Views!
HUNDREDS of daily LOCAL views - THOUSANDS of monthly LOYAL readers! THE MOST POPULAR ATTRACTION IN HARTIES!
Published:  2015-07-28 Views:  720
Author:  karelnel
Published in:  Recipe/Resepte
Om Af Te Val Of Nie

Om af te val of nie

 

Mens kan nie verstaan hoekom kies party mense om vir hulle hele lewe lank in die kleuterskool te bly nie. Weet hulle nie dat daar nog drie verdere grade of vlakke is nie? Laerskool, Hoërskool en Kollege of Universiteit. Ek praat natuurlik hier van skaap afval eet: Laerskool is pootjies alleen eet. Hoërskool is as jy pensies ook eet en Kollege is natuurlik as jy die skaapkop ontdek. Sodat ek julle nie verloor in die diep dinge van Kollege nie, maar ook nie julle tyd mors nie, laat ek my self beperk tot  hoërskooldinge.

Jy vat een van daai voor-vier-en-negentig potjies, maar ‘n platte sonder pote werk netso goed. Jy het weer die opsie van ‘n vuurkie of gas (netnie elektrisiteit nie – die smaak is maar netnie dieselfde nie). Maar voor jy hierby kan kom moet jy eers iets anders doen. Jy moet eers jou afval (ek bedoel die skaapafval) voorberei. Maar voor jy dit kan doen moet jy eers iets anders doen – jy moet die afval gaan aanskaf, en dis ‘n storie op sigself. Maar om ‘n lang storie kort te maak, en nie die gevaar loop om jou dalk te  verveel nie, gaan koop dit sommer by Schoemansville slaghuis teen ongeveer R60 – hulle s’n is pragtig skoongemaak en hard gevries. Hulle s’n is reg vir ‘n hoërskooldeelnemer. Die enigste ding waaroor mens moet besluit is of jy een moet vat, of twee, en dit sal jy ongelukkig eers heelwat later vir seker weet.

Nietemin, jy vat hom die vorige aand en sit hom in ‘n skotteltjie kou water met so ‘n halfkoppie asyn daarin. My swaer vannie Namakwaland het my geleer dit vat al die reuke weg.  In die more is hy goed ontvries en jy haal die pensies uitmekaar (‘n skaap het verskillende tipes pensies – party lyk soos  handdoek materiaal en die ander het die tekstuur van ‘n fyn ogiesdraad – amper soos die draad wat ouma vir haar kuikenhokke gebruik het, net anders). Jy was hulle nog bietjie ekstra skoon en dan knip jy hulle in flentertjies op met jou vrou se kombuisskêr – maar nie te klein nie, want as jy later wil byt wil jy byt en nie net suig nie.

Dan kom jy by die pootjies. Jy sal sien Schoemansville se pootjies (ek bedoel die pootjies van die afval wat jy by Schoemansville gekoop het)  is pragtig skoongekrap en tussen die plek waar die kloutjies  gewoonlik sit, oopgesny is. Die bygelowiges of  oningeligtes  sê jy moet daar oopsny want daar sit ‘n wurmpie in. Struis, ons veearts, het nou-die-aand by die mannebiduur gesê dis nonsens. Dis ‘n kliertjie wat daar sit en mens moet hom uithaal want as jy hom los gee hy ‘n onaangename reuk af gedurende die kookproses.

Nou pak jy die pootjies onnerinniepot en die pensies bo-op. Jy gooi  sout en water na smaak in , sit die deksel op en maak dit warm onder sy watsenaam – dis nou waar die vuurkie of gas inkom. So laat jy hom kook tot in ewigheid, hoe langer ewigheid hoe beter. Sorg net dat jy genoeg water na smaak byvoeg dat hy nie aanbrand nie. Nou hier kom ander bygelowe ook ter sprake. Willie  staan te verkondig (by die mannebiduur) dat die afval eers skuimkook en dat jy kwansuis die skuim eers moet afgooi. Man – dis nou gladnie nodig as jy Schoemansville afval ( ek bedoel afval wat by Schoemansville slaghuis gekoop is) gebruik nie – dis van die begin af silwerskoon.

As dit lyk of die afvalkie begin mak word, is dit tyd om die snipperuie wat jou vrou gereedgemaak het by te voeg dat hulle kan sagkook en daarna, net vir die troos, ‘n paar aartappelskywe ook. As jy nou net so aanhou, dan maak jy vaal-afval soos die Namakwalanders daarvan hou maar my ma het altyd “Cartwright” se medium-kerrie bygevoeg (Maak eers  ten minste ‘n eetlepel aan in ‘n koppie warm water en gooi dit dan by). Vir die wis en die onwis kan jy bietjie  kruiewaarvoorjylusis  en blatjang ook byvoeg – maar netnie te veel nie. Dan los jy hom, nog ‘n halwe ewigheid met die deksel op sodat hulle daar binne lekker kan kuier.

Dan hopenlik is die tafel gedek en kan jy die pot met trots indra en  op die tafel staanmaak (as hy ‘n plat boom het) of op die vloer (as hy drie pote het). As daar net ingewydes om die tafel is, is dit O.K. anders moet jy eers bietjie instruksie gee aan nuwelinge oor wat-is-wat-en-hoekom en dat daar nie lies-lewer-en-long-stert-*****-en tong daarin is nie. Dan kan daar gebid word vir die kos, en as jy bid kan jy ‘n stukkie hard bid en ‘n stukkie sag. Die harde deel gaan oor die gewone dankbaarheid en so aan. Die sag bid gedeelte gaan daaroor  dat daar asseblief genoeg pensies en ‘n pootjie vir jou moet oorbly wat laaste skep – veral as jy van die begin af net een afval gekoop het!

Groete

 

---000---


Directors: S.A.M Smit & J.F Koster - Copyright ©2018 HartiesNet (Pty) Ltd - our Disclaimer