Views!
HUNDREDS of daily LOCAL views - THOUSANDS of monthly LOYAL readers! THE MOST POPULAR ATTRACTION IN HARTIES!
Published:  2015-07-25 Views:  1011
Author:  karelnel
Published in:  Stories
Bloubottel

Bloubottel

 

Ek weet nie veel van die eerste tyd wat oupa en ouma op Rose Marie gewoon het nie, want ons was eers in Theunissen en toe in Waterval Boven. Oupa het wel mielies geplant, maar ek onthou nie hoe hulle geploeg het nie - hoewel ek my verbeel hulle het 'n eenskaarploeg gehad. Dan is dit moontlik dat hulle met ou Hermit, hulle enigste perd, kon ploeg. Hulle het beslis nie 'n span osse gehad, soos die Van Rensburgs en die Fouries en die Vermaaks en die Petoorse aanvanklik gehad het nie. Ek dink Oom Robert het seker vir hulle kom ploeg, want hulle was goeie vriende.

Toe ons alreeds 'n rukkie daar gewoon het, het pa 'n tweedehandse trekker gekoop. Hy het destyds in Bloemfontein by die PWD gewerk en het saam met Pietie en almal die vyfuurbitterkoudvroegmore die werkerstrein Bloemfontein toe gevat. Hy het seker by sy maters (soos ouma altyd gese het) gehoor van die trekker wat te koop was, erens op Bloemfontein se plotte.

Pa en Pietie het een Vrydagwintersaand na werk die trekker gaan haal om hom Brandfort toe te bring. Min het hulle geweet watter bittere marteling dit sou wees. Met die tenk vol kragparaffien, nog 'n drommetjie of twee erens op die trekker, 'n stukkie rubber houspaaip (tuinslang) om paraffin mee oor te tap, pa in die trekker se sitplek en Pietie wat agter op die trekker op 'n plekkie staan, vat hulle die pad Brandfort toe.

Die trekker was 'n Fordson, destyds bekend as die Bloubottel. Hy was 'n massiewe, logge ou dier, maar so sterk soos 'n bees - eintlik so sterk soos 'n span osse om die waarheid te se. Hy was natuurlik blou geverf soos julle teen die tyd al kon aflei en het, ek dink, 'n volle 4 ratte vorentoe en een agtertoe gehad. Soos die van julle wat bietjie tegnies aangele is sal weet - daar is 'n omgekeerde verwantskap tussen 'n voertuig se spoed en sy krag. Hoe vinniger hy is, hoe swakker is hy en hoe stadiger hy is hoe sterker is hy. Nou hierdie Bloubottel was in sy eerste rat so sterk dat hy Simson soos Miekie Muis sou laat lyk. As hy gevat het, het hy gevat, en as hy getrek het het hy getrek. Simson het nou wel die tempel laat val - maar ek is seker die bloubottel sou miskien die piramides kon omtrek of die uniegeboue - maar ons het gelukkig nooit probeer nie.

Nou kan julle seker al raai hoe stadig hy was in sy eerste rat. Hy was so stadig dat 'n skilpad in vergelyking met hom so vinnig was soos die Gautrein (as hy die dag loop). Sy vierde rat het hom 'n asemberowende topspoed van 5 of 7 myl per uur vorentoe gegee. Nou kan die van julle wat St 1 somme deurgekom het self uitreken hoe lank dit sal vat om die ongeveer 35 myl na Brandfort af te le in die bitterevrystaatwinternagkoue - 'n volle omtrentseweure. Eers het Pa gedryf en as hy byna wou vrek van die koue dan dryf Pietie tot hy wou vrek van die koue, en dan weer Pa en so gaan dit aan tot in omtrentdieewigheid. As dit Pietie se ruskans is dan klim hy so in die ry af, en omdat hy nog jonk en fiks was, hardloop hy voor die trekker uit vir 'n bietjie interne hitte, en dan hardloop hy weer terug om die bus (ek bedoel die trekker) te vang.. Pa se, as dit sy beurt was om te rus en hy gee vir Pietie oor dan kyk hy so na die bultjie hier voor in die pad. Hy staan dan sy staan op die plekkie en laat sy kop op sy arms rus om dalk 'n bietjie in te dut. Dit voel of hy na 'n ewigheid as hy wakker skrik, en as hy opkyk, dan vat-vat hulle net so aan die bultjie se onderkant! Hoewel hulle nie vertel het nie, kan ek dink hulle moes een of twee keer stilhou, die paraffiendrommetjie bo-op die tenk neersit, die houspaaip indruk in die drommetjie en suig aan die ander ent - net betyds ophou om nie 'n bek vol kragparaffien te kry nie, en dan die groen straal in die tenk te laat loop totdat hy met 'n gekreun onder in die drommetjie lugsuig.. Sowat van bittere lyding het ek lank laas van gehoor - ek is seker dit het hulle geknak vir die res van hul lewe.

Dit was vroegdonkerwintermore toe hulle op Rose Marie aankom - doodverkluim, maar hulle was ons helde!! Ons het ons eie trekker gehad!! Hy het moewiese groot agterwiele gehad met sulke rubberwalletjies of ribbe op wat van die middel af skuins na buite geloop het. As hy op die turf gery het het hy so 'n soort van 'n visgraatspoor gemaak - als net om te kan vastrap. Die wiele het ook water ingehad om dit swaarder te maak, als net vir die vastrap. Die voorwiele was kleiner maar stewig - hulle het my hier op borshoogte gevat, en het taamlik wydsbeen geloop, nie soos die Fouries se diesel-Moline trekker wat se twee voorwielietjies so styf teen mekaar gesit het nie. Gevolglik het die trekker gestaan as hy gestaan het, en het dit 'n man-op-'n-perd gekos om die stuurwiel te draai. Daar was daai tyd nog g'n-niks van 'power-steering' nie. Die enigste 'power-steering' wat daar was, was die pap wat jy die oggend moes ge-eet het.

Hy het twee bree yster briekpedale gehad, wat mens met 'n ysterstafie aan mekaar kon koppel.Dit was 'n briek vir elke agterwiel, bedoelende dat mens een wiel op 'n slag kan briek as jy wil, sodat mens korter kan draai, of 'n plan kon maak as een wiel dalk begin gly het. Maar mens moes jou trap ken! Ek was eers te klein en kon nie sit-en-trap nie, Ek moes dan opstaan, aan die stuurwiel vasklou en trap so al wat ek werd was. Die klatsh (koppelaar) was 'n ander enetjie. Ook 'n bree ysterpedaal, maar sy trap het die manne van die seuns geskei. Jy kon of jy konnie. Eendag op 'n reendag het ek nog so gesit en oefen op die trekker en het probeer om die klatsh te trap. Ek kry dit toe reg - amper. Waar ek my misreken het was met die turfmodder onder my skoensole. Die massiewe drukking wat nie loodreg op die ystervlak was nie, en die lae wrywingskoeffisient van die (gladde) modder het toe 'n vinnig toenemende glipaksie veroorsaak en die sterk veerkragte in die koppelaar het die pedaal na buite versnel. Die voorspelbare maar heel onverwagte en onbedoelde resultaat was 'n moewiese impak van yster op my linker maermerrie. Mens hoef nie 'n profeet te wees om te weet wat gebeur as versnellende yster aan die een kant eensklaps ontmoet met lewende weefsel en been nie. Kan jy jou 'n groter bittere lyding voorstel?

Ongelukkig laat tyd my nie toe om te vertel hoe jy hom eers met petrol moes start, voordat jy hom oorgeskakel het kragparaffien nie nie, of die pret wat gebeur het wanneer jy hom met die slinger moes start nie. Ek kan ook nie nou vertel van die lekker reuk van die kragparaffienrook wat bo by die los uitlaatpyp uitgekom het, of die musiek wat sy enjin gemaak het nie! Ek weet nie of jy sal verstaan van die blink sooie wat hy in die halfnat turf kon uitploeg nie, of die wa met die hooi wat hy landuit kon trek, met al ons kinders daar hoog bo op die hoop nie.

Ons het lank met hom reggekom terwyl die Fouries en die Van Rensburgs en die Petoorse en die Vermaaks lankal die nuwe 'awesome' diesoline trekkers gehad het, soos die geel Molines. Gou was daar die klein 'Vaaljapie' buksie wat sy man kon staan saam met die groter trekkers en later die rooi Massey-Furgesons wat baie vinniger was en in 'n japtrap met 'n wa vol werkers dorp toe kon 'zip'.. Maar vandag bly daar vir my nog net een trekker - die ou bloubottel!!

Ek wil netnie met hom Bloemfontein toe ry nie.

Groete

k


Directors: S.A.M Smit & J.F Koster - Copyright ©2018 HartiesNet (Pty) Ltd - our Disclaimer