Views!
HUNDREDS of daily LOCAL views - THOUSANDS of monthly LOYAL readers! THE MOST POPULAR ATTRACTION IN HARTIES!
Published:  2015-08-03 Views:  1000
Author:  karelnel
Published in:  Stories
Ds Awie Vertel

Ds Awie Vertel

 

Dominee Awie vertel my eenkeer ‘n staaltjie oor  een van sy menige ervarings met boemelaars. Hulle pastorie was mos digby die kerk en naby die hoofpad waarlangs die soorte gereëld verbygetrêvil het. Hulle gaan nie verby nie – hulle trêvil verby. Seker daarom dat die ou mense hulle altyd trêvillaars genoem het. So – met die kerktoring as die navigasiebaken was die pastorie gewoonlik die eerste pitstop vir hulle inniedorp. Wie weet – miskien sou die man van die kleed vir hulle darem ‘n ietsie hê- ‘n mens worre mos dors van die langpad? Nou glo ek die bedienaar van die woord soos hy gesê het, dat om ‘n hulpie te verleen so nou-en-dan kan nog gaan, maar gedurende die migrasieseisoen is dit darem net te erg.

Ewenwil, so lui die verhaal, die dag staan hy so – ewe ‘minding his own business’ terwyl hy in sy vrou se tuin werk toe  hy daar om die draai twee manne sien nader kom – nou nie so haastig dat mens hoef te skrik dat die wind jou sal omwaai nie. Hulle parkeer hulleself toe ook daar naby sy hek onder ‘n koelteboom – darem ‘n veilige afstand weg. Dit word gou duidelik waarom – want hulle verval in ‘n ernstige sessie van kajuitraad.

Na die moeilike deliberasie staan een van die twee op en kom voetjie-vir-voetjie na die hek toe aan en beduie vir die dienaar van die woord dat hy graag  hom wil spreek. Ek veronderstel dit was na die gebruiklike  “hoe gaan dit en dies meer” dat die man vra of die dominee nie vir hulle so ‘n ietsie het nie.

Nou – die dominee was nie onder ‘n kalkoen uitgebroei nie, en teen die tyd het hy netsoveel ervaring gehad as die twee geluksoekers gesamentlik. Hy is toe reg vir hom en bevestig dat hy inderdaad ietsie vir hulle het. Hy sal hulle ‘n noot of twee in die hand stop sodra hulle gou-gou die tuin omgespit het.

Die pelgrim verstar daar op sy spore en kry so ‘n vêraf trek in sy oë soos ‘n hond wat sy ding doen op jou grasperk. Na diepe nadenke sê hy toe hy moet die saak net gou eers met sy makker en mede-pelgrim bespreek. Hy is toe  weer terug na die boom waar die deliberasie hervat is, maar die keer het dit nie so lank geduur nie.

Die boodskapper  kom toe sleepvoetend terug na die dominee en breek vir hom die nuus: “Baie dankie dominee – maar ons het besluit om maar liewer vorentoe te gaan!”

Groete

k

---000—

KPJ Nel

2015-08-03

 


Directors: S.A.M Smit & J.F Koster - Copyright ©2018 HartiesNet (Pty) Ltd - our Disclaimer