Views!
HUNDREDS of daily LOCAL views - THOUSANDS of monthly LOYAL readers! THE MOST POPULAR ATTRACTION IN HARTIES!
Published:  2015-07-26 Views:  1817
Author:  karelnel
Published in:  BushTalk/VeldTalk
Turf

Turf

 

Maak jy uit van Turf? Ek het op turf grootgeword - diep,swart, turf. Die klein plasie waar ek grootgeword het se grond was grotendeels turf.

Turf is 'n tipe grond. Dis definitief nie sand nie, en ook nie heeltemal klei nie - maar dis wel kleierig as dit nat is. As dit nat is is dit glad en klewerig en mens kan dit bry (brei?) en as dit droog word word dit hard. Wat dit swart maak weet ek nie, maar dis 'n baie ryk grond, want as dit water kry groei plante lekker daarin. Goeie grond se ek jou.

Turf het mens nie gepla nie tot dit reen, en dan het dit jou ook nie gepla nie, solank jy in die huis gesit het. Maar sodra jy buite begin loop het, het die sports begin. Met die eerste trapslag tree adhesiekragte in werking en, watookaljouskoensolevangemaak is dan kleef daar 'n dun lagie turf aan hulle. Met die tweede trapslag tree adhesie en kohesiekragte en werking en 'n volgende lagie turf kies om eerder aan jou koensole te sit as op die grond. Met die derde trapslag is dit weer so en nog 'n stukkie aarde besluit om met jou saam te reis. En so vind mens jou midde in 'n proses wat homself repliseer sonder dat jy dit aanvanklik agterkom, waarskynlik vanwee die aanvanklike miniskule, maar desnieteenstaande beduidende aard daarvan.

Soos mens in die loopproses vorder kom mens twee dinge agter - een duidelik en die ander byna onwaarneembaar. Eers besef mens jou voete word swaarder en lomper en jou stap klink anders - meer doef-doeferig. En dan, as mens BAIE fyn oplettend is, kom jy agter jy is bietjie langer, want jy kan verder sien.  Dan besef mens jou voete het aangepak van die turf - en dis nie lekker nie, want uit jou primordiale kinderdae onthou jy nog jou ma se geskree : "Moenie met jou modderpote op my skoon vloer loop nie!!"

Daarom was daar by die deur minstens 'n sak waaraan jy jou voete probeer afvee het - maar dit help nie eintlik vir turf nie. Die turf sit - amper soos die effek van 'n hondeslagyster of 'n hondelandmyn waarin mens nie wou trap nie - net bbietjie erger. Die ou mense was slim en het baie keer 'n gebreekte graaflem of ander ysterplaat geplant langs die deur dat mens jou skoene daaraan kan afskraap. Dan kom sulke dik stukke klei af. Ek het selfs 'n houtplankmatjie waarop koeldrankproppies onderstebo vasgekap is gesien, sodat mens jou skoene daaraan kon afskraap, maar nodeloos om te se - in goeie turfgronde sal hy so gou soos nou 'versadig' word met die modder.

Die beste is maar om liewer jou skoene by die deur uit te trek en later iemand anders te vra om die skoene skoon te maak. Dit was 'bad news' as jou skoene 'n patroon onder die sool gehad het, want dan moes die turf voortjie-vir-voortjie met 'n stokkie of 'n kombuismes uitgekrap word. 'n Ander manier was om die modder te laat droog word en dan jou skoen in die hand te neem, hom dwars te draai en dan 'n harde kap op die grond te gee. Dan, as jy gelukkig is, spring die stukkies modder, wat intussen bietjie gekrimp het, van die voortgeplante skokgolwe vanself uit die patrone van die skoensool uit. Maar die suksestempo is nooit meer as so 50-60% nie en mens moet die kap proses 'n paar keer herhaal, hoewel dit nooit 100% is nie.

Tyd laat my nie toe om meer van die turf te vertel nie, maar dit het ander voordele ook. Dit het karre op die pad laat vassit dat mens nie skool toe kon gaan as dit behoorlik gereen het nie. Dit het poele water in die veld gemaak waar ons en ons werkers se kinders in ge-'slip-en-slide'- het. Ek onthou nog my ma se gekerm "Ek sal jou nek omdraai - kyk hoe lyk jou klere!" Dit het die fiets se wiele laat aanpak totdat dit solied was tussen die wiel en die modderskerm en jy het ge-'suffer' om dit uit te kry. Dit het in stukke weggevlieg van jou fiets se wiel as jy nie 'n modderskerm gehad het nie, maar dan het dit 'n streep modderwater op jou rug gegooi en nog baie ander pretdinge soos kleiosse maak - alhoewel hulle gou, as hulel droog word, uitmekaar gebars het.

Lekker ou turf. Dis seker waar die spreekwoord vandaan kom: Jou turf sal sit!! Weet iemand waar dit vandaan kom?

Groete

k


Directors: S.A.M Smit & J.F Koster - Copyright ©2018 HartiesNet (Pty) Ltd - our Disclaimer