Views!
HUNDREDS of daily LOCAL views - THOUSANDS of monthly LOYAL readers! THE MOST POPULAR ATTRACTION IN HARTIES!
Published:  2015-08-09 Views:  864
Author:  karelnel
Published in:  Suggestion/Aanbeveling
Hoe Om Te Vloek

Hoe om te vloek

 

My swaer Andries se Polo is oor die naweek uit sy erf in Roodepoort gesteel, en die motorhek is netjies weer toegestoot. Wild man, sê ek jou, wild.

Oral waar ek hier was (Ierland, Isle of Wight, Nederland) het hulle 'REUSE' probleem. Geen parkeerplek vir hul karre. Byna al die karre staan op straat in die nag - om die waarheid te sê, party plekke is jy gelukkig om 'n parkeerspasie voor of naby jou huis te kry. En die karre word nie gesteel nie. Mens sou dink dit moes 'n paradys vir motor stelers wees. Blykbaar nie. ('n Ander probleem is natuurlik dat mens amper te bang is om met 'n kar te ry, nie net omdat brandstof oor die twintig rand 'n liter is nie, maar ook omdat mens byna nie weet waar om te parkeer as jy by jou bestemming aankom nie!) By Cecilia hulle in Ierland gaan dit so goed dat die kinders se speelgoed en fietse soms vir dae lank langs die pad op die grasperk lê en dit raak gewoon nie weg nie. Beide in Ierland en op die Wight eiland vind ek plekke waar iemand ware verkoop sonder dat die iemand daar naby is. Net 'n tafeltjie met die ware daarop en 'n plekkie waar jy jou geldjies kan ingooi. Kry vir jou!

Paul en Mariki het ons in Suid Engeland na die dorpie Bath geneem, soos ek reeds gesê het. Daar was 'Romeinse warmbron - om die waarheid te sê, die bron stroom steeds. Hierheen het die antiekes gestroom om te kom swem in die helende waters. Die plek het ook 'n tempel gehad van die godin Sulis Minerva (verskoon my, ek het niks eers van haar geweet tot voor hierdie reis nie), wat glo met die genesings te doene gehad het. Ek weet nie hoe haar lyf gelyk het nie, maar daar is nog steeds 'n vergulde oorblyfsel van haar kop in die museum.

In elk geval, hulle het selfs flippen warm baddens gehad, iets soos sauna's. Mens moet aanneem dat die antieke burgers en anties natuurlik hulle klere erens moes uittrek voor hulle in die water kon ingaan. Ek wis natuurlik nie watse swemkabaai hulle destyds gedra het nie, en ek het ook nie mooi gekyk of daar uit- en aantrekhokkies vir die dames en here was nie.

Ewenwel, in die museum is daar dun loodplaatjies met skrif op wat behoue gebly het, die sogenaamde vloektekste. Dis 'gebede' aan Sulis Minerva, meestal met vloeke daarop, wat geskrywe is om haar te vra om op te tree omdat die aanbidder se klere (Seker by die swembad) gesteel is. Die dief word sommer ellendige dinge aanbeveel soos hy moet sy regterarm verloor of sy kinders moet arm wees totdat hy die klere terugbring. Dit het blykbaar gehelp as mens darem 'n suspisie gehad het van wie die bose daad gepleeg het, want op heelwat van die loodplate word die name van twee of drie verdagtes genoem, net om ou Minerva in haar opspoorveldtog te help. En dan is sy natuurlik betaal vir haar dienste deurdat mense geldstukke in die bad gegooi het - in die museum is honderde voorbeelde uitgestal van geldstukke wat deur die eeue daarin gegooi is. Kry vir jou!

Toe wonder ek, in die frustrasie wat jou kar gesteel word, wat sou mens deesdae op die loodplaatjie skrywe? Laat ek probeer:

" Jou ellendige pothole! Jou verstopte rioolpyp! Jou oorlopende rioolplaas, mag jy 'n aanhoudende kagonderbreking hê die res van jou lewe en jou skaars lopende water vol wees van e-coli. Mag jou geyser gedurig breek en jou stoof se plate almal ophou werk. Mag jou oond se termostaat vir altyd vashaak sodat jou vrou al jou kos verbrand. Mag die belastingman 'n suspisie op jou kry en kom huisbesoek doen en die rare gebeurtenis plaasvind dat die polisie 'n oog op jou kry, sonder dat jy omkoopgeld gereed het. Mag jy geen parkeerplek vind ooit vir my gesteelde kar nie en die man wat jou die vervalsde lisensie gee 'n geweldige pyn in sy agterent kry. Mag die petroljoggie petrol in jou dieseltenk gooi en jou kleingeld altyd verkeerd uitgekeer word. Mag die vleis wat jy by die supermark koop in die pakkie vrot wees en jou kredietkaart elke keer in die ATM vassit. Mag die winkel vir jou vervalsde note uitkeer en die nuwe goed wat jy koop almal breek net nadat die waarborg verval het! Mag jou rekenaar die ebola-virus opdoen en vir altyd hom doodbloei en jy al jou foto's verloor. Mag almal op facebook jou 'unfriend' en jy berug sal wees soos Assange of Snowden tot jy besluit om die kar met rente terug te gee. Maak gou jou ge-crashde harde skyf, want as ek jou dalk aan die hande sal kry sal ek jou strot afdruk net bokant jou stuitjie, want waarskynlik is my versekering net so skelm soos jy en sal ek nooit weer 'n kar kan bekostig soos ek gehad het nie"

Wild man - wild!

Groete
K

 


Directors: S.A.M Smit & J.F Koster - Copyright ©2018 HartiesNet (Pty) Ltd - our Disclaimer