Views!
HUNDREDS of daily LOCAL views - THOUSANDS of monthly LOYAL readers! THE MOST POPULAR ATTRACTION IN HARTIES!
Published:  2015-07-27 Views:  754
Author:  karelnel
Published in:  Suggestion/Aanbeveling
Okstyle

Okstyle

 

Julle weet mos – daai soort potjies wat jy sedert 1994 nie meer kry nie. Die soort met die drie pote wat van gietyster gemaak is – alemelee ‘n netjiese potjie, en baie nuttig! Nou-ja, jy vat hóm.

Dan maak jy dit warm onder sy watesenaam. As jy weet wat jy doen kan jy ‘n vuurkie maak, maar as jy nie altyd mooi weet nie, en nie die hele tyd wil bystaan nie, dan kan jy sommer gas gebruik, soos ek. Sien – as jy ‘n  vuurkie gebruik moet jy gedurig oppas dat hy nie die een kant harder brand as die ander kant nie, anders  brand hy aan in die binnekant ok. As mens later die vuurkie van ‘high’ afdraai na ‘Low’ (net ‘n paar koolkies onder die pot los) moet mens gedurig bystaan om te sorg dat hy nie vanself afskakel  (doodgaan) nie. Daarom verkies ek gas.

Die eerste wat mens insit is so ‘n bietjie olyfolie, en hulle gaan lê heel onder in die pot, todat hulle klein borreltjies maak. Dan is die tyd wat mens jou uie bysit – die soort wat mens se oë laat brand as jy hulle skil. Daarom help dit as mens jou vrou vra om die uie te maak. Eers die los doppe afskil met ‘n skerp mes, dan in ringe of blokkies sny – en dan pot toe! Mens roer en roer dit tot dit net mooi bruin is en dan skep jy dit weer uit. Onthou net jy moes ‘n bietjie sout bygegooi het.

Dis dan wanneer mens die okstyle nodig kry. Jy kry hulle by Byenes Slagtery vir sestig Rand ‘n kilo en vat sommer twee. Dit sit aan die agterkant van die bees en elke bees het net een en daarom is daar daarna  twee bees sonder tyle as jy klaar ge-eet het. Hulle begin dik en eindig dun en aan die bokant het hulle baie vet. Vet maak dit als lekker. Verder bestaan hulle uit baie bene en min vleis. Dis hoekom mens twee benodig. Hulle kom in die pot met die deksel op en jy sal hoor hoe hulle met mekaar gesels daarbinne. Kort-kort moet jy dan die deksel oplig (oppas dat jy nie brand nie) en die tyle omroer in die pot sodat elkeen ‘n kanse kry om onder in die olietjies te lê. So hou jy aan-en-aan totdat al die tyle aan die buitekant ‘n diepbruin skynsel begin opdoen.

Wat nou gebeur is belangrik. Mens pak die tyle soos stukkies van ‘n puzzel teen mekaar op die bodem en teen die kant van die potjie op, en jy skep die bruingebraaide uie tussenin. As jy slim wil probeer wees, pak een van die grotes so aan die een kant waar hy miskien bietjie ongemerk kan bly. Dan vat mens die  aartappelstukke, wat jou vrou vir jou geskil en in water gesit het, en pak versigtig ‘n laag bo-op. Jy sal hoor soos die water afdrup tussen die tyle skiet hy sulke klein skietgebedjies, maar dis O.K.  – dit moet so wees. Vervolgens kom net so ‘n laag wortelringe wat, as jy ‘n goeie vrou het soos ek, sy ook vir jou gemaak het. Miskien dan ‘n lagie patats. Dan ‘n lagie ertjies of boontjies, of as jou vrou lui is, soos myne nie is nie, dan sommer ‘n laag  gevriesde menggroente van Spar of Checkers af. Teen die tyd is die pot al amper vol. Dan is daar nog net plek vir ‘n bietjie blomkool bo-op, of miskien brokkoli en as jy fensie wil wees een of twee koolblare. Dan kom die deksel op.

Dis nou wanneer die vuurkie op ‘Low’ gedraai moet word en jy los hom dan vir ‘n uur of twee. Jy kan nou en dan teruggaan en hoor of hulle daar binne nog allerhande tale praat met mekaar want daar binne word dit al hoe lekkerder. Al wat nog kort is ‘n bekertjie sous aangemaak met tamatiesous, blatjang, bietjie asyn, sout en  anderkruiewaarvoorjylusis. Dit word  na ‘n tydjie bygevoeg en jy sit die deksel op en vergeet weer van hom, totdat jou vrou reg is vir ete en die tafel reeds gedek is. Hoe langer dit vat, hoe beter word hy.

As almal reg is – dan is dit tyd vir die seremonie. Jy gaan haal die pot en dra hom versigtig kombuis toe en maak hom staan op die vloer. Gee duidelik instruksie, want daar is altyd onbeskaafdes by – so ‘n pot word NOOIT geroer nie. Mens druk die grootlepel van  bo af in en skep DIEP sodat jy ‘n tyl kan raakskep en nie net groente nie, hoewel die groente ook meestal lekkerder is as gewoonlik vanweë die rykheid van die tylsousie. Hopenlik het jy dan al klaar gebid, want die mense kan dan nie meer wag om die tyle aan te val nie.

Nou kom die onlekker deel. As jy ‘n opgeleide soldatebevelvoerder is, soos ek was – dan is dit in jou ingedril : Die troepe moet eerste  kos kry en dan eers kan jy kry. Dis nou vernaamlik baie ontstellend om te merk hoe val die grotes in die troepe se borde, selfs die klein troepies. Mens se hart sak in jou skoene as jy sien jou wegsteek-kantstukkie kom ook te voorskyn en beland onseremonieel in iemand se bord. Dan is daar nog iemand wat sommer twee tyle op sy bord skep, en jy dink – my jimmel, hoekom het ek nie maar drie tyle gebruik nie? Uiteindelik kry jy ook kans om met die grootlepel in die pot te krap en na ‘verloop van baie dae’ kry jy twee of drie lekker tyltjies uitgevis, saam met baie sous en groente oor jou rys.

En hulle maak dit alles die moeite werd – net ongelukkig te min sodat jy dadelik lus is om weer ‘n potjie te maak sodra jy kan.

 

---000---

KPJ Nel

2015-07-27

 


Directors: S.A.M Smit & J.F Koster - Copyright ©2018 HartiesNet (Pty) Ltd - our Disclaimer