Views!
HUNDREDS of daily LOCAL views - THOUSANDS of monthly LOYAL readers! THE MOST POPULAR ATTRACTION IN HARTIES!
Published:  2015-08-03 Views:  788
Author:  karelnel
Published in:  Pets/Troeteldiere
Siessa!

Siessa!

Katte is iiieeewwilll !

Daarby is hulle nog onrein ook aangesien hulle nie herkou nie en ook nie gesplete hoewe het nie.

Ons het op die oomblik vyf van die ellendige goed innie huis en die slegte nuus is dat minstens vier het ‘n goeie kans om my nog te oorleef. Soos die statistiek tans is sal drie dalk vir Ronel nog ook oorleef. Net een sal seker een of ander afsienbare tyd die spreekwoordelike emmer skop, maar die annirs is so fiks soos die spreekwoordelike viool – tensy mens natuurlik iets daraaan doen.

Toe ek laas in die Namakwaland was, koop ek ‘n duur paar opregte ‘Hi-Tecs’ sodat dit nie my voete seermaak as ek stap nie. Hulle is sooo lekker – hulle is elke sent werd van die honderde Rande wat ek met my kaart daarop uitgegee het. Ek het so aan hulle vasgegroei, dat ek hulle skaars wil uittrek as ek saans gaan slaap, maar mens kannie met jou skoene gaan bad nie.

Nou hoekom sê ek dat katte boos is? Om dit maklik en verstaanbaar te maak sal ek dit puntsgewyse behandel:

  1. Hulle slaap nie waar jou vrou vir hulle bedde gemaak het nie.

  2. Hulle spring skelm in die nag op jou bed, veral in diewinter, en kruip suutjies tussen jou en jou vrou in.

  3. Hulle doen dit weer-en-weer al skop jy hulle herhaaldelik van die bed af. En elke keer is hulle verontwaardig.

  4. Hulle is vol fiemies en eet nie die pille wat die troeteldierplek verkoop en wat ‘n vee-arts aanbeveel nie

  5. As jy in die oggende in die kombuis kom dan kerm hulle jou ore van jou kop af om kos te kry

  6. Een is so vermetel en lê in haar kooi en begin al vyf uur of ses uur al kerm dat jy moet wakker word en opstaan vir kos.

  7. In die winter word die ouer katte te lui om uit te gaan om te gaan pieee. As jy gelukkig is gaan sit hulle in vroulief se potplante op die stoep. Anders vind hulle plasplekkies in die badkamer of ander ondenkbare plekke.

  8. Soms het hulle die aaklige gewoonte om by ‘n gordyn of ‘n gas se kleretas te gaan ‘nader-agteruit-reverse’, dan, terwyl die stert so tril, vind daar ‘n chemiese merking plaas.

  9. Hulle kots sommer in die middel van die vloer en dan beter jy hulle nie jaag nie anders kots hulle onder die bed of tafel waar jou vrou dit moeilik kan skoonmaak.

  10. Hulle baklei met mekaar met ‘n helse lawaai, veral in die middel van die nag.

  11. As mens nie betyds baie geld uithaal om te voorbehoed nie, dan maak hulle siklies kleintjies soos, ek bedoel vir, afrika.

  12. ‘n Ma-kat het ‘n vieslike manier om haar kleintjie se alie af te vee

  13. As mens ‘n muis was sou hulle jou sweerlik opgevreet het, sonder om ‘n oog te knip.

  14. As mens nie oppas nie dan gaan jou honde dood van katgriep

  15. En dan – soos my ma sou gesê het: Bid jou dit aan! – een ellendeling pieee BINNE IN MY Hi-Tec!!!

Hulle is joesliss verby en omdat hulle onrein diere is is hulle nie eers ‘n ordentlike bron van proteine nie. Miskien is daar erens in die ooste ‘n arm honger ras wat katte eet – ek sou graag wil kontak maak. Wonder of mens hulle kan google?

Groete

K

---000---

KPJ Nel

2015-08-01


Directors: S.A.M Smit & J.F Koster - Copyright ©2018 HartiesNet (Pty) Ltd - our Disclaimer