Views!
HUNDREDS of daily LOCAL views - THOUSANDS of monthly LOYAL readers! THE MOST POPULAR ATTRACTION IN HARTIES!
Published:  2015-08-04 Views:  898
Author:  karelnel
Published in:  Pets/Troeteldiere
Losieshuis

Losieshuis

 

Ons woon by Jean Bothalaan 4 Meerhof, by ons  vier katte en ons het 2 honde. Of ten minste so dink ek. Ek is nie seker of die katte ons as ‘hulle mense’ beskou nie – dis waar die onsekerheid lê.

 

Die oudste van die katte is Nimfie, maar ek noem haar ‘Witkat’. Sy doen mens elke aand die eer aan om op jou skoot te kom lê as jy TV wil kyk en sy brom kwaai sodra jy haar wil aftel. Sommige kere is mens selfs so bevoorreg dat sy teen jou boepie opklim en haar daar tuismaak om jou so af te skerm van die verderflike beelde van die TV-monster. In die winternagte laat sy my en die vrou darem toe om op ons bed te slaap, maar net omdat ons dit vir haar warm maak, want telkens as ons wakker word dan lê sy êrens tussen ons ingewikkel. Afjaag help nie. Net as mens jou rug draai, dan is sy terug, hoewel sy, soos al die ander katte haar eie slaapplek het. Hierdie gedrag het my laat wonder of so ‘n kat ‘n besondere kort korttermyn geheue het, of ‘n vasberade astrantheid of ‘n baie sterk wil of  ‘n goedhartigheid om mense te plesier met hulle teenwoordigheid.

 

Dan is daar Paaltjies, so genoem omdat sy haar naam moes kry terwyl daar ‘n Internasionale Krieketwedstryd aan die gang was. Haar bynaam is ook Pofstert aangesien sy ‘n sagte groot stert het wat altyd kietsregop staan met ‘n krul op die punt – maar bewaar jou as jy aan daai stert vat! Ek het haar op ‘n stadium ook Brommer genoem, want as jy haar optel en in jou arms rondskud  grom sy onaardig asof sy jou wil verwoes en blaas soms, maar dis net meer ‘blaf as byt’. Sy veg aanhoudend met die ander katte asof die Nel losieshuis uitsluitlik aan haar behoort. Mens kom dit ook agter aan die keel wat sy opsit as mens die blikkie katvleis in die aande oopsny. Partykeer as die vrou nie gou genoeg maak nie, en by haar verbyloop kry sy sommer so ‘n geniepsige sydelingse klap met ‘n enkele nael wat nie behoorlik teruggetrek is nie. Dis kompleet asof hulle jou laat verstaan dis jou voorreg en eer om vir hulle op tyd kos te gee – en ook nie enige kos nie – net die soort wat hulle wil hê – anders los hulle dit netso.

 

Dan natuurlik – as hulle nie lekker ge-eet het nie – dan kots hulle in die gang, waar jy lekker op dit kan trap: Natuurlik om jou die voorreg te gee om dit te kan opvee. Natuurlik is daar ‘n ritueel wat dien as voorspel tot die kotserasie en aanvanklik in my dommigheid het ek die kat probeer verwilder om by die venster uit te spring en die kotswerk buite in die tuin te doen. Die vrou het met my geraas oor sulke dommigheid, want sy het lankal geleer as mens dit doen dan gaan kots hy onder die klavier of onder die bed of onder die tafel, waar dit baie moeiliker is om skoon te maak. Algaande leert men.

 

Die ander een is Jieggie oftewel Langkat. Dis nou ‘n groot dierasie, want as hy mooi uitgestrek loop is hy van sy kop tot by sy stert se punt meer as ‘n meter lank. Die vrou het eendag gesê as daar soiets is soos ‘n christen-kat, dan is sy een. So ‘n lieflike temperament. Nooit  opruiend of opgeblase nie – kompleet soos 1 Kor 13 se liefde, en al blaas en kook Paaltjies ook hoe teenoor haar, lyk dit of sy altyd die ander wang draai en nooit die kwade toereken nie. Die beste onlangs was toe daar ‘n klein kietietjie in die bure se tuin aangekom het – ‘n weeskindkatjie – kompleet sonner pa of ma. Die dingetjie het seker byna verkluim en van die honger begin omkom. Dis toe dat Langkat ‘n haas gevang het en daar aangebring het! Soos my ma sou gesê het : Bid jou dit aan! In die volgende week het die kat toe die kleintjie op een of ander wyse na die Nel-losieshuis gelok en gewys om deur die venster te spring! Die kleintjie was egter ‘n klein pessetjie want toe die vrou hom wil optel verwoes hy haar voorvinger. Nodeloos om te sê die Nel losienhuis het nie plek gehad vir jeugmisdadigers nie en het toe maar die DBV gevra om hom te kom haal.

 

Die laaste een van die losieshuibewoners – of moet ek sê eienaars?- is Miaauie. Ook ‘n goeie temperament en hou haar skaars. Wat ek van haar hou is dat sy miaau dat die biesies bewe, maar sonder dat daar ‘n geluid uitkom – net die bek wat beweeg. Wat ‘n beskaafde dier! Sy het die gewoonte om in die middernagtelike ure vir ons ‘n halfdooie muis of ‘n dooie voël of akkedis  voor ons kamerdeur neer te sit – kompleet of dit een of ander slagoffer of spysoffer moet wees. Nodeloos om te sê die vrou waardeer nie die opofferende gebaar nie, en die offerdier beland met die gepaardgaande gegril in die asblik.

 

Hulle sê mos ‘n hond kyk op na jou – want hy dink jy’s sy meerdere en ‘n kat kyk af na jou (sit op die muur of op die klavier) want hy beskou jou as sy mindere. (‘n Vark kyk jou egter in die oë – want hy beskou jou as sy gelyke!) Ek wonder hoe lank die vermaarde katte ons nog sal duld in hulle huis???

 

Groete

---000---

KPJ Nel

2014-07-17


Directors: S.A.M Smit & J.F Koster - Copyright ©2018 HartiesNet (Pty) Ltd - our Disclaimer