Views!
HUNDREDS of daily LOCAL views - THOUSANDS of monthly LOYAL readers! THE MOST POPULAR ATTRACTION IN HARTIES!
Published:  2015-08-03 Views:  765
Author:  karelnel
Published in:  Suggestion/Aanbeveling
Moeniedittraainie

Moeniedittraainie

 

Toe ons nog in die fleur van ons lewens was, het ‘n groepie van ons vir ons werk Taiwan besoek. Wat ‘n ervaring!

Ons was wel nie jonk en jukkerig nie, maar wel nuuskierig en skrikkerig. Daarom het ons een of twee aande in ‘n groep na werk die taxi gekry en na ‘Snake Alley’ afgesit. Daar is dit in die nag so besig soos elders in die dag in die soort-van agterstraatjie. Straatverkopers, restourante (as jy dit so kan noem), klein winkeltjies, bordele en alles wat jy aan kan dink en nie aan kan dink nie.

Dis toe ons nader kom dat ons die kring mense sien staan by die een  toonbank, besig om mekaar te verdring om te sien wat daar aangaan. Ons skaar ons toe by die kring, en omdat ons bietjie langer as die gemiddelde chinees is, kyk ons sommer bo-oor hulle koppe. Die kunstenaar, of blokman of wat jy hom ookal wil  noem is hier besig op ‘n glastoonbank digby die straat, en agter hom is ‘n restourantjie met klein tafeltjies waar hier-en-daar ‘n persoon sit en wag.

Maar ons het nie veel kans om na die restourant en die gaste te kyk nie, want hier vlak voor ons, op die glasblad staan twee kobra’s en bakkop maak. Die blokman speel met hulle, klap hulle agter die kop dat hulle platval en weer opstaan. Blykbaar maak die glasblad dat hulle nie ordentlik kan “perform” soos ‘n slang moet “perform “ nie. Onder die glasblad in die toonbank lê daar nog heelwat van diesulkes en wag. Nodeloos om te sê ons staan toe maar versigtig ‘n bietjie suintoe, maar ons wil ook nie weghardloop soos lafharte nie.

Dis toe dat die mannetjie die een slang so 20-30 centimeter agter die kop gryp dat die slang se kop en  nek so styf vooruit staan. Met een beweging druk hy hom onder die toonbank in en toe hy hom terugruk is sy kop af. Wat ons nie geweet het nie is dat hy een of ander Meerkat of ‘Racoon’ in ‘n hok onder die toonbank gehad het en hy speel nie met slang se kind nie maar gaan vir die kop met een hap. Hoewel die kop af is, kronkel die lyf nog een stryk deur.

Nou kom die blokman se vaardighede na vore. Eers druk hy die slang se lyf van agteraf na vorentoe en tap die bloed in ‘n klein kelkie, wat terstond na een van die gaste in die restourant gaan. Dan  trek hy die slang se vel in geheel af, soos ‘n mens ‘n wors stop – net in reverse, en hy hang hom aan sy stert se punt op. Hy sny hom oop en die gal word ook in ‘n kelkie (miskien met wyn) uitgedruk en vir ‘n gas gegee.

Toe’t ons maar liewer geloop – want ons wou nie sien hoe die arme slang opgesny en gebraai word nie. Genoeg is genoeg.

Ek’t my tot op daardie tydstip verbeel ek haat Mc Donalds met hulle amper-plastiese hamburgers. Maar weet julle hoe dankbaar ek vir daardie groot M was toe ek een kry daar in Taipei? So – moenie dit traai nie. (Ek  pik nou nie op Mc Donalds nie)

 

Groete

k

---000---

KPJ Nel

2015-08-02

 


Directors: S.A.M Smit & J.F Koster - Copyright ©2018 HartiesNet (Pty) Ltd - our Disclaimer