Views!
HUNDREDS of daily LOCAL views - THOUSANDS of monthly LOYAL readers! THE MOST POPULAR ATTRACTION IN HARTIES!
Published:  2015-08-05 Views:  1081
Author:  karelnel
Published in:  Stories
Viskassie

Viskassie

 

Vandag het ek pa se plastiek viskassie uitgepak. So ‘n groene – nogal ‘n Spinsport 1430! Flippen oulik - want as jy die geel plastiekknip oopmaak en die deksel oplig, dan vou vier laatjies met ‘n verskeidenheid vakkies voor jou oop, en so ook ‘n hele leeftyd van herhinneringe.

 

Die ou oranje pakkie Raja Kerrie is reeds stukkend en die blink foeliesakkie het Kerrie uitgemors wat nou onder in die kissie lê. Ek onthou die vispap wat pa altyd die vorige aand aangemaak het en in een van die balle pap is Kerrie sorgvuldig ingebrei – net reg vir die visse! Later jare het ek sommer bruinbrood saamgeneem, met damwater natgemaak en Kerrie bygemeng – maar ek kan nie onthou dat dit ooit resend suksesvol was nie. Miskien was daar te min Indiërvisse waar ons gevang het!

 

Onderin die kissie lê twee katrolle verpak in ‘n ou sokkie en ook ‘n houertjie met Forel-kunsvlieë – ‘n hele wêreld op sigself – Bye, Black Zulu’s, Blue Zulu’s en wie weet wat nog. Heelwat plastiesakkies is inmekaar gestop en met die oopmaak sien ek dat ellkeen ‘n klaar opgemaakte stroppie, met sinker en hoeke aan, in het – elkeen netjies gebind aan ‘n ‘swivel’ – net reg vir die aanhaak en gereedmaak vir ingooi – want as mens langs die water kom moet jy gou-gou ingooi, netnou mis jy die grote – al sit jy (uit ervaring gesproke) later die hele goddelike dag daar sonder ‘n byt. Dan is daar nog die ruwe vismes wat gebruik is om die visse kop-af te sny en skoon te maak en die ‘side-cutter’ om lyne en hoeke mee af te knip. Daar is gebruikte skuurpapier om die hoekies se punte mee mooi skerp te maak en ‘n verskeidenheid van plastiekdobbertjies – almal rooi en wit, en selfs ‘n ystervarpen wat vernuftig opgebind is om ‘n regopstaande dobbertjie te kan wees.

 

Die kissie is oral vol van loodsinkers – party witgeverf maar ander die dofgrys kleur van ou lood. Daar is een wat lyk soos ‘n moderne spuitvliegtuig – ‘n swaar knewel kompleet met twee vlerke en ‘n vin op die rug – net reg vir die see in die sand. Dan is daar ‘n klompie loodballetjies met gaatjies deur – sodat dit lekker op en af teen die lyn kan gly – ‘n sogenaamde ‘running sinker’ -  en nie maklik kan vashaak met die uittrekslag nie. Wie ken nie die ellende van ‘n lyn wat vashaak nie – dan moet jy die lyn styftrek en heen en weer langs die kant loop – selfs soms diep in die water in om die lyn te probeer loshaak. As dit nie anders kan nie, dan maar die lyn om jou arm draai en agteruit loop totdat die lyn met ‘n klapskoot losskiet en jy alles wat vooraan is verloor. Dan is daar nog die sinkers wat soos flessies lyk en ander druppelvormig met ronde ente – alles om tog netnie vas te kan haak nie.

 

Ek het baiemaal saam met pa gaan vang – maar meeste kere het ons omtrent niks gekry nie. Daar was die enkele kere in die ou dae soos byvoorbeeld toe ons op een dag by die brug ‘n groot klomp kurpers gevang het – blou kurpers met sulke rooi vinne. Hulle het tog te lekker gebyt aan die erdwurms. Ek ken die langerige vaal erdwurms van die Vrystaat wat mens so hoeklangs inryg, maar pa het die rooierige wurmpies gebruik waarvan jy sommer so ‘n bossie aan die hoek sit. Die draadsak was naderhand swaar van die visse. Laterjare kon jy nie meer waag om ‘n wurm in die water te sit nie – want die ellendige kanariekurpers het dit onmiddellik afgevreet. As die visse nie wou byt nie het pa dan maar uit radeloosheid tog wurms aangesit en dan tot vervelens toe die klein verpestings uitgetrek en geduldig maar weer van voor af ingegooi. Omdat ek basies lui is, het ek maar by pap of bruinbrood gebly, al het hulle nie eintlik daaraan gebyt nie.

 

In van die vakkies was daar hoeke – flippen baie hoeke. Daar was sulke grotes wat nog geblink het. Baberhoeke het pa altyd gesê. Net reg om ‘n platanna deur sy bek te haak, of ‘n dooie mossie waarvan jy die vere afgetrek het – of miskien ‘n klein vissie. Dan diep ingooi en hom laat lê. As daai Baber dan vat trek hy die lyn styf dat die poeliesman  daar staan en jy moet hom dan net kap. Dan is dit ‘n gestoei om hom uit te kry. Skies – maar behalwe die Sondagoggend in die Armykamp, langs die Limpopo, toe ek met ‘n stukkie rou steak gevang het, het ek nog nooit daardie ou groot Baber gekry nie. Dan is daar medium hoekies – party blink en ander geroes van die seegebruik. Dan is daar die skelmhoekies of die ‘vandermerwes’ wat se punt so teruggebuig is dat hy jou maklik steek as jy nie mooi met hom werk nie. Ek sien selfs ‘n drieangelhoekie tussen die klomp. Dan is daar ‘n klomp klein hoekies en nog ‘n klomp flippen klein hoekies. Smaak my op die ou ent is daar genoeg hoeke om die hele Hartbeespoortdam te kan leegvang.

 

Pa het nooit gedrink langs die viswater nie – ten minste nie die goed wat ek meen ander  vistermanne drink nie. Ek het gehoor hoe stresvol sy werk was – maar as hy langs die water was, was hy ‘n ander mens. Altyd besig, maar tog met ‘n rustigheid in sy siel as hy op sy selfgemaakte stoeltjie die poeliesman sit en stip dophou. Aanvanklik het ek en pa  kos vir die dag saamgebring na die viswaters, maar nadat ons by die dam kom bly het was dit baie makliker. Dan kon ek pa los dat hy maar aanhou vang en ek kon gou huistoe glip om eers tee, dan middagete en dan weer tee te gaan haal. En altyd was die vraag maar dieselfde as ek terugkeer –“Het hulle al begin byt Pa?” Dan het ons die mandjie oopgemaak, die eiers afgedop en saam met ‘n broodjie verorber. Selfs miskien ‘n worsie en ‘n piesang – en dan ‘n lekker beker koffie, wat pa altyd sonder melk of suiker gedrink het. Dit was altyd prêt as pa besig was om te eet en ‘n moedswillige kanariekurper pluk daai lyn dat hy daar staan – die adrenalien kon hom darem laat beweeg – glo my!!

 

In die kassie was ook ‘n verskeidenheid kurkproppe. Party was gebruik om vishoeke wat reeds gebind was op in te haak sodat die lynstroppies nie deurmekaar moes raak nie. Die ander het ‘n oulike draadkrul aan gehad en ek het eers gewonder waarvoor dit was, totdat ek besef het pa het hulle soms as poeliesmanne  aan die lyn opgehang, en nie gewone stukkie pap gebruik nie. Verder was daar nog ‘n botteltjie ‘reel oil’, ‘n tolletjie rooi gare, ‘n tolletjie wit rekgaring. En dan die kraaines – ‘n bondel lyne en hoeke en swivels wat hopeloos verstrik was en in ‘n bondel in die kassie gelê het – die moes ek maar weggooi.

 

Pa het my eendag iets merkwaardigs geleer by die viswater. Toe hy nog so op sy lae stoeltjie gaan sit bars sy broek agter van onder tot bo toe oop langs die naat – en waar kry mens nou langs die water ‘n ander broek? Ek vra hom toe ontsteld oor wat ons nou gaan maak- menende dat hy dalk sou wou huistoe gaan. Nee – sê hy – hy maak net of hy gladnie daarvan bewus is nie, en as dit hom nie pla nie, sal dit niemand anders ook pla nie. En so het ons tot die aand toe vis gevang – stukkende broek en al. Mens moet darem jou prioriteite regkry!

 

Toe ek die kassie reggepak  en weggepak het op die rak dink ek aan hom waar hy sy laaste dae  as grysaard deurbring. Die liggaam is kromgetrek en die bene swak – maar dieselfde vonkel is steeds in die helderblou oë. Die spraak is moeilik maar die vonk van die lewe is nog daar. En ek dink dankbaar aan die baie ure wat ons saam deurgebring het langs die viswaters...

---000---

KPJ Nel

2014-07-10

 


Directors: S.A.M Smit & J.F Koster - Copyright ©2018 HartiesNet (Pty) Ltd - our Disclaimer