Views!
HUNDREDS of daily LOCAL views - THOUSANDS of monthly LOYAL readers! THE MOST POPULAR ATTRACTION IN HARTIES!
Published:  2014-12-16 Views:  1172
Author:  karelnel
Published in:  Religion/Geloof
Die Protestante En Die Kerkhervorming

Die Protestante en die Kerkhervorming

Baie mense het ‘n byna irrasionele weersin teen kerklike “leerstellings” of “doctrine”, miskien omdat dit op oninspirerende wyses aan ons oorgedra is toe ons kinders was. Mense besef waarskynlik nie dat, of hulle aan kerklike leerstellings glo of nie, elke mens in elk geval ingeboude en aangeleerde persoonlike “leerstellings” of “doctrine” navolg maar dat dit netnie eksplisiet neergeskrywe is nie. Daarby is “leerstellings” of “doctrine” nie onbelangrik nie, want dit het ‘n belangrike rigtingewende invloed op mense se lewens. Die hervorming het in die kern gegaan oor “leerstellings” of “doctrine”, met dramatiese gevolge in mense se lewens, kerkstrukture en die wereldgeskiedenis. Die onderstaande opsomming kom uit Renwick se boekie: ”The Story of the Church”.

In die jare 1409 het kerkleiers probeer om veral die probleem t.o.v. die twee pouslyne op te los d.m.v. algemene konsillies.  Dit het daartoe gelei dat bevestig is dat so ‘n algemene konsillie (council) of sinode die mag het om pouse aan te stel of af te sit. Die pouse het egter die konsillie elke keer probeer ontbind en uiteindelik kon die konsillies nie veel hervorming binne die kerk teweegbring nie.  In dieselfde tyd vind die Rennaissance plaas. Mense het meer begin belangstel in Latynse en Griekse literatuur en die drukpers het kennis vêr en wyd versprei. Die belangrikste Humaniste: Savanarola (1452-1498), John Colet (1466-1519) en Desiderius Erasmus (1467-1536), kom uit dié tyd.  Hulle wou die kerk van binne hervorm, maar dit was nie moontlik nie. Mense kon egter nou weer die oorspronklike Griekse en Hebreeuse geskrifte lees en kon terugkeer na die leerstellinge van die eerste kerk.

Martin Luther was ‘n briljante regsgeleerde wat homself uiteindelik tot ‘n klooster gewend het weens sy sondebesef.  Hy kon vir ‘n lang tyd geen rus vind nie totdat hy ‘n Latynse Bybel gevind het en Jesus so ontmoet het.  Hy het baie in Augustinus se werke gelees en die Skrifte intens bestudeer - veral Paulus se briewe. Toe Pous Leo X in Wittenberg aflaatbriewe laat verkoop, deur ‘n Dominikaanse monnik, het Martin Luther in 1517 in protes sy 95 leerstellinge op die kerkdeur in Wittenberg vasgespyker.  Hy is in 1518 opgekommandeer na Rome maar het geweier om te gaan - dit sou sy dood beteken het. In 1519 in Leipzig verklaar hy dat die opperheerskappy van die pous onskriftuurlik is en dat die Woord van God die enigste reël van die geloof is.  Jong Humaniste het hom dadelik ondersteun en baie preke en pamflette is versprei.  Hy is wonderlik bygestaan deur Melancthon wat uiteindelik sy opvolger geword het. Op 15 Junie 1520 het die pous ‘n bul uitgevaardig waardeur Luther uitgeban is en sy werke verbrand moes word.  Hy het dit egter in die openbaar in die vuur gegooi.  Hy is by die Ryksdag van Worms deur Koning Charles V van Spanje veroordeel en verban.  Hy het egter in die kasteel van Wartburg skuiling gekry en daar die hele Nuwe Testament in Duits vertaal.  By die Ryksdag van Speier in 1526 en 1529 is groter vryheid toegestaan en Duitsland is verdeel in Protestanse en Katolieke gedeeltes.  In dié tyd het die beweging van die Anabaptiste ontstaan (1522 in Zurich).  Hulle was eenvoudige opregte Chistene wat onder andere die kinderdoop verwerp het en wat geweldige vervolging verduur het.  Hulle het baie sterk gevoel oor die vryheid van gewete van die individu.

In Switserland het ‘n belangriker hervormingsbeweging onder Zwingli ontstaan wat makliker versprei het as dié in Duitsland.  Hulle het meer suiwer op die Woord gestaan en makliker die Middeleeuse kerktradisies afgegooi.  Zwingli is dood toe die Rooms-Katolieke Kantons die stad Zurich ingeneem het. In 1532 begin Calvyn optree as die belangrikste van die Hervormers.  Meer as enigiemand anders sit hy die gereformeerde teologie briljant uiteen in sy Institusies.  Vanweë sy streng houding word hy uit Geneve verdrywe maar later weer gesmeek om terug te keer.

 

Calvyn het geglo dat kerklidmate die persone vir kerkampte moes verkies.  Hy het ook geglo dat die siviele owerhede ‘n goddelike instelling was en daarom is ouderlinge deur die stadsowerhede aangestel.  Die predikante is aangestel deur predikante reeds in die bediening. Saam het die twee groepe die konsistorie gevorm wat kerksake hanteer het. Slegs in Frankryk en Skotland is Calvyn se idees van kerkregering suiwer toegepas in die Presbiteriaanse Kerk.  Calvyn se sentrale tema was die soewereiniteit van God en daaruit spruit alles vir hom voort. Hy het ook beslag gegee aan die leerstuk van die uitverkiesing.  Die hervorming het ook versprei na Frankryk, Spanje, Hongarye en Italië.  Die grootste deel hiervan is egter uitgeroei deur die Inkwisisie.  In die berge van Italië het die Waldense egter sedert die 12de eeu oorgebly en in 1848 vryheid van geloof verkry.

In Engeland het die hervorming heel anders verloop.  Henry VIII het in stryd gekom met die pous toe hy wou skei van Catherine van Aragon om te trou met Ann Boleyn.  Hy het dit toe so bewerk dat die parlement hom tot hoof van die kerk verklaar in 1534.  Verder het nie veel verandering plaasgevind nie behalwe dat die Skrifte meer toeganklik vir die mense geword het.  Toe hy sterf in 1547 neem die tienjarige Eduart VI die troon oor en hy was ‘n vriend van die reformasie. In dié tyd was daar vervolging in Duitsland met die gevolg dat heelwat bekwame leiers na Engeland uitgewyk het wat ‘n groot bydrae tot die Engelse hervorming gemaak het.  Met sy afsterwe neem sy halfsuster, Marie Tudor - die dogter van Catherine van Aragon - die troon.  Sy was ‘n vurige Katoliek en trou met haar neef Philip II van Spanje.  Op 30 November 1554 onderwerp hulle weer hulself en die kerk aan die pous in Rome.  ‘n Felle vervolging van Protestante neem ‘n aanvang en minstens 286 predikante word verbrand.  In 1558 bestyg Koningin Elizabeth die troon en bring verligting van die vervolging.  Sy het die kerk self beheer en die pous was haar nie goedgesind nie aangesien hy graag Marie, die Koningin van die Skotte, op die troon wou sien.  Hoewel sy op ‘n tydstip baie onpopulêr was, het sy baie liefde en respek van die volk teruggewin ten tye van die inval van die Spaanse Armada in 1588, wat deur die Engelse vloot suksesvol verslaan is. Die grondslag vir Engeland se grootheid is in haar tydperk as koningin gelê en sy het Engeland bevry van Roomse oorheersing.

In Skotland het die hervorming baie deeglik plaasgevind sonder baie lewensverlies aan die kant van die Katolieke.  Daar was redes daarvoor soos die erfenis van die Keltiese kerk, die nalatenskap van Hus en andere en die welbekende dekadensie van die Roomse priesterstand. Die martelaarskap van Patrick Hamilton in 1527 en George Wishart in 1546 lei tot opstand en die Kardinaal word vermoor. John Knox het nou vurig begin optree teen die Roomse Kerk.  Hy was ‘n vreeslose man van God.  Hy het uit Engeland gevlug met die troonbestyging van Marie Tudor en het in Geneve beland waar hy ‘n vriend van Calvyn was.  Hy keer terug na Skotland in 1559.  Marie, Koningin van die Skotte, het die troon bestyg in 1562 en hoewel sy die hart van die meeste edeles gewen het, het John Knox haar op beginsels teëgestaan, maar sy het hom daarvoor gerespekteer. Onder John Knox is die Presbiteriaanse kerkregeringstelsel gevestig, maar na sy dood het die staatsleiers dit weer probeer afbreek en vervang met die Episkopaalse stelsel.

Die behoefte binne die Roomse Kerk het nou voortdurend sterker geword dat interne hervormings moes plaasvind.  Veral onder aandrang van Charles V van Duitsland is die Konsillies van Trent (1545-1563) byeen geroep. Die Katolieke kerk is hierdeur net ‘n meer vaartbelynde opponent van die Protestantisme gemaak.  Die gesag van die pous is erken en die Latynse Vulgaat is die enigste amptelike vertaling verklaar. Die Jesuïte Orde ontstaan in 1534 onder Ignatius Loyola en hulle gebruik onderduimse infiltrasietegnieke om Protestantisme te beveg waar die Inkwisisie dit nie kon doen nie.  Hulle het soveel ondinge gedoen dat selfs die pous hulle later gekritiseer het en die orde in 1773 ontbind het. Dit is in 1814 weer herstel.

James VI van Skotland word James I van Engeland in 1603. Hy was ‘n uiterste outokraat wat beheer oor die kerk wou hê.  Hy is sterk teengestaan deur die Puriteine wat ‘n eenvoudige, heilige lewenswyse voorgestaan het.  Hulle het groot bespotting en vervolging ondergaan en ten spyte van hulle teenstand is ornamente en seremonies weer teruggebring in die Anglikaanse kerk. In 1615 het Aartsbiskop Abbot egter baie konsessies aan die Puriteine in Ierland gegee. Hierdie vervolging het daartoe gelei dat Christene van ‘n onafhanklike kerk (later genoem kongregasionaliste) in 1620 vryheid gaan soek het in die nuwe wêreld.  Vroeg in die 17de eeu ontstaan die Baptiste Kerk as een van die onafhanklike strome en hulle het ook ‘n kongregasionalistiese kerkregeringsvorm voorgestaan. John Bunyon was een van die grootste Baptiste van alle tye.  Hy het in die tronk “Pilgrim’s Progress” geskrywe - een van die klassieke werke van die Christendom.  ‘n Teoloog wat ‘n bepaalde invloed uitgeoefen het, was Jacobus Armenius (1560-1609) van Leyden.  Hy het voorwaardelike uitverkiesing verkondig.  Dit is verwerp by die sinode van Dort maar het later die amptelike siening van die Metodisme, en ook dele van die Baptisme en Kongregasionaliste geword. Die streng outokratiese houding van James I en Aartsbiskop Land lei tot die burgeroorlog in Engeland en Skotland vanaf 1642 en uiteindelik tot sy onthoofding in 1649.  Charles II was self ‘n Katoliek en het maar net die vervolging voortgesit - soos die tronkstraf van John Bunyan.  Gedurende hierdie tyd stig George Fox die “Society of Friends” of Kwakers wat in Amerika ‘n groot rol gespeel het.  In 1688 het Wilhelm van Oranje en Maria die troon bestyg en dit het tot stabiliteit in die kerk gelei. Intussen het die dertigjarige oorlog in Europa uitgebreek (1618-1648) wat beëindig is met die vrede van Westfalia en waar Protestantisme erkenning gegee is, veral in Duitsland.  In Frankryk is die Edik van Nantes herroep in 1685 en as gevolg daarvan het 400 000 Hugenote vir hulle geloof gevlug.

Hier begin die verhaal vir ons ‘n bietjie meer bekend word, want van die vlugtelinge het in Suid Afrika opge-eindig. Omdat hulle juis ter wille van hulle geloof gevlug het kan mens seker  verwag dat dit vir hulle belangrik sou wees om hulle geloof te plant in die land waarheen hulle sou uitwyk. So het die protestantse erfenis ‘n belangrike kenmerk van die Suid Afrikaanse kerklandskap geword.

---000---

Opsomming deur: KPJ Nel

2014-12-16


Directors: S.A.M Smit & J.F Koster - Copyright ©2018 HartiesNet (Pty) Ltd - our Disclaimer