die volgende koning  van die Suidland sou wees. So is die lang regeringstyd van die party van die Enpees be-eindig en die heerskappy van die Ansiete het voor die deur gestaan. Hierna het die party van die Enpees agteruitgegaan totdat die laaste leier, Martiens die seun van van Schalkwyk, besluit het om die weë van die voorvaders te verlaat en self by die party van die Ansiete aan te sluit.

Toe die tyd aanbreek dat die nuwe koning en sy nuwe  raadgewers die leiding in die Suidland moes oorneem, het groot vrees die volk oorweldig. Party het gereed gemaak en weggevlug na lande ver oor die see. Ander het hulle gereed gemaak om te veg tot die einde toe as hulle in gevaar sou kom. Party het vir hulle voedsel opgeberg vir die moontlike maer jare wat sou kom. Eugene, die seun van Terblanche het met ‘n groep Awebiete opgeruk na die land van die Tswaniete om hulle onafhanklikheid  te help verseker, maar nadat ‘n paar van hulle op die strate van die stad gedood is het hulle na hul huise teruggekeer. Een van die Suidland se vorige hoofmanne oor honderdduisend, Konstant die seun van Viljoen, het verstandig met hulle gespreek sodat die gemoedere bedaar het.

Koning Nelson, die seun van Mandela was baie geliefd in die hele wereld en volke het van oral afvaardigings gestuur om met hom te beraadslaag. Hy was ook geliefd onder die volke van die Suidland, en is selfs aanvaar as koning deur die volk, hoewel hulle tog teen hom gemurmureer het. Hy het daarin geslaag om die volke van die Suidland bymekaar te bring, veral toe hy by die wereld sporttoernooi van die Rugbiete die Suidland se span ondersteun het. Terwyl die koning so besig was om te beraadslaag met die afvaardigings van konings en lande, het Tabo, die seun van Mbeki in sy kantoor gewerk as onderkoning om te verseker dat die land se administrasie goed verloop. Koning Nelson en oud-koning Freekwillem het ook ‘n groot eer te beurt geval toe die deurlugtige prys van vrede van die seun van Nobel aan hulle toegeken is. Na vyf jaar as koning, het koning Nelson aangedui dat hy te oud geword het om te regeer en die Ansiete het Tabo, die seun van Mbeki as koning verkies in sy plek.

Die mense het gewonder of koning Tabo die land so goed sou regeer soos koning Nelson dit voor hom gedoen het. Koning Tabo se  voorhoof was so hard soos ‘n keisteen en hy het die land met ‘n sterke hand regeer, hoewel dit nie sigbaar was nie. Hy het geen teenspraak verduur nie en sy teenstanders deur slim politieke skuiwe uit die weg geruim. Koning Tabo het vasberade alles gedoen om die beheer van die land uit die hande van die volk te neem en aan die Ansiete te gee. Koning Tabo het baie van die wette van die konings van die ou dae tot niet laat maak en baie nuwe wette opgestel. So het baie van die jongmanne van die  volk gekom om hulle te verhuur vir brood, maar niemand kon hulle huur nie, vanweë die wette wat Koning Tabo laat maak het. Geen handelaar kon groot kontrakte kry as die Ansiete nie daarin ‘n deel kon kry nie. Baie van die belangrike poste is later beklee deur Ansiete en werkers van die volk het stelselmatig uit die land se organisasies begin verdwyn. Baie van die volk se bekwame mense het gevoel dat hulle nie meer ‘n toekoms in die Suidland gehad het nie, en het hul tentpenne opgetrek en verhuis na lande ver oor die see. Omdat die nuwe werkers nie bekwaam was om die land se take oor te neem nie het baie daarvan agteruitgegaan sodat die volke baie daaroor begin murmureer het. Tog het die koning al hoe beter en beter belastings gehef en die lede van die volk swaar belas. Die belastinggeld is deur die koning gebruik om vir die uitgebreide regering te betaal, raadgewers aan te stel, kontrakte te gee vir  gunsgenote asook om huise te verskaf vir die arm mense onder die volke.

In die dae van koning Tabo het die gevreesde siekte vinnig deur die land van die Suide versprei. Al die geneeshere van die wereld het gesê dat die siekte versprei as mense die verordeninge van die voorvaders verontagsaam en omgang het met die vroue of jongdogtes van hul naaste of erger nog die vroue of mans wat vertoef op die hoeke van die strate. Koning Tabo het sy ore  vir die raad van die geneeshere toegestop en gesê dis  stories van die vyande van die volke van die Suide om sy mense te benadeel. Hy het eerder geluister na die woorde van Manto die dogter van Msimang, wat as geneesheer  onder die Rossiete opgelei is, wat belowe het om die siekes met allerhande kruie te genees. Die volke van die Suide het geluister na die stem van die koning en volhard in hulle weë sodat na die verloop van ‘n aantal  jare daar ‘n groot geween in die land begin opgaan het vanweë die onophoudelike stroom begrafnisse wat weekliks begin plaasgevind het.

Een van die koning se onderdane, onderkoning Jakob die seun van Zuma, een van die Ansiete, maar uit die geledere van die Zoeliete, het by die koning in onguns verval, hoewel hy geliefd was by sommige van die volke van die Suide.  Op ‘n dag het hy ingegaan by ‘n jongvrou wat die gevreesde siekte gehad het en dit het onmiddellik groot nuus geword. Hy is voor die regters gebring oor die saak maar hy is nie skuldig bevind nie. Daarna is sy groot bondgenoot voor die regters gebring oor omkoopgeld wat hy aan Jakob, die seun van Zuma betaal het en hy is skuldig bevind. So het almal gedink kon Jakob nie in aanmerking kom vir die koningskap wanneer koning Tabo die tuig sou neerlê nie, en koning Tabo het onderkoning Jakob afgedank en hom so onwetend  die gramskap van sommige  van die partye op die hals gehaal.

Op ‘n dag het die Ansiete ‘n groot volksvergadering gehou in die streek van die Polokwiete om ‘n opvolger vir koning Tabo aan te wys. Die volksvergadering was baie oproerig, veral deur die party van die jongmanne en die party van die Kommiete, en uiteindelik is Jakob die seun van Zuma verkies as die nuwe leier van die Ansiete tot groot ontsteltenis van  koning Tabo en sy ondersteuners, want dit het beteken dat hy spoedig die nuwe koning sou word. Koning Tabo sou nog vir een jaar regeer, maar na ses maande het die  Ansiete besluit om hom die koningskap te ontneem en dit aan koning Jakob te gee.

Koning Jakob was baie geliefd aan die begin omdat hy gespreek het na die hart van elkeen wat ‘n afvaardiging na hom gestuur het. Hy het die ongewone ding gedoen om lede van ander partye tussen sy raadgewers op te neem soos byvoorbeeld  Piet die seun van Muller met die hoop dat dit die hart van die volk teenoor hom sal gunstig stem. Koning Jakob was egter baie verskuldig aan die jongmanne en die Kommiete wat in die streek van die Polokwiete gesorg het dat hy as leier verkies word, en daarom moes hy luister na die woorde van hulle geroep. Hulle het daarop aangedring dat koning Jakob drasties van die weë van sy voorgangers  moes afwyk sodat die rykdomme van die land aan die armes gegee kan word. In die dae het koning Jakob ‘n vyfde vrou geneem uit die jongdogters van die Zoeliete en ook ‘n kind verwek deur in te gaan by die jongdogter van een van sy vriende.

Intussen het die volk begin murmureer en sê: Ons kinders het weggevlug onder ons oë uit om te gaan woon in die skaduwee van die groot eiland in die Noorde en die ander lande. Ons jongmanne probeer hulle verhuur vir brood, maar daar is niemand om hulle te huur nie. Ons wil handelsooreenkomste sluit maar die wette van die land verplig ons om ons handelssake weg te gee. Ons word gestraf met meer en meer belastings maar die staat se amptenare doen nie hulle werk nie. Die land se paaie vergaan sodat ons nie met ons waens daarop kan ry nie. Die water wat ons drink word giftig. Die vuur wat ons in ons huise gebruik word skaars. Ons kinders word in die skool dinge geleer  wat afwyk van die oorleweringe van ons voorvaders. Die taal wat ons praat word verag deur die ander volke in die land en die spraak van die  groot eiland in die Noorde verdring ons taal. Die land van die Suide word oorweldig deur rowers en moordenaars en selfs die geregsdienaars kan nie vertrou word nie. Ons moet elkeen in die nag waak by ons huise aangesien ons nie weet watter uur die diewe sal kom om in te breek en te steel nie. Ons dorpe en stede kry nuwe name sodat ons vreemdelinge geword het in die land van die Suide. Ons landbouers word vermoor en hulle grond word hulle ontneem. Baie van die ander volke van die land betaal nie hulle belastings nie soos die Ansiete hulle geleer het. Ons land se leër het agteruitgegaan en kan nie meer oorlog voer nie. Baie van die werkers van die land werk nie, soos die Ansiete hulle gevra het om te doen in die vorige dae van die Suidland. Die leermeesters in baie van die skole is nie meer getrou in die opvoeding van die volke se kinders nie soos die Ansiete hulle gesê het om te maak in die dae van die groot stryd. Ons verlang nou terug na die vleispotte van die ou Suidland! Maar dit is tevergeefs.

In die dae was die profete baie skaars in die land, en elkeen het gedoen wat hy goedvind in sy eie oë. Die volk het al hoe meer afgewyk van die weë van die voorvaders en  vergeet van die geloftes wat die vaders gemaak het. ‘n Nuwe geslag kinders het opgestaan onder die volk wat nie kon onthou van die dae van die Suidland nie, en die ou mense het hulle nie daarin onderrig nie, sodat die weë van hulle vaders vir hulle bespotlik geraak het. Hulle het getrou en is in die huwelik uitgegee, ook onder die ander volke in die land, soos dit gister en eergister nie was nie.

Deur al hierdie dinge het die hart van die volk soos ‘n klip geword. Party het aanhou vrees oor die dag van more, veral die wat wag dat die Siener se woorde waar moet word. Ander het ryk en verryk geword en vir hulle paleise gebou waarin hulle hulle kon onttrek. Nog ander het hulleself oorgegee aan die genietinge van hierdie wereld en het hulleself vergryp aan die vrug van die wynstok of die poeiers van die apteker. In baie huise  het die vroue oor die man geheers en selfs het vroue met vroue in die huwelik getree en mans met mans. Ander het opgestaan en gesê die einde van alle dinge is naby. Intussen het die kennis oor die wereld vermeerder en aan elkeen wat wil weet word bekendgemaak wat oral aan die gebeur was. Niemand  was meer bereid om in die nag op te staan en aan sy naaste ‘n brood te gee nie, en daar was min samaritane wat bereid was om die beroofdes langs die pad te help, en ook nie om hulle huur by die herberg te betaal nie.

Het al hierdie dinge nie plaasgevind tydens die lewensjare van die kroniekskrywer nie? Hierdie dinge is opgeteken op die perkamente sodat u insig kan verkry oor die vreemde paaie waarlangs die volk gegaan het.

---000---

KPJ Nel

2014-12-15


Directors: S.A.M Smit & J.F Koster - Copyright ©2018 HartiesNet (Pty) Ltd - our Disclaimer