Views!
HUNDREDS of daily LOCAL views - THOUSANDS of monthly LOYAL readers! THE MOST POPULAR ATTRACTION IN HARTIES!
Published:  2015-07-30 Views:  802
Author:  karelnel
Published in:  Suggestion/Aanbeveling
Botter-ofte-not

 

Die Beste Deuskant die Magalies

Elke Jan Rap en sy idioot weet die Afrikaanse vertaling van die Engelse “nut” is “ neut”- ek praat nou nie van die vertaling wat “moer” is nie. Netso weet elke Jan Rap en sy ander idioot dat ‘n pampoen nie ‘n neut is nie. Daarom noem ek, vir doeleindes van hierdie onderwysing ‘n  “Butternut” liefs ‘n “Botternot” en nie ‘n “Bottermoer” nie. Ek vertel naamlik hoe mens die heerlikste Botternot sop kan maak, of in kort, “notsop”. (Dink hoe sleg sou “moersop” geklink het)

Dit begin als as jy ‘n paar vars notte by Jasmyn gaan koop – daar is hulle nog rêrig vars. Koop twee grotes of ‘n hele boel kleintjies, hang af hoe jy wil sukkel met die skillery of hoe jy nie  wil sukkel met die skillery nie. Die grotes het minder skilwerk om te doen maar hulle skille is oor die algemeen harder as die situasie met die kleintjies, wat net die teenoorgestelde is. In elk geval sukkel mens medium jou not af om hulle geskil te kry. Daarom help dit gewoonlik om jou vrou te vra om hulle te skil, want hulle is beter skildenaars as mans.

Die kookproses is bietjie anders as die wat ek tevore beskrywe het. Mens gebruik hier liefs nie die  VVEN-potjie nie (voor-vier-en-negentig) en ook nie gas of ‘n vuurkie nie. As jy honger is gebruik jy jou elektriese drukkoker (ja, ons het een) en as jy nie honger is nie dan jou ‘slow-cooker’ (ja- ons het ook een). Die stukke not word nou in die pot van jou keuse gegooi en jy sit Eskom aan die werk! (Hoop netnie beurtkrag kom interveer nie). Uiteindelik na ongeveer ‘n driekwart uur in die een geval, of agt ure in die ander geval is die notte ingebreek.

Nou volg die allerbelangrikste fynmaakproses, of meer korrek die  “verpulpingsproses”. In die ou dae het my ma en ouma so ‘n  stamper-ding gebruik, met so ovaal roostertjie aan die onderkant. Dit moes mens dan herhaaldelik (baie herhaaldelik) op-en-af in die pampoen druk sodat dit deur die gaatjies kan peul. Dan moet jy dit nou en dan afskud deur die apparaat op die kant van die kastrol te kap tot dit skoon is. Dan is dit weer op-en-af tot die pampoen papsaf geword het. Dis deesdae heelwat makliker en vinniger. Ek het vir my vrou ‘n zirdir gekoop. Dis ‘n langerige apparaatjie wat Eskom inspan en ‘n piepklein maar gevaarlike lemmetjie not-vinnig in die rondte draai sodat hy so ‘zirrr’ maak en die notte in ‘n japtrap so fyn maak dat jy dit nie kan glo dit was notte nie. Not-‘n-tiekie.

Van die volgende stappe hang nou die sukses of  mislukking af.  Jy moes 500 milliliter  vars room by Jasmyn gekoop het, of  net 250 milliliter room en 250 milliliter melk, as jy nie noodwendig soos ‘n rykman wil voel as jy die sop geeet het nie.  Die word nou by die not-pulp by-ge-zirr. Nou vat jy ‘n koppie warm water en roer daar twee blokkies bees- of skaap of hoender in totdat dit lyk soos swart koffie, net anders. Dan gooi jy een eetlepel van Cartright se medium-kerrie ook by en roer. Moenie die kwaai-brand-kerrie vat nie want dan maak jy “hot”-notsop, en die kinders kan dit nie eet nie. Dit word nou ook bygezirr, en siedaar die lekkerste sop duskant die magalies – hoewel dit ‘n bietjie dik kan wees. Jy kan dan, as jy wil sout en water na smaak byvoeg. Tot jou vrou sal moet erken – dis nou notten lekker.

Ag askies – ek het iets vergeet. Daar in die proses waar jy die notte begin kook moet jy een of twee gesnipperde uie ook byvoeg, sodat dit ook sag kan kook – dit maak net die verskil. Probeer dit gerus – jy sal nie terleurgesteld wees nie – not-‘n-tiekie !

Groete

---000---

KPJ Nel

2015-07-30

 


Directors: S.A.M Smit & J.F Koster - Copyright ©2018 HartiesNet (Pty) Ltd - our Disclaimer