Views!
HUNDREDS of daily LOCAL views - THOUSANDS of monthly LOYAL readers! THE MOST POPULAR ATTRACTION IN HARTIES!
Published:  2015-07-24 Views:  1106
Author:  karelnel
Published in:  Stories
Slagdag

Slagdag

 

Een maal innie jaar gedurende die winter was dit beesslagdag. Gewoonlik is daar dan sommer 'n vark ook geslag. Ons was eintlik te klein om mooi alles te kan onthou.

Die skietery was die nie-lekker deel. In die eerste jare het oom Robert die bees kom skiet. Later jare kon Pietie dit doen. 'n Netjiese skoot met die punt twee-twee op die regte plek op die voorkop en die bees sak insy spore in mekaar. So-ook die vark. Legende wil dit he dat oupa geweet het hoe om 'n vark met een hou van 'n klein hamertjie op die bo-snoet, onmiddellik dood te slaan.Dan is die werkers by om die keel af te sny en die bloed uit die karkas te laat uitvloei, waarna die afslagproses begin.

Die vel word al op die pens en bors langs oopgesny en met die vuis van die res van die karkas losgedruk. Later word die karkas omgedraai sodat die onderkant ook losgesny word, asook die pote en stert. Dan word die buik oopgesny en die binnegoed uitgehaal, waarvan sommige (hart, niere en lewer) vir verdere gebruik uitgehou was en die res vir die werkers gegee is vir gebruik. So ook die kop. Lankal is 'n misvuurtjie gemaak en met die kole reg word een of ander vetderm op die rooster gebraai as 'n lekker happie later.

Voor die tyd is drie pale met 'n stel katrolle staangemaak en die beeskarkas word dan daaraan opgehys - of aan die balke in die waenhuis opgehang, om 'n tydjie af te koel. Intussen is daar verskeie tafels vir vleisverwerking reggesit, die handmeule en worsstopper stewig op 'n tafel gemonteer, die speserye en kruie en growwe sout vir die wors en die biltong word gereed gekry en die slagmesse en handsae is gereed gemaak vir die taak. Eers later jare het pa-hulle erens 'n tweedehandse elektriese bandsaag gekry en dit het die werk baie vergemaklik. Enkele mense van 'n buurplaas kom aan om te help met die verwerking van die vleis en dit word 'n lekker werk-en-kuierdag.

Eers word die vleis deur iemand wat weet in die regte snitte van die karkas af gesny met 'n groot, spesiaal skerpgemaakte mes. Die snitte word na die vleistafels gedra waar dit verder verwerk word. Stukke vet en ander weefsel word afgesny en lekker stukke biltong word afgesny en in 'n emmer gegooi en met growwe sout en kruie bedek. Ander snitte word in klein blokkies gesny, saam met varkspek en in 'n houer gegooi vir die maalproses om maalvleis en wors te maak. Ouma het geweet wat presies die verhoudings van vleis tot spek tot sout en kruie moes wees. Die wors wat vir droee wors bedoel was het natuurlik nie varkspek ingekry nie.

Uiteindelik hang net die bene op die hak. Dit word van mekaar losgesny en opgesaag. Vroeer jare met die handsaag - wat 'n proses. Later jare met die bandsaag. Dan kom die maalproses. Die werkers of opgeskote kinders moes die vleismeule draai-en-draai tot in amperewigheid en iemand, miskien ma, voer die stukkies vleis en spek in. Die meule was 'n gietyster masjien met 'n basiese silindriese lyf waarin 'n spiraal-wurm redelik styf gepas het. Hy het aan die beginkant bo 'n soort-van 'n koniese bek gehad waar mens die vleis kon invoer. Aan die eindkant, vas aan die wurm-as, was daar 'n klein, maar skerp gevormde vierlem messie, wat saam met die wurm in die rondte gedraai het. Dit het redelik styf gedraai teen 'n staalplaat met gaatjies in, wat op sy beurt aan die silindriese huls vasgeskroef is. Soos mens nou die wurm voerder met die slinger draai, word die vleis vorentoe gevoer, deur die lemmetjie gepers en gekerf en dan by die klein gaatjies voor uitgepers in sulke klein, dun worsies, en siedaar - maalvleis!

Uiteindelik staan daar skottels vol maalvleis en dan word die meule se bek oopgeskroef en 'n lang tuit word opgeskroef waarmee die wors gestop gaan word. Die vorige dag is skaapderms (wat natuurlik skoongemaak is) by die slaghuis gekoop, en skaapderm word nou oor die tuit getrek. Dan word die maalvleis in die meule gestop en die meule gedraai sodat die vleis voor by die tuit begin uitstoot. Die derm word dan gevoer en siedaar - boerewors!! Sulke lang slange daarvan wat netjies opgekrul in skottels gepak word. Alles word met wit doek toegemaak om te sorg dat die vliee, wat maar altyd op 'n plaas is, nie die vleis stuk-vir-stuk wegdra nie.

Terwyl almal werk dat hulle so oople het dit intussen middagete geword en van die huis af kom daar iets soos vetkoeke of toebroodjies of iets dergeliks , saam met koffie. Terwyl die werkers alles skoonmaak kom die lekker deel - die opmaak van die karmenaatjies. Vir die naby familie en goeie bure word daar elkeen 'n pakkie vleis opgemaak - 'n bietjie van alles. Net om te se: Ons waardeer julle. (Miskien ook om te se- onthou ons ook as julle weer beesslag?) Dit word weggebring en met dankbaarheid ontvang. Ek weet, baiekeer het die predikant ook sy karmenaatjie gekry van sommige boere.

Die droee wors word opgehang in die waenhuis, veilig waar die katte dit nie kan kry nie, en die bilting le nog 'n dag of twee in die pekel om die vog uit te trek. Dit kry dan koljander op en word met klein draadhakkies opgehang aan draad wat spesiaal daarvoor gespan is, om aan droog te word.

Makliker om seker jou vleis by Spar te koop?

Groete

k


Directors: S.A.M Smit & J.F Koster - Copyright ©2018 HartiesNet (Pty) Ltd - our Disclaimer