Views!
HUNDREDS of daily LOCAL views - THOUSANDS of monthly LOYAL readers! THE MOST POPULAR ATTRACTION IN HARTIES!
Published:  2014-12-15 Views:  1038
Author:  karelnel
Published in:  Religion/Geloof
Die Kerk Se Tweede Skof Van Vyfhonderd Jaar

Die kerk se tweede skof van vyfhonderd jaar

Wanneer mens na die kerke van ons dag kyk, kan mens nie help om jou te verwonder oor die verskeidenheid en die verskille nie. Op die oog af lyk die verskille baiekeer onsinnig, maar daar is baiekeer ‘n hele geskiedenis daar agter, meestal gedrywe deur deur menslike emosies en visies van kerkleiers. Die boekie van Renwick, ‘The story of the church’ gee ‘n maklik leesbare opsomming van die kerkgeskiedenis van meer as twintig eeue. Van die kerkstrominge van eeue gelede het die grondslag gelê vir verskille wat vandag nog tussen kerke voorkom. Hierdie beknopte opsomming verduidelik wat vanaf ongeveer die jaar 500 nC op die kerklandskap gebeur het.

Die middeleeue neem ‘n aanvang teen die einde van die sesde eeu toe Gregorius I in 590 die pous word. Hy was ‘n briljante heerser en was een van die vernaamste argitekte van die pousdom. Hy word deur goeie politiek een van die mees effektiewe politieke magte in Italië. Hy verkondig dat daar geen redding buite die Rooms-Katolieke Kerk moontlik is nie. Hy stuur Augustyn as sendeling na Engeland, waar die Evangelie reeds in die derde eeu gehoor is, maar wat weer in 449 deur ongelowige Anglo-Saksers van Duitsland oorgeneem is, sodat net in die weste van Engeland die Keltiese kerk oorgebly het. Die kerk in Canterbury word deur Augustyn gestig, en in 604 word St Paul’s gestig deur Mellitus as eerste biskop van Londen.

Die kerk het teen hierdie tyd reeds drastiese veranderinge ondergaan. Die pous het daarop aanspraak gemaak dat hy die opperhoof van al die kerke was. Die nagmaal is gesien as ‘n offer wat weer-en-weer gebring word en die transsubstansiasieleer het sy beslag gekry. Die leerstuk van die vagevuur - wat uit heidense godsdienste kom - is geformuleer. Daar is gebede vir die dode en Maria-aanbidding ingevoer. Die verpligte belydenis van sonde is ingevoer. Spesifieke aanbiddingsplekke het meer en meer weelderig en vol beelde geword. Die altaar, wat nooit in die eerste kerk voorgekom het nie, het weer ‘n belangrike rol begin speel en die kerkargitektuur is wesenlik daardeur beïnvloed. Die priester was nou deel van ‘n aparte stand wat ‘n spesiale posisie verkry het deur sy ordening. Hy het ook spesiale priesterdrag gedra. Die priesterskap van elke gelowige was nou grootliks vergete. Die gebruik van wierook, wat ‘n heidense gebruik was, het ook in die kerk ingekom.

Die stigting van, en lewe in, kloosters het ‘n baie belangrike rol gespeel in die kerk in die Middeleeue. Die kloosterlewe spruit uit ‘n onnatuurlike asketiese houding wat reeds deur Paulus afgewys is. Die idee van kloosters is baie sterk onder Boeddiste en is dus nie  ‘n  oorspronklik Christelike gedagte nie. Een van die eerste kloosters is deur Panchomus (242-346) gestig in Tabanessie, Egipte. Verskeie ordes het so ontstaan soos die Benediktyne, die Franciskane, die Dominikane en ander. Hierdie kloosters het merendeels sekulêre hulp aan die samelewing gebied.

In 570 begin Mohammed optree in Arabië en in 622 moes hy uit Mekka vlug.  Dit word as die begin van die Moslemse jaartelling geneem. Hy ontvang die Koran as openbarings direk van die “Engel Gabriel”.  In Sirië vernietig die Moslems bykans 10 000 kerke.  Hulle neem ook Noord-Afrika, Spanje en Frankryk in (733nC).  By Tours word hulle deur die Franke gestuit wat dit een van die belangrikste oorloë ooit maak, aangesien dit verseker het dat Europa Christelik kon bly.  Hierna het die kerke uit Engeland baie sendelinge in Europa ingestuur. Twee Engelse persone was baie prominent met hulle sendingwerk in Duitsland, te wete Willibrand en Bonifacius (“The Apostle of Germany”).  Die Frankiese konings gaan in die tyd in ‘n politieke alliansie met die pous en op Kersdag 800nC word Karel I deur die pous gekroon as die Romeinse Koning van die Heilige Romeinse Ryk van die Weste.

Ongeveer in die jare 850nC word sekere vervalsde pouslike geskrifte in die kerk versprei wat die doel gehad het om die pouslike aansprake van heerskappy oor die staat te ondersteun. Die belangrikste is die een wat handel oor die Donasie van Konstantyn. Konstantyn sou kwansuis 500 jaar tevore reeds met sy doop sy koningsheerskappy aan die destydse pous oorhandig het. Dit was natuurlik nooit so nie. In die 9de eeu val die Moslems ook Sicilie in die suide van Italië binne. Oor die algemeen was die gewone mense baie onderdruk - ook deur die priesters. Die pousdom het verval tot ‘n versameling van boosdoeners. Op ‘n stadium was ‘n sedelose vrou Theodora en haar twee dogters op die pouslike troon en in die 11de eeu was daar op ‘n stadium tot drie gelyktydige aanspraakmakers op die troon.  Intussen word Denemarke vroeg in die 9de eeu bereik met die evangelie, asook Noorweë.  In 968 bereik die Evangelie Pole en in 988 vir Rusland waar veral die Griekse Ortodokse kerk ‘n sterk houvas verkry het.

Die pouslike gesag bereik ‘n hoogtepunt toe Hildebrand die troon bestyg in 1073nC en homself vernoem na Gregorius 7. As verteenwoordiger van Christus matig hy hom aan om selfs koninkryke te kan wegneem en almal op aarde most hom erken.  Hy verneder Henry die vierde van Duitsland in 1075. Teen hierdie tyd was die priesterstand reeds ‘n gevestigde aparte klas.  Tussen die jare 1095 en 1270 vind die agt kruistogte plaas wat hoofsaaklik ten doel het om Palestina van Moslem- heerskappy te bevry. Die kruistogte is grootliks mislukkings en derduisende mense sterf.  Dit het egter die prestige van die pous verhoog. Ten tye van Innocentius se heerskappy (1198-1216) word die hoogtepunt van mag gehandhaaf en Koning John van Engeland en Koning Philip van Frankryk word voor hom verneder.  Bonifacius VIII verkondig dat onderwerping van almal aan die pous van Rome nodig is vir redding.  Hy word uiteindelik deur Koning Philip gearresteer en hy sterf.  Onder invloed van die Franse Koning word die pous vanaf 1305-1377 na Avignon geskuif.  Na die terugkeer van Gregorius die 11de na Rome en sy afsterwe word in 1378 twee pouse verkies: Urbanus VI in Italië en Clement VII in Avignon.  Hierdie skeuring gaan voort vir 40 jaar.

Sedert die 7de eeu was daar reeds splintergroepe wat die Roomse Kerk ge-opponeer het. Daar was die Pauliniese groep by die Eufraat; Bogomiëls in Bulgarye/Bosnië; Berghardts in Nederland; die Albigentse in Frankryk en die Waldense in Noord-Italië.  Hulle het getuig teen wat hulle gesien het as die booshede van die Roomse kerk en het ‘n eenvoudige lewe en aanbidding vry van Roomse oorheersing nagestreef. Die Albigentse is feitlik heeltemal uitgeroei deur die Roomse inkwisissie wat deur die Dominikane beheer is.  Ook binne die Roomse Kerk het opposisie ontstaan met die twee belangrike persone John Wycliff (Oxford) (The Morning Star of the English Reformation) en John Hus van Praag.  Wycliff het die Vulgaat (Latynse Bybel) in Engels vertaal wat tegelyk ondersteuning en vervolging uitgelok het.  Hus is in 1415 buite Constance verbrand.  So het die tyd begin ryp word vir die Hervorming.

Almal weet dat die nederige Man van Nasaret gesê het Hy het gekom om te dien. Mens wonder hoe die kerk so ver van die basiese beginsel afgewyk het dat magspel en politiekery so oorheersend belangrik geword het in die kerk? Hy het tog gesê die een wat die grootste wil wees, moet almal se dienskneg word, en Hy het dit self gedemonstreer deur voete te was. Sal ons ooit Sy boodskap verstaan?

---000---

Opsomming deur : KPJ Nel


Directors: S.A.M Smit & J.F Koster - Copyright ©2018 HartiesNet (Pty) Ltd - our Disclaimer