Views!
HUNDREDS of daily LOCAL views - THOUSANDS of monthly LOYAL readers! THE MOST POPULAR ATTRACTION IN HARTIES!
Published:  2015-07-22 Views:  953
Author:  karelnel
Published in:  Come Together/Samekoms
Biduurseeninge

Biduurseeninge

 

Oom Koen was lank die ouderling van die wyk, daarna Gert Petoors. Die ouderlinge het laaste in die kerk ingekom uit die konsistorie uit, met die dominee heel laaste, en hulle het aan die linkerkant voor in 'n blok gesit. Snaaks dat ek nie kan onthou dat ek ons ouderling baie tussen die waardige swartspan gesien het nie. Miskien het ons mekaar maar net gemis - as hy daar was het ons seker belangrike probleme op die plaas gehad en as ons daar was, het hy seker soortgelyke probleme gehad.Die arme diakens het baie werk gehad - hulle moes kollekteer, maar dit het nie vir my gelyk of die ouderlinge veel hoef te gedoen het nie. Behalwe natuurlik met die plase se wyksbidure.

Ons wyk, al die lidmate in die rigting van die Lombaardsdrif pad, het eenmaal per maand op 'n weeksaand - Woensdag of Donderdagaand, ek onthou nie - ons wyksbiduur gehad. Elke gesin het so min of meer elke tweede jaar 'n beurt gekry. By die vorige biduur is klaar ooreengekom waar die volgende een sou wees, en ons seuns het dan al, uit ondervinding, geweet hoe groot 'sukses' die volgende een sal wees aldan nie.

Die karre kom aan en parkeer voor die huis of voor die waenhuis, hoe die plaas se werfuitleg ookal is. Die ou opstalle het almal 'n groot ruimte voor die waenhuis gehad, want in vervloee dae moes die waens met osse of perdekarre daar kon draai. Almal was nou wel nie in hulle Sondag kisklere aangetrek nie, maar tog heel netjies - g'n niks van 'n kortbroek en plakkies of vandagse jannas en tekkies nie. Dit sou amper as lasterlik beskou gewees het. Ek verbeel my party van die tannies se hare was tot gedoen. Die ooms het eenkant loop sit en oor die weer en die boerdery en nou-en-dan oor die politiek begin gesels en die tannies het op 'n ander plek saamgekloek, oor ek-weet-nie-wat-nie. Ons seuns het mekaar gevind en op pad om buite te gaan speel het ons darem so vinnig by die heilige tafel met die wit gaasdoek daaroor verbygestap, net om te 'check' dat alles darem 'OK' is.

Seker so halfagt dan was dit sikketyd. Die ouderling het waardig opgestaan en almal verwelkom en die gasheer en veral die gasvrou bedank, veral vir die seeninge wat ons hierna sal geniet. Ek kan nie onthou of ons paar iets moes sing nie, maar ek dink dit sou maar broekskeur (en rokskeur) gegaan het, want daai tyd was slegs orrelspel mos nog heilig - en wie het nou 'n pyporrel gehad op sy plaas, laat staan nog 'n orreliste? Ek kan egter onthou hoe mooi oom Robert kon sing innie kerk, want hulle bank was reg agter ons s'n. Hy kon tweede stem sing - so mooi dat dit geklink het dat die eerste stem uit die mode uit sou gaan. Daarom het ek hom altyd probeer na-aap, maar kon dit nooit regkry nie.

Ouderlinge was seker nie heilig genoeg beskou nie, want daarom was hulle nie vertrou om self te preek nie. Hulle het so 'n boekie met uitgewerkte preke gehad en dit het hulle vir die klein 'gemeinte' voorgelees. Met die nodige waardigheid natuurlik. Ek het in my enigheid gewonder hoe dit nou eintlik gaan by die ander wyke waar van die ou omies nie meer so mooi kon sien of nog so vlot kon lees nie?

Na die lees was dit tyd vir die bid. Pa en ma het nooit gebid nie. Oom Robert het altyd en ant Soufie. En nog so hier-en-daar. Dit was amper soos 'n elektriese skok as 'n kind gebid het, maar dis met waardigheid aanvaar. Maar dan val oom Koen weg - vir 'n volle twaalf minute lank of so, so het Fanie vertel, want hy het 'n horlosie gehad. Dit gaan oor die boerdery en die droogte, die kerkraad en dominee en die armes, die siekes en die lammes, die eersteminister en sy kabinet en ek onthouongelukkigniemeerwatnog nie. Met sy belangrikste woord, "Amen", breek die opwinding voelbaar uit onder ons.

Oom Tien en sy vrou was arm mense, maar nog nooit het ek 'n meer suksesvolle biduur gehad soos by hulle die aand nie. Daar was sjokoladekoek, en melkterte en koeksisters en soutterte en frikkadelletjies en wie-weet-wat-nog. Maar wat my gefassineer het was die tannie se Jodetert, iets wat ek tot toe nog in my lewe nie teengekom het nie, en ongelukkig nognie weer kon kry nie. Dit was 'n moewiese groot en dik koek. Maar dit was opgemaak uit seker 10-15 dun lagies pure lekkerte. Daar was dun lagies ligte gebak, afgewissel met ewe dun lagies heerlike geel vulsel of pasta, amper soos vla. Dan was die koek daarby heerlik gegeur en bo-op het dit een of ander tekstuur gehad - iets soos klapper bo-op. Nodeloos om te se - hy was gou op en ek kon nie eers 'n tweede 'helping' kry nie.

Derhalwe smag ek nog altyd daarna om so 'n geseende en suksesvolle biduur by te woon.

Groete

k


Directors: S.A.M Smit & J.F Koster - Copyright ©2018 HartiesNet (Pty) Ltd - our Disclaimer