Views!
HUNDREDS of daily LOCAL views - THOUSANDS of monthly LOYAL readers! THE MOST POPULAR ATTRACTION IN HARTIES!
Published:  2015-08-04 Views:  768
Author:  karelnel
Published in:  Stories & Unexplained
Watwo! Spoke?

Watwo! Spoke?

 Natuurlik glo ek nie aan spoke nie! Sulke dinge bestaan nie.

 

‘n Neef van ‘n neef van my vertel my nou-die-aand ‘n storie wat ek nie kon verklaar nie en ek hou nie van dinge wat ek nie kan verklaar nie. Hy het vertel dat hy by ons neef-hulle op hulle plaas gaan kuier het en dat hy in daardie voorste kamer geslaap het.

 

My neef het die plaas ge-erf van sy pa wat dit weer van sy pa ge-erf het. Die ou oom het hard gewerk en het toe welgesteld geword. Hulle het ‘n wonderlike plaashuis gebou met groot kamers, bree gange en pragtige houtvloere.  Byna rondom die huis is ‘n bree stoep gebou, soos die gewoonte daardie dae was. Die ou oom het baiekeer die gang afgestap gekom, van die kombuis af – na sy kamer toe, en dan op sy stoel gaan sit voor die venster, neffens sy hangkas. Net nadat ek my verstand gerkry het is die ou oom oorlede, en juis in sy kamer – die voorste kamer – as jy by die voordeur inkom, die gang af, en dan die eerste kamer regs.

 

My ouers en ons kinders het na die oom se afsterwe by geleentheid op die plaas vir ons familie gaan kuier – en dit was nog die dae van lig maak met kerse en lampe. Pa en ma het in die ruim voorste kamer gaan slaap. Dit was  laat na middernag dat die sports begin het.

 

Die neef van my neef vertel my dat hy ook een aand in dieselfde kamer geslaap het, en dis ongeveer drie-uur die oggend toe hy skielik wakker geword het.

 

My ma het vertel hoe hulle swaar voetstappe in die gang hoor afkom het en sy en pa het saam gewonder wat dit kon wees. Wat was hulle verbasing groot toe die voetstappe tot voor die kamer kom en by die deur indraai. Ek kan dink dat hulle teen die tyd in die pikdonkerte al bietjie benoud was.

 

Die neef van my neef vertel dat hy skielik die swaar voetstappe van die kombuis se kant af gehoor het – al met die gang af, tot voor die kamerdeur. Gelukkig was die deur toe. Die lig moes toe al aan gewees het want hy beweer hy sien toe hoe die  deurknop draai...

 

Ma en pa het verwilderd gelê en luister hoe die voetstappe by die kamer inkom tot by die gemakstoel, voor die hangkas waar daar toe ‘n harde klapgeluid was! Pa skree verbouereerd vir ma om die kers aan te steek en sy sê hy moet dit maar self doen terwyl sy haar kop toetrek met die komberse. ‘n Spook kan seker nie deur komberse byt nie, of hoe??

 

Die neef van my neef vertel toe hoe hy opgespring het en ‘n kierie agter die deur gegryp het en gevra het :”Wie’s daar?” Maar gelukkig was daar toe geen antwoord nie. Ek wonder of mens ‘n spook sal kan raakslaan met ‘n kierie?

 

Albei partye het vertel hoe hulle die volgende more, toe my tannie die koffie gebring het, haar gevra het of een van hulle dalk in die nag daar in die gang afgeloop het. Nodeloos om te sê, niemand wou verantwoordelikheid neem vir die nagtelike wandeling nie. Hoewel ek dit nie meer kan onthou nie – verneem ek dat toe die koffie kom die volgende more, was ma en pa se tasse gepak om huistoe te gaan...!

 

Liewer bang Jan as dooie Jan??

 

Groete

---000---

KPJ Nel

2014-07-14

 


Directors: S.A.M Smit & J.F Koster - Copyright ©2018 HartiesNet (Pty) Ltd - our Disclaimer