Views!
HUNDREDS of daily LOCAL views - THOUSANDS of monthly LOYAL readers! THE MOST POPULAR ATTRACTION IN HARTIES!
Published:  2015-08-04 Views:  827
Author:  karelnel
Published in:  Interesting/Interessant
Reis In Nigerie

Reiservaringe uit  Nigerië - 14-21 Mei 2000

 

Hoe sê mens  oor die eerste nag in Lagos? Hoog uit die lug lyk die reuse  uitgespreide stad se liggies maar flouerig, behalwe hier en daar ‘n straat  wat bankvas staan met die motorligte. Met die afstap van die vliegtuig  slaan die drukkende hitte van die-naby-die-ewenaar jou met ‘n passie. Die lughawe probeer hard om Westers te wees maar oral slaan Afrika deur: Lugversorgers wat nie werk nie, ‘n vervoerband wat kreun, roltrappe wat staan en mense wat oral ledig rondhang. Die bus wat vir ons gereël is is vêr te klein en styf ingeprop durf ons die strate aan - wie weet waarheen? Al is dit 10 uur op ‘n Saterdagnag is die verkeer baie druk. Baie van die strate is donker behalwe vir die motors wat orals wemel soos miere. Langs sommige van die strate sit straatverkopers by hul klein tafeltjies met hul ware hoog gestapel rondom ‘n primitiewe parrafienlampie, en duisende mense beweeg oënskynlik doelloos rond in die  eindelose-oral-agterstrate van die lewend-sterwende stad.

 

Die hotelvoorportaal van die Ikoyi hotel is sommer op die amper-straat. Na ‘n lang gesukkel by die een toonbank en vorms invul, moet ons by die ander toonbank by die kassier in dollars betaal, alles terwyl die oorverdowende doef-doef van Afrika musiek uit die nabye nagklub  ons as besoekers vergas. Sommer uit die niet verskyn ‘n paar uitlokkend aangetrekte meisies van die nag, met net genoeg van hul ware ontboesem om aandag te trek, en probeer hier en daar geselsies aanknoop. Uiteindelik, met die sleutel in die hand, en bagasie agternagesleep gaan ons na die kamer op die sewende vloer. Ek en nog ‘n kursuslid moet die kamer deel vir die nag. Die halwe hysbak bring ons darem bo met ‘n gebewe. Buite die deur van die kamer is ‘n stuk van die muur weggebreek en die riool en waterpype is blootgelê soos die bene in die skelet van ‘n hand. Die kamer is Afrika: Medium vuil, gehawend en baie bedompig. Die badkamerlig werk gladnie, die bad is baie baie vuil, daar is geen toiletpapier nie, die stort spuit net so 3 of 4 straaltjies koue water. Ergste van alles is : Daar is net een dubbelbed met ‘n vuil-pienk dik wolkombers wat my laat gril. Die bed is half netjies opgemaak, maar dit wek die suspisie dat daar al andere op geslaap het. En nou nog die hele nag op die bed slaap met ‘n ander man ! Kan jy jou indink! Net toe ek op die kombers wou gaan lê is daar genadiglik ‘n klop aan die deur. Dit is Dirk - Ons beweeg uit! Kry julle goed en kom! Ons moet egter vir elke kamer 10 dollar boete betaal. Dan weer met ‘n oorvol kleinbus deur die donkerstrate na die voilgende hotel reis - die keer darem  soos ‘n regte huis waar elkeen kan lekker slaap op jou eie skoon bed.

 

Dieselfde oorvol bus neem ons die volgende oggend na Lagos se tydelike binnelandse lughawe op pad na Abuja, die hoofstad. Net die vorige week  het die binnelandse terminaal by die lughawe glo afgebrand, en die owerhede moes  dringend fasiliteite wat in die dertigerjare deur die Royal Air Force gebruik is weer in gebruik neem.  Nêrens is ‘n robot of ‘n padteken of ‘n straatnaam te siene nie. Die bykans ‘n uur se gestoei in die verkeer lê vir ons die stad bloot, soos ‘n seer wat nie gesond wil word nie. Oral is alles half. Meestal half afgebreek. Betonmurasies en bourommel langs skelette van nuwe geboue wat halfpad in die groei gestuit is. Hier en daar is ‘n half mooi gebou en verder oral vuil en vervalle reghoekige betongeboue wat dekades lank nie  iets soos verf geken het nie. Dit is asof die opbruisende lewe in die stad netnie kan deurbreek deur die weefsel wat besig is om te verderf nie. ‘n Stryd tussen lewe en dood woed, terwyl derduisende mense daartussenin krioel.

 

Die bus draai in ‘n stegie af, met vuil mure weerskante en hoewel jy enkele sterte van groot vliegtuie sien, kan dit tog nie die lughawe wees, so tussen die vervalle amper-plakkersbuurt nie?! Die bus worstel in ‘n oorvol ruimte in wat mens baie laat dink aan ‘n motorbegraafplaas, want karre staan oral chaoties rondgeparkeer en mense  beweeg oral heen en weer. Met die baggasie beweeg ons  voort na ‘n langerige geboutjie wat op ‘n Afrikanerboer se plaas nie eers vir ‘n ordentlike koeistal kon deug nie. Dit is ‘n ou betonstruktuur sonder behoorlike deure en vensters. Dit is vuil en ondraaglik warm en gepak van die mense binne. Ru gesweisde  staalrelings verdeel die waggebied in lane waarin ons moet tostaan, kompleet soos die  relings wat gebruik word om koeie in die melk uitmekaar te hou - twee lane vir elke redery. Voor die rye is ‘n vuil houtmuur waarin openinge ingesaag is, almal met diamantdraad toegespan - dit is die grondpersonel se toonbanvensters. Links onder die openinge staan groot rooi meganiese skale en daarlangsaan nog ‘n opening in die houtmuur waardeur die bagasie êrens na binne gestop word - wie weet waarheen? Teen die houtmuur is papiere vasgeplak waarop die redery se naam ru met die hand geskrywe is, asook die  jongste vlugbestemmings en die tyd. Behalwe ons groep is daar nog talle ander wat in die toue kriewel, met dik pakke feitlik waardelose note, om ‘n plek op die vliegtuig te bekom. Ons span se kaartjies word almal ingeneem, weet-nie-wat-mee-gedoen nie, ‘n sitpleknommer sommer bo-op geskrywe, en dan weer teruggegee. Ons deel die kaartjies in die groep uit deur elkeen se naam uit te skree bo die helse lawaai en te midde van die ongelooflike chaos in die amper-koeistal.  Nadat die kaartjies nog ‘n keer versamel, en ingehandig en teruggehandig is, stap ons uiteindelik met ‘n nou gangetjie langs na die vertreksaal. Dit is ‘n groot oop ruimte met staalbank-stoele en plafonne wat uitsak. Die plek het gate in die muur waar vensters was. Teen die dak hang daar hier-en-daar drielemwaaiers, elkeen met nog net twee lemme aan - nodeloos om te sê - roerloos in die  drukkoker hitte - net monumente van beter dae. ‘n Vuil deur aan die agterkant sê “Toilet”  en in die een hoek is ‘n regop draadstaander met koeldranke en bier en wat nog, vir die wat ‘n kroeg nodig sou hê. Ons het skaars gesit of ‘n enkele megafoon luidspreker op ‘n driepoot staander dui die vertrek van ons vlug aan. Terwyl ons deurtou na die gat in die muur soos ‘n waenhuisdeur, sien ek die aankomssaal is sommer dieselfde saal, net om in te gaan by ‘n ander waenhuisdeur. Met ‘n volgepropte bus word ons om ‘n veiligheidsmuur gebring tot langs die vliegtuig waar die bagasie  reeds op ‘n handgedrewe trollie aangekom het. Nou moet elkeen sy  baggasiestukke uitken, sodat ‘n beampte ‘n kruis met wit kryt daarop kan maak en dit in die vragruim gelaai kan word. Dit veroorsaak dat die passasiers in lang toue aan die kant van die aanloopbaan in die  felle son moet staan en wag , om hul baggasie te kan uitken, en daarna met die trappies die vliegtuig kan bestyg. Aanvanklik gaan sit die passasiers volgens die nommers wat op hul kaartjies geskrywe is, en dan raak dinge deurmekaar. Dan sit almal sommer maar waar hulle ‘n oop plek kry. In die vliegtuig is dit drukkend warm en benoud, en die meeste passasiers gebruik die vliegtuig se gehawende veiligheidskaarte om hulleself mee koel te waai.. Watter saligheid toe ons in die lug is en die lugversorger sy koel lug oor ons waai. Uit die lug kon ons duidelik die ontsaglike groot stad sien met sy hoë geboue en hotelle op die strandfront en op die eilande en die styf ingepakte, vervallende gebouemassas, ingeryg amper soos plantluise op ‘n besmette blaar, totdat die wolke genadiglik die skouspel vir ons versluier.

 

Abuja se lughawe lê in ‘n wêreld soos die Mopanievelde van Noord Transvaal. Hier en daar is reuse rotsberge wat tot so hoog soos die Magaliesberge uit die grond peul - glad soos reuse bleskoppe wat onder die aarde begrawe is. Abuja, ongeveer 40 km verder is ‘n uitgestrekte stad wat tussen die Mopaniebome begin groei het, en vanweë sy jonkheid nognie sulke erge tekens van verval vertoon nie. Toe die luukse bus ons by die  staatsgastehuis aflaai, was ons dankbaar om uit die warm, droë hitte te kon wegkom om in ‘n koel enkelkamer te gaan ontspan.

 

In Abuja het ons eers die minister van die staat se kantoor gaan besoek. Die nuwe geboue is reeds goed  vuil en verniel. Oral in die gange en die kantore hang mense rond of beweeg heen en weer - dit lyk nie of iemand werk het om te doen nie. Ons kan eers nie die minister sien nie want hy is besig met ‘n groep van die pers. Daarom moet ons maar in twee kantore sit en op hom wag. Uiteindelik word ons langs ‘n gangetjie met ‘n verslete rooi mat langs gelei na die konferensiekamer waar ons by die konferensietafels  gaan plaasneem het. Dit is netjies maar daar is tekens van verval. Een van die blindings hang skeef aan sy reling. Daar is oral foto’s van vorige ministers. Omtrent 10 van sy amptenare kom een-een in die vertrek in en alles  word naarstigtelik reggemaak vir sy koms. Die TV- en klankopnames  word reggestel, en dan kom hy en sy permanente sekretaris binne. Die permanente sekretaris is ‘n stil man geklee in ‘n koningsblou tradisionele Afrika-pak. Hy self dra ‘n onopvallende wit een. ‘n Skakelbeampte begelei die verrigtinge wat deur ‘n Moslemgebed ge-open en met ‘n Christengebed afgesluit word.

 

Ons besoek ook die munisipale kantore van die munisipaliteit van Abuja. Dit is weereens ‘n redelike nuwe gebou maar gehawend van baie gebruik. Die plek is oorvol met honderde amptenare wat oënskynlik doelloos rondstaan. Ons word in ‘n kleinerige konferensiekamer ingeryg waar die hele raad van hooggeplaasde amptenare wag om ons te ontvang. Hulle word elkeen op hulle titels voorgestel en elkeen kry ‘n rondte applous. Dan ook elkeen van ons. Dit is duidelik dat ons besoek as belangrik beskou word. Terwyl die toesprake aan die gang is word pasteie en  vrugtesap aan ons uitgedeel wat so onderlangs geet word. Na die tyd word ‘n groepfoto van ons met hulle saam geneem en die TV is immer teenwoordig om ons elkeen af te neem.

 

Ons reis die volgende dag  na die noorde, na Kaduna, en dit was weer ‘n openbaring. Dit is ‘n redelike goeie dubbelban teerpad - soos ‘n snelweg, ‘n slagaar, waarlangs die ekonomiese lewensbloed van die streek pols met ‘n onophoudelike stroom van motors, busse en vragmotors. Daar is geen sprake van heinings langs die pad nie. Tussen die mopaniebome kronkel die pad voort vir kilometers en kilometers. Maar dit is asof die pad ‘n groot magneet is vir mense,  want feitlik  langs die volle lengte van die roete het mense kom nes maak vlak langs die pad. Skaars 30 meter van die pad af woon hulle in grasdakhuisies gebou met grondstene, en nog nader aan die pad is die stalletjies. ‘n Raamwerk word gebou  met krom houtpale wat uit die bos gekap is, bedek met ‘n ruwe grasdak en hier-en-daar een met ‘n kustig geweefde grasmuur omheen. Hier en vanhier  bemark hulle hulle eenvoudige produkte - vrugte, grondboontjies, sakkies met water, gedroogde peisangs, brood in plastieksakkies, penne en wat nog. Elke klompie kilometer waar daar byvoorbeeld ‘n petrolstasie is, is die konsentrasie van mense en strukture groter, want elke geleentheid waar die polsende verkeerstroom vertraag word, is geleentheid vir die honderde verkopertjies om met hul mandjies of skinkborde op die kop aan elke voertuig iets te probeer verkoop. Dit lyk of daar geen sprake van kindwees meer oor is nie, want elke kind is ‘n entrepeneur wat alles wat hy is moet gee in die nimmereindigende stryd om voortbestaan. Die tolhekke in die pad is vir hulle sommer ‘n groot geleentheid - want hier moet bykans almal stop. Dis net mense, mense, mense. Die impak hiervan tref mens net maar skrams wanneer jy in enkele minute by so ‘n toneel verbyry in die lugverkoelde bus, en ‘n mens kan jou nie indink in die werklikheid om onherroeplik vasgestrik te wees in so ‘n eindelose stryd om oorlewing nie. ‘n Mens  lees maklik die Verenigde Nasies  se syfers wat sê dat daar veertig of vyftig miljoen Nigeriërs is wat hongersnood ly, en dan besef jy nie dat dit hulle is wat langs die  paaie en strate krioel nie - en hulle is miskien nog die gelukkiges wat gesond genoeg is om te kan kompeteer om te lewe.

 

Die reis na die Noord-ooste die volgende dag, op pad na Jos, bring ons na sowat 15 kilometer in ‘n krioelende, polsende plakker-industriële buurt. Vir skere meer as twintig kilometer aanmekaar lê plakkerwinkels twee-, drie- tien diep, wanordelik, chaoties ingepak digby mekaar, almal oorlaai met goedere. Daar is ‘n onbeskryfbare ekonomiese lewe en vitaliteit wat tot die uiterste gedryf word deur die onverbidelike wette van die ongereguleerde vryemarkstelsel. Snaak dat die klein besighede groei in sulke areas - byna soos bakteriekolonies. Eers ‘n area wat oorwegend motors herstel - honderde van hulle. Motors word sommer so in die oopte reggemaak en die grond is swart deurdrenk van soos die olie gemors het. Dan ‘n area wat staal verkoop. Dan een wat hekke maak. Dan hout verkoop. Dan klere - en so hou dit aan. En hier-en-daar - op dieselfde ontwerp is daar ‘n  armoedige en vuil restourant, maar met ‘n deftige naam, of  ‘n gastehuis of ‘n kerkie. Die aand toe ons hierlangs terugkeer beland ons in ‘n ontsaglike verkeersknoop in die gewemel. In hierdie plakkerkolonie klop die ware hart van Abuja. Deur die streng toepassing van die reëls van ‘n Westerse stadsontwerp is die egte mense van die stad na buite uitgedrywe  na die buite-buitewyke. Terwyl die stad oënskynlik Westers groei en gedy, is die ware Afrika-lewe van die mense daar buite. Daarom is Abuja ‘n stad sonder ‘n hart.

 

Terug in Lagos, buite die binnelandse terminaal waar ons bykans ‘n week tevore vertrek het, vind ons weer ons busvervoer. Op pad uit word ons  omring met ‘n  stukkie  lewenstragiek. Die verminktes van die samelewing kom om daat te bedel van die klein persentasie van rykes wat dit kan bekostig om met die vliegtuig te reis. Een kom aan en kom wys teen die ruit dat albei sy hande afgekap is. Stomp agter die polse, en hoewel dit lank reeds gesond is steek die geel been uit. Hy bring die stompies na sy mond om te wys dat hy honger is. Dan kom nog een met ‘n lewenslose bruin kunshand wat by sy hempsmou uithang. ‘n Ander een kom met krukke aangesukkel met een misvormde been. ‘n Ander het een misvormde armpie wat verpiep slap langs sy sy hang. Desperaat klop hulle aan die busvenster. “Master don’t leave me!” As een iets kry dan kom die ander dadelik opgewonde , haastig nader om ook te probeer kry. Dit is ‘n hopelose saak wat jou hart opvreet totdat die bus genadiglik wegry.

 

Uiteindelik is die stad nie so vervalle as wat jy aanvanklik gedink het nie. Die lewe is net anders hier. Die mense is anders. En op hulle manier werk dinge tog vir hulle uit - hoe weet  mens nie. Dis net ons Westerse oog wat anders kyk, en anders sien. Die internasionale lughawe, lyk nou sommer baie beter vir ons as toe ons gekom het. Hoewel so baie dinge daar nie werk nie, en ons  moes baie lank staan in  die tou by die inweegtoonbank was alles soveel beter, want ons was op pad huistoe. Die volgende more vroeg was ons op Johannesburg internasionale lughawe. Die oggend was koud en vars. Die lughawe se werking was  so skrikwekkend effekitief, want ons bagasie is sommer dadelik op die  band beskikbaar en selfs die vloere is byna chirurgies skoon. En so eindig een van die merkwaardigste weke in my lewe.


Directors: S.A.M Smit & J.F Koster - Copyright ©2018 HartiesNet (Pty) Ltd - our Disclaimer