Views!
HUNDREDS of daily LOCAL views - THOUSANDS of monthly LOYAL readers! THE MOST POPULAR ATTRACTION IN HARTIES!
Published:  2015-07-27 Views:  1358
Author:  karelnel
Published in:  Interesting/Interessant
Boerseepkook

Boerseepkook

 

Vra jou man of kerel of pa, as hulle nie te pieperig is nie, om hul arms in 'n kring te hou met die middelvingers se punte teen mekaar. Laat hy dit dan so omtrent 500 - 750mm uitmekaar trek, maar die arms nog in 'n virtuele sirkel hou. Dit was ongeveer die pensdeursnee. Mens kry hulle egter nie meer te koop in ons land na 1994 nie.

Die boepenspot of ysterpot met drie pote was normaalweg van gietyster gemaak en was pikswart, soos gietyster maar word as dit bietjie gewerk het. Buite om die growwe kante was sulke ringe ingegiet en bo-op was 'n goedpassende potyster deksel met 'n stewige oor waaraan jy hom kon optel. Die pot self het twee stewige ore gehad waaraan 'n staal hingsel vas was, maar die pot was baiekeer so swaar dat twee mense 'n drabalk deur die hingsel moes druk om hom op te tel. As hy leeg was kon 'n yster hom net-net dra, hoewel hy bietjie ongemaklik groot was. Maar hy het drie goeie eienskappe gehad. As hy gestaan het, het hy gestaan. As hy gevat het, het hy gevat - seker so 'n 100 liter. En as hy gekook het, het hy gekook. Omdat gietyster so 'n goeie geleier van hitte was, en die pot se wand so dik was, het hy die hitte lekker versprei as mens 'n vuur onner hom gemaak het.

Gewoonlik na beesslagdag (daaroor miskien meer 'n bietjie later) was dit op 'n dag seepkookdag. Dan het hulle boerseep gekook in die bovermelde ysterpot. Hoe kan ek nie presies onthou nie.

Ewenwel hulle het eers hope en hope beesvet en in stukkies gesny en dit inniepot gegooi en die hitte op 'high' gesit. (Ek bedoel hulle het 'n houtvuur onder die pot gemaak). Dan het die kierangs begin braai - ek bedoel kaiings. Rou diervet bevat seker nie net vet nie, maar ook weefsel, want wat is kaiings anders as die weefsel wat oorbly na vet uitgebraai is? Ek kan nie onthou nie, maar ek dink die kaiings moes eers afgeskep word, maar as mens in die pot met gesmelte vet ingekyk het, het jy besef - hier is 'serious' dinge aan die gang, want die vloeistoffie was nou rerig warm - sowaar as parramaneldra. Dan op 'n stadium kom die seepsoda by - presies wanner en hoeveel kan ek nie onthou nie.

Seepsoda (Natrium hidroksied) was self 'serious business'. Dit het altyd gekom in 'n reghoekige rooi blik-trommeltjie met 'n deksel wat BAIE dig sluit. Die rooi blik het altyd 'n bangmaak-prentjie op gehad, of 'n spookprentjie (kop-en-sopbene) aangesien die inhoud so gevaarlik was - en natuurlik omdat die produk higroskopies was. Seepsoda is so sterk, hy suig selfs die droe Vrystaatse lug so droog van vog dat sy kieuwe sommer so intrek. Die seepsoda het in wit,plat vlokkies gekom en as mens dit aan lug blootgestel het, het dit gou nat geword. Ek het dit nooit probeer nie, maar ek glo dat as dit op jou vel gekom het, het hy jou gebrand dat die rook op jou draai!  Ewenwel - gooi bietjie 'n vlokkie of tien in 'n glas water en hoor hoe dit kraak, en hoe warm die water daarvan word, as jy my nie wil glo nie.

Hierrie word nou met die kokende vet geroer en geroer tot in derewigheid en dan vind die wonderwerk plaas - genaamd verseping of saponifikasie. Die vet verander in seep. Dit vorm 'n romerige, dik massa - boerseep. Ek dink vir die gevorderde boertannies wat seep vir die landbouskou gemaak het, was dit hier waar hulle allerhande geurmiddels en kleurmiddels en wat nog bygevoeg het, maar dan was dit wel mooier seep, maar nie meer boerseep nie.

Soos dit met alles gaan - uiteindelik vrek die vuur en deur straling, konveksie en 'n mate van geleiding (deur die ysterpote) koel die inhoud af en na verloop van tyd (bedoelende die volgende more) was die seep in die pot een gestolde massa as jy die swaar deksel optel. Dan kom die tannie of die oom met 'n moewiesegrootmes en begin sulke lang seepstene uit die massa te sny - van kant tot kant innie pot. Amper so groot soos spoorwegdwarsleers (sleepers) . Ek sien hulle nog - dik en reghoekig indie middel, maar met sulke skewe ente, waar dit teen die pot gevorm was.

Dan was daar onder in die pot so 'n dikkerige geel jel (gel) amper soos ghries , net baie anders. Dit was die loog en dit was oorlaai met van die eienskappe van die seepsoda, want dit het ook gebyt of gevreet en was gevaarlik - so het die ou mense gese. Ek weet nie wat het hulle met die loog gemaak nie.

Die reuse seepstene is in kleiner hanteerbare blokkies gesny vir latere gebruik. Ek het gesien hoe klere met die hand gewas is met die seep in 'n halwe drom of selfs in 'n waterstroom. Later het ek gesien dat hulle die seep eers rasper en dan die skaafsels gebruik in die wasproses, maar daai was die tannies se afdeling en het ek nie veel mee te doene gehad nie.

Ek moet se - baie makliker om jou seep by Spar om-die-hoek te koop.

Groete

k


Directors: S.A.M Smit & J.F Koster - Copyright ©2018 HartiesNet (Pty) Ltd - our Disclaimer