Views!
HUNDREDS of daily LOCAL views - THOUSANDS of monthly LOYAL readers! THE MOST POPULAR ATTRACTION IN HARTIES!
Published:  2015-08-24 Views:  890
Author:  karelnel
Published in:  Interesting/Interessant
Alkmaar Se Kase

Alkmaar se kase

 

Hallo,
Gister se besoek was aan Alkmaar se kaasmark. Ons liewe skoonsus (Timo se ma, die amazing Grace) het ons daarheen vergesel. Die weer was sleg vir toeriste- kort-kort reën. Of in Nederlands : heel vervelend (uitgespreek: huil vervuilend) Vir ons boere is reën natuurlik nooit sleg nie. Die treinrit was lekker soos die vorige keer - baie stil en vinnig. Lekker beskaafd en hy laat wiel. Die landskap is vol water - orals kanale om water weg te lei. Seker te veel water vir die boere - huil vervuilend, maar nie vir suid afrikaanse boere nie. Vir my is water altyd mooi.

By die kaasmark staan die toeriste reeds 4 of 5 rye diep om die bedrywighede gade te slaan. Toeriste is darem huil vervuilend. Omdat ek bietjie langer as die gemiddeld is kon ek darem goed sien en kon my kamera bokant die skare se koppe uitlig om die momente vir ewig te digitaliseer.

Ons staan toe naby die deur van die weeghuis of 'waaghuis'. Dis 'n eeue-oue gebou wat eers 'n 'gasthuis' waar vanmelewe reisigers en oues en siekes en dies meer kon tuisgaan. Voor die weeghuis is daar 'n plein met seker omtrent 'n paar duisend kase op (Regte kase - nie Hollanders nie). Hulle moes die kase toemaak met seile vanweë die reën, maar nietemin, kase was daar oorgenoeg.

Eerstens het ek gewonder hoeveel kase daar was. Ek sien toe een paksel (wat noem mens 'n versameling kase?) en ek tel hulle: ongeveer 250. Ek skat hoeveel paksels daar kon wees en en skat toe ongeveer 20 tot 30. Baie kase sê ek jou. Toe wonder ek wat weeg so 'n kaas. Ek reken toe so: die kaas is 'n plat silinder (met afgeronde randte), deursnee ongeveer 45 cm en dikte 20 cm. Dit gee 'n volume van ongeveer 3X(0.45÷2)^2X0.2 kubieke meter. Dit is ongeveer 0.03 kubieke meter. Onder die aanname dat kaas ongeveer dieselfde dightheid as water het, skat ek toe dat so 'n kaas by die 30 kg moes weeg. Fris hê? Dis flippen baie kaas.

Op die mark is daar spanne kaasdraers - omies in wit klere en met gekleurde hoede op. Hulle dra twee-twee tussen hulle 'n soort kaasslee met toue en bande oor hul skouers. Hulle pak 8 kase op 'n slag daarop. Hulle lig dan die slee so 10 cm van die grond af en draf-stap van die kaaspaksels af na die antieke wegskale of kaasbalanse. Dis nogal 'n koddige manier van stap, amper soos eendloop - probeer in pas stap met die arms wat vry swaai. Die kaassleë word twee-twee op die kaasbalans geplaas, geweeg en dan weer weggedra - seker na die koper se plek.

Ek vra toe vir amazing Grace en Ronel om net daar te bly staan sodat ek dit die waaghuis kon binnewaag tussendeur al die vervuilende toeriste heen. Ek wurm my toe tussen hulle deur, rugsak, reënjas, kamera en al tot ek binne is waar die weegerei/ waagerei plaasvind. Die skaalpan bevat aan die kant, sien ek, 8 X 25 kg gewigte plus twee standaardgewigte. Die standaardgewigte, so meen ek, is om voorsiening te maak vir die gewig van die kaassleë. Slim, die Hollanders! So sien ek die kase weeg waaarskynlik elkeen 25 kg en die manne dra elke keer 200 kg rond - nie sleg nie. (Try bietjie 'n sakkie sement van 50 kg dra!) Deur 'n addisionele klein gewiggie by te sit laat die weegmeester/waagmeester die skaal balanseer, dan trek hy 'n toutjie wat die weegproses be-eindig en hy skrywe die gewig op in 'n boek. Dan vat die kaasdraers dit weer weg.

Na 'n wonderlike dag in Alkmaar is ons toe weer terug met die lekkertrein na Haarlem. Onthou my tog om julle te vertel van die toilette op die Alkmaar stasie. die Hollanders is darem maar slim!
Groete
K


Directors: S.A.M Smit & J.F Koster - Copyright ©2018 HartiesNet (Pty) Ltd - our Disclaimer