Views!
HUNDREDS of daily LOCAL views - THOUSANDS of monthly LOYAL readers! THE MOST POPULAR ATTRACTION IN HARTIES!
Published:  2015-08-15 Views:  882
Author:  karelnel
Published in:  Interesting/Interessant
Stinkryk Of Ryke Stinker?

Stinkryk of Ryke Stinker?

 

By die moedergemeentekerk in Brandfort waar ek grootgeword het is daar 'n paar groterige grafstene, amper soos kleinerige monumente, binne ystertralies op die kerkterrein. Dit moes seker belangrike piete gewees het, anders sou hulle seker ook in die begraafplaas by die ander kiepies te ruste moes kom. Wat was die oorweldiging ontsettend groot toe ek die eerste keer by Westminster Abdy in London kom, en die kerk of katedraal of wat mens dit ookal mag noem is van hoek tot kant gepak met grafte. Hier is die myn spykers verder verewig deur marmerbeelde wat op hul kistdeksels lê, soos die Bybel sou sê - soos gister en eergister.

Oral waar ek nou in Ierland en Ingeland gereis het en 'n kerk of iets soortgelyks besoek het, kry ek aanhoudend die beheptheid met grafte - binne en buite die kerk. Dis asof die dooies óf 'n belangrike rol in die godsdiens gespeel het (voorvaders?), óf hulle het dit verkies om in die veiligheid van die nabyheid van hul kerk die ewige rus in te gaan. Dalk het hul gedink die priester sou nog so bietjie kon help as daar sou nood wees.

Hier in Haarlem besoek ons vandag die indrukwekkende Bavokerk. Indrukwekkend sê ek jou. Seker 50 meter hoog. 'n Orrel wat skrik vir niks. Ek vertel later meer daarvan. Die vloer is egter van voor tot agter uitgelê met leiklipdeksels, seker so 2.5 meter lank by 1 meter breed, almal genommer. Natuurlik al baie afgeslyt weens die eeue se daaroorheen loop deur duisende mense. Dis natuurlik almal deksels van grafte, so leer ek. Deksels!

Die vriend wat ons rondbegelei (Frank Heerens - 'n wonderlike man) het, vertel my toe van 'n spreekwoord in die Nederlandse taal. Hulle het 'n idiomatiese uitdrukking "stinke rykes". Dit kom daarvan dat die ryk piete in die kerk begrawe is, en volgens die wette van die biologie en die fisika het hulle later begin ruik. Dit was seker 'n dilemma want ek dink hulle het seker nognie aerosols gehad nie, en ek weet nie of daar 'n danige trek van die wind deur die katedrale was nie. Wow!

Toe besef ek dis seker waarvan ons uitdrukking kom: iemand is stink ryk. 

Ek is bly ek is net 'n gewone piet. En jy?

Groete
K
21 Aug 14


Directors: S.A.M Smit & J.F Koster - Copyright ©2018 HartiesNet (Pty) Ltd - our Disclaimer