Views!
HUNDREDS of daily LOCAL views - THOUSANDS of monthly LOYAL readers! THE MOST POPULAR ATTRACTION IN HARTIES!
Published:  2015-08-01 Views:  770
Author:  karelnel
Published in:  Recipe/Resepte
Traaidit

Traaidit

 

Moenounetasseflippenbliefnie vol fiemies wees van die begin af nie. Belowe? Ek  sê jou : Traaiditnet. Ek het dit baie geniet en niks daarvan oorgekom nie – inderwaarheid is dit aan te bevele.

Om nou te keer dat jy dadelik skanse opwerp teen my vertelling, gaan ek eers heelwat later met die deur by jou huis inval.

Dit werk baie goed op roosterbrood (Toast). Mens skep die substans, saam met van die sousies op die roosterbrood, met miskien ‘n eier daarby gebak (jou vrou?) , dan  jammie – selfs Spur kan nie so lekker ontbyt maak nie!!

Jy vat een ui, skil hom en sny hom in snippers. Gooi hom in ‘n klein kastrolletjie en spuit bietjie olyfolie oor hom. Nou braai jy hom met behulp van eskom tot hy galsterig is, ek bedoel glaserig is. Ek weet Amore het altyd op haar program ‘n spesiale naam daarvoor, maar ek kan nie mooi onthou wat dit is nie. In ieder geval jy braai-en-roer-braai-en-roer en later word die uie sag en wil-wil onder net  aanbrand. Dan roer-en-braai-roer-en-braai jy dat die biesies bewe en dan word  die hele spul so papperig en bruinerig – amper soos karamel, net anders.

Dis wanneer jy die bakkie met substans, wat jy klaar ontvries het, bygooi in die pot dat hy so sisssss soos ‘n slang. Roer hom gereëld ‘n biekie dat die boonstes soms onder kom en die onderstes natuurlik bo. Wanneer die substans gaar is, dit bly ferm, hoewel die tekstuur baie fyn is, dan sit jy twee tamaties by wat jy in skywe gesny het, ‘n bietjie peri-peri en so twee eetlepels van Ms Bôlls. Nadat jy hom ‘n paar keer deurgeroer het, sit jy die kastrol se deksel op en draai eskom so laag af as wat jy kan sonnir laat hy vrek. Hy met net jou potjie aan die prut hou tot  die eier en die roosterbrood gereed is. En as jou vrou saam eet, dan moet die tafel ongelukkig nog gedek word ook.

Dan is dit tyd vir lekker eet – soos ek gesê het: jammie. Sien paragraaf drie hierbo.

Natuurlik is al hierdie dinge nie moontlik  as jy nie die nodige substans bekom het nie. Ek bedoel nou nie die uie, tamaties, souse en dergelik nie, maar die hart van die  gereg. Dit kry jy (nogal regtig goedkoop) as jy of Spar, Of Checkers of Pick n Pay besoek, na die  oop-kistipe vrieskaste gaan, soek vir ‘n klein wit plastiekbakkie wat hard gevries is – daar is gewoonlik verskillende make, en glo my vry: sommige van hulle het nie eers die gevreesde halaalmerk op nie! Maar jy moet kan lees om die regte keuse te maak – moenie skrik nie – kyk mooi vir  “hoenderhartjies”.

Dis die heilige waarheid – jy kan dit maar gerus probeer! Daar bly nog gewoonlik genoeg oor vir more se ontbyt ook – vries hom net gou weer in , sommer in dieselfde bakkie (was hom net eers!) waarin jy hom gekoop het. Ek belowe jy sal teruggaan om nog te koop.

Groete

k

---000---

KPJ Nel

2015-08-01

 


Directors: S.A.M Smit & J.F Koster - Copyright ©2018 HartiesNet (Pty) Ltd - our Disclaimer