Views!
HUNDREDS of daily LOCAL views - THOUSANDS of monthly LOYAL readers! THE MOST POPULAR ATTRACTION IN HARTIES!
Published:  2015-07-31 Views:  776
Author:  karelnel
Published in:  Recipe/Resepte
Roelfpap

Roelfpap

 

Een ding wat hulle sê ek mag maar maak is pap – en dis die heilige waarheid, tensy as hulle almal vir my lieg. Dis nie sommer sulke pap nie – dis speshjjjjilllll pap en dis nogal duur om dit te maak ook. Daarom kan mens dit nie aldag maak nie, net as mens ordentlike gaste kry – ek bedoel nou familie en vriende en so-aan – en nie vir elke Jan Rap en sy aap nie.

Ek gebruik altyd my “ventertjie” en ‘n gasbrander daarvoor. Ek het nou so gemeen – sommige soorte potte kry mens mos nie  meer na vier-en-negentig nie en die  destydse naam daarvan val vandag nie meer so lekker oppie tong nie – maar dat dit goeie potjies was, is ‘n feit. As mens dan gelukkig is en nog so een het, het jy mos ‘n voor-vier-en-negentig potjie. Die afkorting daarvoor is VVEN-potjie. Om dit nou maklik te maak en sodat almal kan weet waarna mens verwys, besluit ek om  die potjies van my voorts te herdoop na my “ventertjies”. ;-)

Nou is dit belangrik dat mens al die bestanddele moet reg hê as jy begin, want as die pap eers gemaak is, is hy gemaak en jy sukkel baie om dinge wat jy vergeet het by te voeg. Mens vat mieliemeel, so ‘n halfpakkie tot driekwart pakkie (maak seker dat dit nie miet in het  as dit dalk te lank gestaan het nie). Mens vat so ‘n klein bakhandjie sout. Mens vat twee blikkies roommielies. Jy vat twee pakkies gesnipperde varkskille (bacon) of as jy in Harties bly kan jy gesnipperde beesskille by Jasmyn gaan koop (macon). Jy vat ook een pakkie gesoute Kasjoe-neute. Ek dan rasper jy ‘n halwe blok Kaas. O ja! En dan vat jy water – so ‘n halwe potjie. Die gesnipperde vark of beesskille moet mens  gou-gou in ‘n pan braai met bietjie olietjies tot dit raais-krispies is, ek bedoel brosbruin is. As jy nie weet hoe nie vra vir vroulief om dit te doen terwyl jy solank ‘n Coke-kie knak.

As mens nou jou Venterjie uitkry, sorg dat hy skoon is van die vorige keer, annirs word jou kookwater bruin en dis nie lekker nie en dan moet jy voor begin. Ek verneuk gewoonlik so bietjie want ek kook ‘n ketel water met eskom en gooi dit terstond in die ventertjie wat reeds op die gas is – dan kook hy gou. Sodra hy lekker borrel dan bring jy daai handjie vol sout en gooi dit in. As alles normaal is dan hou die kookproses momenteel op, maar begin gou weer (anders het jou vlam – ek bedoel die gasvlam, dalk doodgegaan). Nou begin jy die mieliemeel in ‘n straaltjie bygooi TERWYL jy dit behoorlik roer sodat die meel nie klonte maak nie. Aanvanklik is dit ‘n piece of cake want alles roer nog lekker, maar later word hy styf !  In tegniese taal : Die viskositeit gaan op. Oplet nou – want net hier lê die verskil tussen Laerskool (Slap pap), Hoërskool (Stywe pap) en Kollege of Universiteit (Krummelpap). Wat jy natuurlik in gedagte MOET hou is dat soos die kookproses aangaan en die individuele mieliemeelkorrels vog opneem, so word die  mensgsel in die pot natuurlik stywer. As jy nie weet wat jy doen nie, soos die meeste mense maar is, dan is jou pap netnou-netnou so dik en styf dat jy dit nie meer kan roer nie. Sorrie vir jou.

Gelukkig is hierdie papresep darem  redelik vergewensgesind, hoewel ek nou nie sal sê hy sal elke Jan Rap en sy moordenaar laat verbykom nie.  Nou gooi jy die twee blikkies mielies in. Dit maak hom genadiglik bietjie slapper – maar meng die mielies goed deur. Dan kom die vark- of beessnippers – dit help ook ‘n bietjie want dit het ‘n bietjie olietjies daarmee saam. Dan kom die twee X 250 ml room. (Ha! Ha! – ek kyk net of jy wakker is!). En dan laaste die Kasjoe’s. En dan heel laaste die kaasraspers. Nou meng jy dit in dat die biesies bewe. Moenie vrees as hy nou effens te slap is nie, want onthou nou moet hy eers bietjjie kook en dit maak hom weer stywer.

Nou draai jy daai gasvlam kleiner as klein, sit venter se deksel op en los hom. So elke 20 minute kan jy hom net kom DIEP omroer met jou vrou se grootste lepel en dan los jy hom weer. Teen die tyd wat jy jou tweede of derde Coke geknak het, en annirs al iets sterkers agter die blad het, is die vleisies al amper eetbaar, en jy kan die pot  gaan haal – maar maak maar of jy die nuuskierige kyke nie raaksien nie, en die kapenaars wat nie pap eet nie ignoreer jy doodeenvoudig net. Dis sekerlik die rede hoekom hulle nie behoorlik rugby kan speel nie in elk geval.

Nou oplet -  die ou  pappie skei die seuns van die manne. Die wat nognie weet nie kom  skep eers slaaie (ek gril!) en dan so ‘n krieseltjie pap en ‘n stukkie vleis.  Die manne  (en vroue) met borshare (figuurlik gesproke natuurlik) kom vat pap en  skep daar vleis op :  Genoeg van. Die wat nou rerig ervaring het kom vra of hulle nie boonop so ‘n ou bakkie van die pap kan uitskep om huistoe te vat nie, wat mens ALTYD maar grootmoedig toestaan. Snaaks – so 50% plus van die eerste pieperige tipe kom later teruggesluip na die pot en skep dan ‘n behoorlike skep, maar mens maak maar of jy niks sien nie – mens wil tog niemand in sy leerproses  laat selfbewus wees nie.

Dis eers as almal weg is dat jy die skade kan betrag. Jy het nog gehoop daar is iets vir more-oggend ontbyt oor, want die pappie het ‘n manier om oornag te verbeter – hoe weet ek nie. En nou is daar nog net brandsels oor. Dit sal jou leer om die groter venter te gebruik volgende keer.

O ja – hoekom nou juis Roelfpap? Om dit iets ander te noem sou plagiaat wees, alhoewel ekself subtiel ‘n paar modifikasies ingebring het: Ek het dié pappie by my vriend Roelf Botha afgekyk!

 

Groete

k

---000---

KPJ Nel

2015-07-31

 


Directors: S.A.M Smit & J.F Koster - Copyright ©2018 HartiesNet (Pty) Ltd - our Disclaimer